Dit is een van die tegnieke wat in die prosakuns gebruik word om die illusie te skep dat die VERTELLER verdwyn en alles die direkte weergawe is van die gebeure wat afspeel in die bewussyn van die karakter terwyl hy gebeure en indrukke beleef soos dit in ʼn dramatiese hier-en-nou deur sy bewussyn “stroom” (Eng.: stream of consciousness). Grammatikaal, sintakties en tipografies is die innerlike monoloog herkenbaar aan die eerste persoon teenwoordige tyd sonder die gebruikmaking van aanhalingstekens.
In die BEWUSSYNSTROOMVERHAAL word die innerlike monoloog gebruik om die illusie te skep dat die leser nie langer met die agternaperspektief van ʼn vertellende ek te make het wat op vroeëre ervarings terugkyk nie, maar direk met die ervarings van die belewende ek wat dinge in ʼn dramatiese hier-en-nou beleef. In die terminologie van F. Stanzel (1963) verduidelik, verdwyn die illusie van die ouktoriële vertelsituasie waarin die vertellende ek op sy vroeëre ervarings as belewende ek terugkyk, en word die illusie van die personale vertelsituasie gevestig waar die vertellende ek verdwyn en die leser skynbaar slegs die direk belewende ek voor hom het. Op hierdie wyse gaan die tradisionele epiese illusie van ʼn daar-en-toe verlore en word vervang deur die meer dramatiese illusie van die direkte weergawe van ʼn hier-en-nou.
J. Schramke (1974: 16 – 17) omskrywe die funksionaliteit van die innerlike monoloog vir veral die moderne prosakuns soos volg: “Die wese van die monologue intérieur is egter onafskeidbaar van die wyse waarop dit histories bepaald voorgekom het: die betekenis daarvan kan net ontsluit word binne die raamwerk van die problematiek van die moderne roman, waartoe dit as belangrike uitdrukkingsmiddel behoort. Nuwe skryfmateriaal het ʼn nuwe tegniek in die lewe geroep: die belangstelling het verskuif na ʼn nuwe dimensie van die uitbeeldbare werklikheid, nl. die inhoude en bewegings van die bewussyn. Die innerlike monoloog is die romantegniese vernuwing met behulp waarvan die voortstromende bewussynsinhoude (wat insigself vóórtalig en ongeartikuleerd is) in ʼn talige medium vertaal kon word. Die verreikende vooropgestelde belangstelling in die modi en dimensies van die bewussyn is opsigselfgenome aan historiese oorsake te danke: individue wat van hul omgewing vervreemd geraak het, trek hulself in ʼn skynbaar geïsoleerde innerlike wêreld terug en gee hulself passief oor aan die ervaring van hul sielsbeweginge … ʼn Klassifikasie van die innerlike monoloog as ʼn huidiglik steeds bruikbare term, loop uit op ʼn soort beskrywing, waarmee die verskynsel egter nog nie verduidelik is nie” (redaksionele vertaling).
Hierdie benutting van tegnieke soos die innerlike monoloog en die sg. vrye indirekte rede (Dts.: erlebte Rede: Fr.: style indirect libre) (vgl. NARRATIEWE WEERGAWES/MODUSSE) en die daarmee gepaardgaande illusie van die “verdwyning” van die tradisionele verteller wat kommentariërend die gebeure stuur, het tot heftige dispute oor die aard van die vertelkuns gelei (vgl. ROMAN). So praat Kayser (1954) van die krisis van die roman en maak die volgende normatiewe uitspraak oor die romankuns van Woolf, een van die leidende figure in die eksperimentering met hierdie tegniek: “Der Tod des Erzählers ist der Tod des Romans.”
Oor die weergawe van die bewussynstroom van die belewende ek waarin sowel die bewuste as die onbewuste ter sprake kom, het die vraag ontstaan hoe hierdie werke (waarin o.a. normale tydverbande opgehef word, die verbande eerder assosiatief as logies-kousaal is, die normale sintaksis deurbreek word en onsamehangendheid die reël en nie langer die uitsondering is nie) nog aanspraak daarop kan maak om kuns te wees. Dat hierdie werke georden is, maar op ʼn ander wyse as die tradisionele verhaal, het spoedig by noukeurige analise geblyk: hierin word nie, soos voorgegee, slegs die blote bewussynstroom geregistreer nie, maar deur die benutting van allerlei kompositoriese tegnieke, soos o.a. in die musiek (Leitmotiv), in die eksperimentele skilderkuns (COLLAGE) en die filmkuns (montage) ontwikkel, vertoon hierdie werke ʼn fyn deurgekomponeerde artistieke patroonmatigheid.
Onder die eerstes wat met hierdie tegniek eksperimenteer, tel E. Dujardin met sy Les lauriers sont coupés (1887) (vertaal as We’ll To the Woods No More, New York, 1938). In die 20e-eeuse prosakuns vind ons dit o.a. by Joyce, Woolf, Faulkner en in Afrikaans by bv. Stockenström (Die kremetartekspedisie, 1983).
Belangrike werke oor die innerlike monoloog is die volgende: Cohn (1978), Freedman (1963), Schramke (1974) en Stanzel (1963). Artikels wat geraadpleeg kan word is dié van Bowling (1950), Friedman (1967) en Stephan (1962).
Bibliografie
Bowling, L. 1950. What is the stream of consciousness-technique? PMLA, 65.
Cohn, D. 1978. Transparent Minds. New Jersey: Princeton University Press.
Dujardin, E. 1931. Le monoloque intérieur, son apparition, ses origenes, saplace dans l’oeuvre de James Joyce. Paris: Messein.
Freedman, R. 1963. The Lyrical Novel. New Jersey: Princeton University Press.
Friedman, M.J. 1955. The Stream of Consciousness: A Study of Literary Method. New Haven: Yale University Press.
Friedman, N. 1967. Point of view in fiction: the development of a critical concept. In: Stevick, P. (ed.). The Theory of the Novel. New York: The Free Press.
Humphrey, R. 1972. Stream of Consciousness in the Modern Novel. Berkeley: University of California Press.
Kayser, W. 1954. Die Anfange des modernen Romans in 18. Jahrhundert und seine heutige Krise. Deutsche Vierteljahrschrift, 28.
Lämmert, E. 1955. Bauformen des Erzählens. Stuttgart: Metzler.
Schramke, J. 1974. Zur Theorie des modernen Romans. München: Beck.
Stanzel, F. 1963. Die typischen Erzählsituationen im Roman. Stuttgart: Universitäts-Verlagsbuchhandlung.
Stephan, D. 1962. Der Roman des Bewusstseinstroms und seine Spielarten. Deutschunterricht, 14.
Sturrock, J. 1969. The French New Novel. London: Oxford University Press.
M.G. Scholtz