BAROKLITERATUUR IN ANDER LANDE

Die Barok is die laaste omvattende Europese styl en het deurgedring tot alle lewensterreine. Behalwe in die hoofsentrum van die Barok, Italië, en in Spanje, waar die hele staat tydens die regering van Filips II op die Barokbeginsels geskoei was, het dit in talle ander Europese lande gebloei. In Frankryk het ‘n hele Barok-kultuur ontstaan, hoewel die Barok hier ‘n meer KLASSISISTIESE aanskyn gehad het as in die ander lande. In Suid-Duitsland, Oostenryk en Switserland het die Barok ‘n eie karakter aangeneem en het dit later in die ROCOCO oorgegaan, veral in die argitektuur. In Nederland en Noord-Duitsland het die Barok nie groot inslag gevind nie. In Noord-Nederland vind ‘n sterk en selfstandige ontwikkeling plaas in die kuns (veral in die 17e eeu) wat groot kunstenaars soos Rembrandt opgelewer het. Dit staan bekend as Nederland se Goue Eeu. Tradisioneel word daarna egter ook as die Barok verwys.

Die Barok manifesteer hom hoofsaaklik in die argitektuur en die skilderkuns (Rubens, Caravaggio, Michelangelo se plafonfresko’s in die Sixtynse kapel), waar dit gekenmerk word deur golwende lyne, lig-donkerwerking (chiaroscuro), diagonale lyne, perspektiwiese effekte, draperings en ‘n algemene oorladenheid.

Die Barok het veral in die Rooms-Katolieke lande van Europa voorgekom en minder in die Protestantse lande omdat hulle ‘n vyandige houding teenoor die Roomse invloed van Italië en Spanje ingeneem het. Croce het die Barok as ‘n periode van verval beskou. Heelwat later het literatuurhistorici die term van die kunshistorici oorgeneem en op die literatuur van die 17e eeu toegepas.

Daar bestaan verskeie verklarings vir die term Barok. Sommige verklaarders sê dat dit afgelei is van die Portugese woord barroco, wat die juwelierswoord is vir ‘n ruwe, onreëlmatige pêrel. ‘n Ander siening is dat dit afgelei is van die Italiaanse woord baroco, wat die benaming is vir ‘n sillogistiese beredenering, of dat dit teruggevoer kan word na die naam van die Italiaanse kunstenaar Barocci, wat bekend was vir sy kleurvolle skilderye. Preminger (1979: 66) huldig weer ‘n ander siening. Volgens hom is daar geen linguistiese of tekstuele regverdiging vir die gewone verklaring nie, nl. dat Barok afgelei is van barroco. “Instead, a good case can be made out for deriving the word from the mnemonic hexa­meters constructed by William of Shyreswood as a code version of Aristotle’s categories of syllogisms.”

Die term is aanvanklik in ‘n negatiewe sin gebruik om te verwys na die kuns wat afgewyk het van die koel ewewigtige kuns van die RENAISSANCE en KLASSISISME. Eers heelwat later is die Barokkuns as ‘n kuns in eie reg beskou.

In die literatuur word die Barok gekenmerk deur patos, emosionaliteit, lig-donkerkontraste, ander teenstellings en kontraste, topos, METAFORE, ALLEGORIEë, retoriese beelde, beelde wat ‘n skokeffek het en ryke BEELDSPRAAK. ‘n Mens vind ook ‘n spanning tussen die antieke vorme en die Christelike gegewe, tussen reëldwang en retoriek en tussen aardse en bo-aardse skoonheid. Oksimorons kom voor en in die poësie is die aleksandryn gewild. Gewilde genres is die DRAMA, die geestelike liriek waarin veral die SONNET, die EPIGRAM en komplekse strofevorme beoefen word; in Duitsland word veral die geestelike lied beoefen. Verder kom die versepos (vgl. EPOS) voor en omvangryke ROMANS soos aangetref by Von Braunschwieg en Lohenstein, Grimmelshausen, D’Urfé en by Cervantes in Spanje. Ook die *herderroman, die satiriese PIKARESKE ROMAN en MISTIEKE geskrifte kom voor. In Suid-Duitsland en Oostenryk was die religieuse Jesuïetedrama (as voorloper van die opera) gewild en in Engeland, Frankryk en die Nederlande kom die koning- en Bybeltragedie (vgl. TRAGEDIE) dikwels voor (soos in Spanje). Spraakgeselskappe, akademies en salonne (lg. in Frankryk) kom dikwels voor as saamtrekpunt van literêre bedrywighede. Veral die hoër klasse was produktief op literêre gebied, hoewel dit nie net die klasse as publiek in gedagte gehad het nie.

