HISTORIES-SOSIOLOGIESE BENADERING

Die literatuur is ‘n sosiale instelling wat die taal, ‘n skepping van die samelewing, as medium gebruik. In dié mate waarin literatuur die lewe weerspieël, is dit uiteraard ook ‘n nabootsing van sosiale werklikhede (naas die subjektiewe binnelewe van ‘n individu en die objektiewe natuurgegewe). Die skrywer self is lid van ‘n sa­melewing en het ‘n spesifieke sosiale status. Hy ontvang ‘n sekere mate van sosiale erkenning en beloning en rig hom tot ‘n gehoor, hoe onomskrewe ook al. Literatuur se ontstaan hang gewoonlik ten nouste saam met spesifieke sosiale instellings (kerk, staat, skool, ens.) en kan as ‘n sosiale instelling in eie reg beskou word.

Die koppeling histories-sosiologies word gemaak omdat sosiale verskynsels altyd histories bepaal is, d.w.s. kenmerkend van ‘n sekere tyd en plek is.

Ongelukkig word die sosiale studie van die literatuur dikwels normatief gedoen vanuit ‘n bepaalde sosiale filosofie. So bestudeer MARXISTIESE kritici nie net die verhouding literatuur-samelewing nie, maar bepaal ook wat daardie verband behoort te wees op grond van nie-literêre politieke en etiese kriteria.

‘n Suiwer deskriptiewe benadering van die verband tussen lite­ratuur en samelewing kan in drie kategorieë verdeel word: eerstens ‘n studie van die “sosiologie van die skrywer”, d.w.s. van die sosiale afkoms, stand en status van die skrywer, sy sosiale opvattings en ekonomiese posisie. Aansluitend hierby kom die literatuur as instelling ter sprake en veral die ekonomiese basis van die literêre produksie. Tweedens ‘n studie van die sosiale inhoud, implikasies en doelwitte van ‘n literêre werk. Derdens ‘n studie van die gehoor (teatergangers, lesers) en die werklike, empiries vasstelbare sosiale invloed van literatuur op die samele­wing. Van genoemde drie verteenwoordig slegs die tweede ‘n teks-interne benadering. Die eerste en derde hoort streng gesproke tot die gebied van die sosiologie. In die jongste tyd is daar ‘n hernude belangstelling in kategorie drie onder invloed van die RESEPSIE-ESTETIKA.

Die tweede benadering hierbo genoem, beskou ‘n literêre werk dus as ‘n sosiale dokument van een of ander aard. Inderdaad kan ‘n afbeelding van ‘n gemeenskap uit ‘n literêre teks afgelees word. Dikwels maak dit deel uit van die aantreklikheid van die literatuur, bv. die voorstelling van, vir die leservreemde samelewings; vgl. Jan J. van der Post se San- en G.H. Franz se Afrikaverhale. By Jochem van Bruggen kry die leser weer ‘n uitbeelding van die blankes se sosio-ekonomiese omstandighede gedurende die twintiger- en dertigerjare.

Die sosiologies ingestelde kritikus sal probeer om ‘n samehangende beeld van die sosiale “wêreld” van die werk op te stel, of hy kan hom toespits op ‘n enkele faset van daardie “wêreld”, bv. “Hofmakery en die huwelik in die Sangemeenskap by Van der Post”, “Rasseverhoudinge in die werk van G.H. Franz”, “Die voorstelling van die predikant/ouderling/onderwyser/bywoner/ mynwerker/winkelier/armblanke by Van Bruggen”, ens. Dat sosiologiese gegewens deel vorm van die boustof vir literêre werke en dus opgeneem word in die struktuur daarvan, kan niemand ontken nie. Sulke studies faal egter in ‘n groot mate as hulle van die standpunt uitgaan dat die literatuur bloot ‘n spieëlbeeld van die werklikheid is, wanneer dit dus ‘n naïewe MIMETIESE stand­punt huldig. Die skrywer se artistieke metode en styl moet nl. telkens in berekening gebring word, m.a.w. die REALISTIESE, SATIRIESE, idealiserende, karikaturale of watter aard ook al daarvan.

