GENRE

Genre (Lat.: genus) dui op die tipe of klas waartoe 'n literêre werk behoort. Die genre van 'n teks word bepaal op grond van 'n reeks konvensionele kenmerke wat spruit uit die leser se leeservaring (of verwagtingshorison). Hoewel die waarde van genres dikwels ontken word, is hulle meer as 'n blote klassifikasiestelsel: hulle bepaal deels die interpretasie en resepsie van 'n teks. Daarby speel genres 'n belangrike rol in literêre verandering en in die literatuurgeskiedenis. Hulle is literêre verskynsels in eie reg.

Aard en funksie van genres

Genre is, volgens Duff (2000: xiii), 'n terugkerende (recurring) tekstipe of -kategorie. Die term word gebruik waar 'n hoë graad van standaardisering te bespeur is. 'n Bepaalde genre word geabstraheer uit 'n herkenbare groep literêre tekste wat aan 'n soortgelyke literêre konvensie voldoen (Smit-Marais, 2012: 11). Wat so 'n “soortgelyke literêre konvensie” uitmaak, is egter nie gestandaardiseer nie. In 1980 noem Jacques Derrida genre 'n raaisel (“enigma”) (2000: 221), en Alistair Fowler noem dit in 1982 'n onnodig chaotiese korpus van kennis (1982: 232). Tog waarsku Hawthorne (1993: 27) 'n dekade later dat die misidentifisering van die genre van 'n roman daartoe kan lei dat dit ernstig verkeerd gelees word, omdat genre lesers se benadering tot 'n teks modelleer. Genre rig ook die skryf van tekste en kan gesien word as 'n ooreenkoms tussen skrywer en leser, bepalend vir sowel die enkodering as die dekodering van 'n teks.

Reeds die klassieke digters het oor die aard en samehang van literêre genres geteoretiseer en dikwels is geen afwyking van die norm geduld nie. Skrywers moes hulle streng hou by die norme van die tyd. Die Griekse dramaturg Aischulos se werk kan as 'n voorbeeld hiervan dien: die gode, as karakters in die Griekse tragedie, voldoen aan genrevoorskrifte van die tyd en aan die verwagtinge van die gehoor. Die dramas kan beslis nie beskou word as 'n refleksie van die Griekse denke nie. In werklikheid was sowel Aischulos as die Grieke sinies oor die gode, maar omdat dit deel uitgemaak het van 'n literêre tradisie, het skrywers hulle hierby gehou (Saayman, 1982: Inleiding).

Die Franse teoretikus Tzvetan Todorov (1982: 6) definieer genre soos volg:

A genre is a class of texts which has a historically attested existence. It is an ambiguous entity, on the level of analysis: on the one hand it is empirical, since it can be situated in time and space, its exemplifications can be listed, testimony as to its relevance for producers (writers) and receivers (readers) of texts can be collected; on the other hand it is theoretical, because it should be possible, ideally (that is, if the descriptive apparatus of poetics were rich enough), to deduce the genres from the combinatory possibilities of the characteristic features of literary discourse.

Dit hou in dat genre 'n raamwerk of konvensie uitmaak waarbinne die skrywer hom kan uitdruk en die leser die teks kan verstaan; 'n raamwerk waarbinne ook bepaal kan word of 'n gebeurtenis (soos 'n kroegtoneel) bv. gepas is binne 'n sekere teks en hoe dit beoordeel moet word (as vertroulike gesprek of as 'n konfrontasie). Genres is dus allesbehalwe 'n stel dooie reëls, want die vorm is deel van die inhoud, omdat die vorm van 'n sonnet of 'n drama bv. die dinamika van daardie teks na vore laat kom. Dit skets die spelreëls waarbinne die teks geskryf en verstaan word.

In hulle gebruik van die term genre beklemtoon skrywers verskillende onderliggende beginsels of verskillende dominante. Die meeste stem saam dat vorm en formele kriteria onderliggende beginsels van genre is en baie verwys na epiek, liriek en dramatiek, of fiksie, poësie en drama, as die hoof- en tradisionele literêre genres. (Aristoteles onderskei net twee genres in sy Poëtika, naamlik die verhalende en dramatiese, en nie soos talle kritici meen drie nie.) Die drieledige verdeling kan na die agtiende eeu teruggevoer word.

