Die leerdig vorm deel van die didaktiese literatuur. Die doel van die leerdig (en die didaktiese literatuur) is om een of ander morele boodskap oor te dra of tot lering te dien in een of ander opsig op die gebied van die godsdiens, wetenskap of kuns. In die Moderne encyclopedie der wereldliteratuur verwys Bomhoff (1964: 354) daarna as “onderricht in poëzie”.
Die leerdig het veral in die vroeëre kultuurperiodes voorgekom toe daar nie ʼn duidelike skeiding was tussen kuns en wetenskap nie. Die skrifteken het toe ook nog nie so ʼn belangrike rol gespeel soos vandag nie, sodat daar van die digvorm gebruik gemaak is omdat mense dit maklik kon onthou. Baie gesegdes kan bv. as ʼn leerdig in die kleine beskou word. So ook die emblematapoësie uit die RENAISSANCE.
Aristoteles het die leerdig nie as deel van die poësie beskou nie; baie later het Thomas Hardy dit ook bevraagteken. Nogtans het die leerdig vroeg deel geword van die Westerse literatuur “and has periodically risen to eminence, in antiquity, in the Middle Ages and Renaissance, in English literature of the 17th and 18th centuries, serving poets from the earliest times down to the present … as a valid means of artistic expression”, aldus Preminger (1979: 191) in die Princeton Encyclopedia of Poetry and Poetics.
Hesiodos se werk word as die eerste leerdigte uit die Klassieke tyd beskou. Die didaktiese het hier met tweërlei sake te doen gehad, nl. die oordrag van inligting omtrent sake wat met die mens en sy bedrywighede te doen het en die oordrag van inligting omtrent die tegnieke wat in hierdie bedrywighede gebruik word, bv. Hesiodojs se Erga kai hemerai (Werke en dae).
In die klassieke Griekse literatuur is ʼn onderskeid getref tussen epê (mv. van epos, ‘n lang gedig skryf in heksameter) en melê (mv. van melos, ‘n liriese gedig).
Die leerdig het volop in die Latynse literatuur voorgekom, bv. Vergilius se Georgica en Lucretius se De rerum natura.
Die *Middeleeuse literatuur het oor die algemeen ʼn didaktiese inslag gehad. ʼn Baie bekende leerdig uit die Middeleeue is die Roman de la rose asook sommige van Chaucer se verhale uit The Canterbury Tales. In die Middelnederlandse literatuur is daar leerdigte soos bv. Jacob van Maerlant se Der naturen bloeme en Jacob van Boendaele se Der leken spieghel. Ander voorbeelde is Poema morale, Ormulum, Proverbs of Alfred en Robert Mannyng se Handlyng synne. Die leerdig het voorgekom in die vorm van gedigte, KRONIEKE in rym, ensiklopedieë, hagiografieë, MIRAKELSPELE (Elckerlijc), uittreksels uit kerklike doktrines en versamelings van AFORISMES.
Gedurende die Renaissance was die doel van die leerdig om inligting in artistieke vorm oor te dra. Die leerdig was baie gewild in hierdie tyd, sodat dit die digkuns geheel en al oorheers het. Voorbeelde van Renaissancistiese leerdigte is Vondel se Altaer-geheimenissen, Bespiegelingen van Godt en godsdienst en De heerlijckheit der kerke; Fracastoro se Naugerius sive de poetica dialogus; Tusser se Hundreth Pointes of Good Husbandry; en Dower se Confessio amantis.
Gedurende die 18e eeu was die leerdig veral in Engeland baie gewild. ʼn Groot hoeveelheid didaktiese poësie, geskryf in ʼn magdom metriese patrone, het die lig gesien. Dié poësie het ook ʼn verskeidenheid inligting oorgedra. Die landskap en die landelike lewe was gewilde onderwerpe, bv. Thompson se Seasons, ʼn Klompie digters het die landelike lewe en die etiek gekombineer “but they cannot be taken very seriously today. Indeed at times they appear naively comic”, aldus Cuddon (1979: 191–192) in A Dictionary of Literary Terms.
In Italië was die leerdig nie ʼn baie gewilde genre nie. Daar kom wel poësie voor wat ʼn didaktiese inslag het maar wat nie tot die genre van die leerdig gereken kan word nie, bv. Parini se satires.
Teen die einde van die 18e eeu en die begin van die 19e eeu het die leerdig in die Engelse literatuur ook feitlik uitgesterf.
Die leerdig kom vandag nog sporadies in alle literature voor. Voorbeelde van resenter leerdigte is Jacob Cats se Het houwelijk en Bilderdijk se De siekte der geleerden. In Afrikaans het baie gedigte van die Eerste Taalbeweging ʼn didaktiese inslag gehad, bv. F.W. Reitz se gedig “Klaas Gezwind en zijn paert”.
Raadpleeg ook:
Kohnke, K. 1985. Was lehrt uns dieses Gedicht? Überlegungen zum didaktischen Aspekt von Dichtung am Beispiel haufig vorgeschriebener Gedichte Deutschunterrich in Südafrika, 16(2).
Anna-Marie Bisschoff