LITERATUURGESKIEDENIS

(Hersien Desember 2020)

 

Cloete (1980a: 112): "'n Literatuurgeskiedenis is nie 'n kompilasie van so wat alle min of meer gangbare menings oor 'n werk of skrywer nie, selfs nie as dit mét bronerkenning gepaard gaan nie".

Janssens (1985: 139): "Het blijkt veel gemakkelijker in een theoretisch manifest te decreten wat eigenlijk niet meer zou kunnen mogen, dan wel de wegen aan te wijzen waarlangs het concreet zou moeten kunnen."

 

Inhoud:

  1. Inleidende opmerkings
  2. Literatuurgeskiedenis: oorspronklikheid en skatpligtigheid
  3. Periodisering
  4. Literatuurgeskiedenis: Waarom? 
  5. Moontlike oorwegings by die skryf van 'n literatuurgeskiedenis
  6. Ten slotte
  7. Eindnote
  8. Bibliografie

 

Inleidende opmerkings1

Benaderings in die literêre kritiek (van die neo-positivistiese klem op verifieerbare feite, die formalistiese klem op die teks as wêreld-in-woorde, die sosiologiese benaderings én die resepsie-estetika) het hulle spore gelaat op die skryf van literatuurgeskiedenisse. Een van die vrae wat telkens opduik, is of 'n literatuurgeskiedenis veral gerig moet wees op skrywers en tekste en die plasing daarvan in “chronologisch en causaal verbonden bio-biografische verzamelingen” (Van Gorp, 1985: 246). Hoe kan literatuurhistorici daarin slaag om kontinuïteit en verandering "of samenhang én veelvormigheid met elkaar verzoenen?" (Gelderblom & Musschoot, 2017: 11).

In haar bespreking van die teorieë van Vodicka maak Ena Jansen (1982: 17) 'n belangrike punt wanneer sy die (literêr) historikus se grootste probleem definieer as bewaring van die individualiteit van die historiese gebeurtenis, sonder om die historiese proses te "te degradeer tot 'n versameling van opeenvolgende, maar nie- verwante gebeurtenisse." Hierdie individuele gebeure of "feite" (in die denke van die historiese narrativiste) kan 'n verskeidenheid vorms aanneem: byvoorbeeld, historiese manifeste, die oprigting van "Kultuurkamers", Rederykersgenootskappe; nuwe tydskrifte of uitgewerye, die verskyning van bepaalde tekste en dergelike gebeurtenisse wat 'n bepaalde literêre veld diepgaande beïnvloed. Hieruit blyk ook duidelik dat sy dit eens is met die narrativiste wat geskiedenis sien as 'n storie met 'n interne logika en perspektief.

Moet 'n literatuurgeskiedenis nie eerder gaan oor die resepsie van tekste in 'n historiese konteks en probeer om die beginsels van literêre evolusie te verhelder nie? Baie kritici (soos Rodenko, 1992) het reeds in die Vyftigerjare van die 20e eeu gepleit vir 'n geskiedenis van die literêre kritiek en was daardeur eintlik 'n voorloper van die resepsie-estetika én Bourdieu se insigte veel later (Joostens, 2007).

Maar veral ná Jauss (1970) word die aspek van die ontvangs van tekste in 'n historiese konteks benadruk. Resepsie-benaderings werk die subjektiwiteit teë wat skuil in die hermeneutiek (die interpretasie van tekste), deur die verplasing van interpretasie van één kritikus na dié van 'n veelheid van ontvangers, maar veral deur die feit dat hul ontvangs wetenskaplik-objektief beskryf word. Hierdie verskuiwing en rekonstruksie van die “verwagtingshorison” van die ontvanger, en die gevolglike vraag waarom bepaalde geselekteerde werke deur die tyd heen tot estetiese objekte omvorm word (en ander nie) het 'n totaal ander literatuurgeskiedenis tot gevolg. Maar soos Van Gorp (1985: 249) en Anbeek (1990) aantoon, is die resepsie-estetiese benadering ook nie sonder probleme nie. Een daarvan is dat daar in bepaalde periodes weinig resepsiemateriaal beskikbaar is. 'n Ander is dat weggeskram word van die eie oordeel én eietydse konfrontasie met ouer estetikas of poëtikas.

Afrikaanse en Nederlandse literatuurgeskiedenisse toon van oudsher 'n groot verskeidenheid wat benaderingswyses betref. 'n Mens tref bykans al die bekendste benaderings daar aan: waar die klem lê op tekste as dokumente; waar die opnoem van feite oorheers aan die hand van geselekteerde skrywers en tekste; waar literatuur op neomarxistiese wyse beskryf word; en waar die nadruk val op die deurbreking van norme en verwagtings.

Die literatuurgeskiedenis is nog steeds omstrede. Elke paradigmaverskuiwing in die literatuurstudie het 'n onmiddellike uitwerking op die literêre historiografie, aangesien 'n diachroniese studie “van alles wat met literatuur te maken heeft” (Van Gorp, 1985: 257) implikasies vir die begrip “letterkunde” het. Ton Anbeek (1990) beweer dat elke literatuurhistoriese werk eksperimenteel is, “een poging om een omslachtige massa van wetenswaardigheden over het verleden in een enkel verhaal te ordenen”, wat die stellings van die sogenaamde narrativiste soos Hayden White (1973) in die vroeë sewentigerjare eggo. Hulle het met nadruk die sogenaamde “objektiewe” geskiedskrywing ("wie es eigenlich gewesen", soos Leopold von Ranke dit gestel het) verwerp en die skryf van geskiedenis as hermeneutiese aktiwiteit verklaar. Die skryf van 'n geskiedenis is 'n narratiewe proses van ordening, seleksie en kombinasie; in wese 'n interpretasie van wat gesien is as "feite" en dan ook 'n weergawe in 'n bepaalde styl. Maar om te glo dat die betekenis van tekste by die waarnemer en nie (ook) in die teks lê nie, is 'n vorm van kapitulasie en 'n pleidooi vir absolute relatiwiteit wat die bestudering van tekste op 'n verantwoordelike en kontroleerbare wyse ondergrawe.

