KULTUURKRITEK

Kultuurkritiek kan nie onderskei word nie van terreine soos kultuurontleding, -studie en -wetenskap binne die algemene, interdissiplinêre rigting van eietydse kultuurstudie. Dié rigting het sy ontstaan in die LITERATUURTEORIE gehad, en hoewel die grense van die antropologie, sosiologie, kommunikasiewetenskappe e.s.m., uit die aard van die saak oorgesteek word, word hier gekonsentreer op sake wat met die literatuurteorie verband hou.

Na T.S. Eliot, Matthew Arnold en ander se bekommernis oor die verval van hoë kulturele waardes rondom die eeuwenteling, het die NEW CRITICISM eliteliteratuur as ʼn selfbeslote objek verskans. In die middel van die jare vyftig het die soeke na alternatiewe vir hierdie soort benadering na die vestiging van eietydse kultuurstudie gelei. Die belangrikste invloed het van die Frankfurt-skool (hoofsaaklik strukturaliste) en die Birmingham Centre for Contemporary Cultural Studies (hoofsaaklik kulturaliste) uitgegaan.

Baanbrekers soos Raymond Williams het die literatuur toenemend as ʼn onderdeel van die groter betekenissisteem van kultuur be­gin beskou. Volgens die ruimer teksopvattings is kultuur ook as ʼn TEKS gesien en geïnterpreteer, wat ʼn natuurlike verwantskap met die literatuurkritiek en -teorie tot gevolg gehad het.
Die nuwe soort kultuurstudie het wegbeweeg van die siening dat kultuur in hoë waardes soos dié van die kunste, of in bepaalde objekte, tradisies, ens. verskans is. In die kultuurkritiek is kul­tuur min of meer benader as ʼn dinamiese en veranderende SISTEEM van kennis en waardes wat geleë is in die ervarings-, interpretasie- en skeppingsproses waardeur individue en selfomskrewe groepe sin aan die lewe gee, en waardeur hulle hulself uitdruk in verhoudings en tasbare of nie-tasbare uitings.

Kultuurstudie het oortuigend aangetoon dat kulturele “vastighede” soos ras, stam, geslag en tradisie, niks meer as bepaalde interpretasies is nie. Die aanvaarding en verwerping van kulturele waardes is ʼn kernaspek van die stryd om bepaalde interpretasies aanvaar te kry.

Kultuurstudie het hom in ʼn groot mate daarop toegelê om die belangrikste kulturele KODES in gemeenskappe, veral rondom klas, ras en geslag, krities te ondersoek en te dekonstrueer. Sentrale, vaspenbare betekenisse en die finale gesag van kulturele tekste word nie aanvaar nie en alle vorme van beheer oor betekenisse word ondersoek. Hierin speel konsepte soos IDEOLOGIE, hegemonie en DISKOERS ʼn sleutelrol.

Kultuur kan gesien word as ʼn versameling tekste wat gelees word oor die skouers van diegene wat hul uitleef, volgens die bekende kultuurnavorser Clifford Geertz. Gevolglik is ʼn ontleding van die verskillende diskoerse of “gesprekke” wat op talle vlakke in ʼn gemeenskap plaasvind, vir kultuurstudie van groot belang. ʼn Eietydse HERMENEUTIEK wat swaar op Jacques Derrida se werk steun, het ʼn diskoersbenadering opgelewer waarvolgens aanvaar word dat die betekenis van ʼn mondelinge of skriftelike teks nie met finaliteit vasgestel kan word nie omdat alle tekste gelyktydig verskillende, teenstellende betekenisse kan genereer.

Die ontledings van kulturele diskoerse deur Michel Foucault, op sosiologiese en historiese vlakke, en Jacques Lacan, op ʼn psigologiese vlak, het ʼn groot invloed op sowel die kultuur- as literatuurteorie uitgeoefen. Hulle het oortuigend aangetoon hoedat betekenis op ʼn aansienlike skaal in die gemeenskap m.b.v. ʼn meganisme soos ideologie beheer kan word. (Vgl. POST-FREUDIAANSE PSIGOANALISE EN LITERATUUR.)

