LITERATUURKRITIEK

Kritiek is die literatuurdissipline wat in ons tyd die drukste beoefen word. Dit is ‘n baie ou dissipline, wat sedert die Renais­sance al meer na vore kom. Veral in die huidige tyd, waarin nie net die baie literêre tydskrifte nie maar ook dag- en weekblaaie en selfs die radio kritiese besprekings van literêre werke opneem, is die literêre kritiek hoog aan die orde.

Ten spyte van die algemene toepassing wat die literatuurkritiek vandag vind, word dit dikwels beoefen sonder besinning op die aard en funksie daarvan. Daarom dat dit ‘n taamlik willekeurige, subjektiewe bedryf gebly het tot op die huidige dag. Aan die be­gin van hierdie eeu het LA. Richards reeds gesê: “Critics have as yet hardly begun to ask themselves what they are doing or under what conditions they work” (1950: 227; die boek is in 1924 vir die eerste keer gepubliseer). Die toestand is vandag nie anders nie.

Om mee te begin, moet die kritiek onderskei word van die ander dissiplines waarmee dit saamhang en waarmee dit soms verwar word. Die Engelse term criticism, word soms in so ‘n omvat­tende betekenis gebruik dat dit alle aspekte van die literatuurwetenskap insluit (literatuurgeskiedenis, literatuurteorie, resensies).

Eerstens moet die literatuurkritiek duidelik onderskei word van die LITERATUURGESKIEDSKRYWING. “Er (is) een duidelijk verschil in perspectief tussen de literatuurhistoricus en de literaire criticus. Bij de eerste is dat perspectief prinsipieel historisch (ook met betrekking tot de waardeoordelen), bij de tweede is het betrokken op de actuele waarderingsnormen van de groep waarvan hij tegelijk de vertegenwoordiger en de leidsman is” (Maatje, 1974: 93).

Tweedens moet die literatuurkritiek onderskei word van die komparatisme, al berus die literatuurkritiek dikwels op vergelyking. Die kritikus vergelyk in die algemeen en terloops, terwyl die komparatis deurentyd vergelyk, en sy vergelyking berus op die gelyksoortigheid (van temas, samestellende elemente, ens.) van die werke wat met mekaar vergelyk word (vgl. LITERATUURTEORIE EN KOMPARATISME).

Derdens moet die kritiek onderskei word van die literatuurteorie. Die literatuurteorie hou hom eerstens besig met die wese en verskyningsvorme van die literatuur (wat ons onder literatuur verstaan, wat is sy samestellende elemente) – sake wat die kritiek as vanselfsprekend aanvaar en toepas sonder om dit te beredeneer. Tweedens hou die literatuurteorie hom besig met literêre prinsipes en kriteria vir die evaluering van die literêre werk, ook weer sake wat deur die kritiek sonder beredenering aangeneem en direk toegepas word op die literêre werk. Die kritiek maak van hier­die kriteria gebruik, maar sy eintlike bemoeienis is nie die opstel van teoretiese prinsipes en kriteria nie. “One should be aware of the difference between theorists on criticism and practising literary critics”, aldus Shipley (1964: 81) in die Dictionary of World Literature. Die kritikus gaan uit van aangenome kriteria, wat hy toepas.

Die literatuurgeskiedenis, die komparatisme, die literatuurteorie en die kritiek is vanselfsprekend onderling van mekaar afhanklik, maar hulle is vier duidelik onderskeie dissiplines. Wellek (wat die komparatisme nie hierby noem nie) onderskei wat hy noem “the three central disciplines of literary scholarship – liter­ary theory, criticism, and history … But the three disciplines are and will remain distinct” (1963: x en 20, 36, 39). “The methods of criticism are not identical with … the procedures of literary history” (Vodička, 1964: 75), ook nie met dié van die literatuur­teorie nie. Die literatuurteorie interesseer hom in “de algemene kenmerken van het literaire” (Van Luxemburg, Bal & Weststeijn, 1982: 65), en die literatuurgeskiedenis interesseer hom in die historiese aspekte van die literatuur, terwyl die literatuurkritiek hom besig hou met ‘n besondere geval en alleen indirek histo­ries georiënteer is, alhoewel die kritikus ‘n literatuurhistoriese kennis nodig het wat hy meestal indirek laat geld by die beoordeling van die enkele geval. Dit gaan in die kritiek om “het afzonderlijke werk”. So ‘n benadering “noemt men ergocentrisch: het werk (Grieks: ergon) staat centraal”. Die literatuurkritiek is “strikt werkimmanent, dat wil zeggen dat de criticus zich bij de bestudering van het literaire werk tot de tekst bepaalt” (Van Lux­emburg, Bal & Weststeijn, 1982: 65). (Vgl. ERGOSENTRIESE BENADERING.)

