FREUDIAANSE PSIGOANALISE EN LITERATUUR

Die term psigoanalise is vir die eerste keer in 1896 deur die psigiater Sigmund Freud gebruik vir ‘n nuwe soort terapie waarvolgens dít wat na die onbewuste verdring is, blootgelê en dít wat bewus verwerp is, onder woorde gebring moes word. Onbewuste taaluitinge kan eerstens bestudeer word deur drome, woordspelings en versprekings van nader te bekyk; ook die literatuur, waar figuurlike taalgebruik dikwels lei tot meerduidigheid, is egter vir Freud ‘n belangrike toegangspoort tot die onbewuste. Dit is duidelik dat dit die spesifieke aard van sekere taaluitinge is wat die raakpunt vorm tussen die psigoanalise en literatuur. Dit is verder die bemoeienis met die prosesse van interpretasie wat die psigoanalise relevant maak vir ‘n bestudering van die literatuur. Wright (1984: 2) merk in hierdie verband op dat die psigoanalise op ‘n implisiete manier die tradisionele filosofiese teorieë oor die verwerwing van kennis bevraagteken, weens die aard van die psigoanalise as “… a theory of interpretation which calls into question the ‘commonsense’ facts of consciousness, facts which it maintains can only be reconstructed after the event”.

Psigoanalitiese literatuurbeskouings gaan uit van die standpunt dat die dissipline van psigoanalise verhelderend en informatief kan funksioneer in die bestudering van die literatuur – dat die psigoanalise m.a.w. die sleutel kan verskaf tot ‘n ingeligte interpretasie van literêre tekste. Die verhouding tussen die psigoanalise en literatuur is nie enkelvoudig nie, maar word gekenmerk deur verskillende fases en afsonderlike modelle. Bal (1984: 288) onderskei bv. in die ontwikkeling vanaf ‘n klassiek-Freudiaanse fase tot ‘n POST-STRUKTURALISTIESE Lacaniaanse instelling, modelle soos ‘n analogiese, ‘n spesifiserende, ‘n mediese en ‘n HERMENEUTIESE vir die verhouding tussen die psigoanalitiese dissipline en literêre objek. (Vgl. POST-FREUDIAANSE PSIGOANALISE EN LITERATUUR.)

Die analogiese model is veel toegepas in die psigokritiek maar het terselfdertyd heftige teenkanting van literêre kritici gekry. In ‘n vergelyking van die psigoanalise en literatuur word literêre tekste verklaar in terme van psigoanalitiese prosedures, ten einde (literêr)psigiese afwykinge en hulle motivering bloot te lê. Talle “gevalle-studies” van neuroses wat teruggevoer kan word tot die onderdrukking van die suigeling en kleuter se bloedskandelike begeerte na sy moeder en die daarmee gepaardgaande jaloesie op sy vader – die sg. Oidipuskompleks – word onderneem. Meesterwerke in die literatuur word herinterpreteer en hulle Oidipale motivering uitgewys. In ‘n tweede vorm van analogie is dit die literêre werke self wat die werking van die psigoanalitiese teorie kan illustreer. Freud se gebruik van die MITE rondom Oidipus en Sophokles se drama Oidipus Rex om die prosesse van begeerte in die onbewuste te illustreer, is ‘n voorbeeld hiervan.

‘n Variant van die analogiese model is die spesifikasiemodel, waar die psigoanalise gebruik word as ‘n “searchlight theory, allowing specific features of texts or reading to be illuminated, sometimes explained, by means of psychoanalytic concepts” (Bal, 1984: 284). Die doel van sulke interpretasies is nie om die psigoanalitiese inhoud van die materiaal te bevestig nie, maar om te verduidelik hoe die subjek se bestaansreg afhang van probleme wat in die psigoanalitiese teorie gestel word. ‘n Netwerk van psigoanalitiese simptome wat terselfdertyd literêr van aard is, word ondersoek. In ‘n analise van literêre middele soos metafore en hulle verspreiding in die literêre teks, kan die psigoanalise bv. bydra tot ‘n begrip van die analise sonder dat die literêre teks daardeur gereduseer word. Vir Bal (1984: 285) is nonreduksie juis die verskil tussen die analogiese en spesifikasiemodelle: “The specification model protects hermeneusis against reduction, while … the analogy model rather encourages the latter. Analogy is a summarizing procedure, while specification is an extending one.”