Ideologie word gewoonlik gesien as ʼn stel idees waardeur politieke, ekonomiese en ander sisteme gerig word. Die ontle­ding van enige soort diskoers, veral ook die literêre diskoers wat deur intellektuele bevoorreg word, lê egter ʼn bepaalde ideologiese basis bloot. Intellektuele soos skrywers dra baie daartoe by om ʼn stel ideologiese aannames in diskoerse gevestig te kry. In Suid-Afrika het apartheid, ʼn liberale humanisme, swart bewussynsteorieë, sosialisme en ander ideologieë vir bepaalde kulturele dis­koerse gesorg. Een van die duidelikste voorbeelde is die Afrikaner se kultuurstryd, waarin politieke, sosiale, kulturele en ander oorwegings in eie kring vir ʼn meesleurende diskoers en suksesvolle kultuurstrategieë gesorg het.

Antonio Gramsci het groot invloed uitgeoefen met sy ontleding van hegemonie, d.w.s. die intellektuele en morele leierskap in ʼn gemeenskap. Intellektuele wat ʼn organiese rol in die gemeen­skap speel, verseker dat ʼn bepaalde ideologiese uitgangspunt aan­vaar word. Verskeie vlakke is volgens hom ter sprake by hierdie “organiese” ideologie: filosofie, godsdiens, gemene kennis (“common sense”) en folklore. Van die mees abstrakte idees tot die eenvoudigste volksgelowe kan ingespan word om ideologiese instemming by die gemeenskap te verkry.

MARXISTIES-georiënteerde denkers het aanvanklik die meeste gedoen om die voorkoms van die ideologie in die gemeenskap te ontleed. Vir George Lukács en later die Frankfurt-skool het dit ʼn verklaring gebied waarom werkers onderdruk gehou kon word. Hulle het trouens aangetoon hoe die moderne “kultuurindustrie” van die massamedia sentrale beheermeganismes daargestel het, hoewel die illusie van individuele keuse steeds geskep word. Theo­dore Adorno was so pessimisties oor die manipulasie van die massa dat hy geglo het dat dit die einde van redelikheid ingelei het. Hierteenoor was Jürgen Habermas meer optimisties, omdat hy gemeen het dat die vermoë tot selfkritiek wel ontwikkel kan word.

ʼn Belangrike ontwikkeling was Louis Althusser se siening dat ideologie nie bloot “valse bewussyn” behels en in ʼn soort bostruktuur geleë is nie. Daar is geen eenvoudige skeiding tussen die “ek” en “die wêreld buite” nie. ʼn Reeks ideologiese “ekke” is oor ons verskillende rolle in die gemeenskap heen versprei en die politieke uitdaging is om hulle in ʼn oorkoepelende identiteit saam te trek. Hierby glo Lacan ook dat betekenis onbewus geproduseer word en dat ideologie eintlik ʼn diskoers is wat menigvoudige betekenisse produseer.

Met ʼn beter begrip vir die wyse waarop ideologie en diskoers in die gemeenskap funksioneer, kon die kultuurkritici bepaalde kulturele waardes ontdek. Die soort waardes wat gewoonlik in ʼn moderne Westerse samelewing ʼn bevoorregte posisie het en as “vanselfsprekend” voorgestel word, is blanke, manlike, Wes­terse, heteroseksuele waardes. Sosiale groeperings soos feministe, gays en aanhangers van swart bewussyn veg om op hulle beurt weer hulle eie waardesisteme erken te kry.

Twee oorheersende PARADIGMAS het spoedig in kultuurstudie na vore getree: Kulturalisme en STRUKTURALISME. Die kulturaliste konseptualiseer kultuur as verweef met alle sosiale praktyke en is gekant teen die reduksionistiese siening dat ekonomiese of ander magte as ʼn basisstruktuur die bostruktuur bepaal. Hierteenoor het Strukturalisme veral rondom die sentrale konsep ideologie ontwikkel, omdat die nodigheid vir abstraksie aangetoon is. Mettertyd het ʼn polarisering ontstaan tussen die strukturaliste, wat op ʼn betreklik pessimistiese wyse na die groter kulturele raamwerke en klassifikasies kyk, en die kulturaliste wat optimisties is oor gewone mense se vermoëns om binne die raamwerke van stryd, klas en beheer aan hulle eie geskiedenis vorm te gee. Deesdae word aanvaar dat hierdie polarisering onnodig is. Dit is opvallend dat kulturaliste uit die literatuurstudie in die rigting van kultuurstudie beweeg het, terwyl strukturaliste weer belangrike bydraes tot die literatuurstudie gelewer het.

