Wenke vir die gebruiker

Die artikels op hierdie webwerf is alfabeties gerangskik volgens hoofwoorde (of Lemmas). Die kern van die webwerf is ‘n reeks langer artikels (waarvan die titels in hoofletters aangedui is) waarin verskillende begrippe of rigtings binne groter kontekste bespreek word. Hierdie lemmas kry ‘n mens onder die opskrif Lemmas of deur op die letters bo-aan te klik. Soorte vertellers kry mens dus byvoorbeeld in die bydrae Verteller (epiek). Daarnaas is daar ‘n aantal korter inskrywings wat spesifieke terme kortliks verklaar. Korter lemmas uit die Lexicon van literaire termen (2009) kan naas die Afrikaanse lemmas geraadpleeg word (hoewel omskrywings van al die terme nog nie in albei tale beskikbaar is nie). Vir verdere naslaanwerk in Nederlands kan die leser die Algemeen letterkundig lexicon van Vis en andere raadpleeg.

Skakels in die teks neem die leser na ander bydraes waarin die betrokke term nader omskryf word. Verdere kruisverwysings word verstrek aan die einde van elke inskrywing of in kassies wat kruisverwysings oor bepaalde onderwerpe in meer besonderhede aangee. Daar is ook ‘n uitgebreide trefwoordelys waarin die leser terme kan gaan soek wat nie in die alfabetiese deel voorkom nie. Dit sal hom of haar verwys na die bydraes waarin die betrokke term wel bespreek word.

Die soekfunksie sal die leser na al die lemmas neem waarin die betrokke soekwoord gebruik word. Soek byvoeglike naamwoorde onder die betrokke selfstandige naamwoord, byvoorbeeld postmodernisties onder Postmodernisme. Raadpleeg die hoofwoord eerste. Kruisrym vind ‘n mens byvoorbeeld onder Rym. Sekere bekende begrippare word saam bespreek. Estetiese objek sal ‘n mens dus vind onder Artefak en estetiese objek. Omdat soveel begrippe gekwalifiseer word met literêr, word sulke terme onder die hoofwoorde gerangskik. Literêre evaluering staan dus onder E as Evaluering (literêre).

Onder die subopskrif “Raadpleeg ook” vind die leser bronne oor meer resente diskussies op die betrokke terrein. Die bedoeling is egter om die webwerf deurlopend by te werk en aan te vul, en lesers word uitgenooi om deel te neem aan hierdie proses of om kommentaar te lewer op die bestaande inskrywings.

Ten slotte verskyn daar ook ‘n lys algemene naslaanwerke waarin, vir die gerief van die leser wat verder wil soek, veral ensiklopedieë en woordeboeke opgeneem is.