Die moderne literatuurondersoek kan verdeel word in twee terreine: die LITERATUURTEORIE EN KOMPARATISME. Die komparatisme (vergelykende literatuurwetenskap) soos dit vandag beoefen word, baseer sy basisaannames op literatuurteoretiese grondslag, sodat dié twee ondersoekvelde nie los van mekaar te sien is nie. Die teoretikus gebruik op sý beurt die resultate van komparatistiese studies as toetsingsmateriaal vir sy hipoteses en teorievorming.
Die komparatisme is ʼn studie van tekste wat op grond van hulle estetiese funksie as literêr ervaar word deur die ontvanger(s). Sodanige studie word meestal onderneem t.o.v. tekste wat die literêre grense van verskillende tale/kulture oorskry, en die oeuvres van verskillende skrywers oorbrug. Die vergelykingsbasis van só ʼn ondersoek is gewoonlik gebaseer op gemeenskaplike TEMAS, TRADISIES, strominge of konvensies wat in die verskillende tekste voorkom. Wanneer strominge of konvensies die vergelykingsbasis vorm, kan van ʼn gemeenskaplike KODE gepraat word, bv. SIMBOLISME, EKSPRESSIONISME en MODERNISME. Alternatiewelik kan die ondersoeker die tekste binne dieselfde tradisie plaas – n.a.v. verwante temas – en só bewus word van tiperende konvensies in die teks wat hom andersins nie sou opgeval het nie.
Binne die genre van Suid-Afrikaanse tronkpoësie kan die ondersoeker gedigte vergelyk oor eensame opsluiting (“solitary confinement”), waaruit die teenstelling van binne- en buiteruimte, en vrye assosiasie in die bewussyn van die “ek”-spreker bv. sal opval.
Die praktyk van die komparatisme het in die 18e eeu ontwikkel, met Sainte-Beuve wat reeds in 1868 die term littérature comparée gebruik. In ʼn seminale artikel, “Littérature comparée: le mot et la chose” (1921), wys F. Baldensperger op die uiteenlopende ondersoeke wat aanvanklik onder dié benaming beoefen is: vanaf die aantoon van vaagweg analoë verbande tussen werke en skrywers op grond van oënskynlike ooreenkomste (hoewel daar geen kontak of beïnvloeding was nie), tot die vroeg 19e-eeuse POSITIVISTIESE benadering van Hippolyte Taine, wat die NASIONALE LITERATUURSTUDIE deurbreek ten gunste van ʼn soort kosmopolitisme van raakpunte (kontakverhoudinge). Ook Brunetière met sy teorie van die evolusie van GENRES (n.a.v. Darwin se evolusieleer) deurbreek die nasionale literêre grense.
In Afrikaans bestaan daar studies oor komparatistiese INVLOEDE in die positivistiese tradisie, soos W.E.G. Louw se Die invloed van Gorter op Leopold, verwysingstudies soos Die verwysing in die literatuur van P.G. du Plessis en “Verwysing en vertolking” van Elize Botha, wat weer getuig van ʼn OUTONOMISTIESE literatuuropvatting – met ʼn duidelike afbakening tussen “binne” en “buite” die “primêre” teks. Die “sekondêre” teks waarna verwys word, sien Du Plessis bv. as “vreemdeliggaamsbeeld” (1966: 95) binne die teks. Wanneer interrelasies tussen tekste met verwysingsterminologie beskryf word, negeer dit die spanningsverhouding tussen die twee tekste t.w.v. aandag vir die “wêreld-van-die-gedig” (1966: 33).
In kontras met die werkimmanente en outonomistiese benadering van die sestigerjare wat die literêre werk as ʼn streng afgeslote outonome geheel sien, bied die meer resente komparatistiese benadering ʼn sintetiserende kyk, ʼn bewussyn van die dinamiek van onderlinge wisselwerking en verstrengeldheid van die literatuur, waarby nié hiërargies gekyk word na “buite-” en “binne-tekstueel” nie, maar alle tekste in eie reg gelaat en erken word. ʼn Outonomistiese literatuuropvatting is onverenigbaar met die vergelykende metode, hoewel René Wellek in “The crisis of comparative literature” (1964) gepoog het om ʼn uitweg uit die impasse van die werkimmanente versus vergelykende literatuurstudie te vind.
