Anachronie Die term anachronie word gebruik deur Genette om die tydsafwykings in ‘n verhalende teks mee te beskryf. (Vgl. TYD IN DIE LITERATUUR.) Die term hang saam met Genette se onderskeiding van drie vlakke waarop die verhalende teks ontleed kan word, nl. die STORIE (histoire of GESKIEDENIS in Mieke Bal se terminologie), die VERHAAL (récit of discours in Todorov se terminologie en PLOT in die tradisionele Anglo-Amerikaanse teorie) en die VERTELLING (narration of TEKS in Bal se terminologie). Die storie is die chronologies en logies en kousaal samehangende reeks elemente wat gerekonstrueer kan word uit die teks, en die verhaal is die reeks elemente soos wat dit daar in die DISKOERS artistiek en betekenisvol georden voorkom. Die vertelling het met die aard van die vertelhandeling self te make.
Die analise van tydsafwykinge het te make met die volgorde van verhalende elemente en hierdie analise word gedoen deur die verhouding tussen storie (geskiedenis) en verhaal te bestudeer.
In ‘n verhaal is daar verskillende tydsreekse gelyktydig aanwesig. Dit gaan daarom dat in ‘n verhalende teks temporele verhoudinge tot stand gebring word (deur die wyse waarop die verhaal aangebied en georden word) in terme van ander temporele verhoudinge (die storie waarna die elemente in die verhaal verwys).
Al hierdie temporele verhoudinge kan verstaan word op grond van die feit dat dit manipulasies is van tydskonsepte wat uit die werklike lewe aan mense bekend is.
Genette onderskei tussen die tyd van die SIGNIFIANT en die tyd van die SIGNIFIÉ, d.w.s. die tyd van die verhaal (van die récit of discours), en die tyd van die storie. Hy aanvaar ook dat die signifiant in ‘n literêre teks lineêr van aard is en in sy lineêre opeenvolging gelees word, sodat daar ook sprake kan wees van ‘n soort leestyd. Die teks bestaan immers as ‘n ruimtelike objek en word as sodanig in tyd “verbruik”. Hierdie soort tyd is egter onkontroleerbaar, want die teks as objek “has no other temporality than what it borrows metonymically from its own reading” (Genette,” 1980: 34). Die tyd van die storie en die tyd van die verhaal is dus albei vorme van pseudo-tyd en moet as sodanig bestudeer word.
Genette ondersoek drie belangrike tydsaspekte van die verhalende teks. Hy stel eerstens die temporele volgorde van die gebeurtenisse in die geskiedenis of storie teenoor die pseudo-temporele volgorde van dieselfde gebeurtenisse soos gerangskik in die verhaal. Daarna vergelyk hy die duur van die gebeurtenisse of storiefragmente met die pseudo-duur van dieselfde gebeurtenisse in die verhaal, d.w.s. die hoeveelheid teks daardeur in beslag geneem of daaraan afgestaan. Hier word dus na verteltempo gekyk. In die derde plek ondersoek Genette die frekwensie van verhaalelemente deur die aantal kere wat ‘n gebeurtenis in die storie voorkom te vergelyk met die aantal kere wat dieselfde gebeurtenis in die verhaal of diskoers vertel word.
Deur die volgorde van elemente in die storie te vergelyk met die volgorde van die elemente in die verhaal, maak Genette ‘n indeling van die soorte tydsafwykings wat volgens hom in tekste voorkom. Die term anachronie word deur Genette (1980: 36) gebruik vir “the various types of discordance between the two orderings of story and narrative”. Om die anachronieë te bepaal en te beskryf, beteken dat ‘n hipotetiese nulgraad van perfekte temporele ooreenstemming tussen storie en verhaal geïmpliseer word, ‘n narratiewe onmoontlikheid maar ‘n noodsaaklike teoretiese vertrekpunt.
Hoewel moderne verhale by uitstek gekenmerk word deur die omverwerping van die chronologie en die veelvuldige gebruik van anachronieë, kom anachronieë al van die vroegste tye af in die literatuur voor. Genette (1980: 36) noem die gebruik van anachronieë een van die tradisionele verteltegnieke en hy gee ‘n uitvoerige beskrywing van verskillende soorte anachronieë n.a.v. ‘n analise van die roman Á la recherche du temps perdu van Marcel Proust.
