LEESDRAMA

Die leesdrama word deur die HAT (1979: 644) omskryf as “(d)rama geskik om gelees te word, maar nie of minder geskik om opgevoer te word”. Die Ensiklopedie van die wêreld se definisie is soortgelyk, maar ietwat meer eksplisiet: “Leesdra­ma, is ʼn drama wat meer geskik is om gelees as om op die verhoog opgevoer te word weens moeilikhede wat die enscenering kan meebring, bv. die omvang, tyd- en ruimtevoorstelling, abstrahering, ens. Bekende voorbeelde is die tragedies van Seneca en Goethe se Faust II” (Anon., 1974: 507).

Die uitgangspunt van albei die voorgaande definisies is klaarblyklik dat ʼn DRAMA bedoel is om gespeel te word, teater te wees, en dat die leesdrama ʼn drama is wat om bepaalde redes in dié doel misluk het, maar tog oor sekere literêre kwaliteite beskik wat dit leeswaardig maak. (Die enkele “moeilikhede” wat die Ensiklopedie van die wêreld in dié verband noem, is oorwegend tegnies van aard en hou nie rekening met die moontlikhede van bv. die HOORSPEL, die rolprent- en die TELEVISIEDRAMA nie.) Die opstellers sou hulle dan ook kon beroep op talle bevestigende uitsprake. Vergelyk bv. F.B. Millett en G.E. Bentley: “(A) play is not a play until it is acted in a theatre before an audience” (1963: 4–5); Allerdyce Nicoll: “…the initial concept of the drama as a work written in the first instance for performance in the theatre … theatrical performances continually serve to reveal qual­ities in the greater plays which may readily be missed in perusal” (1965: 46); Elmer Rice: “Plays are written to be enacted” (1959: 14–15). In sy opstel “Probleme van die versdrama” konstateer D.J. Opperman: “(D)ie versdrama (is) gemeen- skapskuns, volkskuns. Dit word in die eerste plek geskryf om gespeel te word – ʼn leesdrama is ʼn onding. As ʼn versdrama nie speelbaar is nie, wat is die regverdiging vir sy bepaalde vorm?” (1959: 94).

Die definisie van die leesdrama in Dictionary of World Literary Terms (Shipley, 1970: 52) noem ʼn ander moontlikheid: “Closet drama (often derogatory). A play or dramatic poem written for reading, not performance. A loose expression, for many plays written to be produced failed in performance but is read as liter­ature (Shelley’s Prometheus Unbound); while others not written primarily for stage presentation (Ibsen’s Peer Gynt) have been theatrically effective.”

Hierdie definisie hou dus rekening met die feit dat daar tog wel dramas bestaan wat nie in die eerste plek vir opvoering bedoel is nie, maar spesifiek as leesdrama geskryf is. Dié siening word ondersteun deur Peter Watts se uitspraak n.a.v. Peer Gynt: “Ib­sen had never meant Peer Gynt for the stage, any more than Hardy meant The Dynasts or Browning Pippa …” (Ibsen, 1966: 15).

Aan die hand van die aangehaalde definisies is ʼn logiese gevolgtrekking dat daar wel dramas bestaan wat onder die kategorie leesdrama tuisgebring kan word, al is dit dan ongeag (of ten spyte van) die intensie van die outeur. As die uitgangspunt geldig is dat ʼn literêre werk na sy voltooiing ʼn eie selfstandige bestaan voer en dus ʼn eie toekoms het, kan die bestaan van die leesdra­ma nie ontken word nie.

Daar moet nie uit die oog verloor word nie dat alle dramas in werklikheid in bepaalde opsigte “leesdramas” is. ʼn Drama ontstaan immers as TEKS, en wat uiteindelik op die verhoog of waar ook al opgevoer word, is ʼn interpretasie van die teks deur die regisseur en die spelers, met ʼn meerdere of mindere mate van inspraak van die dramaturg (by wyse van o.a. toneelaanduidings of outeurskommentaar). Dit is stellig ook veilig om te aanvaar dat minstens die goeie drama deur meer mense gelees word as wat dit deur toeskouers/hoorders as opvoering ervaar word. Daar is dan ook dramaturge wat met hierdie feit rekening hou en gevolglik die moontlike leser konsidereer.

Ronald Hayman haal in hierdie verband aan uit ʼn brief van Bernard Shaw: “The English peo­ple had for a whole century absolutely refused to read plays. I then set to work to make plays readable” (1977: 92). Aan hierdie voorneme gee Shaw uitvoering deur o.a. sy outeurskommentaar veel meer gedetailleer te maak as wat vir die regisseur nodig is; ʼn neiging wat ook by sommige Afrikaanse dramaturge voorkom.