‘n Belangrike aspek van die spesifikasiemodel is die moontlikheid wat dit bied om psigoanalitiese konsepte te gebruik om die literatuurteorie d.m.v. hermeneutiese spesifikasie uit te brei. Dit gaan nie soseer om die bydrae van die psigoanalise tot die interpretasie van die literêre teks nie, maar wel om die moontlikheid om as ‘t ware toegang te verkry tot literêre kenmerke soos die metafoor en karakter, “hence to inform concepts of literary theory without losing sight of the literary object itself” (Bal, 1984: 286). Hierdie oorbrugging tussen die twee dissiplines sorg vir ‘n ingeboude beskermingsmeganisme teen ‘n ongekontroleerde interpretasie. Die literêre konsep KARAKTER kan bv. in ‘n spesifieke lig gestel word deur ‘n kennisname van die psigoanalitiese teorie; terselfdertyd beperk die literêr-SEMIOTIESE konsep karakter ‘n neiging tot “wilde” psigoanalitiese bespiegeling.

‘n Volgende variant van die analogiese model is die mediese model, waar die informasierelasie omgedraai word: die psigoanalise is nie soseer die informant nie maar wel die geinformeerde dissipline. Met ander woorde: die literêre teks word gebruik as ‘n dokument vir psigoanaliste. Indien die probleem van die kloof tussen onbewuste diskoers en geskrewe tekste uitgeskakel kan word, kan die manier waarop die literatuur inligting oor die psigoanalise kan verskaf, interessant wees. Hierdie model word egter problematies wanneer psigokritici probeer aantoon dat ‘n bepaalde skrywer, karakter of selfs teks bepaalde psigiese afwykinge toon; die literêre kritikus probeer om ‘n so volledig moontlike beeld van ‘n bepaalde afwyking te skets m.b.v. gegewens wat uit die teks verkry word. Die hoofbeswaar teen hierdie model is dat ‘n samehangende mediese gevallestudie op ‘n arbitrêre manier opgebou word uit uiteenlopende en gedetailleerde kenmerke sonder om hulle relevansie in die oorkoepelende literêre studieobjek te bepaal. Dit is bv. teoreties moontlik om ‘n sa­mehangende beeld van ‘n neurose op te bou uit los drade en willekeurig gekose woorde. Weens hierdie lukraak aard van die gegewens is die mediese model irrelevant vir die literatuurstudie.

In teenstelling met die spesifikasie- en mediese variante van die analogiese model gebruik die hermeneutiese model nie die inhoud van die psigoanalise om inligting oor die literatuurstudie te verskaf nie. Basiese psigoanalitiese voorveronderstellings, die teoretisering oor die onbewuste, opvattinge oor taal, die subjek en die verhouding tussen taal en subjek word eerder gebruik as sleutels tot en deskriptiewe begrippe vir interpretasie. Hierdie dissipline is nie soseer geïnteresseerd in spore van die Oidipale kompleks nie maar fokus eerder op die onbewuste en die vorme daarvan wat lei tot die versteuring van samehang: tekens van sensuur soos verdigting en verskuiwing; teenstrydighede en onsamehangendhede en hulle status in verhouding tot die koherente “bewuste” uitsprake van die teks; ook die vermoë van die bg. onbewuste vorme om die gewone interpretasies wat na samehang streef te versteur. Hierdie model hou volgens Bal (1984: 287) bepaalde moontlikhede in: “If carefully used, it can yield surplus information, it can relate to traditionally acknowledged liter­ary problems, and it can contribute to the rethinking of the subject in the socio-cultural sciences.”

In ‘n uiteensetting van die belangrikste fases in ‘n psigoanalitiese literatuurbeskouing kan die bg. modelle – of oorvleuelings tussen en variante daarvan – vervolgens geïnkorporeer word. Daar word hoofsaaklik gekonsentreer op ontwikkelinge rondom die twee sentrale figure in die psigoanalitiese kritiek: Sigmund Freud (1856-1939) en Jacques Lacan (1901-1981). (Vgl. POST-FREUDIAANSE PSIGOANALISE EN LITERATUUR.) Metodologiese probleme rondom die verhouding tussen psigoanalise en literatuur, asook kritiese beskouings oor die bruikbaarheid van psigoanalitiese meganismes vir ‘n ontsluiting van die betekenis in literêre tekste, sal deurgaans in die uiteensetting geïnkorporeer word.