Die studie-objek van die literatuurkritiek is die enkelwerk, en dan meestal die kontemporêre enkelwerk, wat pas van die pers verskyn het. Daarom dat Maatje die kritiek as ‘n aktuele dissipline sien. Wellek & Warren praat van die kritiek as ‘n dissipline gerig op wat hy noem “concrete works” (1963: 36). Shipley verwys na “the examination of particular works” (1964: 82) deur die kritikus. Waar die literatuurgeskiedskrywing nie die plek is vir die bespreking van die enkelwerk sui generis nie, is die kri­tiek met name die dissipline wat hom met die enkelwerk bemoei. Die kritiek is by voorkeur gerig op die afsonderlike werke van ‘n enkele outeur (digbundel, roman, drama), maar meer as een werk van ‘n outeur of selfs sy hele oeuvre kan by die kritiek betrek word, selfs ook die werk van ander skrywers, t.w.v. die bespre­king van die afsonderlike werk onder oë.

Hoewel die kritiek primêr gerig is op die individuele werk, geskied die bespreking daarvan bewustelik of onbewustelik nooit in volkome isolasie nie. Dit spreek immers vanself dat die skrywer van ‘n betroubare kritiek ‘n wyd belese persoon moet wees. Sy oordeel oor die enkele werk sal pas iets werd wees as hy, minder of meer bewus, minder of meer eksplisiet, ‘n bepaalde werk met ander werke in gedagte uit dieselfde tyd of van vroeër, beoordeel. Meestal geskied hierdie vergelykende beoordeling indirek en onbewus, tog is dit daar. “Comparison and analysis … are the chief tools of the critic” (Eliot, 1958: 32–33). Soos Eliot noem ook Shipley “analysis and comparison” as die twee take van die kritikus, en hy sê dan van die kritikus: “If he is to com­pare wisely he must know the works of the past as well as of the present, the products of other nations and cultures as well as his own – the best that has been known and written in the world” (1964: 84). Shipley lê baie klem op wat hy noem com­parative criticism.

Die kritiek is vir die literatuurgeskiedskrywing en die RESEPSIE-ESTETIKA een van die vernaamste bronne waaruit vasgestel kan word hoe daar in ‘n bepaalde tyd oor ‘n sekere werk geoordeel is, wat die norme en kriteria van beoordeling in ‘n bepaalde tyd was, ens. Die kritiek van ‘n bepaalde tyd is een van die hoofbronne vir die vasstelling van die literêre norme van daardie tyd (Vodička, 1964: 74):

“1. The norms are contained in the literature itself, that is, in the works that are being read and liked, and by which are measured and evaluated new, or additional, literary works.

“2. Normative poetics or literary theories of the time allow us to know the ‘rules’ by which the literature of a certain period ‘should’ be guided.

“3. The richest source are statements critically evaluating litera­ture, the viewpoints and methods applied in this evaluation, and critical requirements directed at literary creation. The historian’s attention is directed especially towards this critical activity, because it is practically the only documentation of the reader’s ac­tive and evaluative attitude to the work. The critic as one of the group of individuals participating in literary life and grouped around the work has his well-defined function, it is his duty to take a stand to work as an esthetic object and to capture its concretization, that is, its shape from the standpoint of the literary and esthetic perception of the period, and to express himself as to its value within the system of existing literary values; his crit­ical judgement determines the extent to which the work is living up to the demands of literary development.”

Dit spreek vanself dat agter elke literatuurkritiek ‘n bepaalde opvatting van die literatuur, bepaalde kriteria, d.w.s. een of ander literatuurteorie, skuilgaan. Minder of meer direk is daar altyd skakeling tussen die kritiek en die literatuurteorie, maar dit is nie die taak van die kritiek om sélf literatuurhistorikus of literatuurteoretikus te wees nie.

Die besondere taak van die kritiek lê in die eerste plek daarin dat dit die boek aan die man bring. Dit is ‘n diens aan die leser, dit het as spesifieke taak “to know and to make known” (Shipley, 1964: 83). Die kritiek het dus ‘n baie pragmatiese en aktuele oogmerk, deurdat dit meestal met betrekking tot die literatuur van die dag leiding aan die lesende publiek gee.

