FABULA EN SJUŽET

Die begrippe fabula en sjužet staan sentraal in die formalistiese verhaalteorie en het ook ‘n belangrike rol gespeel in die ontwikkeling van die latere strukturalistiese verhaalteorieë. Hierdie begrippe vorm die basis van die onderskeiding tussen die verskillende vlakke waarvolgens ‘n verhalende teks geanaliseer kan word (Volek, 1977). (Vgl. RUSSIESE FORMALISME en STRUKTURALISME.)

In die literêre werk vertoon ‘n tema ‘n eenheid, maar die tema word opgebou uit kleiner tematiese elemente. Die verband tus­sen die elemente in ‘n teks kan twee vorme aanneem:

  • ‘n kousaal-temporele verband
  • of ‘n verband wat op gelyktydigheid dui, waar die tema kan ver-ander sonder dat die kousaliteit daarby betrek word (Tomaševskij, 1965: 66).

Op grond van die aard van die verband tussen die elemente in ‘n teks onderskei Tomaševskij tussen twee soorte tekste. Die eerste groep is werke wat ‘n storie, ‘n fabula bevat, en die tweede groep is werke soos reisbeskrywings (vgl. REISVERHAAL) en beskrywende of didaktiese gedigte (vgl. LEERDIG) wat nie ‘n storie bevat nie.

‘n “Storie”, die fabula, is gebonde aan tyd en kousaliteit. Dit is die fabula in ‘n teks wat aanduiding gee van oorsaak en gevolg, en daarom is ‘n blote beskrywing van opeenvolgende gebeurtenisse (soos ‘n reisbeskrywing waarin net die name van plekke en tye genoem word) ‘n blote “vertelling”. Hoe minder kousaliteit betrek word, hoe meer moet daar op chronologie gesteun word vir verstaanbaarheid. Tomaševskij (1965: 66) definieer ‘n KRONIEK as die eenvoudige weergawe van ‘n chronologiese reeks gebeurtenisse, in teenstelling tot die ROMAN, waarin die fabula tydgebondenheid en kousaliteit impliseer (vgl. ook Volek, 1977: 143).

Die fabula kan dus gedefinieer word as die versameling gebeurtenisse soos wat hulle wedersyds inhoudelik in chronologiese en kousale verband tot mekaar staan. Dit impliseer dat die fabula buite die teks herhaal kan word in chronologiese en logiese volgorde van elemente (vgl. Volek, 1977: 143).

In die literêre werk word die gebeurtenisse egter anders gerangskik as in die fiktiewe werklikheid ter wille van die artistieke kwaliteit van die werk. Die weergawe van ‘n bepaalde fabula in ‘n bepaalde verhalende teks wat ‘n eiesoortige ordening en aanbiedingswyse insluit, is die sjužet.

Tomaševskij (1965: 67) definieer die sjužet as “the events … arranged and connected according to the orderly sequence in which they were presented in the work.”

Waar Tomaševskij ‘n MOTIEF definieer as die kleinste ondeelbare element van die tematiese stof van ‘n teks, kan die fabula beskryf word as die versameling motiewe in hul logiese en kousale ver­band en in chronologiese volgorde, en die sjužet is ‘n versameling van dieselfde motiewe in ‘n bepaalde patroon, d.w.s. met inbegrip van die samehang en veral die volgorde waarin die motiewe in die teks voorkom. Die fabula en die sjužet bestaan slegs uit motiewe wat in die teks voorkom.

Vir die fabula is dit irrelevant waar en hoe in die leesproses (d.w.s. in die teks) die leser van ‘n spesifieke gebeurtenis te hore kom. Die sjužet het egter juis die artistieke funksie om ‘n bepaalde rangskikking en artistieke ordening van motiewe te bewerkstellig.