Die psigoanalise kan ‘n bydrae lewer tot die verstaan van die literatuur en die kunste, omdat dieselfde meganismes wat bepalend is vir normale en abnormale gedrag ook volgens Freud ‘n rol speel in estetiese aktiwiteite. In hierdie verband is Freud se teorie van die onbewuste en die maniere waarop dit die produksie en resepsie of ervaring van die kunste kan beïnvloed van deurslaggewende belang vir ‘n begrip van die psigoanalitiese benaderings tot die literatuur. Die basiese konsepte van die Freudiaanse psigoanalitiese teorie kan kortliks beskryf word in terme van psigiese modelle, die konsep onderdrukking, die rol van seksuele instinkte of drifte en verskynsels van oordrag.

Psigiese modelle – die menslike gees word vanuit drie gesigspunte bestudeer: die “dinamiese”, die “ekonomiese” en die “topografiese”, en in al drie hierdie gesigspunte word die bepalende rol wat die liggaamlike behoeftes speel in die konstituering van die onbewuste, belig. In die dinamiese uitgangspunt beklemtoon Freud die wisselwerking van kragte in die gees –  ‘n wisselwerking en botsing wat ontwikkel wanneer die instinktiewe dryfkragte van die liggaam in aanraking kom met die eise van die eksterne werklikheid. Die bewussyn ontwikkel uit die liggaam, en liggaamlike behoeftes. is op hulle beurt onafskeidbaar verbind aan gevoelens van plesier of genot en pyn. Vanuit ‘n ekonomiese perspektief gesien, word plesier of genot aangepas by die eise van die realiteit, sodat die liggaam moet leer om genot uit te stel ten einde te kan voldoen aan sosiale eise. In die topografiese uitgangs­punt word die gees eerstens beskryf as bestaande uit drie subsisteme, nl. die bewuste, die voorbewuste (preconscious) en die onbewuste. Bewustheid word gelykgestel aan die vermoë om die eksterne werklikheid waar te neem en te orden; die voorbewuste bevat elemente van die ervaring wat gemaklik tot die bewuste vlak opgeroep kan word; die onbewuste bestaan uit alles wat uit die bewuste en voorbewuste geweer is. In ‘n tweede weergawe van die topografiese uitgangspunt val die gees in die volgende dele uiteen: die id, wat verwys na die instinktiewe drifte voortspruitende uit die behoeftes van die liggaam; die ego, wat uit die id ontwikkel en wat die drifte reguleer en opponeer; en die superego, wat die ouerlike en sosiale invloede op die drifte verteenwoordig.

Die konsep onderdrukking (repressie) hou direk verband met die dinamiese konflik tussen die dele van die menslike psige. Die id streef na die bevrediging van sy wense, ongeag of hulle versoen kan word met eksterne eise, terwyl die ego bedreig voel deur die druk van onaanvaarbare wense. Herinnering aan dergelike ervarings, d.w.s. beelde en idees wat daarmee geassosieer word, word gelaai met onplesierige gevoelens en derhalwe uit die bewuste geweer. Wense wat gelaai is met skuldgevoelens word eweneens uit die bewuste ervaring geweer. Vorme van onderdrukte wense kom wel in ‘n verhulde of vermomde vorm tot uitdrukking in drome, grappe of versprekings. Dit is dan veral die aard van dergelike vermommings wat die belangstellingsveld van die klassieke psigoanalitiese kritiek uitmaak: aanvanklik word in die id-psigologie die inhoud van die onderdrukte wense bestudeer terwyl die ego-psigologie in ‘n later stadium konsentreer op dit wat die wense “kontroleer”, d.w.s. die werk se formele middele.

Freud se teorie van die instinktiewe drifte (Dts.: Trieben; Eng.: drives) was dwarsdeur sy werk dualisties, deurdat twee verskillende drifte altyd teenoor mekaar gestel word, soos bv. ge­sien kan word uit die opposisie tussen seksuele en selfbehoudende drifte in sy vroeëre teorie. Die wisselwerking tussen enersyds die Oidipuskompleks (wat die biologiese begeerte van die kind verteenwoordig) en andersyds die kastrasiekompleks (wat dui op sy ervaring van outoriteit) illustreer nie net die botsing tussen seksuele drange en selfbehoudende kragte nie, maar tipeer ook die kind se ontwikkeling tot volwasse seksualiteit. Vir ‘n bereiking van sy seksuele identiteit is die kind se verhouding met sy ouers van kritieke belang. Die probleme begin by die kind se volkome afhanklikheid van sy moeder as ‘n suigeling en ook gedurende sy vormingsjare. In ‘n verduideliking van die Oidipuskompleks stel Freud dat dit onvermydelik is dat ‘n seuntjie sy vader sal sien as ‘n mededinger om die liefde van sy moeder en dat hy daarom fantasieë sal koester oor die doodmaak van sy vader en die besit van sy moeder. ‘n Oorwinning oor die Oidi­puskompleks word bereik deur die seun se vrees vir kastrasie, wat hom uiteindelik daartoe lei om met sy vader te identifiseer en aldus sy biologiese seksualiteit te versoen met sy sosiale rol.