'n Narratief wat handel oor die verlede, weerspieël ook altyd (alhoewel in bedwang gehou deur objektiewe besonderhede), 'n subjektiewe perspektief en oordeel, omdat 'n weergawe van die Franse Rewolusie byvoorbeeld, onvermydelik die era en die houding van die verteller weerspieël. Verder is die historikus ook vasgevang in wat Foucault (1970; 1981: 47-78) 'n "diskursiewe formasie" noem, wat ook daarop dui dat 'n historiese rekonstruksie aan 'n historiese tydraam gekoppel is. Kortliks gestel, beweer Foucault (1970) dat die individu se denke nie totaal willekeurig is nie, maar bepaal word deur 'n bepaalde episteem ('n web van diskursiewe patrone en netwerke); "historische mogelijksheidsvoorwaarden", aldus Ankersmit (1990: 62). Ons kan dit gemaklikheidshalwe 'n wêreldbeskouing noem. Soos die wetenskaplike dikwels onbewus is van die paradigma waarbinne hy werk en die interpreteerder van die interpretatiewe gemeenskap (Fish, 1989: 471–502) waarbinne hy hermeneuties omgaan met tekste, so is die historikus dikwels onbewus van die aard van diskursiewe formasies wat sy denke en handelswyse rig. Maar die subjektiewe omstandighede van die verteller moet nooit domineer nie, omdat dit 'n intrinsiek ahistoriese weergawe van die verlede sal produseer. Anbeek (1996: 12) verwys ook Wellek en Warren (1976) se voorstel vir die skryf van 'n literatuurgeskiedenis. Hulle meen dat dit 'n goeie benadering vir die literatuurgeskiedskrywer is om te reflekteer oor 'n opeenvolging van "sisteme van vorme en norme" en sodoende opeenvolgende letterkundige "periodes" af te baken en te beskryf. Sodanige periodes vertoon egter nooit 'n wetmatigheid nie; die evolusie van letterkunde is agterna beskryfbaar, maar selde of ooit voorspelbaar.

Van Gorp (1985) se voorstelle vir die skryf van 'n literatuurgeskiedenis reik selfs verder en sou beskryf kon word as 'n benadering wat funksiegerig is en breedweg hoort by literatuursistemiese denke. Dit is verwant aan sosiologiese benaderings waarbinne die funksie van letterkundige tekste histories bekyk word. Ten spyte van die voorlopige aard van sodanige konstruksies (Van Gorp, 1985: 254), is dit duidelik dat die rol en funksie van (literêre) tekste (soos byvoorbeeld blyk uit besprekings in vaktydskrifte) 'n bydrae sou kon lewer om literêre periodes te onderskei.

Van Gorp beweer dat 'n literêr-sistemiese benadering 'n raamwerk bied vir die literatuurgeskiedenis. So ’n benadering maak dit moontlik om die verhoudings en vergelykings tussen die entiteite van die literatuurgeskiedenis te beskryf. Die voordeel is dat alles (ook oordele) op 'n sinvolle wyse binne 'n omvattende geheel geplaas word, en nie – soos meestal die geval is by talle beskrywings – bloot op die ongestruktureerde vlak van besonderhede en tekste nie. Die gevolg van Van Gorp se voorstel is duidelik te sien in byvoorbeeld Van den Akker en Dorleijn (1999) se siening van 'n literatuurgeskiedenis. Hulle werk bied eintlik ook riglyne vir die skryf van sodanige geskiedenis en is nuttig ook al val hul benadering eerder binne die bestek van Bourdieu se “veldteorie”, wat op sy beurt 'n variant is van Van Gorp se sisteemteorie, en al lyk dit in enge sin – veral vanweë die sterk sosiologiese inslag daarvan – eintlik na Van Gorp se funksie-gerigte model.

Die voordeel van Van Gorp se benadering is aansienlik. Die opvatting van letterkunde word effektief uitgebrei om byvoorbeeld die funksie van "letterkunde" in die konteks van lees in die algemeen in te sluit en om die historiese siening van letterkunde in 'n bepaalde historiese tydperk (wat veel diverser was as wat vroeër gedink is) en die opkoms van onverwagte “literaire circuits” (Van den Akker en Dorleijn, 1999: 201) moontlik te maak. Hierdie "literaire circuits", of “sub-velde” (byvoorbeeld, die verhouding tussen belangrike literêre instellings op 'n gegewe tydstip), kan nou beskryf word, en sou ook in ag geneem kon word wanneer die vraag gestel word: "Waaruit moet 'n spesifieke geskiedenis van die letterkunde bestaan?".

Die heersende mening is dat die literatuurgeskiedenis van 'n allesomvattende aard, veral wanneer dit geskryf is deur één persoon (soos Knuvelder, Kannemeyer, Chapman of Heywood), agterhaal is. Die algemene opvatting dat, soos gesê, elke literatuurgeskiedenis 'n “narratief" is – slegs een moontlike geskiedenis onder vele – het tot gevolg gehad dat literatuurgeskiedenisse wat deur een skrywer geskryf is, vervang is deur literatuurgeskiedenisse wat die produk is van verskeie skrywers.

Die terugkerende kritiek op 'n geskiedenis deur slegs een skrywer, is dat die werk oppervlakkig is, subjektiewe oordele bevat en dikwels ander oordele letterlik oorneem. Van Vuuren (1994: 262) haal byvoorbeeld die kritiek van W.P. Gerritsen (Gerritsen 1975: 92) op Knuvelder aan, naamlik dat sy werk 'n herhaling van ander se insigte sou wees. T.T. Cloete (1980a) het dieselfde verwyte gerig teenoor Kannemeyer. Uit die hele polemiek (Van Coller, 2016b) is dit duidelik dat 'n literatuurgeskiedenis nooit volstrek oorspronklik kan wees nie, maar dat erkenning van insigte deur ander nougeset gegee behoort te word.

