HEKELDIG

Die hekeldig (Ndl.: hekel: ‘n vlaskam) is ‘n gedig wat, soos die naam aandui, daarop bereken is om te “roskam”; effens breër gestel: om ‘n onreg te ontmasker en met spot, SARKASME of oordrywing ‘n misstand uit die weg te probeer ruim.

Omdat die hekeldig ‘n onderdeel is van die wyer begrip “SATIRE“, sal eers daaroor iets gesê moet word.

Die woord satire is afgelei van die Latyn (lanx) satura: ‘n bak offervrugte, iets van ‘n bont mengeling dus. Dit is ‘n letterkundige soort wat deur die Romeine ontwikkel is en wat ‘n duidelike groei deurmaak vanaf Quintus Ennius (3e eeu v.C.), wat hom teen tydgenootlike misstande gerig het. Horatius (65—8 v.C.) met sy kort satires, geskryf in heksameters, neem hier ‘n sentrale plek in. Hy het die vorm vasgelê, die satire ook verdedig en as wêreld-wyse waarnemer ‘n ewewig tussen spot en hekeling probeer tref.

Die satire is dus ‘n Romeinse vorm (in Quintilianus se woorde: “satira tota nostra est”). Horatius, daarenteen, het weer bepaalde Griekse voorlopers erken. In hierdie verband kan gewys word op Aristophanes se satiriese KOMEDIES en ook op die satiriese werk van die sinikus Menippos (3e eeu v.C), wie se naam in later eeue telkens in die wêreld van die satire sal opduik, bv. in Marcus Terentius Varro (116—27 v.C.) se Saturae Menipeae. (Vergelyk ook die Franse “Satire menippée” (1594), ‘n skerp aanslag in die vorm van ‘n BURLESKE teen die Katolieke verbond en geskryf deur ene Le Roy en sy ses vriende.)

In die Westerse wêreld het die satire in baie vorme uitdrukking gevind: in die DIERE-EPOS (Van den vos Reinaerde), in die ROMAN (Cervantes, Butler, Swift, Rabelais, Voltaire, Flaubert), in die spot-epos (Pope: The Dunciad), in die DRAMA (Shaw: Arms and the Man) – oral waar skrywers daarna streef om die dwaashede, knoeierye, wanpraktyke en skynheilighede van die mens op so ‘n wyse aan die kaak te stel dat die lag, soms ook die verontwaardiging en toorn van die “reggeaarde” gemeenskap opgewek word. Dis nie toevallig nie dat die ALLEGORIESE voorstelling hier so dikwels ‘n rol speel, soos bv. in Vondel se Palamedes of in ‘n ander politieke allegorie “Absalom and Achitophel” van Dryden.

Die vorme wat hier ter sprake gekom het, hoort nie tuis onder die hoof LIRIEK nie. Maar die hekeldig kan uit hoofde van sy liriese, dikwels direkte aard wel ‘n plek in die liriek vind. Soms is die hekeling bitter, vol verontwaardiging, ander kere weer ligspottend, byna tergend, soos bv. Thackeray se satire op die oordrewe gevoeligheid van Goethe se roman Die Leiden des jungen Werthers, wat meermale aangehaal word: “Werther had a love for Charlotte / Such as words could never utter; / Would you know how first he met her / She was cutting bread and butter.” En dan ná die dood van Werther, die slotstrofe: “Charlotte, having seen his body / Borne before her on a shutter, / Like a well-conducted person, / Went on cutting bread and butter.”

Maar hoe dan ook, die strewe bly om te genees. Die gebied van die hekeldig is die menslike gedrag; sy metodes: oordrywing, karikatuur, sarkasme; sy gehoor: die selftevrede gemeenskap.

Satire en spot het dwarsdeur die Nederlandse literatuur ‘n rol gespeel. Mens dink bv. aan die fel godsdienstige hekeling wat spreek uit sommige gedigte van Anna Bijns en Marnix van St. Aldegonde se felle aanval op die Rooms-Katolieke kerk soos ons dit teenkom in sy “Biëncorf …” Ligter van aanslag is Huygens se hekeling (in “ ‘t Costelick mal”, 1622) van die pronksug en oordadige kleredrag: “En overlinte voet, spijt Doffers ruyge’ pooten:/ Meer vlagge dan verdeck, meer ballast dan beschut”. ‘n Hoogtepunt bereik die hekeldig in die 17e eeu egter by Von­del. Verskillende histories-politiese en godsdienstige aangeleenthede het die digter daartoe geprikkel, bv. die stryd van Karel I van Engeland teen die Puriteine, die botsing tussen Amsterdam en Willem II, die verbod op die opvoer van Lucifer, maar dan veral die teologiese stryd tussen die Remonstrante en die Kontra-Remonstrante en bowenal die veroordeling van Oldenbarnevelt. Hierdie laaste saak het Vondel se hewige verontwaardiging gaande gemaak en aanleiding gegee tot sy treffendste hekeldigte, soos bv. “Het stockske van Oldenbarnevelt” en “Geusevesper”. Laasgenoemde is ‘n gedig waarin Vondel die 24 regters van die partydige regbank oproep tot gebed en inkeer. Oënskynlik tree hy op as sieketrooster, maar in werklikheid is dit ‘n wrang-IRONIESE troos en spreek hy hier ‘n vloek uit oor wat vir hom ‘n verskriklike onreg was.

