KORTVERHAAL

ʼn Kortverhaal is ʼn kort verhalende werk in prosa, wat hom in sy verhaalmatigheid (wat verandering veronderstel) onderskei van ander kort prosavorme soos die ESSAY en SKETS. Dit word as ʼn vrywel moderne literêre vorm beskou; die geskiedenis daarvan word gekoppel aan die opkoms van die tydskrifwese in die vroeë 19e eeu, in Amerika (Washington Irving, Nathaniel Haw­thorne, Edgar Allan Poe), Europa (Tsjechov, Gogol, Guy de Maupassant, E.T.A. Hoffmann) en Engeland (Sir Walter Scott). Ook het die NATURALISME aantoonbare invloed op stofkeuse en tegnieke van die kortverhaal gehad, en die fantastiese, moraliserende CONTE van Voltaire is ook daaraan verwant; Boc­caccio se Decamerone word ook binne stamverband genoem. Tog is dit sover dit ʼn storie vertel een van die oudste vorme van lite­ratuur, uit dieselfde familie as die FABEL, volksvertelling (vgl. VOLKSVERHAAL), SPROKIE, ANEKDOTE, GELYKENIS, ens. “Die verhaal was altyd daar,” skryf Hennie Aucamp (1986: 183). “Dit was daar in die vroegste rotstekeninge; dit was daar lank voor skrif. Dit was daar as gemeenskapskuns; as mondelinge vertellings op die markplein, in die herberg, rondom veldvure.” Daarom bevat ook die moderne kortverhaal elemente wat van oudsher die vertelkuns kenmerk: die RAAISEL, die grap, die spreekwoord, die EPIGRAM.

Die wêreld van die kortverhaal word, soos in alle verhalende FIKSIE, opgebou uit TYD, RUIMTEKARAKTERS en GEBEURE; net so is ook hier aspekte van vertelwyse en taalgebruik van belang. Die stof kan, soos in ander literêre vorme, as TRAGIES, KOMIES, REALISTIES, MITIES, simbolies, behandel word. Die mensekennis of ervaring van die skrywer bepaal dikwels die kwaliteit daarvan.

Die artistieke organisasie is egter opvallender in die kortverhaal as in die ROMAN of in die eenvoudiger verwante vorme soos die anekdote of staaltjie. Hierdie organisasie blyk bv. uit die sorgvuldige wyse waarop titel, aanvangsin en slotsin op mekaar afgestem is; die konsentrasie op een of dan weinig karakters; eenlynigheid van handeling; ekonomiese suggestieryke konstituering van ruimte en tyd; die fusie van al hierdie elemente binne ʼn bepaalde toonaard of stemming ter verkryging van één effek. Hierdie effek kan in baie gevalle gelykgestel word aan openbaring, insig, verheldering – hiervoor word dikwels gebruik James Joyce se term epiphany, oorgehewel uit die religie, waar dit i.v.m. manifestasies van Christus of heiliges gebruik word, na die lite­ratuur, waar dit gelykgestel word aan ʼn plotselinge geestelike verheldering wat uit ʼn vervlietende moment n.a.v. ʼn gebaar, ʼn infleksie van die stem, die fokussering van ʼn voorwerp kan ontstaan. Gedramatiseerde konflik (botsing van opponerende kragte) is dikwels kern van die kortverhaal; daarin benader dit die EENBEDRYF. In die kortverhaal van die 20e eeu is die beïnvloeding van die film duidelik; Nadine Gordimer (aangehaal deur Aucamp, 1986: 173) se bekende formulering steun dié verwantskap: “Short-story writers see by the light of the flash.” Filmiese kunsgrepe soos terugflitse (flashbacks) (vgl. FLITS) en nabyskote (close-ups) (vgl. TELEVISIEDRAMA) is herkenbaar in die kort­verhaal, asook die vertel van ʼn verhaal deur ʼn reeks gebare, deur suggestie eerder as verduideliking. Verwantskap met die poësie blyk uit die sorgvuldige komposisie, METAFORIESE, emotiewe en assosiatiewe taalgebruik en dikwels ʼn verdigting in tydshantering, nl. ʼn sametrekking van verlede, hede en toekoms in die openbarende oomblik (Aucamp, 1986: 174).

Die tipies 20e-eeuse belangstelling in die psigologie van die karakter is dikwels op te merk in die reduksie van die handeling sodat baie kortverhale in sekere opsigte staties aandoen.