[Terug na bo]

Literatuurgeskiedenis: oorspronkIikheid en skatpligtigheid

'n Literatuurgeskiedenis is altyd soos die bou van 'n gebou: al probeer dit soos die bouers van die Toring van Babel om die hemel te bereik, kan dit nie sonder 'n stewige fondament nie en daarna rye stene wat op mekaar volg. Die fondament wat vereis word, is nie net 'n deeglike teoretiese onderbou nie, maar in die wetenskap ook gebruikmaking van die werk van voorgangers aan wie volledige erkenning gegee moet word. En dit behoort beklemtoon te word dat dit geen oorspronklike insigte, kanoniserende waardebepalings (selfs indelings) hoef te impliseer nie. Van den Akker (1988-1989: 331) skryf tereg dat letterkundige kennis en literatuurgeskiedenis "voor een groot deel niet bestaat uit feiten, maar uit meningen, vooronderstellingen en opvattingen die zich als feiten voordoen, of beter uitgedrukt, die als feiten worden gepresenteerd." Literatuurgeskiedenisse het die neiging om hierdie geykte "feite" te bestendig (dikwels voorstellings van sake deur skrywers self).

In die destydse polemiek tussen T.T. Cloete en J.C. Kannemeyer (kyk Van Coller, 2016b) het Cloete hom kras uitgespreek oor juis Kannemeyer se oorname van “geykte” feite: “…die doel van 'n literatuurgeskiedenis is nie om 'sinteties' en 'oorskoulik' te wees nie, sekerlik nie op die manier van Kannemeyer nie, en die doel van die literêr-historikus is om die kanon te ken en uit te wys, nie om self te kanoniseer nie" (Cloete, 1980b: 109). Ter verdediging van Kannemeyer onderskryf Jansen (1981) en Olivier (1981) – wat aanleiding gee tot 'n verdere reaksie van Cloete (1982) én 'n antwoord deur Olivier (1982) – Kannemeyer se standpunt dat die oorname van ander literatore se oordele gewettig is. Olivier lê ook klem op die feit dat Kannemeyer in baie opsigte 'n eie aksent lê al stem hy saam met voorgangers (hoewel hy ietwat teensinnig toegee dat Kannemeyer voorgangers weliswaar dikwels letterlik aanhaal). Veral Jansen (1981: 17) beklemtoon die feit dat in die geval van 'n literatuurgeskiedenis dit noodsaaklik is (haar kursivering) om van ander kritici se werk gebruik te maak.

Wat vir Jansen (1981: 17) die kern van die argument is, is die "geldigheid, die noodsaaklikheid dat 'n literêre geskiedskrywer van ander kritici se werk gebruik maak." Jansen (bl.18) beweer voorts dat die kommunikasieteorie nuttig kan wees by die skryf van 'n literatuurgeskiedenis en wys in hierdie verband ook na Siegfried Schmidt (1991). Sendersgerigte literatuurgeskiedenisse is neo-positivisties en vertoon dikwels (by die Marxiste byvoorbeeld) deterministiese trekke: die geskiedenis van die letterkunde raak te maklik binne hierdie benadering 'n sosiale en politieke geskiedenis. Fokus op die boodskap alleen (die outonomistiese standpunt) maak volgens Jansen (1981: 20) literatuurgeskiedskrywing feitlik onmoontlik, omdat kontekstuele aspekte nooit aan die orde gestel word nie. Maar, vervolg sy, 'n "[a]nder primêr boodskap-gerigte benadering, dié van literêre evolusie op die model van die Russiese Formaliste as aflossing van sisteme is wel bruikbaar.” Laastens verwys sy na die resepsie-benaderings, veral die werkingsgeskiedenis, wat 'n brug probeer slaan tussen die historiese instelling van die Marxiste en die estetiese benaderingswyse van die Russiese Formaliste.

Hierdie genoemde drie benaderings vind volgens Jansen (1981: 20) op besondere wyse neerslag in die werk van die Tsjeggies Strukturalis, Felix Vodicka. Volgens haar verteenwoordig sy werk én uitgangspunte in sekere opsig die ideale benadering wat betref die skryf van 'n literatuurgeskiedenis. Sy "integrasie-metode" is na my gevoel inderdaad steeds bruikbaar vandag. Die teks is volgens hom 'n teken "waarvan die betekenis en estetiese waarde slegs beskryf kan word op die grondslag van die literêre konvensies van 'n bepaalde [historiese] tyd" (Jansen bl. 21), hoewel die konkretisering van die werk individueel geskied (in die individuele bewussyn) wat "slegs in potensialiteit in die kollektiewe bewussyn aanwesig is" (bl. 21). Hier speel die kritikus 'n belangrike rol wat sy individuele estetiese ervarings van kunswerke beskryf in terme van die heersende kollektiewe norme. Literêre kritiek is hiervolgens die literatuurhistorikus se produktiefste bron vir die rekonstruksie van die literêre norme van 'n bepaalde historiese tyd of konteks. Die literatuurhistorikus moet dus die teks as werk van 'n skrywer sien wat in 'n bepaalde verhouding staan tot tydgenootlike literêre strukture en wat ook 'n verhouding onderhou met buite-literêre tendense. Laastens moet die resepsiegeskiedenis ook betrek word, want lesers neem literêre werke waar "teen die agtergrond van bepaalde literêre gebruike (die literêre norme)" (bl. 22). (Kyk ook Evaluering (literêre) en Verandering (literêre).)

Wat Vodicka (1975) volgens Jansen sien as die taak van die literatuurhistorikus, kom eintlik neer op 'n morfologiese rekonstruksie2 van 'n vergange periode: die rekonstruksie van literêre norme en die literêre waardehiërargie daarvan, die resepsie van werke "toe en later" en laastens, die werking of reikwydte van werke. Ten slotte bevind Jansen dat in die lig van Vodicka se standpunt kritici 'n bemiddelingsrol speel en dat juis hulle uitsprake die produktiefste bron is vir die rekonstruksie van die literêre norm van 'n bepaalde tyd. Geen wonder dus nie dat, gesien die belang van kritici vir literatuurgeskiedskrywing, Kannemeyer by implikasie noodwendig op hulle aangewese was. Ter verdere verdediging voeg sy by dat die literatuurhistorikus nie "'n willekeurige takseerder of bemiddelaar" is nie, maar sy menings vorm "in 'n oorkoepelende konfrontasie met tekste én die kritiek daaroor". Dit het Kannemeyer volgens haar goed gedoen.