In die Afrikaanse literatuur is hekelpoësie van uiteenlopende aard aan te wys. Naas ligte spotgediggies van A.G. Visser (bv. die afdeling “Borsbeeldjies” in Rose van herinnering) staan die ietwat ernstiger maar minder gevatte “Skermutselinge en skote” van I.D. du Plessis en M.M. Walters se skerp en raak hekeling van die menslike gedrag (Saturae). By Opperman (“Met apologie”, “Ou kroonkandelaar”), Van Wyk Louw (“Nuusberigte”, “Hongarye, November 1956”), S.J. Pretorius en T.T. Cloete (“Mari­lyn Monroe foto in blou”) kom die hekeldig sporadies voor, maar nêrens in so ‘n fel gedaante as by Leipoldt nie (vergelyk bv. “ ‘n Nuwe liedjie op ‘n ou deuntjie” – ‘n bitter protes teen oorlogsonreg) of in Uys Krige se “Lied van die Fascistiese bomwerpers”. Besondere hoogtes bereik Peter Blum ook in hierdie genre met sy “Kaapse sonnette” en ‘n gedig soos “Rooinekke op Hermanus”.

In die S.A. Engelse poësie moet as hekeldigter ook die naam van Roy Campbell genoem word. As voorbeeld ‘n klein gediggie waarin kommentaar gelewer word op die werk van sekere romanskrywers: “On some S. African novelists”: “You praise the firm restraint with which they write — / I’m with you there, of course. / They use the snuffle and the curb all right, / But where’s the bloody horse?”

‘n Vorm van die hekeldig vind ons ook in die PARODIE (Grieks: para: langs; en ode: ‘n lied, dus ‘n newelied), ‘n digsoort wat ontstaan wanneer die ernstige aard of implikasies van ‘n bestaande werk of skryfwyse van ‘n kunstenaar met ‘n rats greep tot die ABSURDE herlei word. Hierdie soort hekeling is so oud as die literatuur self (Aristophanes het al ernstige werk geparodieer) en dit kom in alle literature voor. Baie bekend in Engels is bv. die “Rejected addresses” (1812) van Horatio en James Smith, ‘n parodie op die styl van o.a. Wordsworth, Byron en Coleridge. Onder die talle name in Nederland kan bv. dié van Johannes Kinker (1765-1845) genoem word met sy bespotting van sentimentele digters en die verhewe aleksandryne van Bernardus Bosch. Ook “Julia” deur Kloos en Verwey is ‘n bespotting van die poësie van voor 1880. Ook in Duitsland het die parodie gefloreer, en groot figure soos bv. Goethe, Schiller en Klopstock het onder skoot gekom. Goeie voorbeelde in Afrikaans is Van Wyk Louw se “Mooi prosa” (gemik teen die prosastyl van verskillende skrywers en kritici) en Opperman se “Met apologie”, waarin daar op vindingryke wyse met die skryfstyl van ‘n hele paar Afrikaanse dig­ters gespot word.
(Vgl. GEESTIGHEID.)

 

Bibliografie

Eliot, R.C. 1960. The Power of Satire: Magic, Ritual, Art. Prince­ton: Princeton University Press.

Feinberg, L. 1963. The Satirist, his Temperament, Motivation and Influence. Ames: Iowa State University Press.

Gaier, U. 1967. Satire. Tubingen: Niemeyer.

Highet, G. 1962. The Anatomy of Satire. Princeton: Princeton University Press.

Kernan, A. 1959. The Cankered Muse: Satire of the English Renaissance. New Haven: Yale University Press.

Van Rooy, C. 1966. Studies in Classical Satire and Related Literary Theory. Leiden: Brill.

Worcester, D. 1969. The Art of Satire. New York: Norton.

 

A.P. Grové