Hoewel die Barok oor die hele Europa voorgekom het vanaf die einde van die 16e eeu tot die helfte van die 18e eeu (vanaf die einde van die Renaissance tot teen die VERLIGTING) het dit ‘n verskeidenheid gedaantes aangeneem: “(…); the baroque is the expression of an intrinsically more homogeneous world-view, but one which assumes a variety of shapes in the different European countries. (…); the baroque, on the other hand, embraces so many forms in the individual countries and spheres of cultures, that it seems doubtful at first to reduce them all to a common denominator” (Hauser, 1977: 159). So kry ‘n mens aan die een kant ‘n meer dekoratiewe Barok in die Rooms-Katoliekgesinde adellike kringe en aan die ander kant ‘n meer klassisistiese Barok in ander kringe. Binne hierdie twee tendense het verdere verskille voorgekom. In die Katolieke lande het daar verder ‘n NATURALISTIESE tendens na vore getree wat ‘n mens later in die werk van al die groot Barokkunstenaars sien; dit het uiteindelik in Nederland oorheersend geword.

Vanweë die klassisistiese tendense in die Barok is baie kunstenaars aanvanklik nie as Barokkunstenaars beskou nie, maar as klassieke kunstenaars. Die term is aanvanklik glad nie t.o.v. die literatuur gebruik nie. Dit is eers redelik onlangs dat die term Barok gebruik is vir die literatuur van die 17e eeu. By hierdie herinterpretasie van die Barok is veral die werk van Riegel en Wölfflin van belang. Wölfflin het die Barokkuns in verskeie kategorieë ingedeel wat vandag nog aanvaar word. Hy het ‘n sisteem van vyf pare teenstellende begrippe in sy Kunstgeschichtliche Grundbegriffe (1915) ontwikkel, nl. lineêr en skildermatig, vlak en resessief, oop en geslote vorm, helder en duister en veelheid en eenheid. Die meeste van Wölfflin se kategorieë kan egter nie op die klassisistiese Barokkuns toegepas word nie en vir die literatuur het dit minder waarde. Verder het Gurlitt ‘n positiewe waardering vir die Barokkuns gehad.

Teen die middel van die 17e eeu het Frankryk ‘n leiersrol op politieke en kulturele gebied begin speel. Teen die tweede helfte van die 17e eeu het Parys en Versailles die sentra van die intellektuele lewe in Frankryk geword. Die Barok het nou ook in die literatuur na vore begin tree: “With the decline of the influence of the curia and the impoverishment of Rome, the centre of the world of art shifts from Italy to the country where the most progressive political structure of the age, absolute monarchy, is developed and where art production has the most important resources at its disposal” (Hauser, 1977: 172). Nogtans is die term Barok nie algemeen gebruik in die Franse literatuurgeskiedenis nie. Baie Franse literatuurgeskiedskrywers verkies om dit te sien as literatuur van die voor-Romantiek en ROMANTIEK.

Kenmerkend van die Franse Barokliteratuur is die feit dat dit kontak met die realiteit en die MIDDELEEUSE tradisies verloor het en ook uit voeling met die breë publiek geraak het. Slegs Molière se werk behou kontak met die volkspoësie van die Middeleeue. Verder toon die Franse Barokliteratuur (soos trouens die hele Franse Barok) ‘n Klassisisme, sodat die kuns sterk intellektueel en psigologies is. Die tipiese Barokoorladenheid kom wel voor in die taalgebruik van iemand soos Balzac, in die emosionaliteit en die liriese inslag van die poësie van D’Aubigné (Le printemps du sieur d’Aubigné), Mathurin Régnier, de Viau (Nouveau recueil de diverses poésies, 1627), Saint-Amant (“Ode à la solitude”) en L’Hermite, in die toneelstukke van Garnier (Bradamante), asook in die eienaardighede van La Calprenède se romans (Cléopatre, Cassandre) en Scarron se boertige poësie (Typhon ou la gigantomachie, 1644).

In die 18e eeu poog skrywers, veral Rousseau, om intense gevoelens in hulle werk weer te gee. Die intellektualisme word bestry en verwerp. Die Franse kuns (en dus die literatuur) van die 18e eeu word tegelykertyd as Barokkuns en voor-Romanties beskou.

Gedurende die eerste helfte van die 17e eeu was die salonne in Frankryk geweldig gewild. Professionele kritici het nog nie bestaan nie, sodat die salonne die funksie vervul het: “In a way, the salons became small, unofficial academies at which literary fame and literary fashions were created …” (Hauser, 1977:189; kurs. v. Hauser). Die salonne was van groot kulturele en opvoedkundige waarde, maar die literêre produksie wat regstreeks hierheen teruggevoer kan word, is gering. Volgens Hauser (1977: 189) kan selfs die literêre styl van die tyd nie as ‘n salonskepping beskou word nie, maar slegs as die Franse variant van die MARINISMEGONGORISME en EUFUÏSME.