Wanneer die verhaal ‘n terugblik of toekomsvisie van ‘n karakter se gedagtes weergee, praat Genette van ‘n subjektiewe anachronie en wanneer die verhaal self in die verlede of toekoms in beweeg, praat hy van ‘n objektiewe anachronie. Genette gebruik die terme prolepsis en analepsis om tydsafwykinge in verskillende rigtings aan te toon, “designating as prolepsis any narrative manoeuvre that consists of narrating or evoking in advance an event that will take place later, designating as analepsis any evocation after the fact of an event that took place earlier than the point in the story where we are at any given moment, and reserving the general term anachrony to designate all forms of discordance between the two temporal orders of story and narrative” (Genette, 1980: 40).
Genette illustreer hoe ‘n teksgedeelte in temporele segmente gedeel kan word en elke segment benoem kan word as A, B, C, D, ens. Dieselfde segmente beklee sekere posisies in die chronologiese volgorde in die storie en kan dus op grond van hierdie posisies 1, 2, 3, 4, ens. genoem word. Die temporele verhouding van die verhaalsegmente kan deur ‘n formule voorgestel word, bv.:
A2-B1-C2-D1-E2-F1-G2.
Wanneer die teksgedeelte noukeuriger beskou word, kan die formule verder verfyn word. Naas mekaar gestelde en ondergeskikte sinsdele word gebruik as die aanduiding van watter segmente belangriker is as ander.
Dan kan die formule so lyk:
A2 [Bl] C2 [D1(E2)F1(G2)H1]I2, of selfs so:
a a
A2 [Bl] C2 [D1(E2)F1(G2)H1] 12
p p
Analepsis (a) en prolepsis (p) dui hier die wisselende spel van temporele verhoudinge aan. Die analise van ‘n teksgedeelte op hierdie wyse kan grootliks bydra tot begrip van die temporele verhoudinge van verhaalsegmente, wat uiteindelik ‘n beter begrip van die teks as geheel in die hand sal werk.
‘n Anachronie kan na ‘n moment verwys wat nader of verder van die “hede” in die verhaal verwyder is deur bv. na ‘n oomblik of gebeurtenis te verwys wat ‘n uur, ‘n dag, ‘n dekade of ‘n eeu in die verlede of toekoms 1ê. Die temporele afstand wat ‘n anachronie dek, noem Genette die span (“reach”) van die anachronie. Die verhaal kan slegs ‘n enkele moment uit die toekoms of verlede oproep, of die vertelling kan op ‘n punt onderbreek word om die gebeure van ‘n dag of selfs ‘n jaar tussenin uitvoerig te vertel. Die tydsverloop wat die anachronie dek, word die omvang (“extent”) van die anachronie genoem.
‘n Analepsis word ekstern genoem as die hele omvang van die analepsis buite die omvang van die primêre verhaal val. ‘n Interne analepsis bly binne die omvang van die verhaal (binne die omvang van die temps du récit). ‘n Gemengde analepsis begin vroeër as die verhaal, maar die omvang van die analepsis is sodanig dat dit verby die chronologiese beginpunt van die verhaal beweeg. Interne en gemengde analepsisse dek dieselfde (of deels dieselfde) tydsverloop as die primêre verhaal self, en die inligting daarin vervat kan redundant of botsend wees t.o.v. die verhaal. Daarom moet die tydsafwykinge noukeuriger geanaliseer word en nader gekwalifiseer word om hulle spesifieke funksies in ‘n spesifieke teks te kan bepaal.
‘n Heterodiëgetiese analepsis gee bykomende inligting wat nie by die primêre verhaallyn inskakel nie, maar ‘n homodiëgetiese analepsis het met dieselfde verhaalverloop as die primêre verhaal te make.
‘n Homodiëgetiese analepsis kan bv. ‘n voorafgaande gaping in die verhaal aanvul en word dan ‘n voltooiende analepsis genoem. ‘n Herhalende analepsis voer die verhaal doelbewus op dieselfde pad terug, gewoonlik in retrospeksie of herinnering. Lämmert (1968) noem hierdie analepsisse Rückgriffe, en baie dikwels vervul hulle ‘n belangrike funksie deur die aanvanklike betekenis van ‘n gebeurtenis te verander of aan te pas of nader te omskryf. Die tegniek om kennis van die ware betekenis van ‘n gebeurtenis uit te stel, stem ooreen met die werking van die enigma wat Barthes in S/Z analiseer.
