DIERE-EPOS

(Hersien April 2018)

Die term diere-epos (<Lat.: bēstia: dier;< Gr. epikos: woord, lied) is die versamelnaam vir die Middeleeuse diereverhale wat in versvorm geskryf is. 'n Diere-epos is 'n lang siklus verhalende gedigte wat met mekaar skakel. Diere is die karakters, maar hulle toon menslike karaktertrekke en emosies. Die tipiese diere-epos is in vers- of prosavorm geskryf. Die uitverkore versvorm was die sesvoetige metriese vers wat die Grieke in hulle epiese digkuns gebruik het. Dit staan ook as die heroïese heksameter bekend. Die diere-epos is dikwels in 'n pseudo-epiese styl geskryf wat ander konvensies en literêre genres parodieer, bv. eposse en romanses. Die Middeleeuse diere-epos word as 'n voortsetting en uitbreiding van die dierefabel beskou. In hierdie genre word gewoonlik op satiriese wyse op een of ander samelewingsaspek kommentaar gelewer, veral die kontemporêre hof en kerk is gesatiriseer.

Die diere-epos het dikwels 'n allegoriese inslag omdat hy soos die allegorie met metafore werk. Die handeling wentel meestal om 'n sentrale gebeurtenis.  Die toon in die diere-epos wissel van dié van die lae komedie tot bitter satire. Volgens Stuiveling & De Keyser (1964: 360) moet 'n mens liewer praat van 'n diereroman. Dit is in navolging van die gebruik van die term roman vir die Middeleeuse ridderroman en heldedig.

Literatore is dit nie eens oor waar en hoe die diere-epos ontstaan het nie. Party is oortuig daarvan dat dit by die Troebadoers en die geleerdes in die kloosters na aanleiding van gewilde tradisies ontstaan het. Ander glo weer dat die kundige Latynse skrywers met die tradisie begin het. Sommige literatore meen dat die diere-epos uit die fabel ontwikkel het. Die diere-epos is 'n Germaanse oorlewering. Daarom is die name van die diere gewoonlik Germaanse name, bv. Reinaert (skelm, slu), Bruun (gegee n.a.v. sy bruin pels), Isengrimus (die man met die ystermasker), en Grimbeert (die man met die blinkende masker). Franse name het egter ook voorgekom.

Die eerste teks wat kenmerke van die diere-epos toon, is tussen 782 en 786 n.C. geskryf deur Paulus Diaconus (Paulus die Diaken). Hy was 'n Benediktynse monnik, klerk en historikus aan die hof van Karel die Grote. Die gedig handel oor 'n siek leeu. Die oudste diere-epos waarvan die mensdom weet, is in Latynse heksameters geskryf deur 'n monnik uit Luxemburg in 'n abdy in Lotharinge, genaamd Ecbasis captivi (ca. 1100) waarin die diere nie name het nie. Ander tekste wat kenmerke van die diere-epos toon, het ook voorgekom, maar die eerste werklike diere-epos is die seminale "Ysengrimus" wat in ongeveer 1152 verskyn het. Dit is 'n Latynse gedig wat uit 6 500 versreëls bestaan en wat deur die Vlaamse geestelike geestelike en digter Nivardus van Gent geskryf is. Eiename vir die diere kom vir die eerste keer in hierdie gedig voor. Dié gedig is komies en die leser ontmoet die beroemde wolf Ysengrimus en sy teenstander die jakkals Reinardus vir die eerste keer. Vanaf ongeveer 1170 word diere-eposse ook in Frans (Le roman de Renart) en in Duits (Reinhart Fuchs) geskryf.

Die Normandiese digter en Troebadoer Pierre de Saint-Cloud het sý weergawe van Reinaard se avonture teen ongeveer 1173 in Oudfrans begin skryf. Hieruit spruit ander verhale wat vertel van die avonture van 'n jakkals en 'n wolf. Die skrywers van hierdie verhale was tussen 1178 en 1250 bedrywig, maar was gewoonlik anoniem. Hulle het húlle verhale by Nivardus s'n gevoeg. Dit is "takke" genoem. So het Le roman de Renart ontstaan. Dit is in Frans geskryf en het uiteindelik uit 27 000 verse bestaan.

