Ná die 15e eeu, toe die lewenstyl en kunste gekenmerk is deur ‘n beheerste en verfynde elegansie, en ná die kleurvolle 16e eeu met meesters in die skilder- en beeldhoukuns soos Tintoretto, Michelangelo en Leonardo da Vinci, het die MANIËRISME, deur die invloed van die 17e-eeuse Barok, die transformasie van die Italiaanse kultuur ingelui.
Die Barok is hoofsaaklik ‘n verskynsel van Italië en Spanje (vgl. BAROKLITERATUUR IN ANDER LANDE). Gedurende byna die hele Baroktyd, wat min of meer van 1560 tot 1740 geduur het, is Italië deur die vreemde moondheid Spanje regeer.
Die ywerige soeke na vernuwing, wat die literatuur van hierdie buitengewoon praalsugtige eeu gekenmerk het, is baie lank kras gekritiseer. Teen die einde van die 18e eeu is die benaming Barok vir die 17e eeu gemunt om die duisterheid en omverwerping van die klassieke estetiese wette te beskryf. Danksy die moderne kritiek is die Barokkultuur herwaardeer, die verskillende strominge onderskei en stilistiese betekenis daaraan toegeken. Die gemene deler van die 17e-eeuse Barok was ‘n vertoning van die vryheid van denke. Dit is verwant aan die drif vir wetenskaplike en tegnologiese vooruitgang en die oorweldigende argitektuur en emosie-belaaide beeldhoukuns wat ook die 20e eeu kenmerk. Die voorliefde vir wetenskaplike kennis is maar een van die talle ooreenkomste tussen die 17e en 20e eeu.
Italië is baie lank deur die prag en praal van die Spaanse oorheersing gekenmerk. Dit word weerspieël in die vertonerige gedrag en lewenswyse van die mense. Selfs die Italiaanse taal het, as gevolg hiervan, bombasties en hoogdrawend geword.
Die kuns het bygedra tot die mag van die kerk, wat toe pas as oorwinnaar uit die stryd teen die Kontra-Reformasie getree het.
In die argitektuur het die Barokstyl die argitektoniese raamwerk van die RENAISSANCE in ‘n groot mate behou, maar ekstreme ontwikkelings van dekoratiewe elemente toegelaat, sodat versiering ‘n doel op sigself geword het en die kurwe en die gebroke lyn bo die klassieke reguit lyn verkies is. Die interieur van die Barok-kerke word deur so ’n verbysterende rykdom aan versierings gekenmerk dat die strukturele lyne nie meer duidelik sigbaar is nie. In hierdie verband het Gian Lorenzo Bernini sy invloed in Rome laat geld en in sy argitektuur die grootsheid van ‘n imperiale Rome herskep. Voorbeelde van sy werk kan gesien word in die Sint Petrus-katedraal, die plein van die Sint Petrus-katedraal en die paleise van Barberini en Montecitorio.
Die kunstenaars van dié tyd het hulle bes gedoen om kerke met fresko’s en veelkleurige marmer te versier. Hiervan is die Sint Agnes-kerk op die Piazza Navona in Rome ‘n tipiese voorbeeld. Die argitek was Borromini, wie se treffende skeppings gekenmerk word deur die opvallende elegansie van die twee kloktorings. Volgens Manzoni het die Jesuïete, wat die kultuur oorheers het, die Spaanse veroweraars, wat slegs hongersnood na Italië gebring het, ondersteun. Die Jesuïete wou deur die ondermyning van ‘n oordrewe realisme in die skilderkuns die glorie van die kerk selfs in die kunste bevorder. Die beroemde Caravaggio was een van hulle slagoffers. Sy kuns is veroordeel omdat dit die stryd van die oorbelaste armes aan die kaak gestel het.
Die literatuur en kultuur het in Europa ‘n opbloei beleef, veral in Engeland, Spanje, Frankryk en die Nederlande, met die werke van Shakespeare, Cervantes, Corneille, Racine en Molière. (Vgl. BAROKLITERATUUR IN ANDER LANDE.)
Langsamerhand, byna ongemerk, het ook die wysbegeerte die pouslike juk afgewerp. Vanaf die buiteland het die politieke denke van Descartes, Bacon, Locke en Spinoza soos ‘n vars bries oorgewaai. Die gevolge hiervan was die demokratisering van die bourgeoisie, soos blyk uit die formulering van regsteorieë, die deurslaggewende wetenskaplike prestasies van Galileo Galilei, die kultuurosmose in Frankryk met die triomf van die absolutisme van Lodewyk XIV en laastens die godsdiensvryheid in die Nederlande, wat tot die vestiging van die Protestantse geloof gelei het.