Invloedryke genre-opvattings

Genette (2000: 212-213) het egter in 1977 aangevoer dat hierdie klassifikasie foutief is, omdat dit twee kategorieë, naamlik genre en modus verwar. Genre, is volgens hom, 'n literêre kategorie, terwyl modus 'n linguistiese kategorie is (Genette, 2000: 213).

Genette meen die tradisionele onderskeid van drie genres gee aanleiding tot etlike verwarrings in die literatuurstudie, aangesien dit aspekte soos transtekstualiteit ontken. Met transtekstualiteit bedoel Genette alles waarmee die teks ongemerk relasies aangaan (Kristeva se intertekstualiteit sou hieronder val) en letterlike aanhalings. Ook die metateks hoort hieronder tuis, aldus Genette (1981: 118). Ook pastiches en parodieë is voorbeelde van transtekstuele relasies (ook genoem paratekstualiteit). (Vgl. teks en konteks.)

Genette (1981: 62) wys op die sg. "retrospektiewe illusie", of wel verkeerde aannames i.v.m. genre-verdelings wat so ver teruggaan in die literêre geskiedenis dat dit al ingebed is in ons "literêre bewussyn" en "onderbewussyn". Genette beklemtoon dat dit noodsaaklik is om jouself van hierdie foutiewe tradisie los te dink; en veral die sienings van Wellek en Warren, Northrop Frye, Philippe Lejeune, Robert Scholes, Tzvetan Todorov, e.a. word gekritiseer. Genette wys ook hoe die lectio facilior (die gepopulariseerde weergawe) van teoretikus tot teoretikus versprei het. Aannames word blindelings op Plato en Aristoteles geprojekteer (Genette, 1981: 63, 64), terwyl die skrywer dit dikwels self uitgedink het of by 'n sekondêre bron afgeskryf het.

Ten spyte van Genette se invloedryke en deeglike uiteensetting, beskou baie nog steeds epiek, liriek en dramatiek as die hoofgenres en, soos Duff (2000: 3) tereg uitwys, het die driedeling van liriek–epiek–dramatiek grootliks bygedra tot ons verstaan van genre as 'n fenomeen.

Erkende beginsels van genre-onderskeid

Hoewel die moderne literatuurwetenskap tereg aantoon dat 'n absolute verdeling tussen die genres nie kan standhou nie, is daar is 'n aantal onderliggende beginsels wat die genre van 'n teks bepaal. Die belangrikstes is vorm, tema, tegniek (insluitende uitdrukkingsmodus), tydsraamwerk en ruimte van komposisie en die funksie van 'n teks. Elk van hierdie elemente kan die ruggraat van 'n literêre tradisie of genre vorm.

Die drie hoofgenres word bv. afsonderlik in biblioteke gekatalogiseer en op aparte rakke geplaas. Belangrik hiervoor is genre-indikasies soos “roman”, “kortverhale” of “gedigte” op die titelblaaie van boeke of in uitgewers se bemarkingsmateriaal. Waar sulke aanduidings ontbreek, soos in E. Leroux se Isis Isis Isis, kan die boek verkeerd gekatalogiseer word (bv. as kortverhale in plaas van as 'n roman). Ook die lengte en die omslag van 'n boek en die naam van die uitgewer kan genre-aanduidings wees.

Die bladspieël (of die tipografie) van 'n teks bied 'n tweede, dog oppervlakkige vertrekpunt, om genre te identifiseer. Gedigte word in versreëls gedruk, en die bladsye van 'n roman is lineêr van links na regs eweredig vol gedruk. 'n Dramateks dui die karakters en hulle spreekbeurte aan. Hierdie onderskeiding kan beskou word as 'n uiterlike of materiële kriterium wat die ondersoeker nie ver sal bring nie, omdat daar binne die wêreldliteratuur talle mengvorme bestaan.