Omdat teoretiese bydraes vanuit soveel dissiplines ontvang is, waaronder die Literatuurwetenskap een van die belangrikstes was, het ʼn pluralisme spoedig aanvaarbaar geword. Mettertyd het ʼn aantal klemplasings uitgekristalliseer wat ook in die Suid-Afrikaanse konteks van besondere belang is. Die drie hoofrigtings in kultuurstudie is die volgende: produksieverwante ondersoeke wat impliseer dat daar ʼn stryd is om kulturele produksie te beheer, te verander, ens.; teksgebaseerde benaderings wat op die aard van kulturele produkte self konsentreer, in die besonder op tekste van verskillende aard; en derdens navorsing oor kulture wat geleef word en waarin REPRESENTASIE ʼn besondere rol speel. Wesenlik handel alle kultuurstudie egter oor “the histori­cal forms of consciousness or subjectivity, or the subjective forms by which we live”, soos Johnson (1986: 280) dit stel.     

Hoewel Marxiste en die New Left belangrike-baanbrekerswerk gedoen het, word ʼn verskeidenheid ideologiese en teoretiese invalshoeke deesdae gevind. Marxistiese teorieë het veral onderskoot gekom omdat hulle hoogs normatief is of op ideologie in die algemeen fokus, en nie die werklike kennis van “common sense” verreken nie.

Die vier teoretiese hoofrigtings wat uiteindelik die meeste tot kul­tuurstudie bygedra het, is fenomenologie, kulturele antropologie, Strukturalisme en *kritiese teorie. Vanuit hierdie breë teoretiese basis het talle nuwe groeipunte ontwikkel. Die volgende drie terreine is die belangrikste: die radikale hersentrering van bykans die hele terrein van kultuurstudie rondom die terme “diskoers” en die “SUBJEK” n.a.v. Lacan se poging om die subjek in ere te herstel; ʼn terugkeer na die meer klassieke “politieke ekonomie” van kultuur omdat kulturele en ideologiese aspekte oorbeklemtoon is; en derdens ʼn radikale heterogeniteit wat veral gesien word in Foucault en Gramsci se konkrete ontledings van bepaalde ideologiese en diskoersvorme.

POST-STRUKTURALISTIESE benaderings het reeds ʼn aansienlike invloed gehad op kultuurstudie buite die Marxistiese raamwerk. Die radikale vrae oor die aard van betekenis en betekenisgewing, alle soorte gesag en die posisie van populêre kultuurvorme kan nie anders as om ʼn besonder bevrugtende invloed te hê nie, ook binne die Suid-Afrikaanse konteks. Aan die ander kant kan ʼn meer tradisionele SEMIOTIESE invalshoek soos die sisteembenadering ook vrugbaar gebruik word om hipoteses oor die wisselwerking tussen kulturele sisteme te vorm.

Vanaf die ontleding van literêre tekste as onderdele van kulturele “tekste” en kontekste, het die kultuurkritiek na talle ander terreine van betekenisgewing beweeg. Gedrag, spraak, MONDELINGE tradisie en rituele is ook gesien as ʼn betekenisdraende korpus wat “getekstualiseer” en dus geïnterpreteer kan word. Ook ʼn diskoers, waar in die teenwoordigheid van ʼn sprekende subjek en die onmiddellike situasie van kommunikasie intrinsiek is, kan ʼn teks word wanneer dit outonoom en los van ʼn bepaalde kommunikasiesituasie gesien word. Allerlei soorte kulturele tekste is ontleed: televisie-komedies, strokiesverhale, skoolteksboeke, jeugstyle, populêre musiek…

Van die belangrikste winste van die kultuurkritiek is die toekenning van kulturele status aan populêre, massa-, werkers-, klasse-, verbruikers- en ander soorte kultuur. Nie slegs die kultuur van hegemoniese en dominante groepe in die samelewing is bestudeer nie, maar ook teenkultuur (“counter culture”) en die subkulture van verskillende sosiale groepe.

Soos reeds geblyk het, is talle ideologiese belange gedien deur die bevordering van ʼn “hoë” kultuur wat as navolgenswaardig en “verrykend” voorgestel is. Hierdie bevordering het in ʼn groot mate ten koste van “lae” kultuur geskied, aangesien die “kul­tuur van die massa” as inherent minderwaardig en as ʼn bedreiging vir hoë kultuur voorgestel is. Talle van die mites waarop voortgebou is, is reeds deur kultuurstudie weerlê. Sedert die sestigerjare is daar boonop doelbewus in die kunste gepoog om die “gaping” tussen ernstige en populêre kultuur uit te wis.

