INTERTEKSTUALITEIT

Die Franse STRUKTURALIS Julia Kristeva het die term intertekstualiteit onder die literêre aandag gebring deurdat sy die werk van die Russiese post-formalis, Mikhail Bakhtin (geb. 1895), aan die Weste bekend gestel het. Nuwere literatuurbeskouings, en spesifiek strukturalistiese en SEMIOTIESE benaderings, gebruik die term algemeen en ontleed literêre werke volgens die beginsel van ʼn wisselwerking tussen verskillende tekste.

ʼn Dinamiese, produksiegerigte teksbegrip lê ten grondslag aan die opvatting van intertekstualiteit. Bakhtin het naas ʼn teksinterne intersubjektiwiteit op ʼn tekseksterne intertekstualiteit gewys.

Die literêre teks is nl. soos ʼn “mosaïek van sitate” opgebou waarin ʼn onbeperkte aantal vroeëre en tydgenootlike tekste opgeneem en verwerk is. Elke deel van ʼn teks is repliek op ʼn ander teks (Hardt in Lange, 1975: 310).

Julia Kristeva se werk sluit aan by dié van Bakhtin. Sy sien die teks as “produktiwiteit”. Dit behels o.m. “that it is a permuta­tion of texts, an intertextuality: in the space of a given text, several utterances, taken from other texts, intersect and neutralize one another” (Kristeva, 1980: 36). Uit Kristeva se werk blyk dit dat hierdie verbondenheid met ander tekste die sosiaal-kulturele konteks van die literêre teks bewerkstellig.

Die buiteteks kan sowel nie-literêr (histories, sosiaal, kultureel) as literêr wees. Die literêre buiteteks hou nie in dat ʼn bepaalde literêre teks noodwendig tematies herkenbaar moet wees in ʼn nuwe teks nie. Kristeva fokus op die funksieverandering wat uitinge (“utterances”) uit ʼn bepaalde teks in ʼn nuwe teks ondergaan – ʼn opvatting wat die individuele teks binne die literêre sisteem plaas. (Sy toon bv. in ʼn analise aan hoe die “blazon” in ʼn teks vir Antoine de La Sale naas die konvensionele funksie van aanprysing ook dié van beskuldiging verkry (Kristeva, 1980: 53).

Kristeva se beskouing van die teks as intertekstualiteit hou verband met Culler se opvatting dat bepaalde leesverwagtings by die leser geskep word deur sy kennis van ander tekste. Op dié wyse word intersubjektiwiteit – die gemeenskaplike kennis van lesers wat in die leesaktiwiteit toegepas word – ʼn funksie van inter­tekstualiteit (Kristeva in Culler, 1975: 139).

Sommige strukturaliste, soos Christel van Boheemen, baseer hulle beskouing van intertekstualiteit op die wisselwerking tussen spesifieke literêre tekste. Onderliggend daaraan is ʼn vernuwende opvatting oor die ontstaan van die literêre teks en die ontstaan van die betekenis in die teks.

Van Boheemen wys daarop dat die OUTEUR as “bron” van die literêre werk op die agtergrond geskuif word; trouens, die idee van ʼn “objectieve referent – buitentalig, extraliterair” word volledig ondermyn (Van Boheemen in Bal, 1981: 123). Die enigste “bron” van die literêre werk én van die betekenis is die medium: die taal met al sy strukture.

Die ontkenning van ʼn buitetalige bron van betekenis word teruggevoer na die taalopvatting van die strukturalistiese taalkundige, Ferdinand de Saussure: betekenis word moontlik gemaak deur funksionele verskille tussen tekens binne die tekensisteem. Verhoudinge is sentraal by die ontstaan van betekenis. ʼn Element staan in ʼn verhouding van ooreenkomste en verskille tot ander elemente, en die funksionele, onderskeidende eienskappe van elemente in verhouding tot mekaar maak betekenis moontlik.

Hierdie beginsel word deur die strukturaliste op die literatuur van toepassing gemaak: “De tekst is namelijk niet betekenisvol omdat zij een bepaalde structuur bezit, maar… omdat de tekst zich verhoudt tot andere teksten en hun betekenissen binnen een systeem. De betekenis van de tekst is het resultaat van verschil én overeenkomst met andere teksten” (Van Boheemen in Bal, 1981: 122).