Die hooftaak van die literatuurkritiek is om ‘n oordeel uit te spreek. Dit is trouens ‘n verantwoordelikheid wat rus op die kriti­kus, wat altyd moet weet dat hy normerend te werk gaan en die literatuur ‘n diens maar ook ‘n ondiens kan bewys: “There are periods in which criticism is more of a brake on the develop­ment, at other times it serves as one of its mainsprings, there are periods in which criticism aids the public in reorientating its taste, and times where by contrast it is the guardian of the traditional values of the past. There are, however, also times when criticism neglects some of its functions, for instance that of valu­ation or of describing the concretization, which has its natural consequences for the value system of the period; the hierarchy of values is vacillating and literary taste is in a condition of illdefined multivaluedness” (Vodička, 1964: 74–75).

Wellek behandel die geskiedenis van die term kritiek/kritikus (uit die Grieks krités: a judge, en krineín: to judge) in die hoofstuk “The term and concept of literary criticism” (1963). Daaruit blyk dit dat die eintlike oogmerk van die kritiek die beoordeling, d.w.s. die evaluering van die literêre werk is, “in the more narrow sense … the study of concrete works of literature with the em­phasis on their evaluation” (Wellek, 1963: 35). Daarom praat Shipley van “judicial criticism”; “… the art of criticism is to judge well” (1964: 84). “Die Betrachtungsweise der literarischen Kritik ist urteilend und wertend” (Kohlschmidt & Mohr, 1958: 64). So sien ook Van Luxemburg, Bal & Weststeijn verduideliking en evaluering as die twee hooftake van die kritikus (1982: 65). Veral Richards (1950: 2, 25, 35) het die klem baie swaar geplaas op evaluering as die onvermydelike taak van die kritikus. Hy het sy siening van die kritikus baie bondig saamgevat in die volgende: “The qualifications of a good critic are three. He must be an adept at experiencing, without eccentricities, the state of mind relevant to a work of art he is judging. Secondly, he must be able to distinguish experiences from one another as regards their less superficial features. Thirdly, he must be a sound judge of values” (Richards, 1950: 114).

Hoewel die kritiek altyd die werk van ‘n individu is, sal die goeie kritikus se kritiek ‘n verteenwoordigende waarde hê. “His judge­ment is only of general interest in so far as it is representative and reflects what happens in the mind of a certain kind, devel­oped in a certain fashion” (Richards, 1950: 22). Hierdie representatiewe kritiek is moontlik: “Although each critic must judge personally, human individuals have enough in common so that communication is usually possible, and enough agreement de­velops to justify the critical enterprise” (Shipley, 1964: 87). Vodička (1964: 80) praat daarom ook van “the typical mediators between the work and the reader, the critics”.

EVALUERING, as eindoogmerk van die kritikus, moet vanselfsprekend voorafgegaan word deur of saamgaan met ‘n motivering van die oordeel. Die motivering van enige literatuurkritiese evaluering lê in die beskrywing, verduideliking, analise en interpretasie van die werk. “Criticism … must always profess an end in view, which, roughly speaking, appears to be the elucidation of works of art and the correction of taste” (Eliot, 1958: 24).

Shipley onderskei drie fases in die kritiek: “The intuitive response comes first, the instinctive, personal reaction … the next step is fuller understanding … The final step is judgment. This is the ideal order: instinctive response, voluntary understanding, final evalu­ation” (1964: 87). Wat Shipley hier sê van die professionele kriti­kus, geld natuurlik ook vir elke leser: elke leser is ‘n kritikus, maar nie elke leser se kritiek word mondeling of skriftelik oorgedra nie, of het vir ander lesers waarde nie. Bogenoemde ideale orde sal wel nie in elke kritiese handeling voorkom nie, maar die interpretasie of adekwate verstaan kan nie van die evaluering geskei word nie. “In its principal manifestations, criticism is likely to be interpretative or judicial, though in practice the types merge” (Shipley, 1964: 83). Alhoewel die kritiese aktiwiteit nie altyd stap vir stap deur die drie opeenvolgende stadia sal verloop soos Shipley dit aandui nie, is daar twee belangrike sake waarom dit egter gaan. Eerstens: elke stuk goeie kritiek hang van ‘n irrasionele insig af. N.P. van Wyk Louw het ‘n baie mooi uiteensetting hiervan gegee in sy opstel “Kritiek oor kritiek”: alle kritiek het (a) ‘n saaklike en feitlike aspek (wie die skrywer is, wanneer die werk ontstaan het, ens.), wat rasioneel gehanteer kan word, en (b) ‘n estetiese aspek, wat ‘n waardeoordeel vereis wat afhang van hierdie “insig”. Hierdie insig kan deur ontleding en beredenering aanneemlik gemaak word en deur die kritikus oorgedra word, maar alle ontleding “is logies van die insig afhanklik, nie die insig van hom (die ontleding, T.T.C.) nie” (Louw, 1939: 151). Dit is trouens moontlik dat die kritikus alles van die literêre werk aan, sê maar ‘n botanikus, verduidelik sonder dat lg. tot waardering gebring kan word. Tweedens: hoe irrasioneel die insig (“in­tuitive response”, “instinctive reaction”) ook al is, moet die kritikus sy oordeel beredeneer. Evaluering en verstaan (verstaanbaar maak) gaan saam. “To understand a poem comes to the same thing as to enjoy it for the right reasons … It is certain that we do not fully enjoy a poem unless we understand it; and on the other hand, it is equally true that we do not fully understand a poem unless we enjoy it” (Eliot, 1965a: 15).

