ALGEMENE LITERATUURWETENSKAP

Die Algemene Literatuurwetenskap is ‘n outonome wetenskap wat sigself besig hou met die beskrywing van die LITERATUUR as ‘n unieke of besondere verskynsel. Die uitgangspunt is literêr a-nasionaal, omdat ‘n teks uit enige taal bestudeer kan word ten einde vas te stel wat van die literatuur per se literatuur maak. Daar word bv. nagegaan in watter opsigte die literêre taalgebruik verskil van die daaglikse omgangstaal; hoe sit die literêre werk inmekaar: bestaan daar bv. een algemene model van die ROMAN, of is elke roman ‘n model op sigself? Bestaan daar ‘n verband tussen die literêre werk en die werklikheid, is daar m.a.w. referensialiteit of is die literêre werk in wese nie-referensieel? Ondersoek word ook ingestel na die verskillende soorte of vorme (GENRES) van die literêre teks.

Die besondere literatuurwetenskap (Afrikaans, Engels, Duits, Italiaans, ens.) daarenteen, bestudeer ‘n literêre werk binne ‘n partikuliere nasionale teks. Die verskillende geskiedenisse van die Afrikaanse literatuur kan as voorbeelde dien van ‘n ondersoek binne die besondere literatuurwetenskap. ‘n Spesifieke teks, bv. Elisabeth Eybers se digbundel Belydenis in die skemering, word eerstens in so ‘n literatuurgeskiedenis as ‘n Afrikaanse dig¬bundel bestudeer. Daarna word dit binne die oeuvre van Elisabeth Eybers geplaas. Eybers behoort egter ook tot ‘n bepaalde groep of generasie skrywers, nl. die sg. Dertigers. Maar daar kan alleenlik sprake wees van die Dertigers, omdat hulle bepaalde skryfstyl gekontrasteer word met die Twintigers en Veertigers. By Eybers is daar voorts ook sprake van ‘n ontwikkeling in haar latere werk. Die verskillende groepe of generasies maak ten slotte deel uit van die Afrikaanse literatuurgeskiedenis.

Die Vergelykende Literatuurwetenskap, ook genoem die KOMPARATISME (Eng.: comparative literature; Fr.: littérature comparée; Dts.: Vergleichende Literaturwissenschaft), word dikwels as ‘n onderafdeling van die Algemene Literatuurwetenskap gesien, terwyl dit eintlik ‘n afsonderlike vakgebied is met ‘n eiesoortige problematiek. Die Vergelykende Literatuurwetenskap kan gesien word as ‘n oorskryding van die besondere literatuurwetenskap: ‘n vergelyking tussen Molière en Shakespeare is poli-nasionaal vir hierdie uitgangspunt. Die wedersydse beïnvloeding en ooreenkomste word aangedui, terwyl die Algemene Literatuurwetenskap konsentreer op die universele literêre eienskappe.

In ‘n uitgebreide artikel “Algemene Literatuurwetenskap en sy plek binne die leerganggroep tale” wys H.C.T. Müller (1970: 21) op verskeie wanopvattinge oor die Algemene Literatuurwetenskap. Die populêre opvatting dat die Algemene Literatuurwetenskap ‘n “teoretiese literatuurwetenskap” is, teenoor die “praktiese literatuurwetenskap” van die besondere literatuurwetenskap, word verwerp. Daar bestaan vanselfsprekend nie so iets as ‘n praktiese wetenskap nie! “Teoretisering, die vorming van konsepte d.m.v. abstrahering, is ‘n absolute vereiste en voorwaarde vir alle wetenskapsbeoefening. As die besondere literatuurwetenskap bloot prakties was en sonder teorie en abstraksie (al is dit dan net implisiete teorie en onvolledige abstraksie) kon klaarkom, sou dit geen wetenskap gewees het nie, maar slegs ‘n primitiewe en dilettantistiese bedryf. Tweedens is die kombinasie van ‘teoreties’ en ‘wetenskap’ natuurlik dan ‘n pleonasme: alle wetenskap, wat onderskei wil word van nie-wetenskaplike aktiwiteit, is teoreties omdat dit gebruik moet maak van ‘n stelsel van voorveronderstellings oor die aard van sy objek”.