In die Europese kunswêreld het uitruilings toenemend voorgekom. Die groot name van die Nederlander Rembrandt, die Spanjaarde Velásquez, Murillo en El Greco, asook Vermeer, Poussin en Rubens, is verteenwoordigend van die duursame nuwe kuns. Somtyds is hierdie gawe aan ‘n sterk godsdienstige ywer gekoppel wat so duidelik uitgedruk is deur hulle tydgenoot, Pascal.
Omdat die aksent hoe langer hoe meer op die styl ten koste van die inhoud geval het, het die Italiaanse literatuur van dié tyd gedegenereer.
Die afgelope Renaissance was in so ‘n mate ‘n volmaakte hoogtepunt dat slegs ex novo-skeppings nog moontlik was. Hoewel die skrywers ‘n brandende begeerte gehad het om oorspronklik te wees, het hulle beswarende historiese omstandighede (die Spaanse oorheersing)en geestesarmoede (die skynheiligheid van die opgevoede bevolkingslae gedurende die Kontra-Reformasie) die voortbrenging van nuutskeppings verhoed. Dit het grootliks daartoe aanleiding gegee dat die 17e-eeuse digters met die vorm geëksperimenteer het.
Dit kan beskou word as ‘n voorsmaak van die ROMANTIEK en die COMMEDIA DELL’ARTE, wat op sy beurt weer ‘n voorloper van die terugkeer tot die volkskuns was. Die commedia dell’arte (die komedie van die beroepslui) is Italië se grootste bydrae tot die internasionale DRAMAKUNS van die tyd. Die “beroepslui” het nie slegs die akteurs nie, maar ook die outeurs ingesluit. Die leiers van die professionele toneelgroepe, die capocomici, het ‘n intrige bedink wat dikwels saamgeflans is uit die verhale van bestaande KOMEDIES en dit op die muur van die verhoog laat vasspyker. Die karakters in die verhale was altyd dieselfde: ou manne, bemindes, bediendes, monnike en tussengangers. Hierdie karaktertipes, wat dateer uit die daeraad van ‘n Europese beskawing, is d.m.v. maskers voorgestel: Pantalone, Graziano, Arlecchino, Brighella, Isabella, ens. Die belangrikste kenmerk van die 17e-eeuse Italiaanse teater was die afwesigheid van ‘n teks.
Terwyl Giambattista Marino in 1615 aan die hofhouding van Maria de Medici (aan wie hy die “Adonis” opgedra het) in Parys gewoon het, is hy as skrywer in die Hôtel de Rambouillet verwelkom. Die “Adonis” is ‘n mitologiese gedig waarin Venus se liefde vir Adonis beskryf word en die jaloesie van Mars, wat tydens ‘n jagtog toelaat dat ‘n verwoede wildevark vir Adonis verskeur. Die werk is in Parys gepubliseer.
Traiano Boccalini, nog ‘n skrywer wat lank in Rome woonagtig was, was uitgesproke anti-Spaans. Die pouse en Spaanse owerhede het hom verdink van opstandigheid en gevaarlike hervormings-gedagtes. Hy vlug na Venesië waar hy bevriend raak met Paolo Sarpi. Hy is skielik in 1612 dood, vermoedelik aan vergiftiging. Hy was die voorloper van die anti-Spaanse literatuur wat na sy dood, tydens die oorloë van Karel Emmanuel I, baie vinnig deur Italië versprei het. Boccalini het ‘n interessante werk geskryf, genaamd Ragguagli di Parnaso, ‘n nuwe soort allegoriese SATIRE.
Alessandro Tassoni was waarskynlik die vreemdste literêre figuur van die eeu. Omdat hy vroeg reeds wees gelaat is, was hy verplig om in die diens van kardinaal Colonna te tree en het hy die kardinaal na Spanje vergesel. Hy was met afsku vervul vir die regering van die Spaanse monarg, Filips III, en het soos Boccalini anti-Spaanse gevoelens gekoester. Hy het die oproep van Karel Emmanuel I tot die Italiaanse owerhede om die Spaanse juk af te gooi met vreugde verwelkom. Sy gedig “La secchia rapita” het nie alleenlik literêre meriete gehad nie maar is ook bedoel as ‘n polemiese en politieke geskrif. Dit is gerig teen die bekrompenheid van die Italiaanse dorpsgemeenskappe en ook in ‘n mate teen die Spaansgesinde pousdom in Italië.