Twee literatuurgeskiedenisse (Perspektief en profiel, 2016 en Verbintenis en venster, 2019) is beide 'n kombinasie van 'n diachroniese en sinchroniese benadering. Waar in die eerste deel gefokus word op die ontwikkelende aard van enige (literatuur)geskiedenis, word in die verskillende hoofstukke in Deel 2 eerder poolshoogte geneem van die huidige stand van sake betreffende 'n bepaalde skrywer, kortom: die wyse waarop op die huidige tydstip die plek en statuur van 'n bepaalde skrywer ingeskat word. Laasgenoemde benadering sou dus omdat dit 'n "kontemporêre dwarssnit" is as sinchronies beskryf kon word. Dat dit egter ook 'n histori(sisti)ese kyk impliseer volgens die bekende perspektivisme van Wellek en Warren (1976: 43), spreek haas vanself. 'n Belangrike vraag is of die profiele ooreenstem met "biografieë" in die sin dat psigologisering of demitologisering voorop staan (Laan, 2002: 170). Die literatuurhistorikus vertel 'n storie met 'n begin, lê verbande, selekteer en interpreteer. "Maar het verleden zelf is geen verhaal en kent geen samenhangen. Die samenhangen ontstaan op het vlak van de historische beschrijving. [...] Men gaat ervan uit [...] dat een volledige reconstructie van het verleden onmogelijk is: daarvoor is de realiteit te complex. Daarom word elke literatuurgeschiedenis beschouwd als een constructie" (Bel, 2004: 197).

Wetenskap is selde ontdekking ex nihilo; eerder 'n proses van voortbou ("accretie" of aanslibbing is dalk 'n beter metafoor).3 Hoewel 'n volstrek oorspronklike weergawe van die (literatuur)geskiedenis nie die ideaal hoef te wees nie (en kwalik haalbaar is), is 'n volledige weerspieëling van die wetenskaplike resepsie belangrik as vorm van erkenning én onontbeerlik vir verdere selfstandige navorsing. Die gevaar verbonde aan 'n persoonlike, subjektiewe perspektief in Deel 1 word ten dele teengewerk deur die veelheid van perspektiewe in Deel 2.

[Terug na bo]

Periodisering

"Quid est veritas?" het Pilatus, die twyfelaar reeds gevra. Die waarheid of selfs essensie van die geskiedenis is slegs te benader, nooit haalbaar nie en bestaan in ieder geval ook nie, net soos 'n uitputtende, allesomvattende interpretasie van 'n teks 'n onverwesenlike ideaal was by die outonomiste. Tog moet die literatuurhistorikus 'n bepaalde orde aanbring in die stof wat hy beskryf. In die negedelige Geschiedenis van de Nederlandse literatuur word beweer dat verandering nie meteens geskied nie en plaasvind in “een bedding van continuïteit. Vandaar dat de verdeling van de stof over de delen een globale periodisering in eeuwen laat zien, en niet gekoppeld is aan benamingen van artistieke stromingen. De techniek van de overgangen tussen de delen, het principe van ‘zwalustaarten’, maakt duidelijk dat de eeuwwendes niet noodzakerlijkerwijs samenvallen met letterkundige breukmomenten” (Gelderblom & Musschoot, 2017: 48). Tog is daar dele waar hiervan afgewyk word. Daar word byvoorbeeld gekies vir 1560 as “breukmoment” tussen Pleij (2007) en Porteman & Smits-Veldt (2008) se boeke oor onderskeidelik die 16e en 17e eeu, want 1560 is die tyd “wanneer de vernieuwende tendensen in de rederijkerstoneel onmiskenbaar en onomkeerbaar zijn geworden” (Gelderblom & Musschoot, 2017: 49). Hieruit blyk tog dat die beginsel van periodisering dan ter sprake kom.

'n Periode in die literatuurontwikkeling moet as 'n "regulative idea" gedefinieer word, as 'n sisteem van norme, konvensies en waardes wat beskrywe kan word in hul opkoms, verspreiding en kwyning, in kompetisie met vorige (en daaropvolgende) norme, konvensies en waardes (Wellek, 1970: 93). Skatpligtigheid aan die denke van veral Tynjanov, Mukarovsky en Vodicka is duidelik. In Wellek en Warren se voorstel vir die skryf van 'n literatuurgeskiedenis word voorgestel dat die literatuurgeskiedskrywer hom moet rig op opeenvolgende tydperke, 'n voorstel wat in die heersende terminologie die toespits op opeenvolgende verwagtingshorisonne, kulturele kodes én poëtikas impliseer (kyk ook Anbeek, 1996: 12). Die uitdagings om hierdie teoretiese uitgangspunte in die werklikheid te konkretiseer, word in besonderhede deur Anbeek behandel. Hiermee word ook een van die durende strydpunte tussen teoretici en ("praktiserende") literatuurhistorici belig: dit is nie altyd maklik (of haalbaar) om die teorie na die praktyk te vertaal nie.

Só gesien, is dit primêr ’n indeling gebaseer op literêre prinsipes. Tog kan die literatuur (selfs nie eers in Jurij Tynjanov, 1971, se belangrike model vir literêre evolusie nie), sig ooit totaal losmaak van sosiaal-politieke gebeure nie: literêre verandering is 'n respons of reaksie op, of registrasie van, eksterne gebeure én 'n reaksie op interne sistemiese kwessies soos stagnasie en outomatisering.