Hieruit het ander weergawes van dié diere-epos met Reinaard as sentrale figuur ontstaan, bv. die Duitse digter van Elsas, Heinrich der Glichezaere  (d.w.s. Heinrich die Skynheilige; daar bestaan twyfel of dit sy naam of skrywersnaam was) se Reinhart Fuchs wat hy teen ongeveer 1180 in Middelhoogduits geskryf het. Dit word beskou as die oudste diere-epos in Duits.

Ander weergawes van die beroemde jakkals se streke verskyn in die 13de en 14de eeu, bv. in Frans word Renart le nouvel en Renart le contrefait gepubliseer. In Deens verskyn En Raffuebog som kaldes paa tyske Reinike Foss, nu nylige fordanskitt deur Hermann Weigere. Later word dit in Sweeds vertaal en in 1621 word dit in Stockholm gepubliseer, getitel Reycke Foss, thet ar en skön och nyttigh dicht. Die vertaler wou óf anoniem bly óf sy naam het verlore geraak. In 1775 verskyn hierdie verhaal in prosavorm met die titel Reinick Fuchs eller Michel râf (ruweg vertaal: Reinaard die jakkals of Miekel die kraai). Die teks is weer eens anoniem. In Engels verskyn The Historie of Reynard the Foxe deur die veelsydige William Caxton in 1481.

In ongeveer 1250 word die beroemde Middelnederlandse Van den vos Reynaerde geskryf. Hierdie teks word as 'n hoogtepunt in die Middelnederlandse literatuur beskou. Die wortels van Reinaard se verhaal lê in Æsopos se fabels. Van die outeur van die Reinaardverhaal weet ons min. Hy staan bekend as "Willem die Madocke maecte”.  In die moderne weergawes van die Reinaardverhaal word die skrywer aangedui as "Willem die ook Madoc schreef". In die laaste 9 verse van Van den vos Reynaerde word 'n akrostigon gevorm van die skrywer se naam wat "Bi Willeme" ("deur Willem") spel:

                                           Bi Gode, ic dart hu wel raden!’
                                           Isingrijn sprac toten beere:
                                          ‘Wat sechdire toe, Brune heere?’
                                          ‘Ic hebbe liever in de rijsere
                                           Ligghen dan hier in dysere.
                                           Laet ons toten coninc gaen
                                           Ende sinen pays daer ontfaen.’
                                           Met Fyrapeel dat si ghinghen
                                           Ende maecten pays van allen dinghen.
                                                  (Bouwman & Besamusca, 2002:171)

Die Reinaardverhaal het wyd en syd 'n invloed gehad. Dit het bv. Geoffrey Chaucer geïnspireer om die "Nun's Priest's Tale" te skryf wat in die Canterbury Tales opgeneem is. Goethe skryf 'n fabel waarin Reineke Fuchs voorkom. In 1280 vertaal Balduinus Iuvenis (Boudewijn die Jongere) Reinaard se verhaal in Latyn getitel "Reynardus Vulpes". Dit word ook as 'n pikareske verhaal beskou. In 1967 vertaal R.B.C Huygens dit terug na Nederlands.

Die bekendste Asiese versameling diere-eposse is die Pañcatantra (Vyf vertoë) van Indië. Hierdie verhale is in Sanskrit geskryf en word gewoonlik aan Vishnu Sharna toegedig. Die datum van oorsprong word normaalweg op 300 v.C. gestel, maar die geskrifte is waarskynlik nóg ouer.

Die diere-epos het dwarsdeur die 15de eeu (Laat Middeleeue tot Vroeg Renaissance) 'n gewilde genre onder die skrywers gebly, en bereik sy hoogtepunt in 1481 met die genoemde teks deur Caxton.