Uitdrukkingsmodus is 'n formalisering van Aristoteles se onderskeid tussen die narratiewe en die dramatiese wyse, en wel as verskillende moontlikhede in die wyse waarop die skrywer as sender met die lesers as ontvangers kommunikeer en as verskillende verhoudings tussen die sprekers in die teks. Is net een spreker aan die woord (monologies) is dit tipies van die poësie. Gesprekke tussen verskillende sprekers (dialogies) is tipies van die drama. Tipies van verhalende tekste is dat 'n verteller meestal aan die woord is, maar dat hy of sy ander stemme (karakters) aan die woord stel (inbed in sy relaas). Hoewel hierdie onderskeid tussen die verskillende stemme (die sg. redekriterium) bruikbaar is, is dit nie waterdig nie, want 'n mens kry dialogiese gedigte soos Van Wyk Louw se “Gesprek van die dooie siele”, dramatiese alleensprake soos Louw se “Hond van God” of suiwer monologiese dramas (eenpersoonsdramas) soos HOL van Nicola Hanekom of Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran. 'n Eenpersoonsdrama het 'n sterk vertellende element en is verwant aan die kabaret. ’n Roman soos Houd-den-Bek van André P. Brink met sy baie vertellers neig weer na die dialogiese.

Die abstrakte inhoud van 'n teks, soos dat 'n roman en 'n drama 'n storie bevat en 'n gedig meestal nie, is ook 'n belangrike onderskeid. Die tematiek van 'n teks ook. In die 18de eeu met die strak verdeling tussen die drie hoofgenres is dit ook te verwagte dat sekere temas tot bepaalde genres sal behoort, bv. die uitdrukking van persoonlike gevoelens het alleenlik behoort tot die liriek, konflik tot die drama, die beskrywing van heldedade wat die geskiedenis van die land ingrypend verander het, tot die epiek (Van Luxemburg et al., 1987: 159). So 'n streng verdeling is in die 21ste eeu egter onhoudbaar: die belydenisroman (novel of confession) beskryf die persoonlike gevoelens van 'n enkeling (epies en liries) en daar word ook uiting aan konflik gegee (dramatiese opvoering).

Ook die aard van die tyd en ruimte in die onderskeie genres verskil telkens: in die liriek is die tyd gewoonlik gestol tot 'n tydlose toestand; die epiese tyd is meer vloeiend, want daar is sprake van 'n hede en 'n verlede, van uitrekking en verdigting; ten slotte kan die tyd in die drama gereduseer word tot 'n nou. Die liriek fokus dikwels op een plek of word nie gelokaliseer nie, terwyl die epiek oor verskillende plekke heen strek en die drama dikwels op net een plek afspeel (maar ruimtelik kompleks is).

Julius Petersen het hierdie formele kriteria saamgebring in 'n driehoek, gebaseer op die Naturformen wat Goethe onderskei het:   

Hieruit blyk dat die liriek 'n monologiese uitbeelding van 'n toestand is, die epiek 'n monologiese berig van 'n handeling, en die dramatiek 'n dialogiese uitbeelding van 'n handeling.

Stilisties verskil die drie hoofgenres ook. Die prosa is na aan die gewone spreektaal, maar die poësie is sterk gestileer met die herhaling van klank-, beeld-, vers-, strofe en sinspatrone. Elke sin in 'n drama word gestileer om die handeling en die karakters verder te ontwikkel. Verder is dramadialoog gelaai met deiktiese woorde soos ek, jy, hier, daar, voor, agter wat in die konteks ingevul word. Hierdie hoë graad van indeksikaliteit maak dramadialoog by uitstek speelbaar en opvoerbaar. Styl is egter van die verwagting van die leser afhanklik: lesers is besonder sensitief vir afwykings van die heersende norm.

