Die term fiksie word in die algemeen gebruik om tekste aan te dui wat versin is, wat uit die verbeelding en deur die verbeelding van ‘n outeur ontstaan en wat dus staan teenoor tekste wat gegrond is op werklike geskiedenis of ware feite. Dit is moeilik om die term presies te definieer omdat dit in die praktyk ‘n taamlike vae en algemene betekenis het. Enersyds word fiksie gesien as die versameling van tekste wat as uitgedinkte, verbeelde literêre komposisies beskryf kan word. Fiksie verskil egter van FANTASIE, en wel daarin dat, hoewel daar dikwels fantastiese elemente in fiksionele werke voorkom, fiksie tradisioneel in ‘n noue verband met die werklikheid staan. Daarom kan fiksie andersyds beskou word as enige verbeelde herskepping of rekonstruksie van die werklikheid, sodat selfs dagdrome, leuens en skinderstories as fiksie beskryf word. Volgens hierdie siening kan alle literêre tekste, d.w.s. poësie-, drama- en prosatekste fiksie genoem word en daar sal fiksionele elemente in baie ander taaltekste gevind word, selfs in koerantberigte en geskiedskrywing.
Fiksie is dus ‘n term wat gebruik word om ‘n komplekse begrip mee te beskryf. Die term oorvleuel ook dikwels met ander terme. Die woord kom van die Latynse woord fingo (wat beteken “om te vorm” of “om vorm te gee”) en word gewoonlik gebruik as ‘n aanduiding van die aard van ‘n teks en nie as ‘n aanduiding van ‘n bepaalde soort teks nie. Die term fiksie dui dus nie slegs of in die eerste plek op ‘n bepaalde produk van die kreatiewe aktiwiteit nie maar wel op die soort kreatiewe aktiwiteit. Wanneer gepraat word van fiksie, word primêr verwys na die aard van tekste wat ontstaan het uit ‘n bepaalde soort kreatiewe aktiwiteit. Die term dui volgens Maatje (1977: 72) op “het feit dat iets gefingeerd dus verzonnen is”. Fiksionaliteit ontstaan as fiksie ás fiksie aangebied en ontvang word, want fiksionele tekste is “mental structures which we know to be false but which we accept as true for the purposes of mental coherence and order” aldus Bowler (1973: 70) in A Dictionary of Modern Critical Terms.
Fiksie het met ‘n bepaalde beeld of siening van die werklikheid te make, maar is nie in die gewone sin van die woord “waar” nie. Oor die waarde van fiksie as iets wat onwaar is en oor die verhouding waarheid en fiksie is en word baie gefilosofeer. Die feit bly dat die maak of skryf van fiksionele tekste ‘n belangrike en gewilde vorm van kommunikasie is, waarin ‘n siening van die werklikheid op konkrete wyse uiteengesit, weergegee en aangebied word.
Daar kan moeilik ‘n bepaalde funksie aan fiksie toegedig word. Daar word egter algemeen aanvaar dat fiksie gemaak word en op ‘n bepaalde manier aangebied word om te vermaak en te onderrig, om die ontvanger of leser te laat dink en te laat ervaar, om die leser te boei, hom te interesseer, hom mee te voer en tot meelewing met karakters en verhaal te bring.
Aristoteles het in sy teenoor mekaar stel van poësie en geskiedenis gesê dat geskiedenis met spesifieke feite te make het, maar dat die poësie (hier gesien as die verbeelde kunswerk) meer filosofies en ernstig is omdat dit met “universele” waardes te make het. Poësie as fiksie kom, in ‘n voortreflike fiksionele teks, dus nader aan wat waar is in universele sin as ‘n spesifieke of unieke feit.