Vir Tomaševskij is die fabula dus reeds half-literêr van aard, omdat die fabula as ‘n vaste “objektiewe” pool juis die kunstigheid van die sjužet aantoon en beklemtoon. Die fabula is wat in die literêre werk “gebeur”, die sjužet is hoe die leser daarvan kennis neem. Nora Krausova stel in ‘n artikel “K teorii sujetu” (1969) dat die sjužet dit is wat die leser direk en in ‘n bepaalde volgorde waarneem wanneer hy lees, terwyl hy die fabula eers nadat hy klaar gelees het, rekonstrueer. Omgekeer, beweer Krausova, het die skrywer eers die fabula in gedagte en konstrueer daarna die sjužet (Volek, 1977: 144-145).

Hierdie uitspraak van Krausova impliseer ‘n bepaalde volgorde in die ontstaan van die literêre werk, nl. dat die outeur eers ‘n storie in die kop het en dit daarna in ‘n artistieke vorm klee. Hierdie veronderstelling is spekulatief en sekerlik nie altyd waar nie, maar die onderskeid tussen fabula en sjužet is wel geldig.

Šklovskij het fabula en sjužet as ‘n nuttige onderskeiding gesien, omdat die funksionele teenstelling tussen die basiese verhaalmateriaal en die uiteindelike artistieke vormgewing in die literêre teks ‘n geskikte basis vir die analise van die artistieke verhaalstruktuur vorm. Tekste wat ‘n verhaal bevat, is volgens horn sujetgebunden en dié sonder ‘n verhaal sujetlos. Aangesien die logiese, kousale en chronologiese verhaallyn die basis van die fabula vorm en die artistieke ordening die basis van die sjužet, is hierdie laaste onderskeiding van Šklovskij ondeurdag en verwarrend. Šklovskij en Tomaševskij se definisies vertoon gebreke, maar hierdie definisies was baanbrekerswerk en vorm ‘n belangrike bydrae tot die verhaalteorie.

Tynjanov (Volek, 1977: 146) se uiteensetting van die sjužet van ‘n werk as die dinamiek daarvan, ‘n dinamiek wat uit die wisselwerking van al die verhoudinge in die teks ontwikkel, stem dus meer ooreen met Scholes & Kellogg (1978: 207) se definisie van PLOT. Hulle beskryf plot ook as die abstrakte dinamiek in die roman, terwyl die grootste bate van die terme fabula en sjužet daarin lê dat dit op konkrete versamelings elemente dui wat ook ooreenstem met die versameling verhalende elemente in die teks.

Al kan daar leemtes gevind word in hierdie omskrywings van fabula en sjužet, is hierdie twee terme baie belangrik as deel van die terminologiese winste wat deel van ons erfenis van die RUSSIESE FORMALISTE is (vgl. Du Plooy, 1986: 104-107, 116-120).

Fabula en sjužet word dikwels verkeerdelik gelykgestel met die terme story en plot wat in die tradisionele Anglo-Amerikaanse literêre teorie gebruik is. Selfs Wellek & Warren (1976: 218) stel story gelyk aan fable en beskryf die sujet as “plot … mediated through ‘point of view’ “. In die oorspronklike definisies is fabula en sjužet egter konkrete versamelings “motiewe” of tekselemente wat op grond van verskille in die ordening en met verskillende funksies op aparte vlakke t.o.v. die teks lê, terwyl die tradisionele terme story en plot nooit in verband gebring word met verskillende teksvlakke nie.

In die Duitse literatuurwetenskap is daar tradisioneel onderskei tussen Geschichte en Fabel (Kayser, 1971: 77; Lämmert, 1968: 24). Geschichte het dieselfde betekenis as die Engelse story en Fabel dieselfde betekenis as plot.