Die histories-sosiologiese studie van die literatuur kan ‘n teks slegs gedeeltelik analiseer en beskryf (wanneer die sosiale inhoud daarvan nagegaan word), maar dit kan glad nie maatstawwe vir EVALUERING verskaf nie. N.P. van Wyk Louw (1958: 66) verduidelik dit só n.a.v. die stelling dat Jan Celliers se poësie die uiting is van die Afrikaanse nasionale stryd in die eerste kwart van die 20e eeu: “Jan Celliers het wel baie gedagtes van ons na­sionale stryd tussen 1905 en 1925 uitgespreek; maar ander skrywers – rymelaars – het dit ook; en ons soek eintlik iets wat vir ons die kwaliteit van Celliers se werk van hulle s’n onderskei; as hulle almal uitings van dieselfde tydperk was, waarvan was Celliers dan nog verder ‘n uiting dat hy so van die ander verskil? Vir ons, in die literatuurstudie, is die verskille, die aparte in Celliers nog van meer belang as die dinge wat hy gemeen het met Oom Jannie de Waal se rympies”. Maar bowenal kan die bestaan van ‘n literêre werk nie uit historiese en sosiologiese feite verklaar word nie, hoewel dit ten nouste daarmee kan saamhang. Wellek en Warren (1980: 102) stel dit so: “The social situation, one should admit, seems to determine the possibility of the reali­zation of certain aesthetic values, but not the values themselves. We can determine in general outlines what art forms are possi­ble in a given situation and which are impossible, but it is not possible to predict that these art forms will actually come into existence”.

Die opvatting van die historiese bepaaldheid van die kunswerk het aanleiding gegee tot die HISTORISME. Volgens die historisme is alle kultuurverskynsels bloot die produkte van historiese ontwikkeling en is daar daarom geen blywende waardes nie. Op die literatuur toegepas, beteken dit dat ‘n werk slegs gewaardeer kan word in die konteks van sy tyd. ‘n Literêre teks kan dus alleen goed wees m.b.t. die eise en opvattings van ‘n bepaalde tyd; in ‘n ander tydperk met ander eise en opvattings verloor dit dié waarde. Die historistiese literatuurkritiek gebruik as maatstaf die kriterium wat gegeld het in die historiese tydperk waarin die werk ontstaan het. In die woorde van Wellek en Warren (1980: 40): “We must … enter into the mind and attitudes of past periods and accept their standards, deliberately excluding the intrusions of our own preconceptions”. In die eietydse literatuur is dié werk wat vernuwing bring, wat die “gees” van die eie tyd weerspieël, vir die historistiese kritikus die beste. Die historisme aanvaar dus dat daar verskillende kriteria kan bestaan en dat almal ewe geldig is, al sluit hulle mekaar ook uit. So ‘n siening kan maklik lei tot ‘n volstrekte relativisme – iets wat, soos Van Wyk Louw aangetoon het, logies onhoudbaar is. Dit ontken ook die moontlikheid van ‘n literêre teorie wat algemene geldigheid besit.

‘n Wins van die historistiese literatuurbenadering is dat dit werk van vroeër tydperke vir die leser, wat binne ‘n ander literêre TRADISIE staan, verstaanbaarder en aanneemliker kan maak deur ‘n rekonstruksie te maak van die geskiedkundige en sosiale agtergrond waaruit daardie werke ontstaan het (die sg. kultuurmorfologiese rekonstruksie). Dit kan dus help met die juiste verstaan van tekste – ʼn voorvereiste vir literêre oordele. ‘n Studie van die politieke en maatskaplike gebeurtenisse en die geloofskwessies gedurende die 17e eeu in Nederland kan ‘n beter begrip van heelwat van Vondel se poësie in die hand werk. In die Afrikaanse literatuurkritiek het Hellinga en Scholtz daarop gewys dat die ossewa in Totius se allegorie “Vergewe en vergeet” as simbool van die Britse imperialisme in orde is, ondanks die huidige waarde daarvan as simbool van Afrikanernasionalisme, omdat die osse­wa in die ontstaanstyd van die gedig (1917) bloot as transportmiddel beskou is, sonder dat dit vasgestelde simboliese konnotasies gehad het.

Rialette Wiehahn (1965: 130) spel egter ook die beperkings van so ‘n benadering uit: “Die historiese tydperk waaruit die historiese kritikus die literêre werk wil ‘verklaar’, is nie duidelik omlyn of ‘n vasstaande bekendheid nie. Dit is vir alle tye verby. Wil hy dit as uitgangspunt gebruik … moet hy daardie tydperk rekonstrueer uit wat hy uit historiese studies oor dié tydperk en waarskynlik ook uit dié tyd se letterkunde te wete kom. (In lg. geval maak hy hom dan skuldig aan ‘n sirkelargument.) Daardie rekonstruksie sal altyd persoonlik wees, die gevolg van subjektiewe seleksie en interpretasie … en sy werkwyse waarskynlik minder wetenskaplik as wat hy graag wil glo.”

(Vgl. HISTORISME en LITERATUURSOSIOLOGIE.)

 

Bibliografie

Louw, N.P. van Wyk. 1958. Oor literêre teorie. In: Louw, N.P. van Wyk.  ‘n Wêreld deur glas. Kaapstad: Tafelberg.

Wellek, R. & Warren, A. 1949/1980. Literature and society. In: Wellek, R. & Warren, A. Theory of Literature. Harmondsworth: Penguin.

Wiehahn, R. 1965. Die Afrikaanse poësiekritiek. Kaapstad: Academica.

 

D.J. Hugo