Deur die eeue het verskillende literêr-teoretiese strominge die term fiksie telkens op ‘n ander manier omskryf en begrens. Die begrip fiksionaliteit vorm ‘n sentrale probleem in die teoretisering oor artistieke tekste en uiteraard sal elke teoretiese stroming sigself daarvan rekenskap moet gee en dienooreenkomstig ook van die term fiksie (vgl. Abrams se A Glossary of Literary Terms). In die literêre omgangstaal word die betekenis van die term fiksie dikwels vereng om slegs na narratiewe tekste, ROMANS, KORTVERHALE en NOVELLES te verwys. Streng gesproke is hierdie gebruik nie korrek nie, omdat hierdie subgenres enersyds ‘n enger en andersyds ‘n wyer omskrywing vereis vanweë historiese en kontemporêre variasies van die vorme. Desnieteenstaande vind ‘n mens, veral in Engelse en Amerikaanse geskrifte, dat fiction gelykgestel word aan narratiewe prosa.
‘n Groot aantal literêre vorme en gemengde vorme word onder die term fiksie ingesluit. Romans, novelles en kortverhale is die mees voor-die-hand-liggende voorbeelde, maar ook die EPOS, SPROKIE en VOLKSVERHAAL (in sowel prosa- as poësievorm) is gewoonlik fiksioneel van aard. Die GELYKENIS en ALLEGORIE bestaan ook oorwegend uit fiksionele elemente. Daar is ‘n aantal gemengde vorme wat as fiksie beskou word. HISTORIESE romans plaas fiksionele karakters in verifieerbare historiese omstandighede (bv. F.A. Venter se tetralogie oor die Groot Trek), maar is fiksie en dit staan teenoor dokumentêre geskiedskrywing. In die fiksionele BIOGRAFIE word ‘n verbeeldingryke rekonstruering van die eienskappe en ervaringe van ‘n werklike mens gemaak en as ‘n roman aangebied. Karel Schoeman se werke oor o.a. Shakespeare (Die hart van die son), Beethoven (Eroica) en die Strausse (Die walskonings) is voorbeelde van hierdie vorm van fiksie. Die groot gryse van Anna M. Louw is hiervan ‘n klassieke voorbeeld. Die werk het selfs ‘n subtitel Roman, wat die fiksionele aard van die verwerking van feitelike gegewens vooropstel. Ook die outobiografiese roman waarin die persoonlike gegewe geobjektiveer word en aangebied word asof dit ‘n fiksionele verhaal is, word as fiksie beskou. Hierdie soort werk, waarvan 18-44 van Etienne Leroux en ook Sy kom met die sekelmaan van Hettie Smit voorbeelde is, kan ook outobiografiese fiksie genoem word. Dan is daar ook die roman à clef waar daar van die leser verwag word om agter die oënskynlike fiksionele karakters en gebeure werklike bekende figure en gebeure te herken. Willem Paap se roman oor die Tagtigers in Nederland, Vincent Haman is hiervan ‘n voorbeeld. Dokumentêre fiksie of faksie (faction) is daardie werke waarin dokumentêre gegewens uit die nuusmedia of uit amptelike dokumente soos hofverslae of transkripsies gebruik word as basis en waarin die feitelike vermeng word met fiksionele elemente. ‘n Voorbeeld hiervan in Afrikaans is Die swerfjare van Poppie Nongena van Elsa Joubert.
Teenoor fiksionele werke staan wetenskaplike geskrifte, d.w.s. akademiese vakliteratuur, historiese geskrifte, OUTOBIOGRAFIEë, biografieë, literêr-teoretiese en literêr-kritiese werke en ESSAYS wat as nie-fiksie beskou word.
(Vgl. FIKTIWITEIT.)
Bibliografie
Botha, E. 1980. Oor die Afrikaanse prosa en ander opstelle. Kaapstad: Tafelberg.
Harley, L.J. 1986. Outobiografie, outobiografiese roman en roman-as-outobiografie: ‘n generies-tipologiese ondersoek. D.Litt.-proefskrif, UNISA, Pretoria.
Maatje, F.C. 1970/1977. Literatuurwetenschap: grondslagen van een theorie van het literaire werk. Utrecht: Bohn, Scheltema & Holkema.Kannemeyer, J.C. 1983. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur, band 2. Kaapstad: Academica.
Tomasevskij, B. 1965. Thematics. In: Lemon, L.T. & Reis, M.J. (eds). Russian Formalist Criticism. Lincoln: University of Nebraska Press.
Heilna du Plooy