Daar kan ook nooit sprake wees van ‘n absolute skeiding tussen die Algemene Literatuurwetenskap en die besondere literatuurwetenskap nie; die verhouding is eerder iets soos die verhouding tussen wiskunde en toegepaste wiskunde. Die Algemene Literatuurwetenskap is ook nie meer teoreties of spekulatief (‘n soort “vae” estetiese estetika) as die besondere literatuurwetenskap nie, want die Algemene Literatuurwetenskap toets voortdurend alle aannames of hipoteses oor die literatuur aan die literêre teks. Die Algemene Literatuurwetenskap behou dus empiriese kontak met literêre werke, omdat wetenskaplike ondersoek altyd observasie, induksie, deduksie, ens., veronderstel. Daar kan hoogstens aangevoer word dat die perspektief of vertrekpunt sal verskil. Indien F. Scott Fitzgerald se The Great Gatsby (1929) as ‘n voorgeskrewe werk behandel word in ‘n Engelse departement, sal die volgende aspekte aandag geniet: die sg. Jazz-generasie; die struktuur of opbou van die werk (nl. dat dit ‘n belydenisroman is); die funksie van die ek-verteller-as-waarnemer; die KARAKTERS; die tema; die skryfstyl; in watter mate hierdie werk aansluit by Fitzgerald se oeuvre as sodanig; ‘n bestudering van die “American dream and its demise” en hoe dit neerslag vind in hierdie werk. In die Algemene Literatuurwetenskap-departement sal aandag gegee word aan The Great Gatsby as voorbeeld van die roman: die eenheid TYD-ruimte sal bv. ondersoek word; die wyse van karaktertekening; die rol van die VERTELLER; die hoek van vertelling (ek, personaal, ouktorieel, of kombinasies van al drie); die samespel van MOTIEWE (droom vs. illusie) as ‘n illustrasie van hoe ‘n skrywer dit kan aanwend (vgl. Müller, 1970: 22). Daar word m.a.w. gekyk na wat van hierdie roman ‘n roman maak en hoe dit geskied.

As outonome wetenskap benodig die Algemene Literatuurwetenskap ook algemene omskrywingsbegrippe (die sg. *metataal) en ‘n metodologie van ondersoek. Net so min as wat die chemikus sonder sy formules en simbole kan klaarkom, kan die literatuurwetenskaplike in alledaagse taal praat oor die teks. ‘n Wetenskaplike ondersoek voorveronderstel ‘n skeiding tussen die navorser en objek van ondersoek. (Vgl. die afdeling “Methodologische problemen” in Tekstboek Algemene Literatuurwetenschap van Bronzwaer, Fokkema & Kunne-Ibsch, 1977: 9-48.) Dié afdeling van die Algemene Literatuurwetenskap is dus gerig op die verfyning van die “apparaat” wat benodig word, want begrippe soos STRUKTUUR, GENRE, TEKS, ens., veronderstel ‘n afstand tussen die navorser en sy objek van ondersoek.

Die Algemene Literatuurwetenskap bestudeer ook sy eie geskiedenis of historiese ontwikkeling, omdat dit helderheid verskaf aangaande talle teoretiese probleme. Die Algemene Literatuurwetenskap het deur die eeue heen bloot bestaan as ‘n aanhangsel van ander dissiplines, hoewel daar van die vroegste tye af ‘n kritiese bespreking van literêre werke bestaan het. So bv. was daar streng voorskrifte in die 18e eeu oor wat “goeie literatuur” sou genereer.

‘n Ondersoek na die verskillende skole of strominge binne die Algemene Literatuurwetenskap veral, wys uit dat verskillende opvattings van die literêre kunswerk in verskillende periodes geheers het. Die gewilde opvatting dat die opeenvolging van skole ‘n sinneloosheid is, ontken die basiese gegewe van wetenskaplike ondersoek, nl. dat daar wel foute gemaak moet word ten einde nuwe insigte te kan verwerf. Geen teorie veronderstel ‘n finale of absolute blik op die werklikheid nie; ‘n teoretiese uitspraak behoort altyd teen die agtergrond van die historiese ontwikkeling gesien te word. Die STRUKTURALISME bou voort op die beginsels van die RUSSIESE FORMALISME; die POST-STRUKTURALISME verwerp die meeste strukturalistiese aannames, maar geen post-strukturalis kan sy teorieë beskryf sonder die basiese “mistastinge” van die Strukturalisme nie.