Die Oidipuskompleks is vir Freud die kern van begeerte, onderdrukking en seksuele identiteit. Die stryd om die kompleks te oorwin, word nooit heeltemal opgelos nie; dit is die oorsaak van neuroses en terselfdertyd die bestaansreg vir die psigoanalitiese proses waar die pasiënt deur ‘n proses van oordrag (transference) gelei word tot ‘n beter kompromis met gesag. Oordrag behels die verplasing van gevoelens vanaf een idee op ‘n ander idee, of vanaf die analisant op die psigoanalis in ‘n spreekkamersituasie. Die analisant se wense en eise is tegnieke van weerstand en illustreer sy poging om die analis te oorwin deur ‘n ondermyning van sy gesag, sodat sy onderdrukte begeerte uiteindelik vervul kan word. Interpretasie van hierdie weerstand – d.w.s. van die woorde en dade wat toegang tot die onbewuste blokkeer – is dus die sleuteltegniek van die psigoanalise. In die psigoanalitiese leerteorieë word dergelike punte van weerstand in sowel lesers as tekste gesien as ‘n manifestasie van die dwang tot herhaling. In ‘n proses van kontra-oordrag (counter-transference) reageer die analis weer op ‘n ongekontroleerde manier op die oordrag van die analisant. Hierdie prosesse van oordrag en kontra-oordrag hou bepaalde implikasies in vir lesergerigte teorie soos bv. aangetoon word in Shoshana Felman se boeiende analise van die werking en uitwerking van Henry James se The Turn of the Screw op die lesers binne en buite die teks (vgl. POST-FREUDIAANSE PSIGOANALISE EN LITERATUUR). Besware teen die tradisionele “mediese” analises van literêre tekste, waar die teks ge­sien is as die pasiënt en die leser as die analis, word hiermee grootliks uit die weg geruim. Soos Wright (1984: 17) dit stel: “Readers do not only work on texts, but texts work on readers, and this involves a complex double dialectic of two bodies in­scribed in language.”

Die droom is vir Freud belangrik vir ‘n studie van die onbewuste, want drome kom voor wanneer daar botsende doelwitte is, soos wanneer liggaamlike begeertes aangepas moet word by die *kodes van ‘n gemeenskap. In ‘n toestand van slaap is die onderdrukkende mag nie so sterk nie, sodat onbewuste begeertes in ‘n veranderde en dikwels verwronge vorm in droombeelde tot uiting kom. Freud se studie van die werking van dualiteit en meerduidigheid in drome is om meer as een rede van belang vir ‘n studie van die literatuur: in die eerste plek omdat artistieke taalgebruik dikwels gekenmerk word deur funksionele meerduidigheid; in die tweede plek omdat Freud se studie van die meganismes wat in drome werksaam is, lig kan werp op die aktiwiteite van lees, skryf en kritiek.

Drome ontstaan volgens Freud weens die druk van ‘n onbewuste impuls of begeerte wat nie in ‘n wakende toestand vervul is nie. Selfs in die droom word die onderdrukte gedagtes egter nie presies weergegee nie, maar verander – die droomwerking transformeer die latente verbode droomgedagtes tot werklike of gemanifesteerde droomstories wat deur die dromer onthou word. Hierdie werking van die droom word deur Freud die taal van begeerte genoem en word gekenmerk deur meganismes soos verdigting (condensation) en verplasing (of verskuiwing, displace­ment) wat ook in literêre werke baie voorkom.