Genette onderskei ook tussen die soorte gapings wat in ‘n teks voorkom: ellips kom voor as die verhaal ‘n sprong in die tyd maak en paralepsis as die verteller (of verhaal) ‘n belangrike element systap om later (om bepaalde artistiek betekenisvolle redes) daarna terug te kom. Genette (1980: 195) gebruik ook die term paralepsis wat verwys na die verskaffing van bykomende en onnodige inligting.
‘n Gemengde analepsis kan volledig of onvolledig wees. ‘n Onvolledige analepsis eindig met ‘n ellips, sodat daar ‘n gaping (in tyd) tussen die einde van die analepsis en die hervatting van die primêre verhaal is, en ‘n volledige analepsis sluit direk by die verhaal aan. Die onvolledige analepsis gee dus inligting wat temporeel “los” staan van die tydsverloop in die primêre verhaallyn, terwyl ‘n volledige analepsis ‘n verhaalgedeelte, wat by wyse van spreke “in die middel” begin het, aanvul deur na die begin van die situasie terug te gaan en die leemte tot op ‘n bepaalde punt te vul waar hierdie punt temporeel dan direk by die primêre verhaal aansluit.
Antisipasie of prolepsis is minder algemeen as analepsis, maar in À la recherche du temps perdu kom daar soveel voorbeelde van hierdie soort anachronie voor, dat Genette in staat is om ook prolepsisse in kategorieë te deel en aan die hand van voorbeelde te illustreer.
Prolepsisse kan ook intern of ekstern wees, en ook heterodiëgeties of homodiëgeties van aard. ‘n Homodiëgetiese prolepsis is voltooiend as ‘n latere gaping in die verhaal vroeër reeds gevul word, of herhalend as ‘n latere verhalende gedeelte in geheel of gedeeltelik vooruit vertel word (Genette, 1980: 71). Sulke herhalende prolepsisse is gewoonlik kort verwysings na ‘n gebeurtenis wat later vollediger verhaal sal word. Genette noem hierdie anachronieë ook vooruitwysings (advance notices), wat die belangstelling en verwagting van die leser prikkel en hou vir korter of langer dele van die teks, afhangende van die span van die prolepsisse. ‘n Prolepsis kan ook volledig of onvolledig wees namate dit by die tydsverloop van die primêre verhaal aansluit of nie.
Uit Genette se bespreking is dit duidelik dat die verskillende soorte anachronieë nie lewelose of bloot akademiese terme is nie. Hy benoem tydsafwykinge wat inderdaad in tekste voorkom. Verder is dit ook duidelik dat hierdie anachronieë betekenisvol is en ‘n belangrike funksie vervul in die uiteindelike strukturele betekenis van die literêre werk, en die kompetente leser ontwikkel ‘n vermoë om hierdie betekenis te begryp as deel van die narratiewe *kode van ‘n bepaalde werk. Die verteller kan ook opsetlik verwarrende of selfs valse vooruitwysings maak, sodat die teks ‘n ingewikkelde spel tussen leser en verteller word: “… this complex system of frustrated expectations, disappointed suspicions, surprises, looked forward to and finally all the more surprising in being looked forward to and occurring nonetheless …”
(Genette, 1980: 77).
Die spel met anachronieë kan so ver gevoer word dat ‘n teks eintlik as achronies bestempel kan word. In Proust se meesterstuk dien hierdie verskynsel egter ‘n bepaalde doel. Die antisipasies wat in herinnering geroep word, staan dikwels in skerp kontras tot die “werklikheid” van die hede van die verhaal, bv. waar ‘n “unhoped-for paradise”, waarna uitgesien is en waaroor met groot intensiteit gedroom is, uiteindelik “a prosaic and totally charmless reality” word. Die anachronieë werk dus mee om die essensie van die hoofkarakter se lewe uit te beeld, nl. dat hy sy lewe ervaar as ‘n netwerk van verwikkelde herinneringe en belewenisse – deur Genette as omnitemporality beskryf. Hierdie gelyktydige en komplekse bewustheid van verlede, hede en toekoms, die toekoms soos in die verlede en die verlede soos in die toekoms gesien, is die kern van die eiesoortigheid van die roman, dit is struktureel en inhoudelik die essensie van die syn daarvan.