Wat veral opvallend is van die 19de-eeuse benadering tot die literatuur, is die geweldige klem wat gelê is op die invloed van die skrywer op die literêre werk. Die sg. “mens-agter-die-boek”, waarteen N.P. van Wyk Louw te velde getrek het, of die “mens achter het werk” (Frank C. Maatje) word deur talle 20e-eeuse teoretici verwerp. Daar word egter nagelaat om te verduidelik waarom hierdie verband tussen die skrywer en sy werk indertyd so belangrik was. Die 19de eeu kan gesien word as ‘n tydperk waarin die POSITIVISME oorheers het. Dié denkrigting het skerp gereageer teen die romantiese idee dat die sg. metafisiese aspek van die literatuur belangrik is. Wilhelm Sherer (na analogie van H. Taine se le race, le milieu en le moment) het die eis gestel dat die digter se Erlernte, Erlebte en Ererbte ondersoek moet word. Die som van die skrywer se kennis, persoonlike belewenisse en oorgeërfde eienskappe is die trits waarop die literêre kunswerk sou berus – ‘n duidelike aanval dus op die Romantisisme.

Die POSITIVISME  was duidelik poietocentrisch ingestel (Maatje, 1971: 29). Vanweë die geloof aan die kousaliteitsprinsipe word die bepaalde werk direk herlei na die skrywer se persoonlikheid. Die BIOGRAFISME of BIOGRAFIES-PSIGOLOGISTIESE BENADERING (‘n uitbreiding hiervan is die EKSISTENSIALISTIESE literatuurbeskouing – vgl. bv. Jean-Paul Sartre se studie oor Baudelaire) word deur 20e-eeuse teoretici verwerp. W.K. Wimsatt en Monroe C. Beardsley het in hulle bekende artikel “The intentional fallacy” (Maxwell-Mahon, 1979: 213) gewys op die voor-die-hand-liggende nadele van hierdie metode. Selfs hierdie problematiese aanname i.v.m. die verhouding skrywer-teks was ‘n noodsaaklike weg-bereiding vir die latere strukturele benaderings wat veral die outonomie van die teks beklemtoon het. (Vgl. OUTONOMIE VAN DIE LITERêRE WERK.) Onder sekere omstandighede mag die biografistiese benadering wel aangewend word – soos bv. in die rekonstruering van Middeleeuse tekste (Maatje, 1971: 35).

Die verandering in die benadering tot die literêre teks kan o.m. toegeskryf word aan ‘n verandering in die denkklimaat. Aan die einde van die 19de eeu is daar ‘n verandering in die algemene wetenskaplike benadering aantoonbaar. Die Duitse filosoof Wilhelm Dilthey beklemtoon die eiesoortigheid van die geestes- of menswetenskappe. Die positivistiese kousaliteitsprinsipe pas volmaak binne die raamwerk van die natuurwetenskappe, terwyl die literêre teks nie so genoegsaam verstaan kan word nie. Die natuurwetenskaplike moet eksak kan verklaar (erklären), terwyl die geesteswetenskaplike slegs kan begryp (verstehen) (Maatje, 1971: 36).

Die Russiese Formaliste beklemtoon onafhanklik van Dilthey se Geistesgeschichte die outonomie van die literêre teks. Vanweë die beklemtoning van die wetenskaplike analise opponeer hulle die breuk tussen die geestes- en natuurwetenskappe. Ook hulle opvattings kan deur die tydsgees verklaar word, want hierdie groep teoretici kon hulle nie vereenselwig met die eise en voorskrifte van ‘n regering nie: “ ‘Art was always free of life,’ Šklovskij wrote petulantly, ‘and its color never reflected the color of the flag which waved over the fortress of the city’ ” (Erlich, 1965: 77).

Die belangrikste verteenwoordigers is Šklovskij, Brik, Eichenbaum en Tomaševskij. Hulle kan as die eerste skool gesien word wat die outonomie van die literêre teks beklemtoon het. Die VORM (hulle noem dit nooit ‘n STRUKTUUR nie) is die belangrikste uitgangspunt; die taligheid van die literêre kunswerk bepaal die aard daarvan. Die teks staan volgens hulle heeltemal los van die skrywer of sy onderhawige agtergrond. Die hoe i.p.v. die wat van die literêre teks is belangrik. Die literaturnost van die werk moet bepaal word, en vir die Russiese formaliste bestaan daar nie so iets as “poëtiese onderwerpe” nie; die taal word ingespan en “vervorm” ten einde ‘n poëtiese effek te verkry. Die gedig is opgebou uit priëms (RITME, METRUM, e.d.m.), wat gesien kan word as die agente of draers van die literaturnost of “literatuur-heid” (LITERARITEIT) van die teks. In hulle wetenskaplike en teksgerigte studie van die literatuur is veral die begrip VERVREEMDING van kardinale belang. Deur middel van ostranenie ontgin die digter die taal, verras hy die leser en skok hy hom d.m.v. ‘n nuwe voorstelling. Dit beklemtoon dat die leser se aandag toegespits is op die teks; niks word herlei na die agtergrond of lewe van die skrywer nie. Net hoe ‘n bepaalde stylfiguur ontgin word is vir hulle belangrik. Šklovskij meen dat alle literatuur hierop gebaseer is: “As if in order to prove that ‘the device of making strange’ (priëm ostranija) was not merely a slogan of the literary avant-garde, but an omnipresent principle of imaginative literature, Šklovskij drew his most telling examples from the master of the ‘realistic’ novel, Leo Tolstoy” (Erlich, 1965: 177). (Vgl. RUSSIESE FORMALISME.)