Daar bestaan nie konsensus oor hierdie kriteria vir die identifisering van genres nie. Om die saak nog ingewikkelder te maak, kan die begrip genre sowel meer omvattend as meer gefokus gebruik word as vir die drie sg. hoofgenres. In die breedste sin van die woord kan genre na verskillende kunsvorms verwys, byvoorbeeld literatuur en filmkuns, en Duff (2000: xvi) noem dat subgenres subklasse of vertakkings van groter kategorieë is. Elk van die kategorieë kan onderverdeel word in kleiner genres. Binne die genre van fiksie, kry 'n mens byvoorbeeld moordstories, speurverhale en Bildungsromans. Hierdie subkategorieë is populêre genres wat vergelykbare temas en narratiewe tegnieke inspan. Waar die eerste klassifikasie hierbo (epiek, liriek en dramatiek) hoofsaaklik op vorm gebaseer is, word subgenres nie op grond van vorm onderskei nie, maar eerder op grond van tema en onderwerp en narratiewe tegnieke. Onderliggend aan die gedagte van genre is dus sowel vorm as inhoud, maar skrywers noem ook ander onderliggende beginsels: Scott (1965: 115) verwys na styl as 'n onderliggende beginsel vir genre-identifikasie, Duff (2000: xiii) vermeld funksionele kriteria en Shipley (1970: 135) “the classification of works by psychological categories – naïve and sentimental; plastic and musical; Apollonian and Dionysian”. Hawthorne (1993: 36) identifiseer metafiksie as 'n genre binne fiksie (hoewel metafiksie 'n narratiewe tegniek is en tradisioneel nie as 'n genre beskou word nie). Terwyl metafiksie dalk nie algemeen as 'n genre beskou word nie, word aanvaar dat satire en allegorie wel genres is. Satire en allegorie is modusse van uitdrukking, nou verweef aan narratiewe tegniek; en hulle is erkende genres (kyk Gill, 2006: 215).

Die historisiteit van genres

Daar is selde sprake van suiwer genres, nie net omdat skrywers genres vermeng nie, maar ook omdat die grense tussen genres nie klinkklaar is nie. In die roman is daar byvoorbeeld duidelike eienskappe van die drama wanneer verskillende karakters aan die woord gestel word. Die meeste gedigte bevat elemente van sowel die epiek (vertellende dimensie) as die dramatiek (direkte rede). 'n Kritikus soos A.P. Grové beskou die gedig as 'n “klein drama”, in navolging van Cleanth Brooks en R.P. Warren in Understanding Poetry.

Ook kan die teks op verskillende maniere benader word – 'n aspek wat veral die Resepsie-estetika beklemtoon. Koning Oedipus van Sophokles kan eerstens gesien word as die volmaakte voorbeeld of prototipe van 'n tragedie. Klassici is dit eens dat hierdie teks voldoen aan die vereistes van die Griekse tragedie en Aristoteles gebruik dit as voorbeeld in sy Poëtika. Dit kan ook "gelees" word as 'n psigologiese drama – met 'n genoegsame agtergrondskennis van Sigmund Freud se teorieë. Dit kan gesien word as 'n speurverhaal. Die teks kan telkens onder 'n nuwe subgenre geklassifiseer word, en hiermee bevraagteken 'n mens dan die absolutistiese verdelings tussen die genres. Juis om hierdie rede verkies talle teoretici om liefs gebruik te maak van die neutrale term tekstipe.

Sowel Plato as Aristoteles was al bewus van die feit dat daar geen suiwer genre bestaan nie. Waar die skrywer bepaalde, spesifieke genrevoorskrifte getrou navolg, word daar verwys na 'n estetika van identiteit. Indien dit ontken of soms doelbewus negeer word, word dit beskou as 'n voorbeeld van 'n estetika van teenstelling of opposisie (vgl. Van Luxemburg et al., 1987: 153).

Die agtiende-eeuse roman, Tristram Shandy, is 'n voorbeeld van laasgenoemde. Tristram Shandy is 'n antiroman of metaroman, omdat die kunsmatigheid van die fiksionele proses geparodieer word. Die verset teen sodanige sisteem erken implisiet die reëls waarteen dit in opstand kom. Soos Van Luxemburg et al. (1987: 154) dit stel: “Anti-genres zijn ook genres. Juist door hun verzet tegen de regels getuigen zij van het belang van genres, zonder welke hun eigen bestaan onmogelijk zou zijn.”

