Hierdie term word deur Frank C. Maatje (1977) in ʼn oordragtelike sin gebruik n.a.v. die transformasioneel-generatiewe term competence, d.w.s. taalvermoë. Naas N. Chomsky se G-model wat ʼn beeld gee van die mens se vermoë om taal te produseer en te begryp (m.a.w. van sy kompetensie), wil Maatje ook ʼn P-(poëtika)model ontwerp wat rekenskap gee van ʼn literêre kompetensie. In hierdie P-model moet daar van sowel die mens se vermoë om literêre werke voort te bring (wat “aktiewe” of “kreatiewe” literêre kompetensie genoem sou kon word) as sy vermoë om dit te begryp (“reseptiewe” literêre kompetensie) rekenskap gegee word. Die teksgrammatikus stel dan ook die model van literêre kompetensie analoog aan dié van die “gewone kompetensie”.
Wanneer Maatje (1977: 248) die term “ideale leser” omskryf, kom literêre kompetensie weer ter sprake: “De ideale lezer, … is identiek aan het model van de literaire competentie…” Laasgenoemde voorveronderstel talige kompetensie, d.w.s. volledige kennis van die taal waarin die betrokke werk geskryf is. (Vgl. LESERTIPES.)
In sy Structuralist Poetics (1975) wy Jonathan Culler ʼn hele hoofstuk aan literary competence, wat volgens hom neerkom op die stel konvensies waardeur die leser gelei word om bepaalde kenmerke van die werk uit te kies in ooreenstemming met die algemene idee van wat ʼn “aanvaarbare” of “toepaslike” interpretasie daarvan uitmaak. Net soos Maatje plaas Culler sy strukturele linguistiek gedeeltelik binne die raamwerk van die generatiewe grammatika en maak gebruik van Chomsky se term competence, d.w.s. “the explicit representation, by a system of rules or norms, of the implicit knowledge possessed by those who successfully operate within the system” (Culler, 1975: 9). Hierdie competence is ʼn modernisering van Saussure se langue (vgl. STRUKTURALISME en KODE). Na analogie van hierdie linguistiese kompetensie omskryf Culler literêre kompetensie (later ook kortliks mitologiese en semantiese kompetensie) as ʼn soort geïnternaliseerde “grammatika” van literatuur wat die leser daartoe in staat stel “to convert linguistic sequences into literary structures and meanings” (Culler, 1975: 114). Ook by Culler kom die ideale leser ter sprake in sy uiteensetting van wat literêre kompetensie is.
Stanley Fish bring literêre kompetensie in verband met wat hy die “geïnformeerde leser” (vgl. LESERTIPES) noem. Hierdie tipe leser se literêre kompetensie hou in dat hy voldoende ervaring as ʼn leser opgedoen het “to have internalized the properties of literary discourses, including everything from the most local of devices (figures of speech, and so on) to whole genres” (Fish, 1980: 48). Juis vanweë die beklemtoning van die leser se ervaring is dit duidelik dat Fish se “literêre kompetensie” aangeleer is, d.w.s. op die vlak van die OPPERVLAKTESTRUKTUUR werk, sodat dit in werklikheid nie analoog is aan linguistiese kompetensie nie (Belsey, 1980: 34).
In ʼn hoofstuk oor die toekoms van die RESEPSIE-ESTETIKA wys Segers (1980) daarop dat daar met die meeste resepsie-estetiese ondersoekprojekte gepoog word om op die een of ander manier insig te verkry rakende ʼn aantal aspekte van literêre kompetensie. Volgens hom is daar weinig bekend oor hierdie fenomeen en is dit slegs agterhaalbaar d.m.v. die empiries-eksperimentele Resepsie-estetika. “Onderzoek naar literaire competentie is onderzoek naar de concretisaties die een lezer of een leespubliek realiseert in de receptie van literatuur” (Segers, 1980: 121). Segers sluit die bespreking af met die mening dat daar aan hierdie soort ondersoek binne ʼn kommunikasieteoretiese opvatting die hoogste prioriteit verleen moet word.
Die oorspronklike gebruik van die term kan nagegaan word in Culler (1975), Fish (1980) en Maatje (1970/1977).
Bibliografie
Belsey, C. 1980. Critical Practice. London: Methuen.
Cloete, T.T., Botha, E. & Malan, C. (reds.). 1985. Gids by die literatuurstudie. Pretoria: HAUM-Literêr.
Culler, J. 1975. Structuralist Poetics: Structuralism, Linguistics and the Study of Literature. London: Routledge & Kegan Paul.
Fish, S. 1980. Is There a Text in this Class?: The Authority of Interpretive Communities. Cambridge, Mass.: Harvard University Press.
Maatje, F.C. 1970/1977. Literatuurwetenschap: grondslagen van een theorie van het literaire werk. Utrecht: Bohn, Scheltema & Holkema.
Malan, C. (red.). 1983. Letterkunde en leser: ʼn inleiding tot lesergerigte literêre ondersoeke. Durban: Butterworth.
Segers, R.T. 1980. Het lezen van literatuur: een inleiding tot een nieuwe literatuurbenadering. Baarn: Basisboeken Ambo.
Tompkins, J.P. (ed.). 1980. Reader-response Criticism: From Formalism to Post-Structuralism. Baltimore: Johns Hopkins University Press.
Mabel A. Rossouw