Tradisioneel is ‘n diskoers beskou as ‘n geleerde diskussie of betoog oor ‘n filosofiese, politieke, literêre of religieuse onderwerp. So ‘n diskoers kan mondeling of skriftelik van aard wees en is verwant aan geskrifte soos verhandelings of dissertasies. ‘n Beroemde voorbeeld van so ‘n diskoers is Descartes se Discourse de la méthode (1637) (Diskoers oor metode).
In die moderne linguistiek word die term diskoers gebruik om ‘n taalkonstruksie wat langer as ‘n sin is aan te dui. Daar bestaan egter verskillende sieninge van die diskoers in die linguistiek en literatuurwetenskap.
Die mees algemene benadering is dat ‘n diskoers ‘n reeks taal-uitinge is wat ‘n taalhandeling vorm. Die linguistiese struktuur van die samestellende sinne van die diskoers is nie primêr van belang vir die aard en struktuur van die diskoers nie. Voorbeelde van diskoerse is ‘n gesprek, ‘n grap, ‘n preek, ‘n lesing, ‘n onderhoud, ens. In die sosiolinguistiek word die funksies van verskillende soorte diskoers ontleed en geklassifiseer n.a.v. die onderwerp, die situasie waarin die diskoers funksioneer en die gedrag van die spreker. So word daar ondersoek ingestel na die funksies, aard en eienskappe van bepaalde soorte diskoerse in bepaalde gemeenskappe, bv. dialoog en monoloog, redevoering (toesprake), rituele (formuliere), verhale, gedigte en selfs informele taalhandelinge soos skinderstories en beledigings.
In die diskoersanalise (vgl. SINTAKSIS (VAN DIE PROSA)) word die patroonmatigheid van diskoerse ondersoek op grond van grammatikale, fonologiese en semantiese kriteria. Daar word aanvaar dat sinne in ‘n diskoers interafhanklik is, en hierdie interafhanklikheid word ondersoek om onderliggende wetmatighede te ontdek en te beskryf of om tot ‘n meer objektiewe interpretasie van die diskoers te kom (vgl. die werk van Z.S. Harris). In watter mate hierdie interafhanklikheid beskryfbaar is op ‘n wyse wat tot ‘n sistematisering van relevante gegewens kan lei, bly egter steeds ‘n vraag (Jordaan, 1986: 401 e.v.).
In die semantiek word gepraat van die universum van diskoers waarmee bedoel word die reeks eenhede, onderwerpe, eienskappe en situasies wat ‘n bepaalde soort diskoers as ‘n taalhandeling betekenisvol maak. So is die universum van diskoers vir preke heeltemal verskillend van dié van kommersiële advertensies.
Die tradisionele benadering dat ‘n sin die grootste linguistiese eenheid is wat bestudeer kan word, is deur die strukturalistiese linguistiek as onbevredigend beskou. In die strukturalistiese linguistiek en *Literatuurwetenskap is daar op ‘n verskeidenheid maniere gepoog om ‘n grammatika van bepaalde soorte tekste op te stel. Roman Jakobson se artikel “Poetry of grammar and grammar of poetry” is hiervan ‘n voorbeeld, soos ook die latere veel meer komplekse en gesofistikeerde pogings tot die opstel van teksgrammatikas deur verskeie akademici wat ook interdissiplinêr te werk gaan (vgl. die werk van Teun van Dijk en sy medewerkers en navolgers).
Dit wil voorkom of diskoers in baie gevalle as ‘n ekwivalente term vir TEKS gebruik kan word. Ducrot & Todorov (1981: 249) gebruik bv. ook die woord diskoers waar hulle in die Encyclopedic Dictionary of the Sciences of Language die begrip teks verduidelik.
In die NARRATOLOGIE word die verhalende teks bestudeer op verskillende vlakke, juis omdat die verhalende teks beskou word as ‘n soort diskoers waarin reekse proposisies voorkom. Omdat die verhalende teks beskou word as ‘n referensiële teks, word daar onderskei tussen die GESKIEDENIS of STORIE waarna die teks verwys en die artistiek geordende reeks elemente wat in die teks die VERHAAL vorm. Hierdie onderskeiding, wat ontwikkel uit die RUSSIESE FORMALISME se onderskeiding tussen FABULA EN SJUŽET word gevind by Todorov wat onderskei tussen histoire (die chronologiese, kousale en logiese versameling elemente waarna die teks verwys) en discours (die reeks elemente soos wat dit in die teks voorkom en as ‘n diskoers funksioneer). Genette se onderskeiding in histoire, récit en narration sluit hierby aan en die récit word as ‘n diskoers ontleed.
In die narratologie word die verhalende teks o.m. ontleed deur die verhoudinge tussen die verskillende proposisies waartoe die teks gereduseer kan word, te ontleed. Todorov (1977) ontleed so die vlak van die diskoers deur na die temporele, logiese en ruimtelike verhoudinge tussen proposisies te kyk. Bremond (1977) se tipologie van verhalende reekse en baie van die Amerikaanse STORIEGRAMMATIKAS is hiervan voorbeelde (De Beaugrande, 1982).
Bal (1980) praat van geskiedenis, verhaal en teks, en Rimmon-Kenan (1983) van story, text en narration. Die terme verhaal (Bal) of text (Rimmon-Kenan) kan gesien word as die narratologiese terme vir die diskoers, wat onderskei is van die teks (Bal) of narration (Rimmon-Kenan) wat die tekstuur (vgl. MOTIEF) en aard van die taaluiting as ‘n taalhandeling ondersoek.
Die term diskoers word algemeen gebruik in die linguistiese ondersoek van die literatuur en in die linguistiese literêre kritiek. Benaderings vanuit die tradisionele STILISTIEK, STRUKTURALISME, SEMIOTIEK, die sosiolinguistiek en TAALHANDELINGSTEORIE word dan saam gebruik om literatuur as ‘n vorm van sosiale diskoers te ondersoek (Fowler, 1981).
Bibliografie
Bal, M. 1978/1980. De theorie van vertellen en verhalen. Muiderberg: Coutinho.
Beaugrande, R. de. 1982. The story of grammars and the grammar of stories. Journal of Pragmatics, 6.
Bremond, C. 1977. De logika van de narratieve mogelijkheden. In: Bronzwaer, W.J.M., Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. (reds.). Tekstboek Algemene Literatuurwetenschap. Baarn: Amboboeken.
Chatman, S. 1978. Story and Discourse. Ithaca: Cornell University Press.
Du Plooy, H. 1986. Verhaalteorie in die twintigste eeu. Butterworth: Durban.
Fowler, R. 1981. Literature as Social Discourse: The Practice of Linguistic Criticism. London: Batsford Academic & Educational.
Genette, G. 1980. Narrative Discourse. Oxford: Blackwell.
Harris, Z.S. 1963. Discourse Analysis Reprints. The Hague: Mouton.
Jordaan, G.J.C. 1986. ‘n Kritiese evaluering van die Suid-Afrikaanse diskoersanalise. Koers, 51(3).
Rimmon-Kenan, S. 1983. Narrative Fiction: Contemporary Poetics. London: Methuen.
Todorov, R. 1977. The Poetics of Prose. Oxford: Blackwell.
Van Dijk, T.A. 1972. Foundations for typologies of texts. Semiotica, 6.
Wybenga, D.M. 1987. Diskoersanalise en stilistiek. Pretoria: Sena.
Raadpleeg ook:
Coupland, N. 1988. Styles of Discourse. London: Croom.
Heilna du Plooy