In “The name and nature of comparative literature” (1970: 36) wys hy op die wyer, internasionale perspektief wat die komparatisme op die “wêreld van die verbeelding” bied – in kontras met ʼn té eng gerigte nasionale perspektief: “…it means an international perspective which envisages a distant ideal of universal literary history and scholarship. Comparative literature surely wants to overcome national prejudices and provincialisms but does not therefore ignore or minimize the existence and vitality of the different national traditions.”
Spesifiek die 20e-eeuse literatuur toon ʼn neiging tot sintetisering en oorbrugging van nasionale grense. Die komparatis Henry Gifford, wys op dié neiging: “Mandelstam, feeling the spell of Latin culture and also of the German language; Proust, powerfully attracted by Ruskin and George Eliot; Yeats, who could not reckon his debt to Catullus, Verlaine and Mallarmé … Joyce, with his wide and miscellaneous foraging. To understand any one of these writers it is not enough that you study their own literature. They compel the reader to look abroad and to live in more than one culture. They demand for their full appreciation the comparative sense … an active belief that all literature is one and indivisible” (1969: 13-15).
Wat Gifford die “sintetiserende” neiging noem, verwoord N.P. van Wyk Louw as ʼn “sinkretistiese” element in die literatuur, wat voortvloei uit die moderne kultuur: “En die moderne letterkunde … ís die letterkunde van so ʼn sinkretistiese (saamgegroeide, inmekaargekoekte) kultuur” (1977: 125). Soos Louw in sy reeks artikels oor “moeilike” literatuur aantoon, stel dié sinkretistiese element in die moderne literatuur hoë eise aan die leser/ondersoeker. Dit verg by uitstek ʼn komparatistiese ondersoek om die “gesprek” oor taal- en kultuurgrense soos in die oeuvres van D.J. Opperman, N.P. van Wyk Louw en Breyten Breytenbach na te gaan. Vanuit ʼn SEMIOTIESE literatuuropvatting – soos die teoretiese uitgangspunt van INTERTEKSTUALITEIT (Kristeva, 1969: 146) – kan die literêre teks gesien word binne die groter netwerk van literêre wisselwerking. Dit voorkom die evaluatiewe hiërargie van invloedestudies, en die simplistiese aannames daarvan, en gee aandag aan die implikasies wat die interaksie vir al die betrokke tekste het.
Die komparatis se ondersoekveld is die historisiteit van die literêre teks, die produksie- en resepsie-omstandighede (vgl. RESEPSIETEORIE) van die teks, en die toepassingsmoontlikhede van die betrokke dissiplines op tekste uit verskillende literature. Hierteenoor staan die literatuurteorie wat algemene kenmerke van literêre verskynsels en toepassingsmoontlikhede van linguistiek, semiotiek, sosiologie (vgl. HISTORIES-SOSIOLOGIESE BENADERING, LITERATUURSOSIOLOGIE), PSIGOANALISE, ens. bestudeer. Volgens D.W. Fokkema lê die wetenskaplike relevansie van die komparatisme “deels in … toetsings van de algemene hypotheses van de theoretische literatuurwetenschap, en voorts in de beschrijving en verklaring van verschijnselen die in meer dan één literatuur voorkomen” (1981: 182). ʼn Voorbeeld van só ʼn resente komparatistiese ondersoek waarin die “literaire kode” van die Modernisme in die fokus staan, is Het Modernisme in de Europese letterkunde (Fokkema & Kunne-Ibsch, 1984), waarin min of meer tydgenootlike romans van o.m. James Joyce, Virginia Woolf, Marcel Proust, Italo Svevo, E. du Perron e.s.m. bestudeer word. Aandag word gegee aan die historiese konteks (Modernisme vs. Postmodernisme), die gemeenskaplike “kode” van die Modernisme (taalskepsis, die metalinguale aspek van die tekste, onthegting van hoofkarakters aan die omringende “werklikheid”), en die resepsie van die verskillende romans. Een van die positiewe resultate van só ʼn ondersoek is ʼn verrykende perspektief op en begrip van literêre PERIODES.
Só ʼn studie impliseer ʼn literatuuropvatting van werke as dokumente van ʼn bepaalde historiese periode (eerder as monumente in ʼn KANON, soos die opvatting van die NEW CRITICS met hul onbuigsame beskouing van outonome gehele), en onderstreep die dinamiese karakter van die literatuur, met verskillende SISTEME wat mekaar “aflos” deur die literatuurgeskiedenis heen (vgl. die EKSPRESSIONISME, SIMBOLISME, MODERNISME, POSTMODERNISME).