Dit is ook redelik algemeen om tekste van dieselfde epog saam te groepeer. Letterkunde van die Dertigers en die Sestigers, van die Romantiek of die Victoriaanse era, verwys na tydsraamwerke van komposisie en die gepaardgaande Zeitgeist. Ruimte kan ook dien as 'n onderliggende beginsel vir genre-identifikasie, en letterkunde word soms beskryf met verwysing na waar dit geskryf is, byvoorbeeld Suid-Afrikaanse of Kanadese letterkunde.

Ten spyte van die lang geskiedenis van genre is daar denkers wat van mening is dat nadenke oor genre onnodig en selfs teenproduktief is. In 1909 betwis Benedetto Croce (1965: 35) die idee van genre; hy noem dit “the greatest triumph of the intellectualist error” en spreek die mening uit dat hierdie tipe teoretiesering “can destroy expression, that is the thought of the individual, by thinking of the universal” (Croce, 1965: 35). Croce grond hierdie opinie op die onderskeid tussen intuïtiewe, estetiese kennis, aan die een kant, en wetenskaplike en logiese kennis, aan die ander. Hy beskou dié twee tipes kennis as wedersyds uitsluitend (Croce, 1965: 36), en belangriker, impliseer dat oor-kategorisering skadelik is vir kreatiewe uitdrukking. Hy assosieer egte kreatiwiteit met werke wat die reëls van kategorisering verbreek, en verduidelik:

Every true work of art has violated some established kind and upset the ideas of the critics, who have thus been obliged to broaden the kinds, until finally even the broadened kind has proved too narrow, owing to the appearance of new works of art, naturally followed by new scandals, new upsettings and – new broadenings. (Croce, 1965: 37)

Croce, wat van die veronderstelling uitgaan dat genre min bydra tot ons verstaan van individuele gevalle van estetika en kreatiewe uitdrukking (Croce, 1965: 28), verwerp die idee van genre. Duff (2000: 25) beskou Croce se benadering as 'n ekstreme weergawe van die Romantiese opvatting van kuns as self-ekspressie. Croce se idee ten opsigte van intuïsie is fassinerend, en een wat meer aandag in die veld behoort te geniet. Intuïsie blyk besinning oor genre te rig.

Poststrukturaliste soos Roland Barthes – en verteenwoordigers van die dekonstruksieskool, soos Jacques Derrida, J. Hillis Miller en Harold Bloom – verwerp ook die aanname van rigiede sisteme en spreek ook hulle bedenkinge oor genre uit.

Die feit dat ek If on a Winter’s Night a Traveller (Calvino, 1992) as 'n eksperimentele formele postmoderne roman beskou, eerder as 'n liefdesverhaal, is gegrond op intuïsie en op my leeservaring. Die boek is inderdaad albei; en my keuse het te make met die dominant in die teks, maar dit is ook gedeeltelik intuïtief. Croce se verwerping van genre het sterk kritiek ontlok, veral van Hans Robert Jauss (2000: 130) in 1970. Die vooroordeel teenoor genre het tot gevolg gehad dat baie 20ste-eeuse genres nie gekodifiseer en benoem is nie, wat een van die redes mag wees waarom talle eietydse tekste vir lesers ontoeganklik is. Renato Poggioli praat van die unwritten poetics: die aannames oor die literatuur wat nog nie gekodifiseer is nie (Dubrow, 1982: 85).