Ook die Praagse Linguistiese Kring (Circle Linguistique de Prague) het meegewerk aan die ontwikkeling van die Algemene Literatuurwetenskap. Die belangrikste figure is B. Havránek, Jan Mukařovský en B. Trnka. As linguiste ontwikkel hulle prinsipes vir die beskrywing van die taal wat veral deur die strukturaliste aangewend is – die beroemde analise van Roman Jakobson en Claude Lévi-Strauss van Baudelaire se “Les chats” kan as ‘n voorbeeld hiervan dien (Bronzwaer et al., 1977: 126).

Ongeveer in die middel van die dertigerjare het verskeie stilistiese skole ontstaan, soos o.m. die Franse Explication de texte. Roman Ingarden se Das literarische Kunstwerk (1931) uit dié tyd is ‘n standaardwerk oor die literêre ontologie. Die betekenis van die literêre kunswerk word uit die teks self gehaal. Dit is duidelik dat hierdie beweging voortbou op die beginsels van die Russiese Formaliste. Veral die Amsterdamse Stilistische School o.l.v. Hellinga het die prinsipes van stylondersoek verfyn.

Die STILISTIEK is vanselfsprekend nie los te maak van die Strukturalisme nie, hoewel daar beklemtoon moet word dat daar verskillende toepassings hiervan bestaan. Die sg. “begin” kan teruggevoer word na Ferdinand de Saussure se baanbrekerswerk (Cours de linguistique générale, 1915). Todorov, Greimas, Lévi-Strauss en veral die briljante Roland Barthes kan as die uiteenlopende verteenwoordigers van Franse Strukturalisme gesien word (Fokkema & Kunne-Ibsch, 1978: 50-80).

Aan die einde van die jare twintig is daar ook sprake van vernuwing in die Angel-Saksiese literatuurwetenskap. Veral I.A. Richards se Principles of Literary Criticism (1924) en Practical Criticism – a Study of Literary Judgement (1929) illustreer die beginsels van die NEW CRITICISM, met uiteenlopende teoretici soos William Empson (‘n student van Richards), Cleanth Brooks, J.C. Ransom, R.P. Blackmur, A. Tate, Y. Winters en ook die digter T.S. Eliot. Samehangend met die Franse Explication de texte en die Engelse *practical criticism kan die Duitse Interpretative Richtung onderskei word.

Die soms absolutistiese toepassing van die teks as outonome eenheid word deur talle strukturaliste in hul sg. post-strukturalistiese fase bevraagteken en verwerp. Maar dit is veral die RESEPSIE-ESTETIKA (Rezeptionästhetik) wat ‘n fundamentele verskuiwing in die benadering tot die literêre teks meegebring het. Dié beweging het in die sestigerjare o.l.v. Wolfgang Iser en Hans Robert Jauss ontstaan. Hulle verwerp die idee van ‘n “objektiewe” lees van ‘n teks. Ten einde hierdie problematiek helderder te omlyn, word aangevoer dat verskillende soorte lesers onderskei moet word, nl. die werklike leser teenoor die implisiete of abstrakte leser, d.w.s. die leser wat ingebed is in die KODES van die teks en wat dus by implikasie alles kan verstaan. Die skrywer het ‘n ideale leser (superreader) in gedagte wanneer hy begin skryf, en die eksplisiete leser is die leser wat deur die implisiete outeur direk aangespreek word, bv. as “Liewe leser”. (Vgl. LESERTIPES en LESERROL.)