ʼn Alternatiewe komparatistiese benadering is ʼn studie soos dié van Naomi Ritter oor tekste binne dieselfde tradisie – hier die “saltimbanque-tradisie”, “Apollinaire and Rilke: the saltimbanque as savior” (1981). Sy vergelyk nie net tekste van dié twee digters nie maar betrek ook die beeldende kuns, deur o.m. meer te verwys na die reeks skilderye van Pablo Picasso rondom sirkusfigure. ʼn Afrikaanse komparatis sou hier ook Van Wyk Louw se “Saltimbanque en vriendin” (Tristia, 1962) kon betrek, en dit reliëf gee teen die agtergrond van die “saltimbanque-tradisie”. Uit gemeenskaplike elemente en raakpunte in die verskillende literêre tekste – soos die identifikasie van die digter met die saltimbanque-figuur en transendensie van die onmiddellike werklikheid – resulteer ʼn meer verrykende en verhelderende perspektief as wanneer die enkele teks in isolasie bestudeer word. Die ondersoeker kan só bewus word van en wys op konvensies wat tiperend is van die spesifieke tradisie wat hom andersins nié sou opval nie.
Fokkema (1981: 192) poneer ʼn “nuwe PARADIGMA” vir die komparatisme, waarvolgens die objek van studie nie meer die eksklusiwiteit van die literêre teks is nie maar ook die literêre kommunikasiesituasie in sy internasionale aspek: “De vertolking van bestaande teksten is niet meer in handen van enkele experts die zich de benadering van de éne, adequate interpretatie ten doel hebben gesteld, maar de verschillen in interpretatie worden gelegitimeerd door verschillen in interesse en receptie-context.” Die komparatisme kan dus gesien word as ʼn toetsing en toepassing van abstrakte literatuurteoretiese modelle binne ʼn historiese kommunikasiesituasie, met aandag vir die produksiemoment (ontstaan/genese van die werk) én die resepsie (vgl. LESERTIPES) daarvan (die leserreaksie en -ontvangs). Die winste van dié literatuurbenadering is ʼn wetenskaplik gefundeerde raamwerk waarbinne literatuurteoretiese modelle getoets kan word, en ʼn deurbreking van die beperkende opvattinge van die outonomistiese benadering wat konsentreer op die enkelwerk, sowel as ʼn verruiming van die nasionale perspektief.
In die Suid-Afrikaanse konteks maak dit sin om oor die taalgrense heen te werk met onderwerpe soos die Suid-Afrikaanse tronkpoësie, die Suid-Afrikaanse plaasroman of ʼn komparatistiese studie te maak van Suid-Afrikaanse landskapspoësie (vgl. J.M. Coetzee, White Writing).
(Vgl. LITERATUURTEORIE EN KOMPARATISME.)
Bibliografie
Baldensperger, F. 1921. Littérature comparée: le mot et la chose. Revue de littérature comparée.
Botha, E. 1966. Verwysing en vertolking. In: Van Heerden, E. (red.). Smal swaard en blink. Pretoria: Academica.
Coetzee, J.M. 1988. White Writing. Sandton: Radix.
Du Plessis, P.G. 1966. Die verwysing in die literatuur. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
Fokkema, D.W. 1981. Vergelijkende literatuurwetenschap en het nieuwe paradigma. Formum der letteren, Jun.
Fokkema, D. & Kunne-Ibsch, E. 1984. Het Modernisme in de Europese letterkunde. Amsterdam: De Arbeiderspers.
Gifford, H. 1969. Comparative literature: Concepts of Literature. London: Routledge & Kegan Paul.
Kristeva, J. 1969. Sémiòtike. Paris: Seuil.
Louw, N.P. van Wyk. 1977. Deurskouende verband. Kaapstad: Human & Rousseau.
Louw, W.E.G. 1942. Die invloed van Gorter op Leopold. Kaapstad: Nasionale Pers.
Ritter, N. 1981. Apollinaire and Rilke: the saltimbanque as savior. Yearbook of Comparative and General Literature, 30.
Wellek, R. 1964. The crisis of comparative literature. In: Wellek, R. Concepts of Criticism. New Haven: Yale University Press.
Wellek, R. 1970. Name and nature of comparative literature. In: Wellek, R. Discriminations: Further Concepts of Criticism. New Haven: Yale University Press.
Helize van Vuuren