Wat dikwels in kontemporêre tekste gebeur, is dat tekselemente en tekssegmente bymekaar gegroepeer word op grond van tematiese of enige ander verwantskap, sonder inagneming van chronologie. Daardeur word die temporele outonomie van die verhalende teks geïllustreer. Hierdie vorm van ordening noem Genette (1980: 85) sillepsis: “… those anachronistic groupings governed by one or another kinship (spatial, temporal, or another)”. In die Duitse literatuurwetenskap word die terme Rückwendungen en Vorausdeutungen gebruik om analepsis en prolepsis mee aan te dui. Lämmert (1968: 100-184) onderskei verskillende soorte Rückwendungen, bv. aufbauende of auflösende Rückwendungen en ook eingeschobene Rückwendungen wat drie vorme kan aanneem, nl. die Rückschritt, Rückgriff en Rückblick. Daar is ook verskeie soorte Vorausdeutungen wat apart benoem en beskryf word. Omdat hierdie terme met meer algemene beskrywings werk, wil dit voorkom asof Genette se teorie oor die onderskeiding tussen soorte tydsafwykinge makliker hanteerbaar kan wees.
Anachronieë, wat hoofsaaklik met die volgorde van tekselemente te make het, is egter maar een van die manifestasies van die temporele kompleksiteit van verhalende tekste. Genette (1980: 86) ontleed ook duur as temporele verskynsel.
Omdat die verhouding tussen die tydsverloop van die DIëGETIESE reeks gebeure (die storie) en die tydsverloop van die teks soos wat dit gelees word, bykans onbepaalbaar is, gaan Genette (1980: 87-88) uit van die begrip “steadiness in speed”, waar spoed soos volg omskryf word: “… the speed of a narrative will be defined by the relationship between a duration (that of the story, measured in seconds, minutes, hours, days, months and years) and a length (that of the text, measured in lines and in pages).” ‘n Volkome isochroniese verhaal, waarin die duur van die storie in ‘n direkte en onveranderlike verhouding staan tot die lengte van die verhaal, is dus slegs ‘n hipotetiese nulgraad van verwysing en bestaan nie werklik nie. Die teenwoordigheid van anisochronieë of “ritmewisselinge” in ‘n teks is egter ‘n betekenisvolle feit.
Die ritmewisselinge kan bestudeer word deur groter segmente van die teks as verhalende eenhede te beskou. So ‘n segmentering kan vanselfsprekend slegs gedoen word op grond van die betekenis van elke segment binne die teks as geheel. Elke segment of opeenvolgende segmente saam word dan ondersoek deur te kyk na die verhouding tussen die hoeveelheid teks in beslag geneem deur die segment en die tydsduur van die korresponderende gedeelte van die storie.
Genette onderskei vier basiese vorme van verhalende beweging: ellips en beskrywende pouse is die twee ekstreme moontlikhede, terwyl scène en opsomming die tussenmoontlikhede vorm. Hierdie vier vorme word algemeen in die wêreldliteratuur aangetref en volgens Genette (1980: 95) is dit omtrent die enigste algemeen-geldende onderskeiding wat gemaak kan word betreffende die verteltempo van ‘n literêre werk, omdat outeurs bykans enige variasie kan maak op die vier bewegingsmoontlikhede. Proust gebruik bv. byna geen opsomming nie en wissel uitvoerige toneelbeskrywing af met passasies van ongelooflike tempo wat grens aan ellips. Beskrywende pouses kom volgens Genette glad nie voor in À la recherche du temps perdu nie, want elke beskrywing vervul ‘n dinamiese narratiewe funksie: “Description with him (Proust) is everything except a pause in narrative.”
Eberhard Lämmert (1968) gee egter ook ‘n baie bruikbare beskrywing van terme wat gebruik kan word om die verteltempo in ‘n teks te beskryf. Hy gebruik die terme Raffung en Dehnung wat algemeen bekend is en gebruik word in die Duitse literatuurwetenskap. Die voordeel van hierdie terme is dat hulle as ‘t ware ‘n glyskaal beskryf en dit dus moontlik maak om teksgedeeltes in terme van mekaar as vinniger of stadiger vertel, te beskryf. Hierdie twee terme hou verband met die begrippe verteltyd en vertelde tyd, want dit het te make met die verhouding tussen die tyd van dit wat vertel word (vertelde tyd) en die tyd afgestaan aan die vertelling (verteltyd).