Verdigting verwys na die feit dat die geopenbaarde of duidelike (manifest) droom ‘n kleiner inhoud het as die latente droom en dat dit dus ‘n verkorte vertaling van die latente droom is. Hier­die korter inhoud is egter nie ‘n blote kwessie van uitsnyding nie, maar saamgestelde figure en strukture sorg daarvoor dat so min moontlik weggelaat word. Vandaar die konsep oordeterminering, waardeur verskeie latente wense saamkom in een gemanifesteerde item, of ook waar die teenoorgestelde werking verteenwoordig word deur een wens wat verskeie kere in dieselfde droomreeks herhaal word. In albei gevalle lei die prosedure van oordeterminering tot ‘n superponering of oormekaarplasing van elemente.

Die tweede aktiwiteit van die werking van die droom is verplasing, waarmee bedoel word dat elemente in die latente droomgedagtes d.m.v. “’n kettingreaksie van assosiasies vervang word met elemente in die duidelike of gemanifesteerde droom. Die “verbode” elemente in die droomgedagtes word op hierdie manier vermom en die intensiteit van die aanvanklike idee word oorgeplaas op ander, skynbaar onbelangrike idees. Hierdie konsepte van verdigting en verplasing is later deur Roman Jakobson (1956) verder uitgewerk: verdigting berus op ooreenkoms en hou verband met die retoriese figuur METAFOOR; verplasing berus op die beginsel van kontiguïteit of aangrensing en hou verband met die retoriese figuur metonimia.

Sowel verdigting as verplasing kan visuele en ouditiewe beelde produseer vir abstrakte gedagtes, en daardeur bydra tot die voorstellingsproses in drome. Behalwe beelde, maak simbole ook deel uit van die voorstelling van droomgedagtes. Hierdie simbole kan òf simbole wees met ‘n vasgestelde of konvensionele betekenis òf hulle kan “tipiese simbole” wees wat herhaal word in die verslae van ‘n groot aantal analisante – in die laaste geval word die manlike seksuele orgaan geïdentifiseer met vertikale objekte, terwyl die moeder se liggaam geassosieer word met horisontale objekte of met allerlei tipes omheinings (enclosures). Die interpretasie van dergelike “tipiese simbole” staan bekend as “vulgêre Freudiaanse simbolisme”, waarvolgens alle beelde ‘n spesifieke liggaamlike assosiasie verkry.

Freud se analise van kuns ontwikkel uit ‘n studie van drome: vanaf ‘n ondersoek na drome, kom hy tot ‘n analise van die skeppers van kunswerke, die skrywers en kunstenaars self. In sy mees berugte stelling in hierdie verband word die kunstenaar gesien as ‘n senulyer wat d.m.v. sy kuns ʼn onderdrukte wens uit sy kinderjare probeer vervul. Drome en kuns is nie net verwant omdat hulle wense vervul nie, maar ook omdat albei strategieë moet gebruik om die weerstand van die bewuste denke te oorkom: “… ‘work’ is done by the dreamer and the artist to transform their primitive desires into culturally acceptable meanings” (Wright, 1984: 28).

Soos reeds hierbo gesien, neem die *Oidipuskompleks ‘n sentrale plek in Freud se teorie oor die onbewuste in. ‘n Antieke literêre TRAGEDIE, Sophokles se Oidipus Rex en die mite waarom die dramatiese gebeure gebou is, funksioneer dus vir Freud as ‘n middel tot die ontdekking van bepaalde psigiese prosesse in die seksuele ontwikkeling van kinders, en gevolglik tot die verklaring van sekere tipes neurotiese gedrag by volwassenes. Alhoewel Oidipus Rex vir Freud ‘n bron vir psigoanalitiese teorie was, het hyself nooit die Sophokles-drama geanaliseer nie, maar slegs die basiese gegewens van die mitiese verhaal gebruik om in ander literêre tekste die onbewuste dryfvere agter die optrede van skrywers en karakters te verklaar. In Shakespeare se Hamlet sou die leser normaalweg van die held verwag dat hy hom sonder versuim op die moordenaar van sy vader (sy oom Claudius) sou wreek en self koning word. Hamlet se onverklaarbare besluiteloosheid en uitstel om te doen wat almal van hom verwag, word deur Freud toegeskryf aan sy Oidipuskompleks. Claudius, deurdat hy Hamlet se vader vermoor en met sy moeder getrou het, het in werklikheid Hamlet se onbewuste begeerte vervul. Hamlet kan Claudius gevolglik nie doodmaak nie, omdat dit sou neerkom op selfvernietiging. In hierdie Freudiaanse analise van Hamlet word psigoanalitiese inligting dus gebruik om ‘n deurslaggewende aspek van die dramatiese handeling te verklaar; die Oidipuskompleks funksioneer as ‘n middel tot die interpretasie van literêre tekste. Hierdie Freudiaanse lesing van Hamlet het talle psigoanalitiese interpretasies van Shakespeare se dramas tot gevolg gehad waarin psigiese afwykings by sowel Shakespeare as die karakters in sy dramas uitgewys is.