Die moderne wetenskap het sy oorsprong in die 17e eeu. Naas Johann Kepler, die beroemde Duitse sterrekundige wat die wette beskryf het wat die elliptiese beweging van planete beheer, staan die groot figuur van Galileo Galilei van Pisa. Hy was bewus van Kepler se ontdekkings en die implikasies daarvan en het dit op bewonderenswaardige wyse in die bestudering van die fisika toegepas. Hy het ook die grondslae van die meganika as die basiese natuurwetenskap gelê, die wette van die isochronisme van die pendule ontdek, sowel as die hidrostatiese skaal waarvolgens die presiese gewig van liggame bepaal kon word. In dié verband skryf hy sy Verhandeling oor die skaal. Verder het hy die moderne opvatting van die heelal bevestig en die tradisionele opvatting van Aristoteles dat die aarde die middelpunt van die heelal is finaal die nekslag toegedien. As gevolg van die feit dat hy die werklikheid op ‘n wetenskaplike wyse wou verklaar, is hy toenemend van kettery en godsdienstige onverskilligheid beskuldig. Hy het hom egter doof gehou vir al hierdie aantygings en die termoskoop sowel as die geometriese kompas uitgevind, en deur gebruik te maak van ‘n eksperiment van ‘n Nederlandse vakman het hy ook die teleskoop vervolmaak. Met die teleskoop het Galileo die poorte na die hemelruim ontsluit. Eers ontdek hy die vier satelliete van Jupiter, wat ook as die planete van Medici bekend staan, hierna die ring van Saturnus, die fases van Venus en uiteindelik die sonvlekke. Al hierdie ontdekkings het hy in manjifieke prosa in sy Dialogo dei massimi sistemi gepubliseer. Hy is hierna vanweë sy omstrede opvattings onder lewenslange huisarres geplaas.
Galileo, die grootste prosaïs uit die Barok-era, kan saam met Leonardo da Vinci beskou word as die skepper van die moderne wetenskaplike prosa waarin die gedagtes en die vorm ‘n noue verbintenis aangaan en waarin retoriese kunsgrepe as verouderd uitgeskakel is.
Wat Spanje betref: omdat sommige van die mees tipiese kenmerke van die Spaanse gees in die hantering van die styl, tema en struktuur van die kuns van die Baroktydperk voorkom, is dit al die “nasionale periode” van Spanje genoem. Die Baroktydperk duur vanaf die einde van die 16e eeu tot ongeveer 1680, met die dood van Calderón de la Barca.
Die grondtrekke van die Barokliteratuur is eerstens die tema van ontnugtering en ‘n algemene pessimisme, wat veral deur die besef van Spanje se politieke en ekonomiese agteruitgang en sy toenemende isolasie veroorsaak is, en tweedens ‘n gekompliseerdheid in die hantering van die taal en struktuur wat gekenmerk word deur ‘n soeke na obskure linguistiese en konseptuele elemente.
‘n Vinnige kykie na die geskiedenis van die 17e eeu onthul dat Spanje sy politieke leierskap verloor het, terwyl die land onder Filips II die leidende moondheid in Europa was. Onder die heerskappy van Filips IV en Karel III het dié ryk baie van sy oorsese gebiede verloor. Ernstige ekonomiese nood volg hierop, en teen ongeveer die middel van die eeu neem Frankryk die leierskap van die kontinent oor. Op hierdie verwikkeling reageer die Spaanse gees aan die een kant met ‘n diepgaande pessimisme en wanhoop. Dit is ooglopend in die werke van een van die groot skrywers van die tydperk, Francisco G. de Quevedo, wat getuig van ‘n groot frustrasie met die heersende stand van sake, en wat terselfdertyd op tragiese wyse die gelukkiger vervloë dae voor die geestesoog roep. Aan die ander kant het die kunstenaars met ‘n sorgvrye, byna roekelose ligsinnigheid gereageer en hulle toevlug tot ‘n wêreld van valse drome en fantasieë geneem en hulle blind gehou vir die werklikheid van die wêreld rondom hulle.