Om te beweer dat historiese letterkunde (in byvoorbeeld die agtiende of negentiende eeu) te beskou “als een periode sui generis die er recht op heft begrepen te worden aan de hand van de toen geldende literaire normen” (Van den Berg & Couttenier, 2009: 18) gaan dalk te ver. Só 'n benadering kom nie net neer op 'n morfologies-historiese rekonstruksie van 'n bepaalde tydperk nie; dit gaan verder en volg ook die tydgenootlike estetiese waardering (en norme). So 'n relativistiese benadering word deur Wellek en Warren (1976: 41 e.v.) afgemaak as “historicism” en beteken vir hulle prysgawe van die eie historiese posisie én die eie literêre siening en waardering.

Leemans & Johannes (2013: 27) se keuse in hulle deel van die Nederlandse Taalunie se reeks boeke oor die Nederlandse literatuurgeskiedenis is vir 'n kultuurgeskiedenis van die 18de-eeuse letterkunde. "Weliswaar vatten we de letterkunde niet zo ruim op als dat gebruikelijk was in de achtiende eeuw. Niet de schriftcultuur in de ruimste zin van het woord, maar de 'schone letteren' staat in dit boek centraal. Maar we willen de letterkunde nu ook weer niet beperken tot de 'hoge' letterkunde, de 'literaire kunst' waarvoor men einde negentiende eeuw de term 'literatuur' begon te reserveren." Boonop wys hulle daarop dat hoewel die geskiedenis van die Nederlandstalige letterkunde iets anders is as die geskiedenis van letterkunde in die Nederlande (bv. ook in ander tale), die twee geskiedenisse ook nie maklik van mekaar geskei kan word nie (bl. 62).

Cloete (1982: 142) is selfs nog meer onomwonde oor hierdie kwessie van wat dan die objek van die literatuurgeskiedenis moet wees. Dit is die taak van die literatuurhistorikus, sê hy, om te bepaal wat deur die eeue as "sodanig [dus as letterkunde] ervaar" is; hy moet derhalwe die heersende norme van vroeër vasstel. Cloete se outonomistiese standpunt blyk die duidelikste uit sy afwysing van biografiese besonderhede en die siening dat die literatuurgeskiedenis dien om “die individuele werk te verstaan en te waardeer”; die “individuele werk se belange moet steeds sentraal bly”. Wat het jy, vra Cloete, van 'n literatuurgeskiedenis nodig om vandag “Vondel se lykdig oor sy kleindogter Maria met vreugde te lees en te waardeer?” (bl. 151). Hieruit blyk dat Cloete die literatuurgeskiedenis as “hulpwetenskap” sien, 'n hulpmiddel by die hermeneutiese proses van interpretasie (en evaluering).

'n Mens moet Olivier (1982) gelyk gee in sy besware teen hierdie standpunt van Cloete. Sou jy alleen die geskiedenis van letterkundige werke probeer beskryf, het jy onoorkomelike probleme met veral vroeëre eras waar daar geen onderskeid bestaan het tussen letterkunde en literatuur nie. Boonop is 'n morfologiese rekonstruksie van hierdie tydperke óók een waarin hulle opvatting van wat letterkunde sou wees, sentraal staan. Wat die Marxiste in bv. China as letterkunde beskou het in die vyftigerjare van die 20ste eeu, staan haaks op 'n Wes-Europese definisie van dieselfde tyd. Die literatuurhistorikus behoort dus histories-relativisties op te tree (kyk Fokkema & Ibsch, 1977: 6; Leemans & Johannes, 2013: 27). Voorts is 'n eie definisie van letterkunde wat in wese hermeneuties is, nie te rym nie met 'n resepsie-geskiedenis (wat in wese 'n veel meer wetenskaplike aanpak is, kyk: Fokkema & Ibsch, 1977: 136-164).4

Literatuurgeskiedenis: Waarom?

In 'n stuk "Criticus of wetenschapper" skryf Marieke Winkler (2017) oor die redes waarom iemand Nederlandse letterkunde sou wou gaan studeer, en sou 'n mens kon byvoeg, daaroor (of oor die geskiedenis daarvan) sou wou lees. Sy gee agtereenvolgens verskeie redes soos op verskillende tye aangevoer deur akademici. Die negentiende-eeuse literatuurhistorikus, Willem Joncbloet, het geglo Middelnederlandse tekste sou insig gee in die Nederlandse "volksaard", Nico Donkersloot het net voor die Tweede Wêreldoorlog beweer dat letterkunde "een tegengeluid bieden tegen dogmatiese, vasstaande wereldbeelden" en Hans Gomperts het net ná hierdie vernietigende oorlog die stelling gemaak dat 'n mens deur middel van die studie van jouself beter kon begryp. Vandag word weer geglo dat letterkunde op straat moet gaan staan en die geluide daarvan moet opvang; maar nog meer: nie net moet representeer nie, maar krities moet representeer, onreg moet blootlê, simpatie moet opwek.

Vervolgens probeer Winkler die bekende verskille belig tussen literêre kritiek en literatuurwetenskap en toon sy aan dat die verskille in die praktyk hoegenaamd nie klinkklaar is nie. Dit is ook die geval in 'n literatuurgeskiedenis waar daar voortdurend van objektiewe beskrywing oorgegaan word in subjektiewe evaluering. Hierdie spanning lyk onvermydelik en dit was selfs 'n aansporing om hierdie skynbaar polêre uiterstes te versoen in hierdie literatuurgeskiedenis, en so ver as wat moontlik was kontroleerbare uitsprake te maak om intersubjektiwiteit (een van dié sentrale eienskappe van wetenskap) te bevorder.