Die besware teen ‘n dergelike gebruik van ‘n eksterne dissipline om literêre verskynsels te verklaar, is gewoonlik tweërlei van aard: enersyds word beweer dat karakters in literêre werke nie mense van vlees en bloed is nie en dus nie aan allerlei komplekse kan ly nie; andersyds word aangevoer dat psigoanalitiese lesings van literêre tekste nie rekening hou met die werk se eiesoortige literêre struktuur nie. Verhoeff (1984:262) wys egter daarop dat Freud se “mediese” diagnose van Hamlet se Oidipuskompleks struktureel ondersteun word in die drama. Hamlet se begeerte na sy moeder en sy seksuele jaloesie blyk bv. duidelik uit die toneel waarin hy sy moeder heftig bestraf oor haar seksuele verbintenis met Claudius. Die tweede implikasie van Freud se lesing, dat Hamlet hom onbewus identifiseer met Claudius en dus homself sal vernietig deur sy vader se moordenaar te dood, word in die ontknoping van die drama uitgewerk.

Ook die beswaar dat Hamlet nie ‘n mens van vlees en bloed is nie maar ‘n taalskepping in ‘n literêre werk, is volgens Verhoeff (1984) problematies. Alhoewel dit waar is dat Hamlet ‘n fiksionele karakter in ‘n drama is, is dit terselfdertyd so dat ‘n toneelstuk nie slegs ‘n outonome bestaan het nie maar ook geskryf is vir toeskouers. Die effek van suiwering wat deur katarsis in ‘n tragedie teweeggebring word, vereis egter ‘n element van identifikasie met die tragiese held, wat dan inhou dat daar ten minste bepaalde ooreenkomste tussen literêre karakters en werklike mense sal moet wees: “It is … impossible to identify oneself with an abstract structure or with elements of this structure; the process of identification involves real human beings …” (Verhoeff, 1984: 262). ‘n Psigoanalitiese interpretasie van literêre tekste kan volgens die bostaande beredenering sowel vanuit die literêre teks as vanuit die leser se ervaring daarvan geregverdig word. Hierdie genuanseerde opvatting van die waarde van die psigoanalise vir literêre interpretasie reflekteer latere ontwikkelinge in psigoanalitiese benaderings; dit antisipeer die aksentverskuiwing vanaf ‘n Freudiaanse konsentrasie op die psige van die skrywer en karakter tot ‘n Lacaniaanse fokus op die aandeel van die leser in die ontsluiting van betekenis in die teks. (Vgl. POST-FREUDIAANSE PSIGOANALISE EN LITERATUUR.)

Verhoeff toon trouens aan dat ‘n psigoanalitiese interpretasie nie beperk hoef te word tot die psige van die held soos in ‘n klassieke Freudiaanse benadering nie. Literêre elemente word ook gedek deurdat die posisie van die toeskouers, die duplisering van karakters en dramatiese situasies en die tematiese struktuur van die hele drama betrek word. In Hamlet vind duplisering van karakters en dramatiese situasies in die eerste plek plaas deurdat daar ‘n toneelstuk binne ‘n toneelstuk voorkom wanneer Hamlet die moord op sy vader laat opvoer met die hooffigure in die eintlike drama as toeskouers: Hamlet se oom Claudius, die huidige koning en moordenaar van sy vader, Hamlet se moeder en Hamlet self beleef die omstandighede rondom die moord en identifiseer hulle met die onderskeie karakters volgens hulle eie rolle in die drama. Duplisering vind egter ook plaas binne die Oidipale driehoek wat ‘n abstrakte struktuur is en daarom nie gebonde is aan konkrete karakters in enige drama nie.

In Hamlet word die posisie van die vader bv. gevul deur sowel die vermoorde koning (Hamlet se werklike vader) as die moordenaar wat die troon en Hamlet se moeder vir homself toeëien en dus die plek van Hamlet se vader inneem. Dit is hierdie duplisering van die vadersrol wat Hamlet se wraak bemoeilik, want indien hy Claudius sou dood om sy eie vader se moord te wreek, sou hy homself skuldig maak aan vadermoord.