Die vertelde weergawe van die verloop van gebeure kan die veronderstelde tydsverloop oorskry of saamtrek. Wanneer tyd “ingekrimp” word, praat Lämmert van Zeitraffung met algehele weglating as die grens of uiterste vorm daarvan. Wanneer die vertelde weergawe die veronderstelde tydsduur van die gebeure oorskry, noem Lämmert die verskynsel Zeitdehnung. Tussen die twee moontlikhede van “tydinkrimping” en “tydrekking” kry ‘n mens tyddekking, wat voorkom wanneer vertelling en die verloop van gebeure temporeel saamval. In die praktyk kom dit eintlik net voor in drama-opvoering (Lämmert, 1968: 83).
Raffung het dus te make met die sametrekking, konsentrasie en kondensasie van die vertelde tyd in die beperkter omvang van die verteltyd, en Dehnung met die uitrekking van die vertelde tyd tot ‘n omvangryker verteltyd: dit gaan dus om versnelling en vertraging van die verteltempo in ‘n verhaal.
Genette (1980: 113) beskou narratiewe frekwensie, d.w.s. die verhouding van herhaling tussen storie en die verhaal, as een van die belangrikste artistieke fasette van verhalende temporaliteit.
Gebeurtenisse vind plaas en kan herhaaldelik plaasvind. In werklikheid kan niks (in die werklike lewe asook in ‘n teks) ooit presies dieselfde wees as iets wat reeds gebeur het nie, omdat die tweede manifestasie van die gebeurtenis ruimtelik en temporeel in ander verhoudinge staan. Ter wille van die onderskeiding van sulke gevalle in artistieke tekste word repeterende gebeurtenisse hier beskou “only in terms of their resemblance” (Genette, 1980: 113).
As die verhalende teks en die storie teenoor mekaar gestel word, kan vasgestel word of gebeurtenisse in die storie een of meer keer in die verhaal voorkom. Daar is vier moontlikhede:
i) wat een keer gebeur, word een keer vertel (singulatiewe vertelling);
ii) wat n keer gebeur, word n keer vertel (ook singulatiewe vertelling, omdat die aantal gebeurtenisse in die storie en die vertelling ooreenstem);
iii) wat slegs een keer gebeur, word n keer vertel (herhalende vertelling);
iv) wat n keer gebeur, word slegs een keer vertel (iteratiewe vertelling). Lämmert noem hierdie verskynsel iteratief-duratiewe Raffung.
Die vier moontlikhede kan na willekeur gebruik word, gekombineer word en selfs vermeng word. Die herhaaldelike vertelling van sekere gebeurtenisse het ‘n bepaalde betekenis vir ‘n bepaalde teks. Die herhaaldelike vertelling van ‘n gebeurtenis is ‘n suiwer literêre tegniek waarin die outeur van sy “narratiewe vryheid” gebruik maak. Die outeur aanvaar dat die leser bereid is om die betekenis van die herhaling of die iterasie raak te sien en die realiteit buite rekening te laat.
Frekwensie kan verskillende funksies hê, bv. doelbewuste oordrywing, understatement, beklemtoning, of dit kan ‘n bepaalde patroon tot stand bring. Frekwensie is ook nou verbonde aan sillepsis, waar uiteenlopende en temporeel uiteenliggende elemente van die storie in die verhaal en vertelling gerangskik word op grond van een of ander artistieke beginsel of ooreenstemmende eienskap.
Volgorde, duur en frekwensie vorm drie fasette van die spel met tyd in verhalende tekste, en dikwels is die drie so dig verweef dat hulle moeilik onderskei en baie beslis nooit geskei kan word nie: “For example, in traditional narrative, analepses (an aspect of sequence) most often takes the form of summary (an aspect of duration or speed); summary frequently has recourse to the services of the iterative (an aspect of frequency); description is almost always at the same time pinpointed, durative, and iterative, without ever forbidding itself the beginnings of diachronic movement” (Genette, 1980: 155).
Kontemporêre romans word dikwels gekenmerk juis deur ‘n ingewikkelde spel met en in tyd, waarin tegnieke soos interpolasie, tydverwringing en temporele sametrekking ‘n groot rol speel. Genette (1980: 158) stel dit egter baie duidelik dat die analise van sulke gekompliseerde tekste nie in die rasionalisering van die tegnieke mag bly steek nie, maar rekening moet hou met die genialiteit en individualiteit van die outeur.
Die taak van die ontleder is eerder: “… having ‘laid bare’ the technique, to see how the motivation that has been invoked functions in the work as aesthetic medium” (Genette, 1980: 158).