Die kortheid van die kortverhaal as onderskeidende kenmerk is deur teoretici op verskillende maniere verklaar en toegelig. Edgar Allan Poe, wat as die eerste teoretikus van die kortverhaal beskou word (met as klassieke beginpunt sy resensie van Nathaniel Haw­thorne se Twice-told tales in 1842), het dit in terme van leestyd probeer aandui, nl. dat die verhaal binne ʼn halfuur tot twee uur gelees kan word. (Miskien moet ʼn mens, denkende aan die oorspronge van die kortverhaal as “blote storie”, ook praat van “luistertyd”.) Soms word die kortheid verduidelik i.t.v. die aantal woorde, nl. tussen 100–1500 woorde enersyds (die KORTKORTVERHAAL) en 20 000 woorde (die NOVELLE) andersyds. Norman Friedman (1958: 297) gee die volgende verklaring vir die vraag: “What makes a short story short?”: ʼn verhaal kan kort wees omdat die gebeure daarin min of kleinskaals is, of omdat grootskaalse gebeure in omvang gereduseer is deur seleksie, afskaling, inkrimping en/of perspektivering. Dit word deur hom en ander beklemtoon dat die redes vir die kortheid van die kort­verhaal in ʼn groot verskeidenheid kombinasies van moontlikhede geleë is. Van Gorp (1986: 376), in die Lexicon van literaire termen, sien die kortheid van die kortverhaal as weerspieëling van die tydsnood van die moderne mens, terwyl Aucamp (1986: 116) intensiteit, spanning en afwagting aandui as komplemente van die kort bestek van die kortverhaal.

In die Amerikaanse modelle van bv. Poe en O. Henry kom die “knalslot” vir ʼn verhaal dikwels voor, maar vir Krywalski (1974: 238) e.a. is die “oop”, meerduidige slot karakteristiek van latere vorme daarvan. Krywalski bring dit ook i.v.m. die moderne lewensgevoel, die krisis van sekerhede; die kortverhaal neig van sy oorspronge af tot aktualiteit (1974: 236).

In Afrikaans bestaan daar ʼn besonder sterk tradisie in die GENRE van die kortverhaal. Abraham de Vries begin sy versameling, waarin hy o.a. ʼn beeld wil gee van die historiese ontwikkeling (1986: 5), met Pulvermacher se “Gebed van Tities Tokaan” (± 1893), maar uit die koerantbriewe en tydskrifvertellings van die vroeër 19e eeu sal talle kortverhale-in-die-kiem gehaal kan word. Met die verskillende aflewerings van Jan Lion Cachet se Sewe duiwels en wat hulle gedoen het (vanaf 1882 in Die Patriot, vanaf 1897 in Ons Klyntji) word die “lang kortverhaal” gevestig, wat later deur Henriette Grové (Winterreis) en Elsa Joubert (Die Wahlerbrug) beoefen sou word. Die bewus-artistieke deurbraak vir die kortverhaal kom in 1909 met “Moedersmart” van Gustav Preller (Aucamp, 1978: 50). Die kortverhaal is in die ouer Afrikaanse literatuur veelal beskou as ʼn neweproduk van die romanskrywer (hoewel in Jan van Melle en M.E.R. se oeuvre die klem reeds anders val), maar die vernuwing van die Afrikaanse lite­ratuur sedert ongeveer 1956 word o.a. gekenmerk deur die uitsluitende konsentrasie van skrywers op die kortverhaalvorm (Henriette Grové, Abraham de Vries, Hennie Aucamp, P.J. Haasbroek). Die sg. “GRENSLITERATUUR” van die tagtigerjare is by uitstek gevorm deur kortverhaalbundels (Welma Odendaal, Getuie vir die naaktes, 1974; Keerkring, 1977; Koos Prinsloo, Jonkmanskas, 1982; Etienne van Heerden, My Kubaan, 1983; Alexander Strachan, ʼn Wêreld sonder grense, 1983).

 

Bibliografie

Aucamp, H. 1978. Kort voor lank: opstelle oor kort prosatekste. Kaapstad: Tafelberg.

Aucamp, H. 1986. Die blote storie: ʼn werkboek vir kortverhaalskrywers. Kaapstad: Tafelberg.

De Vries, A. 1983. Kortom – ʼn gids by Die Afrikaanse kortverhaalboek. Kaapstad: Human & Rousseau.

De Vries, A. 1986. Tendense in die Afrikaanse kortverhaal, 1867–1984. D.Litt.-proefskrif, Universiteit van Stellenbosch, Stellenbosch.

Du Toit, P.A. 1974. ʼn Ondersoek na Afrikaanse beskouings oor die kortverhaal met besondere verwysing na enkele nuwer Afrikaanse verhale. M.A.-verhandeling, Universiteit van Rhodes, Grahamstad.

Friedman, N. 1958. What makes a short story short? Modern Fiction Studies, 4.

Krywalski, D. 1974. Handlexikon zur Literaturwissenschaft. München: Ehrenwirt.

Lombard, J. 1979. Die kort-kortverhaal in Afrikaans. M.A.-verhandeling, Universiteit van Stellenbosch, Stellenbosch.

 
Elize Botha