Die term idille het sy oorsprong van die Griekse woord eidullion, wat “beeldjie” of ‘n kort beskrywing van die pastorale lewe beteken. In die algemeen beteken idille alle gedigte en kort verhale wat die landelike lewe romanties beskryf; soms vind ‘n mens daarin ‘n oordrewe sentimentele verheerliking van die natuur. Dat die eksterne vorm van die idille altyd ‘n kort gedig is, is ‘n foutiewe opvatting.
Die mees algemene beskrywing wat vir die idille gebruik word, is die “reine, unverdorbene Natur”. Die idille is allereers geen afbeelding van die werklikheid nie, maar in die algemeen is dit ‘n nostalgiese terugblik na ‘n gelukkige geïdealiseerde verlede. Soms kan dit ‘n teenhanger van die “kuns” wees om sodoende die burgerlike verdorwenheid te verfyn. Gedurende die 18e eeu word beskawing en kultuur as oorsaak aangevoer dat die mens van sy oorspronklike bestemming vervreem het en bedorwe gelaat is. Hierin lê die oorsaak opgesluit van die mens se verlange na ‘n ongekompliseerde, natuurlike en naïef-oorspronklike lewenswyse. In dié geïdealiseerde idilliese landelike lewensbestaan kan die mens dan sy volle menswees belewe.
Die idille as poësie- en prosaverskynsel in die literatuur het ‘n lang geskiedenis. Daar kan reeds van die idille in die Indiese literatuur gepraat word, bv. die Sakuntala (5e eeu n.C.) van Kalidasa. Wat die Europese literatuur betref, begin die idille by Theokritos (3 v.C). Hy het die idille gebruik om die realistiese landelike lewe te skilder as verset teen die verfynde Hellenistiese stadskultuur. Vergilius, die Romeinse skrywer, het met sy liriese Eclogae (herdersliedere en digterlike dialoë tussen herders, wat ook Bucolia genoem is), ‘n groot invloed op Wes-Europese literatuur gehad. Die herderspoësie wat ALLEGORIES op die destydse maatskappy gesinspeel het, is gedurende die RENAISSANCE en BAROK nog nageboots. Om dié rede vind ‘n mens tydens die Renaissance die pastorale idille, die Beatus ille-idille en die verheerliking van die natuurvolke, wat al drie van klassieke oorsprong was.
Daar word wel tydens die MIDDELEEUE in Bybelse verhale en spele herders aangetref; selfs in die ou pastourelles in Frankryk en Engeland is herderselemente gevind. Nêrens word daar egter in die Middeleeue ‘n oorbeklemtoning van die herdersgeluk of ‘n verheerliking van die Beatus ille en van die natuurvolkere gevind nie. Die Middeleeuse skrywer gebruik eerder die paradysidille om oor die hiernamaals te fantaseer. Daarom kan die Middeleeuse paradysidille aan die volgende geken word: singende voëls, blomryke velde, murmelende stroompies en ‘n ewige lente. Hieruit blyk dit dat die geïdealiseerde wêreld van die idille ooreenkoms met die paradysidille toon. Dit is ook so dat die tipiese kenmerke van die idille van eeu tot eeu feitlik as clichés teruggekeer het. Tydens die 17e eeu skryf die Nederlandse digter PC. Hooft Granida (1615), en Vondel het in sy Leeuwendalers (1648) d.m.v. uitdrukkings soos “krans van boterbloemen” en ‘n “karn en klavervelden” die landelike beskryf. Die sterk idilliese aard van Vondel se Oranje Maylied toon sterk ooreenkoms met die werk van Theokritos. Daar die idille die produk is van ‘n oorverfynde kultuur of ‘n oorgangstydperk, is die Klassieke tyd en die Renaissance twee tydperke waarin die idille gebloei het. Die Italiaanse Renaissance het ‘n “galante hofidylle” laat ontstaan en Tasso se Aminta, Guarini se Il Pastor fido en Sannazzaro se derde en sesde herdersang van sy Arcadia is goeie voorbeelde hiervan.
In Frankryk word dié kunssoort deur H. d’Urfé in sy Astrée beoefen. Theokritos bly die enigste skrywer wat werklike herdersange geskryf het – hy het idille en realiteit bymekaar uitgebring. Sy sierlike dialoë en liriese beskrywings oor plante en blomme is gretig deur skrywers nagevolg, maar die ruheid van die herders en onverfynde optrede veral teenoor vroue, is in die navolging versag asof dit nie by die idille gepas het nie. Volgens die aard van die idille wou die lesers van die subgenre iets beter as die werklikheid hê en het hulle in ‘n meerdere mate die illusie as die werklikheid geëis. Om dié rede word die werk van die tweede helfte van die 18e eeu van Tasso, Guarini, d’Urfé en Fontenelle as onnatuurlik bestempel.