Volgens die beginsels van “imitasie” en “transformasie” kan ʼn teks aansluit by die interteks, maar ook veranderend daarop voortbou. Dikwels word die interteks feitlik onherkenbaar deurdat dit as ‘t ware op die agtergrond geskuif word in die proses van die ontwikkeling van ʼn eie aard en betekenis van die “nuwe” teks. Selfs dan is die verhouding tussen die tekste funksioneel en speel die “aanwesigheid van die afwesigheid” –  ʼn term van Jacques Derrida (gebruik deur Van Boheemen in Bal, 1981: 129) – ʼn rol.

Dit is ʼn eng opvatting wat die betekenis van ʼn teks sien as slegs die resultaat van ooreenkomste en verskille met ander tekste. Suiwer taalkundig gesien, kan die referensiële funksie van taal nooit ontken word nie. Daarsonder is betekenis, en gevolglik kommunikasie, nie moontlik nie. Naas die taalsisteem is ook die literêre SISTEEM in elke teks werksaam. Die verskillende elemente in ʼn bepaalde teks staan in verhouding tot mekaar, en ook daaruit kom betekenis voort, sodat daar altyd “specific semantic properties of a particular work” (Wetherill, 1974: 231) bestaan.

Jurij M. Lotman, die Russiese semiotikus, toon, soos Kristeva, aan dat ʼn teks wel ekstratekstuele verbintenisse aangaan, maar sy siening van betekenisgenerering sluit eweseer die intra- as die ekstratekstuele verhoudinge van die teks in.

Die intratekstuele analise is vir Lotman die belangrikste. Hy onderskei intratekstueel verskeie vlakke of “sub-tekste”, bv. ʼn fonologiese en ʼn grammatikale vlak (Lotman, 1977: 53). Die onderlinge verhoudinge tussen die verskillende vlakke is vir hom sentraal – in ooreenstemming met die strukturalistiese sienswyse.

Die ekstrateks is volgens Lotman moeiliker formaliseerbaar as die intrateks. Hy onderskei eerstens ʼn literêre ekstrateks: die teks staan nl. in verhouding tot ander literêre tekste. Hierdie teks hou verband met lesersverwagting: “…The work of literature should be seen, indeed only can be seen, in terms of the norms, tradi­tions and expectations that inform it” (Shukman, 1977: 68).

Daarnaas onderskei Lotman ʼn nie-literêre ekstrateks: dit behels biografiese besonderhede van die skrywer, die werklikheid waarna die teks verwys, die kulturele en maatskaplike KONTEKS waarbinne die teks funksioneer.

ʼn Struktuur met ʼn oorwig ekstratekstuele verbindinge – bv. SPROKIES, VOLKSVERHALE, e.d.m. – word as artistiek eenvoudig ervaar, terwyl dié met ʼn oorwig intratekstuele verbindinge as artistiek kompleks ervaar word.

Die teks kan, volgens dié opvatting, nie los van die ekstrateks benader word nie; die moontlikhede vir die spesifieke organisasie van ʼn teks bestaan ekstratekstueel. “…(T)he presumption of a particular type of organization is often a decisive structural fac­tor, for after we attribute some structure to a text we perceive the absence of certain features as ‘minus-devices’, as deliberate silence. Therefore if the text is to function in a given manner, it is not sufficient for it to be organized in a given manner; the possibility of such organization must be provided for in the hier­archy of codes of the given culture” (Lotman, 1977: 287). Die verband tussen dié beskouing en die literêr-sistematiese en kulturele teksraamwerk van Kristeva is voor-die-hand-liggend.

Dit is duidelik dat Kristeva se teorie i.v.m. die teks as interteks­tualiteit ontologies van aard is; dit betref die bestaanswyse van die teks. Haar beklemtoning van intertekstualiteit het nie ten doel om ʼn analitiese instrument aan die leser voor te hou nie. Haar werk bly op die literêr-sistematiese vlak of die vlak van die poëtika. Vir die kritiek is Lotman se plasing van die teks binne ʼn konteks van sowel intra- as ekstratekstuele verhoudinge bruikbaarder met die oog op analise.