Hoewel die Resepsie-estetika ‘n klemverskuiwing meebring in die verhouding teks/leser, behou dit egter sekere beginsels van die Strukturalisme. Daar word o.m. gebruik gemaak van SEMIOTIESE beginsels (omdat lees ‘n kommunikasieproses is) en PSIGOANALITIESE metodes. (Vgl. BIOGRAFIES-PSIGOLOGISTIESE BENADERING.) Ook die LITERATUURSOSIOLOGIE word aangewend. Wat wel belangrik is, is dat die teks, anders as in die outonomie-beweging, nooit gesien word as finale, afgeronde eenheid nie, maar as ‘n proses van kommunikasie.

Die MARXISTIESE BENADERING tot die literatuur kan ook as ‘n belangrike skool in die 20e eeu gesien word. Binne die bestek van die Algemene Literatuurwetenskap veroorsaak hierdie benadering egter geweldige teoretiese probleme: “Different from Russian Formalism or French Structuralism, Marxist literary theories have a basis in a normative philosophy with explicit ideas about epistemological questions. Marxist theory cannot accept any criticism on a purely empirical basis. On the other hand, the criticism of Marxist theory on the basis of norms derived from the same theory cannot be considered satisfactory either. For instance, criticism of the Chinese interpretation of  Marxist theories on the basis of the original writings by Marx and Engels, or criticism of Marx and Engels on the basis of criteria derived from neo-Marxism will necessarily remain limited in scope. The very basis of Marxist thought, common to the original Marxist philosophy and its various offsprings, would escape a critical assessment in this way” (Fokkema & Kunne-Ibsch, 1978: 81). Dit veroorsaak dat die Marxistiese benadering tot die literatuur vanuit ‘n metateoretiese standpunt geëvalueer moet word; dit hou implikasies in vir die kritikus wat nie met al die aannames akkoord gaan nie. Daarom is hierdie benadering vernouend en eng, want ‘n spesifieke hoeveelheid beskouings of vooropgestelde idees impliseer dat ‘n teks vanuit ‘n bepaalde perspektief geëvalueer word én dat sekere tekste vir die Marxistiese skool onaanvaarbaar sal wees; Kafka se Der Prozess is só bv. deur Lukács as ontvlugtingsliteratuur beskryf, omdat hy nie sy eie “patroon” kon vind nie (vgl. vir ‘n evaluering van die Marxistiese benadering: Fokkema & Kunne-Ibsch, 1978: 131). (Vgl. DEKONSTRUKSIE.)

Die verskillende skole of benaderings binne die Algemene Literatuurwetenskap moet nooit as (‘n) finale teorie gesien word nie. ‘n Partikuliere teorie moet ook binne ‘n bepaalde historiese konteks geëvalueer word, met die wete dat dit voortdurend aangepas of verbeter kan word.

 

Bibliografie

Bronzwaer, W.J.M., Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. (reds.). 1977. Tekstboek Algemene Literatuurwetenschap. Baarn: Ambo.

De Saussure, F. 1966. Kursus in Algemene Taalkunde (vert. A. Lee). Pretoria: Van Schaik.

Erlich, V. 1965. Russian Formalism: History-Doctrine. Den Haag: Mouton.

Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. 1978. Theories of Literature in the Twentieth Century: Structuralism, Marxism, Aesthetics of Reception, Semiotics. London: Hurst.

Ingarden, R. 1965. Das literarische Kunstwerk. Tubingen: Nie-meyer.

Kannemeyer, J.C. 1978. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur, band 1. Pretoria & Kaapstad: Academica.

Maatje, EC. 1971. Literatuurwetenschap: grondslagen van een theorie van het literaire werk. Utrecht: Oosthoek.

Maxwell-Mahon, W.D. (ed.). 1979. Critical texts: Plato to the Present Day. Johannesburg: Perskor.

Müller, H.C.T. 1970. Algemene Literatuurwetenskap en sy plek binne die leerganggroep tale. In: Acta Germanica: Jahrbuch des süd-afrikanischen Germanistenverbandes. Kaapstad: Balkema.

Richards, I.A. 1929/1950. Practical Criticism: A Study of Literary Judgment. New York: Harcourt & Brace.

Richards, I.A. 1924/1955. Principles of Literary Criticism. London: Routledge & Kegan Paul.

Sartre, J.P. 1949. Baudelaire (transl. M. Turnell). London: Hamish Hamilton.

 

 

Raadpleeg ook:
Hrushovski, B. 1976. Poetics, Criticism, Science. PTL: A Journal for Descriptive Poetics and Theory, 1(1).

 

Joan Hambidge