In Duitsland, waar die literatuur in die 18e eeu aansluiting by die pastorale poësie van die Barok gevind het, is die idille deur verskeie skrywers as subgenre vir hulle woorduiting gebruik. S. Gessner se Idyllen (1756) is sentimenteel-moraliserend, “verwonderlijk schoon” en toon ‘n duidelike ontwikkeling van die pastorale idille tot die dorpsgedig en -vertelling aan. Maler Müller en J.H. Vos laat weer “de frissche, ware herdersfeer”, soos ‘n mens dit by Theokritos gevind het, in hulle idilles herleef. Die nuwe Duitse dorpsgedigte, nl. J.H. Vos se Luise en Goethe se Hermann und Dorothea (1797), het die aandag getrek en is in Nederlands vertaal. In plaas van die konvensionele pastorale ruimte het die idille in dié stadium die alledaagse vaderlandse werklikheid geskilder. Die kuns van die Grieke en Romeine het slegs gedien om “een edeler, harmonischer geest” te skep en die literatuur op ‘n hoër standaard te plaas. Dit is ook die rede waarom Goethe se Hermann und Dorothea (1797) en Staring se idilles De verjaardag en De vorstin in het dorp (1814) as klassiek beskou is.
Alhoewel die herderslied of pastorale na 1800 verdwyn het, het die idille nie daarmee saam gesterf nie. Die besondere mensbeelding in ‘n bepaalde tydruimte sal die idille in enige literatuur laat voortlewe.
In die Afrikaanse literatuur ressorteer die prosa-idille onder die ouer prosa en die idille in versvorm onder die poësie van die “Eerste generasie”. Die verskyningsperiode van die idille in Afrikaans was ‘n tydperk waarin die Afrikaanse leefwyse aan ‘n rustige, landelike gemeenskapslewe geken is. In Afrikaans is Erfplaas van G.B.S. Pasch en D.F. Malherbe se Die meulenaar voorbeelde van die prosa-idille en Martjie (J.F.E. Celliers) en Trekkerswee (Totius) kan as “klassieke” idilles in versvorm beskou word.
Martjie (1911) en Trekkerswee (1915) het albei in ‘n oorgangstydperk ontstaan, nl. toe die Afrikaner van ‘n landelike boeregemeenskap na ‘n verstedelikte lewenswyse oorgegaan het. Die ongekompliseerde en pastorale aard in die geïdealiseerde wêreld van die idille was dus niks anders as ‘n hunkering na ‘n vervloë werklikheid nie.
Die karakters in die idille is gemeenskapsmense wat as eenvoudige en goeie mense op goeie verhoudinge ingestel is. In albei genoemde idilles vind ‘n mens ‘n vrouehooffiguur, nl. Martjie en Dina. Martjie is aantreklik en voorbeeldig en versoen haar met die onthulling wat Roelf aan die einde van sy lewe maak met die woorde “jy’t goed gedaan!”, en die eens vervalle Dina kom as gelouterde mens na haar vader terug.
In die idille leef die karakters altyd in ‘n landelike *ruimte, maar geïsoleer en afgeleë, wat in Trekkerswee uit die volgende vraag duidelik spreek: “Hoe lyk dit of die plasie so / allénig in die wêreld leg?”, en in Martjie word die afgeslotenheid in die volgende twee versreëls waargeneem: “Stil ook in die grote boerehuis onder die eike; / geslote ten halwe die luike.” Binne die afgesonderde ruimte leef die idilliese mens ongestoord voort; gevolglik vind ‘n mens hier ‘n reëlmatige chronologiese TYDSVERLOOP. In Martjie word die rustige gang afgewissel met gemeenskapsbyeenkomste, nl. ‘n piekniek en ‘n bruilof. ‘n Mens kan jou kwalik die idille sonder ‘n liefdesgeskiedenis voorstel, en hiervan is Martjie ‘n goeie voorbeeld. Die ideaal van Martjie, gesteun deur die heimlike begeerte van haar ouers op ‘n huwelik met Roelf, word verbreek as Martjie “spraak’loos” uit die sterwenswoorde van haar geliefde bevestiging vir haar onvervulde liefde aanhoor. Dié ingryp in die idilliese gebeure in Martjie beteken dus die finale verbreking van die onuitgesproke liefde tussen Roelf en Martjie, maar dit verander nie die rustige gang van die gemeenskap se tydruimtelike bestaan nie.
Martjie is in die vrye vers geskryf, waardeur die verskillende stemminge fyner genuanseer kan word. Deur vooropplasing en woordkeuse, bv. “Dis warm…./ en stil”, verboë vorme met die sagte e-uitgange, wat ‘n sleurende ritmiese gang bewerkstellig, word ‘n idilliese tydruimtelike atmosfeer geskep.
Bibliografie
Böschenstein-Schäffer, R. 1967. Idylle. Stuttgart: Metzler.
Cloete, T.T. 1970. Twee idilles: Martjie en Trekkerswee. Kaapstad: Academica. (Blokboek 13.)
Feuerlicht, I. 1947. Von Wesen der deutschen Idille. The Germanic Review, 22(3).
Marinelli, R.V. 1971. Pastoral. London: Methuen.
Pope, A. s.a. Discourse on Pastoral Poetry. London: Methuen.
Prinsen, M.M. 1934. De idylle in de achtiende eeuw. Amsterdam: De Spieghel.
Schutte, H.J. 1969. Martjie van J.F.E. Celliers. Klasgids, 4(3).
Wellekens, J.B. 1965. Verhandeling van het herdersdicht. Utrecht: Instituut voor Algemene Literatuurwetenschap.
Raadpleeg ook:
Strauss, P. et al. (eds). 1984. Coetzee’s Idylls: The ending of In the Heart of the Country. Durban: University of Natal Press.
M.C.A. Seyffert