Die korrekte tegniese betekenis van die woord het min te doen met sy normale gebruik (Fr.: grotesque, afgelei van It.: grottesca – grotta van Lat.: crypta; Gr.: krypte). Oorspronklik het dit gedui op sekere antieke muurskilderye en argitektoniese versieringe, gevind in die grotte van Romeinse ruïnes – grotteschi genoem – en die begrip grotesk het sy vroegste betekenis hiervan gekry. In die antieke tyd het die term gedui op ‘n sonderlinge en buitensporige dekoratiewe kunswerk: ‘n muurskildery of beeldhouwerk, ‘n ornament of geornamenteerde fries wat voorstellinge bevat het van grillige, gedrogtelike mens- en diergestaltes, verwring tot lagwekkende karikature. Groteske kuns gee aan die lelike ‘n boeiende en bekorende skyn.
As kunsterm het die begrip grotesk van die vroegste tyd af gedui op die eksploitasie van die grillige ooreenkomste tussen mense en diere of dinge en vice versa; dit het te doen met die vervlegting van onverenigbare, ongerymde en oordrewe verdraaide dinge. Die groteske in ‘n kunswerk laat ‘n mens meestal lag – dit het gewoonlik komiese, sardoniese, oordrewe SATIRIESE effekte. In die werk van skilders soos Hieronymus Bosch, die Brueghels, Goya, Salvador Dali – om enkeles te noem – word elemente van die groteske aangetref.
Die begrip grotesk het egter ‘n betekenisverruiming ondergaan, en sy latere gebruik het uitgebrei tot die literatuur.
Die Franse term crotesque – sedert 1532 gebruik – is in 1640 in Engels vervang deur grotesque. In die 17e eeu is die begrip ook vir die eerste keer binne literêre konteks gebruik. In die 18e eeu word die Franse begrip grotesque ‘n vaste literêre term om te dui op ‘n woordwerk met ‘n grillige en onnatuurlike karakter – ’n werk waarin buitensporige voorstellinge is van die bespotlike, bisarre, vreemde, grillige, op só ‘n wyse dat afgewyk word van die gewenste norme van harmonie, balans en verhouding.
In die 20e eeu het die term grotesk verskeie literêre betekenisse verkry: wanneer karakters in die moderne verhaalkuns fisies of geestelik vermink is en hulle handelinge uitvoer wat duidelik deur die skrywer as abnormaal bedoel is, kan die werk grotesk genoem word.
Ons vind groteske elemente in die karikatuur, die PARODIE, die satire, BURLESKE, black comedy, die makabere, die siek grap, pornografie en die Teater van die Absurde. (Vgl. ABSURDE DRAMA.) Dit word gebruik as sosiale kommentaar, as kommentaar op die mens-as-dier; dit kan uitdrukking wees van diepe morele erns. Dit word veral gebruik ter wille van die komiese en satiriese effek. Die moderne satire is deurdrenk van die groteske.
Die betekenis van die groteske is gaandeweg so afgewater dat dit vandag enigiets wat grillig, afgryslik, vreemdsoortig, buitensporig verwring of bisar is, insluit.
Moderne outeurs wat die groteske beoefen, is o.a. Kafka, en veral die dramaturge van die Teater van die Absurde soos Beckett, Genet, Ionesco; in die Afrikaanse literatuur vind ons die groteske by Jan Rabie (21: veral “Drie kaalkoppe eet tesame” en “Moeder Koei”) en Etienne Leroux (die voorstelling van die reus Adam Kadmon Silberstein in Een vir Azazel).
Bibliografie
Braak, I. 1964/1980. Poetik in Stichworten. Kiel: Hirt.
Viljoen, B.G. 1974. Die groteske na aanleiding van enkele stukke van Jan Rabie uit die bundel 21. Klasgids, 9(1).
Réna Pretorius