Die kriteria waarvolgens ʼn werk as leesdrama gekategoriseer kan word, is uiteenlopend van aard. Daar is reeds verwys na die norm van opvoerbaarheid wat deur sommige van die aangehaalde de­finisies eksplisiet of implisiet toegepas word. Die toneelinkleding van Peer Gynt soos deur Ibsen voorgeskryf, kan bv. moeilik gehoorsaam word vir voorstelling in ʼn teater. ʼn Stuk kan ook beskik oor al die moontlikhede om suksesvol opgevoer te word, maar doodgewoon onrealisties lank wees. Tegniese probleme kan egter meestal m.b.v. die moderne tegnologie grotendeels opgelos word en hoef slegs bepalend te wees vir die keuse van ʼn aanbiedingswyse; Peer Gynt se toneelinkleding behoort bv. nie die rolprent- of televisieregisseur enige hoofbrekens te besorg nie.

Daar bestaan verder ʼn neiging om die VERSDRAMA as ʼn gedig (d.w.s. primêr ʼn leesstuk) eerder as ʼn speelstuk te beskou. (Verge­lyk bv. in dié verband Cloete, 1970 en Opperman, 1959.) Dit is dan ook n.a.v. hierdie siening dat Opperman sy aangehaalde uit­spraak – dat die leesdrama ʼn “onding” is – juis in die loop van ʼn bespreking van die versdrama maak. Dit is waarskynlik deels te wyte aan die feit dat die versdrama met sy geneigdheid tot lang spreekbeurte en sy handhawing van ʼn bepaalde versstruktuur, soms stadiger ontwikkel as die prosadrama en gevolglik aan dramatiese spanning inboet. Ernst van Heerden se beswaar teen N.P. van Wyk Louw se Germanicus is bv.: “Die basiese passiwiteit van die hoofkarakter bring mee dat die lang monoloë die handeling laat ‘stol'” (1963: 31).

Die gevaar bestaan natuurlik altyd by die skryf van die versdrama dat die digter die oorhand kry oor die dramaturg en eindig met ʼn werk wat meer poëties as dramaties boeiend is. Die geslaagdheid van die versdrama as drama sal dus daarvan afhang of die versvorm die dramatiese handeling ondersteun en intensiveer. As met leesdrama bedoel word ʼn stuk wat meer geskik is om gelees as om opgevoer te word, sou dit egter ʼn growwe veralgemening wees om alle versdramas per se as leesdramas te beskou.

In die vorige paragraaf is die prinsipiële verskil tussen die speelstuk en die leesdrama reeds geïmpliseer. Dit is nl. geleë in taalaanwending. Die drama werk met ʼn dinamiese spanningsituasie en die taal is deel van die dramatiese handeling. In die speelstuk is die taalgebruik dus in die eerste plek dramaties funksioneel; dit is die dramaturg se vernaamste middel om spanningsverhoudings en konflik uit te beeld. Die taal van die speelstuk is m.a.w. oorwegend appellatief van aard: dit lok reaksie uit en bou span­ning.

Vanselfsprekend sal ʼn drama waarvan die taal die bg. kwaliteite besit terselfdertyd ʼn goeie leesstuk wees. Wanneer die taal op sigself egter nie meer primêr dramatiese handeling is nie, verlaat die stuk die terrein van die speeldrama en betree dit dié van die leesdrama. Die ware leesdrama kan dus omskryf word as ʼn drama waarin die taal eerder liries of epies as dramaties funksioneer. Ten spyte van sy eksterne vorm staan die leesdrama m.a.w. nader aan die LIRIEK of die prosakuns as aan die dramatiese kuns.
(Vgl. DRAMATEKS EN OPVOERING.)

 

Bibliografie

Cloete, T.T. 1970. Onvoorspelbare handeling in ʼn meer voorspelbare vers. In: Cloete, T.T. Kaneel: opstelle oor die letterkunde. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Hayman, R. 1977. How to Read a Play. London: Methuen.

Ibsen, H. 1966. Peer Gynt: A Dramatic Poem (transl. Peter Watts). Harmondsworth: Penguin.

Millett, F.B. & Bentley, G.E. 1963. The Art of the Drama. New York: Appleton-Century-Crofts.

Nicoll, A. 1965. The Theatre and Dramatic Theory. London: Harrap.

Opperman, D.J. 1959. Probleme van die versdrama. In: Opperman, D.J. Wiggelstok. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Rice, E. 1959. The Living Theatre. New York: Harper.

Van Heerden, E. 1963. N.P. van Wyk Louw. Kaapstad: Nasou. (Monografieë uit die Afrikaanse letterkunde 3.)

J.J.P. Beneke