Die bg. dupliserings is die resultaat van die twee psigoanalitiese meganismes van verplasing en verdigting. Die meganisme van verplasing word geïllustreer deur Hamlet se projeksie van sy eie skuld – sy onbewuste begeerte om sy vader te dood en met sy moeder te trou – op sy oom Claudius wat Hamlet se onbewuste begeerte werklik uitgevoer het. ‘n Voorbeeld van verdigting word gevind in die posisie van die vader in die Oidipale driehoek, waar sowel Hamlet se eie vader as sy oom die rol van vader vertolk.

Weens die buigsaamheid van die Oidipale driehoek, waar die abstrakte posisies deur verskillende karakters gevul kan word, sien Verhoeff (1984) ten slotte die Oidipuskompleks as ‘n aktansiële model, waar AKTANTE en karakters gedeeltelik kan ooreenstem. Op grond van ‘n dergelike ooreenkoms van die Oidipuskompleks met ‘n aktansiële model kom Verhoeff (1984: 265) tot die gevolgtrekking dat: “This similarity provides the means for an entirely different application in which the literary structure rather than the author’s psychology is analyzed.”

Verhoeff (1984) se uitbreiding van Freudiaanse beginsels om ook strukturele aspekte van die teks en leserreaksies in te sluit (vgl. LESERROL), is verteenwoordigend van ‘n latere genuanseerder gebruik van die psigoanalise as ‘n interpretatiewe meganisme by die bestudering van die literatuur. Die tipiese klassieke Freu­diaanse psigokritiek is gebaseer op die opvatting dat ‘n kunswerk die geheime beliggaming van die outeur se onbewuste begeerte is. Die literêre werk word verbind aan die outeur se psige, wat o.m. bestudeer word via ‘n analise van sy vroegste jeugervarings, die karakters in sy boeke of ook deur die nagaan van “tipiese simbole” (vulgêre Freudianisme). ‘n Voorbeeld van hierdie tipe klassieke psigokritiek word gevind in Bonaparte (1949) se studie van Edgar Allan Poe. Op grond van gebeure uit Poe se kinderjare – veral die vroeë dood van sy moeder aan tering — sien Bonaparte die vrouekarakters in Poe se verhale as prototipes van sy sieklike moeder. Weens Poe se fiksering op sy moeder (Oidipuskompleks) wend hy hom nooit werklik tot ander vroue nie maar bly ewig getrou aan sy moeder en ontwikkel bowendien in ‘n nekrofilis, aangesien lyke volgens haar vir hom ‘n erotiese aantrekkingskrag het. Poe se onderdrukte begeerte na sy moeder word dus deur die meganisme van verplasing geprojekteer op die karakters in sy verhale.

Wright (1984: 45) wys op ‘n interessante aspek van hierdie tipe interpretasie van die outeur se psige deur aan te toon dat die leser of analis self ook subjektief by die analise betrokke is, sodat die psigokritiek terselfdertyd ‘n metode vir die bestudering van leserreaksies kan word: “This throws new light on the supposed reductiveness of psychoanalytic interpretation: the very reductiveness, instead of achieving the objectivity of which it was in search, reveals, in the intensity of its concentration, a subjective response given public articulation.”

 

Bibliografie

Bal, M. 1984. Introduction: delimiting psychopoetics. Poetics, 13(4/5).

Bonaparte, M. 1949. The Life and Works of Edgar Allan Poe. London: Imago.

Felman, S. 1977. Turning the screw of interpretation. Yale French Studies, 55/56.

Felman, S. 1980. On reading poetry: reflections on the limits and possibilities of psychoanalytical approaches. In: Smith, J.H. (ed.). The Literary Freud: Mechanisms of Defense and the Poetic Will. New Haven: Yale University Press.

Freud, S. 1948. The Interpretation of Dreams. London: George  Allen.

Freud, S. 1949. An Outline of Psychoanalysis. London: Hogarth.

Jakobson, R. & Halle, M. 1956. Fundamentals of Language. The Hague: Mouton.

Skura, M.H. 1981. The Literary use of the Psychoanalytic Process. New Haven: Yale University Press.

Verhoeff, H. 1984. Does Oedipus have his complex? Style, 18(3).

Wright, E. 1984. Psychoanalytical Criticism. Theory and Practice. London: Methuen. (New Accents.)

 

Ina Gräbe