In teenstelling met die Franse Renaissanceskrywers was die meeste Franse Barokskrywers soos Racine, Molière, La Fontaine en Boileau lede van die middelklas.

Net soos in die geval van die Franse literatuur, is die term Barok nie van algemene toepassing op die Engelse literatuur van die tyd nie.

Kenmerkend van die Engelse Barokliteratuur is ‘n “gezwollen, zeer ingewikkelde en gekunstelde prozastijl, welke vooral aan het hofmodetaal werd” (Van der Gaaf in Van Dam et al., 1948: 257). Die eufuïsme met sy ryke alliterasies, woordspelings, teenstellings, parallelismes en retoriese vrae en herhalings het ‘n heersende literêre tendens geword. Dit het veral tot uiting gekom in die werk van John Lyly (Euphues, 1578-1580). Sidney se Arcadia (1590) word gekenmerk deur tipiese Barokeienskappe soos lang sinne, bloemryke taal, oksimorons en “zinloze aaneenrijgingen van woorden” (Van der Gaaf in Van Dam et al., 1948: 276). In die poësie tref ‘n mens die sg. METAFISIESE digters aan, bv. Donne, Vaughn en Crashaw. Ander Engelse Barokskrywers is Milton en Bunyan. Hulle werk word gekenmerk deur die oorvloedige gebruik van paradokse, hiperbole en beeldrykheid. Dit kan vergelyk word met die gongorisme in Spanje en die marinisme in Italië.

Ook in die literatuurgeskiedenis van Noord- en Suid-Nederland is die term Barok nie algemeen gebruik nie. Noord-Nederland het sy Goue Eeu beleef in die 17e eeu en die kuns en wetenskap het selfstandig ontwikkel. ‘n Paar probleme word met die gebruik van die term ondervind: daar bestaan onsekerheid oor watter kriterium as maatstaf geneem moet word (die styl of die inhoud van die literêre werk); word die Nederlandse Barok nie in ‘n te groot mate as ‘n geïsoleerde styl gesien nie, en watter houding moet ‘n mens inneem t.o.v. oorgangsfigure soos Van der Noot en Van Mander? Die term Barok word in die Nederlandse literatuur gewoonlik vir die eerste keer vir Vondel se werk gebruik. Tog kan daar nie ontken word nie dat die Nederlandse literatuur van die 17e eeu baie Barokelemente vertoon, bv. in die werk van Huygens wat as die Nederlandse verteenwoordiger van die ma­rinisme beskou word. Vondel se Maeghden en Joseph in Dothan word as Barokwerke beskou; ook dié van Heinsius, De Decker en Dullaert. Sommige literatuurhistorici beskou Luyken ook as ‘n Barokskrywer. Krul en Vos se werk word gekenmerk deur hewige emosionaliteit. In die prosa tref ‘n mens soortgelyke eienskappe aan, maar minder intens. In die 18e eeu kry die Neder­landse literatuur ‘n al sterker klassisistiese inslag, sodat die Barokeienskappe geleidelik begin vervaag.

In Suid-Nederland het die Barok nie werklik inslag gevind nie, maar soos vroeër genoem, het die Barok veral in die Rooms-Katolieke lande van Europa voorgekom en die Suid-Nederlandse literatuur is “vrijwel volledig contra-reformatorisch,” (in teenstelling met die literatuur en godsdiens van Noord-Nederland) “zodat er geen bezwaar is tegen een verbinding van ‘barokke’ stijlelementen met een bepaalde strekking en gedachteninhoud” (Smit in Van Dam et al., 1948: 276). Dié werke is egter nie van groot literêre waarde nie. Verteenwoordigers is o.a. Verstegen, De Harduyn, Poiters en De Swaen.

Die Barok het in die Duitse literatuur later as in die ander lande tot uitdrukking gekom. Dit is gebore uit ‘n navolging van die Spaanse, Italiaanse, Franse, Engelse en Nederlandse Barok.

In Duitsland is die term Barok aanvanklik nie t.o.v. die literatuur gebruik nie, maar wel in die kunsgeskiedenis en dan ook met ‘n negatiewe konnotasie. Later is dit vir die literatuur gebruik deur Wölfflin in sy werk Renaissance und Barock (1888) en in die reeds genoemde Kunstgeschichtliche Grundbegriffe.

Die grootste deel van die Duitse Barokliteratuur is gedurende die dertigjarige oorlog (1618-1648) geskryf. Dit toon geen eenheidstyl nie, maar is “een verschijnsel van overstelpende veelzijdigheid en verrassende tegenstellingen” (Kerkhoff, 1965: 94).