[Terug na bo]

Moontlike oorwegings by die skryf van 'n literatuurgeskiedenis

Daar moet voor oë gehou word dat –

  • die begrip "letterkunde" nie normatief hanteer behoort te word nie, maar dat dit deurgaans liefs hipoteties en pragmaties (lees: kultureel relativisties) hanteer behoort te word.
  • tekste en skrywers egter nie die enigste fokus mag wees nie, maar dat ook vorms (soos genres), prosesse van marginalisering en kanonisering, sub-velde en affiliasies beskryf moet word.
  • jy bewus moet wees van jou eie historiese posisie en ideologiese en poëtikale voorkeure en vooroordele, veral ten aansien van vroeëre tydperke.
  • hierdie tydperke of periodes afgebaken moet word op 'n pragmatiese wyse en morfologies gerekonstrueer moet word.
  • daar gefokus moet word op literatuur, omdat die reële gevaar bestaan dat so 'n historiese oorsig anders nie onderskeibaar is van algemene geskiedskrywing of kultuurgeskiedenis nie.
  • jy bewus daarvan moet wees dat enige literatuurgeskiedenis ook kanoniserend van aard is (alle tekste en skrywers kan immers nie genoem word nie) en dat jy nie totaal afstand kan doen van jou eie estetiese oordeel nie.

In 'n artikel oor T.T. Cloete as literatuurhistoriese denker, het vermeld dat daar by Cloete sprake kan wees van twee skynbaar onversoenbare benaderings (Van Coller, 2016b). Dit het ek onderskeidelik wetenskaplik-objektief (die resepsie van tekste) en hermeneuties-subjektief (die interpretasie van tekste) genoem. Tog is hierdie skynbaar teenstrydige benaderings ook versoenbaar binne die literatuurgeskiedenis.

In die inleiding by die nuwe, hersiene uitgawe van Perspektief en profiel skryf ek dat:

Perspektief en profiel nog nooit 'n eenpersoonsonderneming was nie; veel eerder 'n stap in die rigting van multi-perspektiviteit. Boonop is dit 'n relatief unieke kombinasie van verskillende benaderings, eerstens van diachronie en sinchronie.

Die profiele daarenteen is onbeskaamd kanoniserend en slegs skrywers wat "belangrik" is of was, word opgeneem. "Belangrik" op grond van hulle normdeurbrekende werk, maar ook omdat hulle esteties geoordeel die "beste" is en die tyd oorlewe het of (volgens ons eie beperkte insigte van vandag) 'n goeie kans staan om dit te doen. Hierdie uitgangspunt is in pas met Cloete se aandrang op die eie oordeel en 'n mate van normatiwiteit. Hier word biografiese besonderhede wel gegee, omdat die uitgangspunt is dat dit dikwels literêr-histories relevant is. Voorts is die perspektiewe in die meerderheid gevalle resepsie-gerig en ontbreek biografiese besonderhede. Tog word aandag bestee aan kontekstuele aspekte soos die sosio-politieke agtergrond. Die opdrag was ook aan die skrywers van perspektiewe om kontekste met aandag aan klein besonderhede te beskrywe. Dit hou verband met Geertz (1973: 5-6; 9-10) se opvatting van "Thick Description" wat inhou dat wat jy waarneem en interpreteer saamhang met 'n fokus op die kleinste details en dat (in sy geval) antropologiese sogenaamde vreemdhede verklaarbaar raak weens die ander kontekste. Uiteraard hou dit ook verband met "morfologiese rekonstruksie". Dié standpunt staan veel digter by Kannemeyer se werkwyse.

[Terug na bo]

Ten slotte

Die herskepping van die verlede kan goedskiks vergelyk word met die proses van literêre vertaling. Die literêre vertaler staan voor die dilemma om van 'n bronteks wat in 'n ander taal geskrywe is en veelal afspeel in 'n ander historiese tyd en in 'n ander kultuur, 'n begrypbare doelteks te maak deur dit om te sit, te “vertaal” sodat sy bedoelde lesers (van 'n ander land, kultuur en – waarskynlik – ander historiese tyd) dit kan begryp. Die vertaler het die keuse om nader te beweeg aan die bronteks en deur “vervreemding” outentisiteit te beklemtoon. Daar kan egter ook verkies word om nader te beweeg aan die doelteks deur sg. “domestikasie” en bv. ekwivalente te soek vir (in geval van bv. Die Bybel) diere, plante, geldeenhede, gebruike, en dergelike wat vir die doelleser begryplik sou wees. Die skrywer is voortdurend besig met strategiese keuses, en hy medieer voortdurend tussen bronteks en doelteks in pas met sy vertaalopvatting. Ook die historikus moet medieer tussen verlede en hede en diskursiewe keuses maak. Geen wonder nie dat die narrativiste (White, Ankersmit en Carr) hierdie proses gelyk stel met die keuses wat 'n romanskrywer moet maak nie en die objektiwiteit van historiese representasie bevraagteken het.

Van den Berg (2010) het selfs verder gegaan en die weergawe van die verlede as sodanig prinsipieel bevraagteken. Soos “die Ander” (binne post-koloniale denke), is die verlede volgens hom in beginsel onrepresenteerbaar en daarom is die historikus gelyk te stel met 'n getraumatiseerde persoon wat sy trauma wil representeer, maar nie kan nie. Geskiedskrywing bemoei sigself dus met 'n onrepresenteerbare “objek”, of dan, “'n trauma ontologies gesetel in die beperkinge van die historiese diskoers.”

Hayden White was hoopvoller en sy doel “in exploding history was to de-privilege the status of professional history as the guardian of what can legitimately be studied in the past and how that past can legitimately be represented. His aim was to explode history for the sake of it or do do away with the discipline of history altogether" (Daddow, 2008: 53). Sy eintlike doelwit was om geskiedenis relevant te maak vir almal: "to make history more relevant to us in our daily lives by reconnecting it to the poetic and artistic ways of representing reality."

In hierdie verband is die opvattings van die Groningse historikus, Frank Ankersmit (2010) ook relevant. In 'n artikel rig hy 'n verwyt aan politieke filosowe wat hulle só bemoei met die teoretiese grondslae van hul vak en die probleme rakende representasie dat hulle hul plig versaak om maar enigsins te skryf oor die belangrikste politieke probleme in die moderne wêreld. Dit is volgens hom nie net 'n selfsugtige “opsluit in haar eigen kleine wereld” nie, maar 'n onverskilligheid ten aansien van die groot probleme van die eie tyd én spreek van onverskilligheid teenoor die groot publiek (Ankersmit, 2010: 272).