Die volgende tabel bied 'n opsomming van die jakkals Reinaard se avontuurlike pad deur die loop van die eeue en die tale:

 

Skrywer/vertaler Datum Taal Titel
Pierre de Saint-Cloud 1174-1179 Oudfrans Le roman de Renart
Heinrich der Glichezaere 1180 Middelhoogduits Reinhart Fuchs
Willem die ook Madoc schreef 1250 Middelnederlands Van den vos Reynaerde
William Caxton 1481 Middelengels The Historie of Reynart the Foxe
Michel Rodange 1872 Streeksfrans Rénart oder de Fuuss am Frack an a Ma'nsgrësst
Ladislas Starevich 1928 Frans Le roman de Rénard (vroeë wit-en-swart- animasiefilm)
André Norton 1947 argaïese Engels Rogue Reynard (die jakkals word hierin as 'n doodgewone boef uitgebeeld)
Henri van Daele 1996 Nederlands Reinaart de Vos: de felle met de rode baard
Daniël Hugo 2000 Afrikaans Reinaard die Vos (vertaling van Henri van Daele se prosaverwerking)
Marc Legendre & René Broens 2010 Nederlands Reynaert de Vos (Belgiese grafiese roman)


George Orwell se satiriese verhaal Animal Farm (1945) word as 'n moderne weergawe van die diere-epos beskou. Dit is 'n satiriese allegorie wat van die gebeure vertel wat aanleiding tot die Russiese Revolusie van 1917 gegee het.

Die Reynaerde-blad van Literatuurgeschiedenis.nl bied interessante inligting oor die Nederlandse werk. Reinardus is die titel van die jaarboek van die International Reynard Society wat vergelykende navorsing oor die Middeleeuse satiriese, didaktiese en allegoriese letterkunde bevorder met klem op die diere-epos, fabel en fabliau.

Literatuur

Bouwman, A. 1991. Reinaert en Renart. Het dierenepos Van den vos Reynaerde vergeleken met de Oudfranse Roman de Renart. Amsterdam: Prometheus.

Bouwman, A. en B. Besamusca. reds. 2002. Reynaert in tweevoud. Deel 1. Van den vos Reynaerde. Amsterdam: Bert Bakker.

Best, T.W. 1983. Reynard the Fox. Boston: Twain.

Blake, N.F. 1970. red. The History of Reynard the Fox; translated from the Dutch original by William Caxton. Londen: Oxford University Press.

De Jong, C. 1983. Van Reinaard die vos (Reinhard I). Pretoria: Hulst.

Echard, S. et al. reds., 2017. Encyclopedia of Medieval Literature in Britain. Hoboken N.J.: Wiley-Blackwell. 4 dle.

Jauss, H.R. 1959. Untersuchungen zur mittelalterlichen Tierdichtung (Ondersoek van die Middeleeuse diere-epiek). Tübingen: Max Niemeyer Verlag.

Kuehnel, Irmeli. 1994. The Medieval Beast Epic Reinhart Fuchs. University of Michigan: Kümmerle.

Lambdin, R.T. & L.C. Lambdin. reds. 2013. Encyclopedia of Medieval Literature. Londen: Abingdon.

Lotha, Gloria. 2016. From Æsop to Reynard: Beast Literature in Medieval Britain (review). (In Encyclopædia Britannica. Chicago: Encyclopædia Britannica.)

Lulofs, I. 1983. Inleiding tot sy uitgawe van Van den vos Reynaerde. Groningen: Wolters-Noordhoff.

Stuiveling, G. & De Keyser, P. 1964. Moderne encyclopedie der wereldliteratuur. Gent: Hilversum.

Terry, Patricia. 1992. Renard the Fox. Berkeley, Los Angeles: University of California Press.

Van der Elst, J. red. 1988. Momente in die Nederlandse letterkunde. Pretoria: Academia.

Van Mierlo, J. 1940/1964. Beknopte geschiedenis van de Oud- en Middelnederlandsche letterkunde. Antwerpen: Standaard-Boekhandel.

Ziolkowski, J.M. 1993. Talking Animals: Medieval Latin Beast Poetry, 750-1150. Philadelphia: University of Pennsylvania Press.

 

Anna-Marie le Roux