Die diepgaande godsdienstige veranderinge wat kenmerkend was van die laaste deel van die eeu is veral in Spanje, waar die Kontra-Reformasie ‘n geweldige invloed gehad het, baie sterk gevoel. Weer word die mens se gedagtes in beslag geneem deur die Christelike opvatting van die erfsonde; en die idee van die aangebore goedheid van die mens wat deur die *humanistiese filosofie voorgestaan is, verdwyn in die agtergrond. Dit gee aanleiding tot ‘n radikale ontnugtering by die mense van die tyd. Die temas van die Spaanse Barokliteratuur druk hierdie aangeleenthede op welsprekende wyse uit. Die skrywers het o.a. die bedrieglike werklikheid stilisties probeer vasvang deur die vermenging van lig en donkerte – die chiaroscuro – wat ook in die skilderkuns en argitektuur van die tydperk aangetref word. Die grootse en die minuskule, die verfynde en die GROTESKE, die skone en die afstootlike word op dieselfde wyse as twee kante van die werklikheid voorgestel. Dit is veral ooglopend in die werk van die digter Góngora, wie se naam ongelukkig verbind word met poëtiese oordadigheid, terwyl hy ongetwyfeld een van Spanje se mees begaafde digters was. Góngora is die belangrikste eksponent van een van die twee literêre hoofstrominge van dié tyd, nl. die CULTERANISMO, of ‘n “gekultiveerde duistere styl”. Quevedo en Gracián was die belangrikste verteenwoordigers van die ander stroming, die CONCEPTISMO, wat hom eerder op intellektuele subtiliteite, op verrassende invalle en spitsvondige segswyses toegelê het. (Vgl. ook GONGORISME, SECENTISMO, MARINISME, PRÉCIOSITÉ en EUFUÏSME.)
‘n Bestudering van die Barok in Spanje sou onvolledig wees sonder die vermelding van die laaste groot naam in die geskiedenis van die 17e-eeuse literatuur, Calderón de la Barca. Hy het die “kultiese” metafoor van Góngora oorgeneem, maar dit binne ‘n heeltemal verskillende kontekstuele raamwerk geplaas. Dit maak sy werk tipies Barok, want dit druk die konflik tussen vryheid en gevangenskap, tussen die passie van die woord en beheerstheid uit. Sy werk is geheel en al onderworpe aan die Katolisisme en sy dogma. Sy bekendste drama, La vida es sueňo (Die lewe is ‘n droom) van 1635, gee op roerende wyse uitdrukking aan sy sienswyse oor die mens en sy omstandighede. Met sy dood gaan die Spaanse literatuur ‘n lang tydperk van insinking binne. Die Spaanse literatuur het gedurende die Barok-era met welslae oor Europa versprei en het skrywers soos Corneille en Montaigne in Frankryk en die Engelse metafisiese digters Donne en Herbert beïnvloed en geïnspireer. (Vgl. BAROKLITERATUUR IN ANDER LANDE.)
Bibliografie
Argan, G.C. 1979. Storia dell’arte italiana. Firenze: Sansoni.
Castelfranchi Vegas, L. & Cerchiari Necchi, E. 1978. Il camino dell’arte. Firenze: Signorelli.
Castelfranchi Vegas, L. & Cerchiari Necchi, E. 1979. Storia dell’arte. Firenze: Signorelli.
De Ruggiero, G. 1968. Finascimento Riforma e Contrariforma. Bari: Laterza.
Pazzaglia, M. 1980. Gli autori della letteraturaitaliani, vol. II. Bologna: Zanichelli.
Pellegrini, C. 1965. Storia della letterature moderna d’Europa e d’America. Milano: Vallardi.
Sapeggno, N. 1966. Antolologia della storia e della critica. Torino: Barjes.
Shakespeare, W. 1964. Opere complete di William Shakespeare. Milano: Rizzoli.
Raadpleeg ook:
Buck, A. 1984. Der Epochenwandel von der Renaissance zum Barock in den romanischen Literaturen. Acta Litteraria Academiae Scientiarum Hungaricae, 26(1-2).
Colesanti, M. 1980. Il romanzo barocco tra Italia e Francia: Studi, saggi, bibliografie, ressegne. Roma: Bulzoni.
Garcia-Berrio, A. 1988. La Prpse baroque. Dix-Septième Siécle, 160.
Hatherly, A. 1986. Reading Paths in Spanish and Portuguese Baroque Labyrinths Visible Language. The Quarterly Concerned with All That Is Involved in Our Being Literate, 20(1).
Hatzfeld, H. 1970. Literary Mannerismo and Baroque in Spain and France. Comparative Literature Studies, VII.
Maravall, J.A. 1975. La cultura del Barroco. Barcelona: Ariel.
Maravall, J.A. & Cochran, T. 1986. From the Renaissance to the Baroque: The Diphasic Schema of a Social Crisis. In: Godzich, W. & Spadaccini, N. (eds). Literature among Discourses: The Spanish Golden Age. Minneapolis: University of Minnesota.
Martinon, J-P. 1980. Methodologie; I: Statut du concept du Baroque; II: Baroque, promotion du logos; III: Un Concept heuristique Baroque. Revue Internationale, vols. 9-10.
Orozco Diaz, E. 1975. Manerismo y Barroco. Salamanca: Anaya.
P. d’Onofrio