Genre en literêre verandering

Teoretici stem saam dat sekere genres in bepaalde eras gewild was. In die agtiende eeu spesifiek word bepaalde inhoude met bepaalde genres geassosieer. Vorm suggereer inderdaad gereeld inhoud, tegnieke en modusse van uitdrukking. Die tragedies van Shakespeare verwys byvoorbeeld in die eerste instansie na vorm, maar as lesers en kykers antisipeer ons 'n tragiese held, wat 'n aspek van inhoud is, en jambiese pentameter, wat 'n tegniek is, en, volgens Aristoteles, is die doel, funksie en effek van tragedie katarsis (Wimsatt & Brooks, 1970: 36-37). Hierdie samehang van onderliggende beginsels is ook van toepassing op epiese gedigte en Victoriaanse romans. Hawthorne (1993: 27) toon 'n historiese sensitiwiteit in sy benadering tot romans en voer aan dat romans volgens hulle geskiedenis of tegniese aspekte gekategoriseer kan word. In die praktyk, sê hy, neig die twee om te oorvleuel aangesien spesifieke tipes romans gereeld binne gedefinieerde historiese grense floreer. Die onderliggende beginsels wat genre bepaal, hou dus verband met mekaar.

Die Strukturaliste en Russiese Formaliste is verantwoordelik vir 'n belangrike bydrae tot ons verstaan van genre. Vroeë Russiese Formaliste in die 1930s gebruik die konsep van die dominant om te verwys na “the device which focuses a [...] genre by subordinating other elements” (Duff, 2000: xi). Brian McHale (1987:6) skryf in 1987 die idee van die dominant toe aan Yury Tanyanov, maar erken dat Roman Jakobson dit bekend gemaak het in 1935. Hy gaan dan voort om die konsep te gebruik om Postmodernisme te definieer en om dit van Modernisme te onderskei. Hieruit kan 'n mens aflei dat die dominant nog steeds 'n bruikbare hulpmiddel is wanneer genres onderskei word.

Verder is daar 'n verband tussen genres wat gewild is in bepaalde eras en kulturele en subkulturele uitdrukking. Genre word dikwels deur die belange van 'n sosiale klas bepaal en is ideologies van aard. In 1963 merk Opacki (2000: 119) op dat elke nuwe stel sosiohistoriese omstandighede nuwe literêre tendense tot gevolg het, en Frederik Jameson (2000: 170) gebruik die term “ideologeme” in 1975 om na die historisiteit van genre te verwys. Duff (2000: 167) verduidelik dat Jameson die terme definieer waarop 'n behoorlike dialektiese weergawe van genrekritiek gebaseer kan word, een wat literêre genres interpreteer in die lig van historiese omstandighede wat hulle in stand hou en terselfdertyd ook aandag skenk aan die historisiteit van interpretasiehandelinge.

Veranderende kontekste beteken veranderende genres. Genres is fundamenteel plooibaar, en Smit-Marais (2012:11) sê tereg dat enige werk binne 'n genre die potensiaal het om verandering binne die genre te bewerk of beïnvloed. Stephenie Meyer se invloed, rondom 2005, op veranderinge in die vampier-fiksie-genre – 'n baie ou genre met wortels in die mitologie – bewys hierdie stelling. Duff (2000: 232) beweer selfs dat die persepsie dat literêre genres dinamies eerder as staties is die belangrikste faktor is wat moderne genreteorie skei van vroeëre genreteorie. Hy voeg by dat die prosesse waarvolgens genres verander dieselfde is as die prosesse wat aanleiding gee tot literêre verandering, en dat hierdie prosesse die hooftema is van meeste literatuurgeskiedenis en -kritiek (Duff, 2000: 233).

In 1924 spreek die Russiese formalis Yury Tynyanov (2000: 32) die mening uit dat 'n statiese definisie van genre, een wat alle moontlike manifestasies van die konsep omvat, onmoontlik is. Tynyanov ondersoek die proses waardeur genres beweeg van periferie na middelpunt en vernuwing bewerkstellig deur die posisie van 'n bestaande dominant in die middelpunt in te neem. Hy ondersoek ook die verband tussen dié proses en kanonisering (Tynyanov, 2000: 33-38), en bevind dat die idee van literariteit verskuif, nie net omdat genres ontwikkel nie, maar ook omdat hulle met mekaar kompeteer en mekaar modifiseer (Duff, 2000: 29). (Kyk Verandering (literêre.))