‘n Mens moet baie duidelik onderskei tussen Fabel by Lämmert en fabula by die Russiese Formaliste. Fabula word dan ook gewoonlik in Duits vertaal met Fabel (teenoor Sujet), en dit maak die verwarring nog waarskynliker. Lämmert se Fabel is eksplisiet plot, die gestruktureerde vorm van die verhaal in die teks, ter­wyl fabula die chronologies, logies en kousaal geordende versameling van verhalende tekselemente is. Hoewel fabula en geskiedenis enersyds en sjužet en plot andersyds nie gelykgestel kan word nie, lê die begrippe as pare tog op dieselfde vlakke. Die fabula van die Formaliste lê op dieselfde vlak as die GESKIEDENIS, terwyl Lammert se Fabel dieselfde is as plot en op die vlak van die sjužet lê.

Die terme fabula en sjužet word baie gebruik in die STRUKTURALISTIES en SEMIOTIES georiënteerde literatuurwetenskap, hoewel sommige literatuurwetenskaplikes telkens die begrippe effens verander om binne ‘n bepaalde teoretiese raamwerk te pas (Lotman, 1977: 231-234; Doležel, 1972: 65). Die idee van verskillende vlakke waarop die teks funksioneer, is veral deur die Franse strukturaliste nader bepaal en noukeurig omskryf (vgl. Barthes, 1977: 88; Todorov, 1977: 108-119; Genette, 1980: 25-29). Die Franse strukturaliste onderskei ook ‘n derde teksvlak, nl. die TEKS as ‘n bepaalde vorm van vertelling.

Die begrippe fabula en sjužet is en bly steeds noodsaaklike en nuttige hulpmiddele in die proses om verhalende tekste te verstaan en te beskryf.

Volek (1977: 165) beskryf die fabula, sjužet en teks as drie fasette (vlakke van bestaan) wat gesamentlik ‘n struktuur tot stand bring. Hy gebruik die metafoor van ‘n oseaan om te verduidelik hoe die leser die “oewer” van die teks volg en deur die “eb en vloed” van die sjužet, die fabula as die oorkantste kontinent dofweg sien. Algaande herorganiseer die leser die gegewens van die sjužet om die fabula te vind. Die “wese” van die verhalende teks is nogtans nie die fabula nie, al word die fabula gesoek, maar wel die semiologiese dialektiese proses waardeur die struktuur van die narratiewe universum n.a.v. die drie ontologiese en temporele vlakke, die fabula, sjužet en teks, gekonstitueer word.

(Vgl. ook GESKIEDENIS/STORIE/VERHAAL EN TEKS en PLOT.)

 

Bibliografie

Barthes, R. 1977. Image-Music-Text. Glasgow: Fontana.

Brink, A. P. 1987. Vertelkunde. Pretoria: Academica.

Brooks, P. 1984. Reading for the Plot. Oxford: Clarendon.

Culler, J. 1980. Fabula and sjužet in the analysis of narrative. Poetics Today, 1(3).

Doležel, L. 1972. From motifemes to motifs. Poetics, 4.

Du Plooy, H. 1986. Verhaalteorie in die twintigste eeu. Durban: Butterworth.

Genette, G. 1980. Narrative Discourse. Oxford: Blackwell.

Kayser, W. 1948/1971. Das sprachliche Kunstwerk. Bern: Francke.

Lämmert, E. 1968. Bauformen des Erzählens. Stuttgart: Metzler.

Lotman, J.M. 1977. The Structure of the Artistic Text (transl. G. Lenhoff & R. Vroom). Michigan: University of Michigan Press.

Scholes, R. & Kellogg, R. 1978. The Nature of Narrative. Lon­don: Oxford University Press.

Todorov, T. 1977. The Poetics of Prose. Oxford: Blackwell.

Tomaševskij, B. 1965. Thematics. In: Lemon, L.T. & Reis, M.J. (eds). Russian Formalist Criticism. Lincoln: University of Nebras­ka Press.

Volek, E. 1977. Die Begriffe “Fabel” und “Sujet” in der modernen Literaturwissenschaft. Poetica, 9.

Wellek, R. & Warren, A. 1942/1976. Theory of Literature. Lon­don: Penguin.

 

Heilna du Plooy