Volgens hom is die verhouding tussen denke en werklikheid die belangrikste tema van die Westerse filosofie sedert 1600 (273). Maar, is sy verwyt, hoe meer hulle die denke en werklikheid by mekaar probeer bring, hoe meer jaag hulle die twee juis verder uit mekaar uit. Dit, lyk my, is ook van toepassing op die begripspaar representasie en werklikheid en die "onmoontlikheid van representasie" waarvan daar vroeër sprake was.

Ankersmit is veel pragmatieser. Hy haal L.P. Hartley aan wat in sy roman The go-between gesê het: “The past is a foreign country” wat nogal herinner aan Karel Schoeman se romantitel, ’n Ander land. Volgens Ankersmit (2010: 280) is dit die skrywer én die historikus se taak om vir lesers as gids op te tree op pad na die verlede. Vir hom toon die gids-metafoor twee dinge: die plekbeskrywings moet waar wees: “dat zij de waarheid en niets dan de waarheid moeten verwoorden over het verleden [… maar]…de waarheid is slechts diensbaar aan de reis naar het verleden. Vertrek men vanuit een ander heden, of naar een ander verleden, dan zijn ook andere ‘plaats-beschrijvingen’, andere waarheden nodig. Er bestaat dus niet zoiets als ‘de’ waarheid over het verleden.”

In die tweede plek leer die diensbaarheid van die waarheid aan die bereiking van ons bestemming in die verlede ons ook iets oor die aard van die historiese teks. Daar is baie verskillende paaie na die verlede, net soos daar verskillende paaie na enige bestemming is. Die interessante meningsverskille ontstaan dus eers as daar gepraat word oor die verskillende paaie na die verlede, wat van belang is en wat belangrik is as jy op 'n bepaalde plek in die verlede wil kom. Dit gaan dus nooit in die geskiedskrywing oor waarheid nie, maar oor wat belangrik is.

[Terug na bo]


H.P. van Coller

 

Eindnote

1. Kyk ook die inleiding tot Perspektief en profiel. 'n Afrikaanse literatuurgeskiedenis (Van Coller, 2016a)en Verbintenis en venster. Die Nederlandstalige letterkunde van aanvang tot hede. ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis (Van Coller, 2019).
2. Die taalkundige term "morfeem" as die kleinste betekenisdraende taalsegment word hier literêr benut: dit impliseer 'n noulettende herkonstruksie van 'n literêre periode met aandag aan selfs skynbaar onbenullige literêr-historiese besonderhede soos tafelplasing en -etiket wat bv. by tafelspele belangrik is.
3. Tog blyk iets van die totaliserende aard van metaforiek hieruit: 'n (literatuur)geskiedenis is vanselfsprekend nie net 'n gestadigde toename of aangroeiing van feite nie; dit is weglating, wegvaging, herskikking en heryking van die voorafgaande.
4. Wat Cloete presies bedoel, bly vaag. "Geskiedenismaak" blyk iets te beteken soos om die tyd te oorlewe, verskans te wees in die kanon, steeds as referensiepunt te dien ...

[Terug na bo]

 

Bibliografie

Anbeek, T. 1990. Geschiedenis van de Nederlandse literatuur 1885-1985. Amsterdam: Uitgeverij De Arbeiderspers.

Anbeek, T. 1996. Het Vlaamsche verschil. Dietsche Warande en Belfort 2:199-210.

Ankersmit, F.R. 1990. De navel van de geshiedenis. Een overzicht van moderne geschiedfilosofische opvattingen. Groningen: Wolters-Noordhoff.

Ankersmit, 2010. Waarheid is nodig maar niet genoeg in de republiek der letteren. De Gids 173:268-283.

Bel, Jacqueline. 2004. De houdbaarheidsdatum van literatuur of uitdagingen voor de literatuurgeschiedschrijver. Tijdschrift voor Nederlandse Taal- en Letterkunde 120(3): 193-210.

Cloete, T.T. 1980. Geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde. Tydskrif vir Letterkunde XVIII(1):105-115. Februarie.

Cloete, T.T. 1980a 'n Bespreking van J.C. Kannemeyer se Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur I. Tydskrif vir Letterkunde XVIII(1), 105-115.

Cloete, T.T. 1980b. T.T. Cloete antwoord J.C. Kannemeyer. Tydskrif vir Letterkunde XVIII(2):99-114.

Cloete, T.T. 1982. Literêre geskiedskrywing. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 22(3):141-152.

Daddow, O. 2008. Exploding history: Hayden White on disciplinization. Rethinking History 12(1):41-58.

Faubion, J.D. (ed.). 1998. Michel Foucault: Aesthetics, method and epistemology. New York: The New Press: 261-267.

Fish, S. 1989. Doing what comes naturally. Change, Rhetoric, and the Practice of Theory in Literary and Legal Studies. Durham & London: Duke University Press.

Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, Elrud. 1977. Theories of Literature in the Twentieth Century. Structuralism, Marxism, Aesthetics of Reception, Semiotics. London: C. Hurst & Co.

Foucault, M., 1970. The order of things, In: Faubion, 1990, 261-267.

Foucault, 1981. The Order of Discourse. In: Young, Robert (ed.). Untying the text. A Post-structuralist Reader. Boston, London & Henley: Routledge and Kegan Paul: 48-78.

Geertz, C. 1973. The Interpretation of Cultures. New York: Basic Books.

Gelderblom, Arie-Jan & Anne Marie Musschoot. 2017. Ongeziene blikken: Nabeschouwing bij de Geschiedenis van de Nederlandse Literatuur. Amsterdam: Uitgeverij Bert Bakker.

Gerritsen, W.P. 1975. Geschiedverhaal of schetskaart. Overwegingen bij Knuvelders Handboek, deel I, vijfde druk. De Nieuwe Taalgids 68(2):89-109.

Hayden White, 1973. Metafiction: The Historical Imagination inNineteenth century Europe. Baltimore: Johns Hopkins University Press.

