FIN DE SIÈCLE

Die term fin de siècle (Fr.: die einde van die eeu) kan teruggevoer word na die titel van ‘n blyspel (1888) deur De Jouvenot en Micard. Die term fin de siècle word dikwels gebruik om te verwys na die laaste twintig jaar van die vorige eeu: “The 1880’s were a transitional period, one in which writers and artists were consciously abandoning old ideas and conventions and attempting to discover and set up new techniques and artistic objectives” aldus Holman (1981: 186) in A Handbook to Literature. Fin de siècle verwys voorts na ‘n geestesgesteldheid wat in die laat 19e eeu geheers het, veral onder ‘n klein groepie Franse kunstenaars. Hulle het gereeld besprekings gehou oor die politiek, filosofie, kuns en poësie. Dié geestesgesteldheid word gekenmerk deur ‘n loomheid, ‘n lewensmoegheid, ‘n doelloosheid en ‘n afkeer van alle religieuse en morele beperkings. Daar is dus gestrewe na absolute vryheid. Banaliteite is verafsku en daar is, soos reeds uit die sitaat blyk, gesoek na alles wat nuut is, hoe onnatuurlik dit ook al van voorkoms was. Die hele fin de siècle-houding getuig dus van ‘n afkeer van en ontevredenheid met die maatskappy in sy geheel. Vandaar dat daar gepraat word van die “maladie fin de siècle. (In Nederland het bv. Louis Couperus hieraan gely.)

Die term fin de siècle is die eerste keer gebruik i.v.m. sommige dekadente onder die Franse SIMBOLISTE (± 1889-1890). Dit is egter ook van toepassing op ander kunstenaars (woordkunstenaars word hierby ingesluit) wat ly aan ‘n melancholie, loomheid en lewensmoegheid in die algemeen, bv. Karel van de Woestijne, Louis Couperus en Oscar Wilde. (Vgl. DANDYISME en DEKADENSIE.)

Die fin de siècle-lewensingesteldheid het in Frankryk tot uiting gekom in tydskrifte soos La nouvelle rive gauche, La revue indèpendante, La revue wagnèrienne, La dècadent en La vogue. Dit word ook vergestalt in manifeste, kritiese geskrifte en literêre werke soos Huysmans se A rebours (1884). In Engeland het dit neerslag gevind in die werk van Oscar Wilde (The Picture of Dorian Gray) en in Nederland in die werk van Louis Couperus (vgl. byvoorbeeld Vincent Vere in Eline Vere).

Die term fin de siècle word ook in ‘n breër sin gebruik om te verwys na enige tydperk in die kuns of literatuur wat van verval getuig nadat dit deur ‘n besonder luisterryke periode voorafgegaan is. DEKADENSIE en fin de siècle word trouens soms as sinonieme gebruik.

 

Anna-Marie Bisschoff