MOTIEWE en temas wat dikwels voorkom is oorlog, siekte, liefdesleed, Christus se lewe en sterwe, die dood, luisterryke feeste, optogte en toernooie. Die literatuur (veral die poësie) word gekenmerk deur ‘n onrus, woordherhalings, lig-donkereffekte, beelde wat op die visuele ingestel is en ‘n oorladenheid waarna in Duits as “Schwulst” (swelsel) verwys word. Gewilde genres was die herderspel, tragedies gelaai met patos, die roman (veral die pikareske roman), die epigram, die geleentheidsgedig, die LIED en die gebed.
Enkele verteenwoordigers van die Duitse Barok is die digters Weckherlin, Opitz, die Neurenbergse digter Angelus Silesius, die dramaturge Gryphius, Lohenstein en Hoffmanswaldau, asook die romansiers Grimmelshausen en Von Zesen.

Die Barokpoëtiek ontwikkel uit die geskrifte van die Renaissance, bv. uit die geskrifte van Castelvetro, Scaliger en Minturno. Hulle idees kan weer teruggevoer word na Aristoteles: “baroque poetics therefore, derived its theory ultimately from the precepts of Aristotle, with a varying admixture of Horatian loci and rhetorical dicta: poetry is both useful and pleasing, the poet must possess the faculty of invention, poetry is related to the real world in that it is an imitation of nature …”, aldus Preminger (1979: 68) in Princeton Encyclopedia of Poetry and Poetics.

Sommige boeke was oënskynlik daarop gemik om ‘n literatuurteorie uiteen te sit, maar het in werklikheid gegaan oor sake soos die bevestiging van die poësie se waardigheid, of was didaktiese gidse by die skryf van poësie of om die moedertaal as ‘n literêre taal te verdedig. Baie van hierdie werke toon ook sterk verbande met die Renaissance. Talle idees in Opitz se Buch der deutschen Poeterey (1642) kan teruggevoer word na Renaissanciste soos Ronsard en Heinsius. Ben Jonson se Timber, or Discoveries toon sterk ooreenkomste met klassieke en Renaissancebronne.

Nie alle teoretiese werke het in vroeëres gewortel nie. Jonson se Conversations (1619) “are refreshingly pungent and personal” (Preminger, 1979: 68).

Literêre idees wat in die Barok baie prominent en belangrik was, is dié van literêre smaak, GEESTIGHEID (want dit stimuleer ‘n skrywer se verbeelding) en die idee van “je ne sais quoi”, wat aanvanklik te doen gehad het met die idee dat reëls nooit vir alles voorsiening kan maak nie. Later het dit i.v.m. ‘n belangstelling in die verhewene gestaan toe daar weer ‘n belangstelling in die werk van Longinus gekom het.

(Vgl. CULTERANISMO, GONGORISME, CONCEPTISMO, SECENTISMO, MARINISMEPRÉCIOSITÉ en EUFUÏSME.)

Bibliografie

Buck, A. (Hrsg.). 1972. Neues Handbuch der Literaturwissenschaft: Renaissance und Barock. Frankfurt am Main: Akademische Verlagsgesellschaft Athenaion.

Ermatinger, E. 1928. Barock und Rokoko in der deutschen Dichtung. Leipzig: Teubner.

Fässler, V. 1971. Hell-und-Dunkel in der barocken Dichtung. Bern: Lang.

Hauser, A. 1977. The Social History of Art: Renaissance, Mannerism, Baroque. London: Routledge & Kegan Paul.

Kerkhoff, E.L. 1965. De literaire stijl van de Barok. In: Enno van Gelder, H.A. et al. De Barok. Den Haag: Servire.

Meid, V. 1974. Der deutschen Barockroman. Stuttgart: Metzler.

Sommerfeld, M. 1929. Deutsche Barocklyrik nach Motiven. Ber­lin: Junker & Dunnhaupt.

Wölfflin, H. 1950. Principles of Art History: The Problem of the Development of Style in Later Art (transl. M.D. Hittinger). London: Dover.

Raadpleeg ook:

Hofmeister, G. (ed.). 1983. German Baroque Literature; The Eu­ropean Perspective. New York: Ungar.

Rousset, J. 1962. La definition du terme “Baroque”. In: Proceedings of the IIIrd Congress of the International Comparative Literature Association. ‘s-Gravenhagen: Mouton.

Souiller, D. 1988. La littérature baroque en Europe. Paris: PUF.

Spahr, B.L. 1981. Problems and Perspectives: A Collection of Es­says on German Baroque Literature. Frankfurt & Berne: Lang.

Varloot, J. 1986. Du Baroque aux Lumiéres. Paris: Rougerie.

Wellek, R. 1963. Concepts of Criticism. New Haven & London: Yale University Press.

 

Anna-Marie Bisschoff