Jansen, E. 1981. Oor norme in die literatuurgeskiedenis. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 21(1):16-25.

Janssens, M. 1985. Kannemeyer op een afstand. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 25(2), 138-145.

Jauss, Hans Robert. 1970. Literaturgeschichte als Provokation. Frankfurt: Suhrkamp.

Joostens, J.H.Th. 2007. Niet wat de criticus moet, maar wat hij doet. De relatie tussen Neerlandistiek en literatuurkritiek. Nijmegen: Nies en Partners.

Knuvelder, G.P.M. 1968. Beknopt Handboek tot de Geschiedenis der Nederlandse Letterkunde. ‘s-Hertogenbosch: L.C.G. Malmberg. Derde druk.

Knuvelder, Gerard. 1953. (deel vier). Handboek tot de geschiedenis van de Nederlandse letterkunde, deel 1-4. Den Bosch: Malmberg.

Laan, Nico. 2002. De literatuurgeschiedschrijver als medicus. De Neerlandistiek rond 1900. Spiegel der letteren 44(2):169-194.

Leemans, Inger & Gert-Jan Johannes. 2013. Worm en donder. Geschiedenis van de Nederlandse literatuur 1700-1800: de republiek. Amsterdam: Uitgeverij Bert Bakker.

Olivier, G. 1981. Oor literatuurgeskiedenis: Cloete en Kannemeyer. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 21(1):26-41.

Olivier, G. 1982. Literatuurgeskiedenis: Ideaal of werklikheid? Tydskrif vir Geesteswetenskappe 22(3):193-199.

Pleij, Herman. 2007. Het gevleugelde woord: Geschiedenis van de Nederlandse literatuur, 1400-1560. Amsterdam: Bert Bakker.

Porteman, K. & Mieke B. Smits-Veldt. 2008. Een nieuw vaderland voor de muzen: Geschiedenis van de Nederlandse Literatuur 1560-1700. Geschiedenis van de Nederlandse Literatuur. Amsterdam: Bert Bakker.

Rodenko, Paul. 1992. Literatuur en literatuurgeskiedenis. In Rodenko, Paul. 1992. Verzamelde essays en kritieken: Literaire essays. Amsterdam: Meulenhoff: 149-157.

Schmidt, Siegried J. 1991. Grundriss der Empirischen Literaturwissenschaft. Frankfurt am Main: Suhrkamp.

Schram, D.H. & Korthals Altes, L. (reds.). 2000. Literatuurwetenschap tussen betrokkenheid en distantie. Assen: Van Gorcum.

Striedter, J. 1969. Texte der Russischen Formalisten, I: Texte zur allgemeinen Literaturtheorie und zur Theorie der Prosa.   München: Fink.

Tynjanov, Jurij. 1971 [1927]. Das literarische Faktum. In: Striedter, 1971:393-432.

Van Coller, H.P. (red.) 2006. Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, deel 3. J.L. van Schaik, Pretoria.

Van Coller, H.P. 2009. Tussenstand. Letterkundige opstelle. Van Schaik Uitgewers, Pretoria.

Van Coller, H.P. (red.) 2016a. Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, deel 1. Pretoria: J.L. van Schaik.

Van Coller, H.P. (red.) 2016. Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, deel 2. Pretoria: J.L. van Schaik.

Van Coller, H.P. (red.) 2016. Perspektief en profiel. ’n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, deel 3. Pretoria: J.L. van Schaik.

Van Coller, H.P. 2016b. T.T. Cloete as literêre kritikus, teoretikus en literatuurhistorikus. Deel 2: T.T. Cloete as literêr-historiese teoretikus. Literator 37(1):1-7. http://dx.doi.org/10.4102/lit.v37i1.1316.

Van Coller, H.P. 2019. Verbintenis en venster. Die Nederlandse letterkunde van aanvang tot hede. ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Pretoria: Van Schaik.

Van den Akker, W.J. 1988-1989. Literatuurgeschiedenis of literatuurvervalsing. Spektator 18(5):331-332.

Van den Akker, Wiljan & Dorleijn, Gillis. 1999. Consensus en conflict. Over de literatuurgeschiedschrijving van Nederland en Vlaanderen. Nederlandse letterkunde 4(2):191-210.

Van den Akker, Wiljan & Dorleijn, Gillis. 2000. Hoe lang duurt tachtig? Reproductie van normen en literatuurgeschiedschrijving. In: Schram & Korthals Altes 2000:3-14.

Van den Berg, 2010. Postkoloniale literatuur en die representasie van trauma: 'n verkenning van Verkenning. LitNet Akademies 8(1). Maart.

Van den Berg, Willem & Couttenier, Piet. 2009. Alles is taal geworden. Geschiedenis van de Nederlandse literatuur 1800-1900. Amsterdam: Uitgeverij Bert Bakker.

Van Gorp, H. 1985. De utopie van een omvattende literatuurgeschiedschrijving, of hoe het zou moeten kunnen en toch net echt kan… Spiegel der letteren 27(4):245-262.

Van Vuuren, Helize. 1994. Introduction: Literary Historiography, with Specific Reference to the Problems of the South African Context. JLS/TLW 10(3/4):261-278, December.

Vodicka, Felix. 1975. Die struktur der literarischer Entwicklung. München: Fink.

Wellek, René. 1970. Discriminations: Further Concepts of Criticism. New Haven: Yale University Press.

Wellek, René & Warren, Austin. 1949 (1976). Theory of Literature. Harmondsworth, Middlesex: Penguin Books.

White, H. 1973. Metahistory: The historical imagination in nineteenth-century Europe. Baltimore: Johns Hopkins University Press.

White, H. 1978. Topics of Discourse. Essays in Cultural Criticism. Baltimore & London: Johns Hopkins University Press.

Winkler, Marieke. 2017. Criticus of wetenschapper? VakTaal. Tijdschrift van de Internationale Vereniging voor Neerlandistiek. September (3):18-19.

[Terug na bo]