Met ietwat minder klem as Lotman ontken die Franse semioti­kus Michael Riffaterre ook nie die intra-teks nie, alhoewel hy ʼn sterk aanhanger van die intertekstualiteitsopvatting is. Volgens hom word die houvas wat die teks op die leser het, nie verminder wanneer die interteks uitgewis word nie (bv. deurdat die leser nie vertroud is met die “oer”-teks(te) nie). Die leser soek elders na betekenis en vind dit “within the inner system of references of words to words” (Riffaterre, 1978: 136). Hierdie inner system bestaan egter in elk geval in die teks. Dit kan nie slegs begin funk­sioneer wanneer ʼn interteks afwesig of implisiet aanwesig is nie. Dit bly dus naas intertekstualiteit ʼn belangrike aspek van INTERPRETASIE. (Vgl. INVLOED (LITERÊRE).)

Binne die totale konteks waarbinne die werk benader word, lê die belangrikheid van spesifieke intertekstualiteit egter voor die hand, aangesien dit, benewens betekenisse wat ontstaan uit die verhoudinge tussen teks en interteks, ook grootliks die leser se literary competence bepaal. Slegs deur die verteenwoordigende lees van tekste kan hy kennis van die literêre sisteem opdoen. Vanuit sy literêre bevoegdheid – wat hom die konvensies en norme, wat deur verskillende tekste bepaal word, in ʼn bepaalde teks laat herken (intertekstualiteit) – word ʼn teks vir hom interpreteerbaar. Of die nadruk op die spesifieke intertekstualiteit val, of op literêre bevoegdheid via intertekstualiteit, dit is duide­lik dat die begrip intertekstualiteit ʼn groot mate van litererhistoriese kennis by die leser veronderstel.

Kristeva se vroeëre werk (1969) en veral haar latere werk (1980) sit haar beskouing van intertekstualiteit uiteen. Manfred Hardt (1975) bied ʼn oorsig van haar vroeëre werk. Ook Culler (1975) bespreek haar beskouings, maar hy gee verder eie insigte in die onderwerp. Lotman se teorieë word in sy werk (1972, 1977) uiteengesit, terwyl Shukman (1977) ʼn deeglike oorsig en interpretasie van Lotman se werk gee. Riffaterre (1978) en Van Boheemen (1981) kan ook i.v.m. intertekstualiteit geraadpleeg word.

(Vgl. TEKS EN KONTEKS, TEKSTUALITEITINVLOED (LITERÊRE) en SEMANALISE.)

 

Bibliografie

Belsey, C. 1980. Critical Practice. London: Methuen.

Culler, I. 1975. Structuralist Poetics: Structuralism, Linguistics and the Study of Literature. London: Routledge & Kegan Paul.

Hardt, M. 1975. Julia Kristeva. In: Lange, W. (Hrsg.). Französische Literaturkritik der Gegenwart in Einzeldarstellungen. Stuttgart: Kröner.

Kristeva, J. 1969. Semiotique. Recherches pour une sém-analyse. Paris: Seuil.

Kristeva, J. 1980. Desire in Language. A Semiotic Approach to Literature and Art (transl. Thomas Gora). New York: Columbia University Press.

Lotman, J.M. 1972. Vorlesungen zu einer strukturalen Poetik. München: Wilhelm Fink Verlag.

Lotman, J.M. 1977. The Structure of the Artistic Text. Michigan Slavic Contributions nr. 7, Department of Slavic Languages and Literature, Michigan University.

Riffaterre, M. 1978. Semiotics of Poetry. London: Methuen.

Shukman, A. 1977. Literature and Semiotics: A Study of the Writ­ings of Yu. M. Lotman. Amsterdam: North-Holland.

Van Boheemen, C. 1981. Intertekstualiteit. In: Bal, M. (red.). Literaire genres en hun gebruik. Muiderberg: Coutinho.

Van Luxemburg, J., Bal, M. & Weststeijn, W.G. 1982. Inleiding in de literatuurwetenschap. Muiderberg: Coutinho.

Wetherill, P.M. 1974. The Literary Text: An Examination of Crit­ical Methods. Oxford: Blackwell.

 
Regina Malan