Om saam te vat: Die onderliggende beginsels wat genre bepaal – d.i. vorm, funksie, narratiewe tegniek, uitdrukkingsmodus en konteks – is samehangend. Genre is belangrik omdat dit analitiese hulpmiddels suggereer en vergelykings bied wanneer tekste ontleed word. Genres is dinamies verbind aan die kontekste waarin hulle manifesteer, vorm merkers van literêre verandering, en dra dikwels die belange (of ideologie) van hegemoniële groepe in die samelewing.

 

Literatuur

Aristoteles. 1991. Poëtika. Vertaal deur E.L. de Kock en Louise Cilliers. Johannesburg: Perskor.

Bal, M. (red.). 1981. Literaire genres en hun gebruik. Muiderberg: Coutinho.

Cilliers, L. 1988. Genresisteme in die Klassieke letterkunde en die nawerking daarvan in die Westerse letterkunde. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 28(1).

Calvino, I. 1992. If on a Winter’s Night a Traveller. London: Minerva.

Croce, B.  1965 [1902]. Aesthetic: A Science of Expression and General Linguistic. Vertaal deur Douglas Ainslie. New York: The Noonday Press.

Dubrow, H. 1982. Genre. London: Methuen. (The Critical Idiom.)

Derrida, J.  The Law of Genre. In: Duff (red.) 2000: 219-231.

Duff, D. (red.) 2000. Modern Genre Theory. Essex: Pearson Education.

Fowler, A. 1982. Kinds of Literature: An Introduction to the Theory of Genres and Modes. Oxford: Oxford University Press.

Genette, G. Theorieën van literaire genres: inleiding in de architekst (vertaal deur Mieke Bal). In: Bal (red.) 1981: 61-120.

Genette, G. 2000. The Architext. In: Duff (red.) 2000: 210-218.

Gill, R. 2006. Mastering English Literature. 3rd ed. New York: Palgrave Macmillan.

Hawthorne, J. 1993. Studying the Novel: An Introduction. 2nd ed. New York: Edward Arnold.

Jameson, F. 2000. Magical Narratives: On the Dialectical Use of Genre Criticism. In: Duff (red.) 2000: 167-192.

Jauss, H. R. 2000. Theory of Genres and Medieval Literature. In: Duff (red.) 2000: 127-147.

McHale, B. 1987. Postmodernist Fiction. London: Routledge.

Opacki, I. 2000. Royal Genres. In: Duff  (red.) 2000: 118-126.

Saayman, F. 1982. Teksanalise van die Ringkomposisies van Aiskhulos se Koorsange – ‘n ondersoek na ‘n bepaalde patroon van gedagte-ontplooiing teen die semiotiese agtergrond van simboliek en etiek. D.Litt.-proefskrif, Universiteit van Stellenbosch: Stellenbosch.

Scott, A.F. 1965.  Current Literary Terms: A Concise Dictionary of their Origin and Use.  London: Macmillan.

Shipley, J.T. (red.). 1970. Dictionary of World Literary Terms: Forms, Techniques, Criticism.  London: George Allen & Unwin.

Smit-Marais, S.J. 2012. Castaways and Colonists from Crusoe to Coetzee. PhD Thesis. Potchefstroom: North-West University.

Tynyanov, Y. 2000. The Literary Fact. In: Duff (red.) 2000: 29-49.

Todorov, T. (red.). 1982. French Literary Theory: A Reader.  Cambridge: Cambridge University Press.

Van der Merwe, C. N., en Hein Viljoen. 1998. Alkant Olifant: ’n inleiding tot die literatuurwetenskap. Pretoria: J.L. van Schaik.

Van Luxemburg, J., Bal, M. & Weststeijn, W. 1987 [1981].  Inleiding in de literatuurwetenschap. 5de herz. druk. Muiderberg: Coutinho.

Wimsatt, W.K. & Brooks, C. 1970. Literary Criticism: A Short History. London: Routledge.


Rilette Swanepoel
Joan Hambidge


(Bygewerk Augustus 2018)