Soos ook reeds genoem is, het die verset teen populêre kultuur vroeg in hierdie eeu hoofsaaklik by vooraanstaande skrywers en letterkundiges begin. Omvangryke ondersoeke het egter bevind dat populêre literatuur nie deurgaans konserwatief van aard is en op “gemiddelde waardes” inspeel nie; dat dit hoegenaamd nie noodwendig esteties swak is omdat dit kommersieel gerig is nie; dat lesers nie daardeur ʼn minderwaardige smaak aangeleer word nie, omdat selfs gesofistikeerde lesers verskillende soorte lektuur waardeer; en dat literatuur nie a.g.v. die vermeerdering van massalektuur skade ly nie. Hoë literatuur is trouens afhanklik van BLITSVERKOPERS, aangesien dit daardeur gefinansier word. Ook t.o.v. ander soorte populêre kultuur en kunsvorme het dit duidelik geblyk dat populêre kultuur dikwels sonder goeie gronde negatief gestereotipeer word en geen bedreiging vir elite-kultuur inhou nie. Aan die ander kant is daar ook ʼn verset teen die opvatting dat die onderskeid tussen hoë en lae kultuur oudmodies is, aangesien hoë kultuur vanweë institusionalisering wel deeglik ʼn bestaansreg het. Die verwerping van die onder­skeid dien volgens kritici as ʼn ideologiese verskansing van die sosiale posisie van navorsers en ander akademiese intellektuele, hoewel die kritici gewoonlik ook toegee dat tradisionele KANONS en waardehiërargie ten regte gedekonstrueer moes word. (vgl. TRIVIAALLITERATUUR.)

In ʼn land soos Suid-Afrika is dit onvermydelik dat populêre kul­tuur steeds in ʼn dialektiese verhouding met die kulturele vorme van die dominante groep omskryf sal word, waarvolgens die “alternatiewe” kultuur van die “onderdruktes” ook die potensiaal vir die daarstelling van ʼn politieke groep bied (Steadman, 1988: 114). Hierdie kultuur kan nogtans nie van die dominante kultuur geskei word nie en ʼn voortdurende interaksie tussen die twee vind plaas. Dit spreek egter vanself dat die gedomineerdes sal probeer om hulle eie kultuurpatrone in die land teen die kultuur van die heersersgroep te handhaaf. Kulturele kommunikasie tussen persone uit stedelike en landelike omgewings het juis hierdie strewe gemeen.

Dit is duidelik waarom ʼn kultuur in talle ondersoeke benader word as ʼn medium vir politieke en sosiale mobilisering, en as ʼn strategie op sigself. Vir navorsers wat op die situasie in die sg. “Derde wêreld” konsentreer, soos Amilcar Cabral en Frans Fanon, het kultuur veral waarde as ʼn strategiese komponent in die werkersklas se stryd teen Imperialisme. In Suid-Afrika het die Afrikaner se kultuurstryd getoon hoe doeltreffend kultuur vir politieke en ideologiese doeleindes ingespan kan word; ʼn stryd wat ironies genoeg deur die “cultural struggle” van die bevrydingsbewegings weerspieël word. Die toekenning van kulturele mag aan diegene buite die gevestigde magstrukture lê ook ten grondslag van die proses van kulturele rekonstruksie, waardeur onderdrukte of negatief gestereotipeerde kultuurpatrone van gedomineerde groepe ʼn nuwe eiewaarde kan kry. Die revisionistiese geskiedskrywing speel ʼn belangrike rol om bv. die mondelinge en lande­like tradisies erken te kry.

Dit is reeds duidelik dat die kultuurkritiek met sy ondersoek na kulturele kodes in die samelewing ʼn wye semiotiese terrein dek. Van besondere belang is die fokus op METAFORE waarvolgens een ervaring i.t.v. ʼn ander verklaar word. Kultuur is inderdaad gebaseer op ʼn groot sisteem van metafore, wat nie net as taal of woorde gesien moet word nie. Daarbenewens word kultuur wel ook aan ʼn “taalspel” gekoppel wat basiese betekenisgewing betref. Daar is dus ʼn noue verwantskap tussen die kultuurkritiek en die strukturele linguistiek. In die mate wat betekenisgewing reeds op onbewuste vlak plaasvind, sluit die kultuurkritiek by psigoanalitiese benaderings aan. (Vgl. POST-FREUDIAANSE PSIGOANALISE EN LITERATUUR.)

In die lig van ʼn wêreldwye tendens om grense van tradisionele wetenskaplike dissiplines oor te steek, kan ʼn belangrike toekoms vir die kultuurkritiek en -studie voorsien word. Dit het ook bevrugtende implikasies vir die literatuurteorie en -studie, aangesien daar van die begin af so ʼn noue verwantskap tussen die twee terreine was.