Daar moet duidelik onderskei word tussen die terme verteltyd en vertelde tyd en die terme temps du récit en temps du histoire wat Genette gebruik. Die Duitse teoretici het gewerk met die onderskeiding Erzählzeit en erzählte Zeit. Volgens Günther Müller (1968: 269) se oorspronklike definisies van die twee terme en ook uit die wyse waarop Lämmert (1968) die terme gebruik, blyk dat eräzählte Zeit die periode van tyd is wat lê tussen die tydsmoment (in die fiktiewe wêreld van die verhaal) waarna die eerste element van die teks verwys en die tydsmoment waarna die laaste element van die teks verwys. Die Erzählzeit word deur sowel Lämmert (1968: 32) as Müller (1968: 269 e.v.) in verband gebring met die hoeveelheid teks wat deur ‘n gedeelte van die verhaal beslaan word. Uit die definisies en veral uit die voorbeelde (Müller 1968: 272) en die toepassings (Lämmert, 1968: 32 e.v.) blyk onteenseglik dat erzählte Zeit eintlik as ‘n soort plottyd (Fabeltyd in die Duitse terminologie (vgl. FABULA EN SJUŽET) beskryf kan word en Erzählzeit as verteltyd of tekstyd, die hoeveelheid tyd, gemeet in teksomvang, afgestaan aan ‘n bepaalde gebeurtenis.
Genette gebruik die terme temps du histoire en temps du récit, maar uit sy verduideliking blyk dat hy met temps du histoire die tyd van die storie (die tyd van die signifié) bedoel en temps du récit is vir horn die tyd van die signifiant of die tyd van die verhaal.
Wat egter baie verwarrend is, is dat Genette in sy Narrative Discourse die temps du histoire gelykstel aan erzählte Zeit en dan in ‘n voetnoot na Müller verwys. Müller se voorbeelde dui onteenseglik daarop dat vertelde tyd die tyd yan die verhaal (plottyd) is. Hy gebruik Mrs. Dalloway van Virginia Woolf as voorbeeld en gee die vertelde tyd as ‘n dag in Junie 1919, vanaf die voormiddag wanneer Mrs. Dalloway stad toe gaan, tot laat die aand wanneer die party afgeloop is. In ‘n roman soos Kroniek van Perdepoort van Anna M. Louw is die vertelde tyd dus drie dae en die verteltyd 260 bladsye. Soos Genette sy term temps du histoire egter aan die tyd van die signifié koppel, sou hierdie tyd van die geskiedenis of storie die hele geskiedenis van bykans drie geslagte insluit, vanaf die dag dat Koos Nek deur die dorp ry op sy perd, totdat Mietjie die nuus bring van Kobus Karba se dood.
Die probleem ontstaan omdat ‘n mens drie tydsterme nodig het om die verskillende soorte tyd in die storie, verhaal en vertelling mee te beskryf, indien die teks beskou word as iets wat op hierdie drie vlakke geanaliseer kan word. Vir Lämmert en Müller het die teks net op een vlak bestaan en die tydsafwykinge het nie die tydspan van die verhaal vergroot nie. Vir hulle het dit by blote verteltegnieke gebly, terwyl Genette se siening van die teks berus op die linguistiese onderskeiding tussen signifiant en signifié.
Onderliggend aan albei stelle begrippe lê die feit dat ‘n bepaalde hoeveelheid tyd (soos wat tyd in die fiktiewe werklikheid van die storie beleef sou word) in ‘n bepaalde hoeveelheid teks weergegee word. Dit is en bly dus relevant en belangrik om al die temporele verhoudinge in ‘n verhalende teks as deel van die artistieke en literêre kommunikasie te sien.
(Vgl. ook RITME (IN DIE PROSA), STRUKTURALISME en NARRATOLOGIE.)
Bibliografie
Brink, A.P. 1987. Vertelkunde. Pretoria & Kaapstad: Academica.
Du Plooy, H. 1986. Verhaalteorie in die twintigste eeu. Durban: Butterworth.
Genette, G. 1980. Narrative Discourse. Oxford: Basil Blackwell.
Lämmert, E. 1968. Bauformen des Erzählens. Stuttgart: Metzlersche Verlagsbuchhandlung.
Müller, G. 1968. Morphologische Poetik: Gesammelte Aufsätze. Tubingen: Niemeyer.
Rimmon-Kenan, S. 1983. Narrative fiction: Contemporary Poetics. London: Methuen.
Raadpleeg ook:
Ci, J., Genette, G. & Mosher, H.F. 1988. An alternative to Genette’s theory of order. Style, 22(1).
Heilna du Plooy