Die terreine van kultuurkritiek en -studie word oorsigtelik gedek deur Punter (1986), Williams (1981,1983), Wuthnow et al. (1984), Shweder & Levine (1984), Bennett et al. (1981), Clifford (1988), Hall et al. (1980) en, binne ʼn Suid-Afrikaanse konteks, Tomaselli (1988) en Boonzaaier & Sharp (1988). Oor ideologie en kultuur, kyk Barrett et al. (1979), Thompson (1984), Brenkman (1987), Foucault (1980) en Gramsci (1971). Die volgende spesifieke aspekte word goed in die genoemde bronne hieronder behandel: populêre kultuur (Bennett et al., 1986), Semiotiek (Eschbach & Koch, 1987), metafore (Fernandez, 1986; Lakoff & Johnson, 1980), taal (Hall et al., 1980; Lacan, 1968), Marxisrae (Nelson & Grossberg, 1986), en die sisteembenadering (White, 1975).
(Vgl. LITERATUURSOSIOLOGIE.)

 

Bibliografie

Barrett, M. et al. 1979. Ideology and Cultural Production. Lon­don: Croom Helm.

Bennett, T. et al. (eds). 1981. Culture, Ideology and Social Process: A Reader. London: Ohen.

Bennett, T., Mercer, C. & Woollacott, J. (eds). 1986. Popular Culture and Social Relations. Milton Keynes: Open University Press.

Boonzaaier, E. & Sharp, J. (eds). 1988. South African Keywords: The Uses and Abuses of Political Concepts. Cape Town: David Philip.

Brenkman, J. 1987. Culture and Domination. Ithaca: Cornell University Press.

Clifford, J. 1988. The Predicament of Culture: Twentieth Centu­ry Ethnography, literature and Art. Cambridge: Harvard Univer­sity Press.

Clifford, J. & Marcus, G.E. (eds). 1986. Writing Culture: The Poetics and Politics of Ethnography. Berkeley: University of California Press.

Eschbach, A. & Koch, W.A. (eds). 1987. A Plea for Cultural Semiotics. Bochum: Brockmeyer.

Fernandez, J. 1986. Persuasions and Performances: The Play of Tropes in Culture. Bloomington: Indiana University Press.

Foster, H. 1985. Postmodern Culture. London: Pluto.

Foucault, M. 1980. Power/Knowledge. Selected Interviews and Other Writings. New York: Harvest.

Foucault, M. 1981. In: Young, R. Untying the Text. Boston: Routledge & Kegan Paul.

Gramsci, A. 1971. Selections from the Prison Notebooks of An­tonio Gramsci. New York: International.

Hall, S., Hobson, D, Lowe, A. & Wills, P. (eds). 1980. Cul­ture, Media, Language. London: Hutchinson.

Lacan, J. 1968. Language of the Self: The Function of Language in Psychoanalysis. Baltimore: Johns Hopkins University Press.

Lakoff, G. & Johnson, M. 1980. Metaphors We Live By. Chica­go: University of Chicago Press.

Nelson, C. & Grossberg, L. (eds). 1986. Marxism and the In­terpretation of Culture. Urbana-Champaign: University of Illinois Press.

Punter, D. (ed.). 1986. Introduction to Contemporary Cultural Studies. London: Longman.

Real, M.R. 1977. Mass-mediated Culture. Englewood Cliffs: Prentice-Hall.

Sarbaugh, L.E. 1987. Intercultural Communication. New Jersey: Hagden.

Shweder, R.A. & Levine, R.A. (eds). 1984. Culture theory: Essays on Mind, Self, Emotion. Cambridge: Cambridge Univer­sity Press.

Thompson, J.B. 1984. Studies in the Theory of Ideology. Ber­keley: University of California Press.

Tomaselli, K.G. (ed.). 1988. Rethinking Culture. Bellville: Anthropos.

White, L.A. 1975. The Concept of Cultural Systems. A Key to Understanding Tribes and Nations. New York: Columbia Univer­sity Press.

Williams, R. 1971. Culture and Society, 1780–1950. Harmondsworth: Penguin.

Williams, R. 1983. Culture and Society. London: Hogarth Press.

Wuthnow, R. et al. 1984. Cultural Analysis. The Work of Peter L. Berger, Mary Douglas, Michel Foucault and Jürgen Habermas. London & New York: Routledge & Kegan Paul.

 
Charles Malan