As dit vir die kritikus sélf geld dat hy eers moet verstaan voordat hy kan waardeer, is dit vanselfsprekend dat hy, as bemiddelende figuur tussen die werk en die leser (meestal die ongeskoolde leser wat hom op die kritikus moet verlaat), die werk wat hy bespreek moet verduidelik voordat of met dat hy dit evalueer.

Kritiek is ‘n diens aan die publiek, “to protect the public from the bad and to recommend the good” (Shipley, 1964: 83). Hiermee is dan meteen gesê dat die taak van die kritiek nie alleen lê in die aanprysing van en bemoeienis met die goeie nie maar ook in die afwys van en bemoeienis met die swakke of slegte. In sy opstel “The frontiers of criticism” sê Eliot dat die taak van die kritikus nie net daarin lê “to promote the understanding and enjoyment of literature”, d.w.s. goeie literatuur nie, maar die kriti­kus het ook “the negative task of pointing out what should not be enjoyed” (1965a: 115).

Daar word gewoonlik verskillende soorte kritiek onderskei. Die mees aanvaarbare vorm van die kritiek is die normatiewe. Onder norm word hier nie verstaan etiese norm(e) nie maar suiwer literêre norm(e). Die kritiek wat hom met etiese vraagstukke t.o.v. die literatuur besig hou, word die moralistiese kritiek of etiese kritiek genoem. Reeds by die Grieke kry ons hierdie twee soorte. Aristoteles met sy Poëtika word gesien as die verteenwoordiger van die suiwer literêre of normatiewe kritiek, terwyl Plato ge­sien word as die verteenwoordiger van die moralistiese kritiek.

Van die normatiewe kritiek (judicial criticism), wat ‘n waardeoor­deel uitspreek, gegrond op literêre beoordelingskriteria en wat ‘n representatiewe vorm probeer aanneem, word ook die sg. im­pressionistiese kritiek onderskei, waarin die kritikus hom nie baie steur aan algemene kriteria en ‘n representatiewe oordeel nie. Die impressionistiese kritikus laat sy eie, persoonlike smaak geld en sê sonder duidelike motivering waarvan hy/sy “hou”. Die im­pressionistiese kritiek dra ‘n baie duidelike persoonlike stempel. Voorbeelde van die impressionistiese kritiek is te vind by Lodewijk van Deyssel in Nederland, Hazlitt in Engeland en Anatole France in Frankryk. Die impressionistiese kritikus probeer gewoonlik om van sy kritiek sélf ‘n literêre kunswerk te maak. Van Deyssel het openlik erken dat die literêre werk wat deur hom gekritiseer word, vir hom blote aanleiding is tot estetiese ontboeseming.

Die onderskeid tussen die normatiewe en impressionistiese kri­tiek val min of meer saam met die onderskeiding tussen die sg. objektiewe en subjektiewe kritiek. ‘n Element van subjektivisme kan nooit uitgeskakel word nie, ook nie in die normatiewe of objektiewe kritiek nie, maar lg. probeer nietemin om ‘n algemeen geldige uitspraak te gee, gegrond op algemeen aanvaarde krite­ria, m.a.w. ‘n representatiewe oordeel. Die impressionistiese kri­tiek is ‘n meer emotiewe of affektiewe en die normatiewe kritiek ‘n meer beredeneerde en analitiese kritiek.

Sekere kritiese skole het in die opkoms van die kritiek sedert die vorige eeu wye bekendheid geniet. Baie bekend is bv. die sg. PRACTICAL CRITICISM, wat sy oorsprong by I. A. Richards het, met as belangrikste publikasies Principles of Literary Criticism (1924), Science and Poetry (1926) en Practical Criticism (1929). Richards was ook ‘n baie belangrike voorloper in die formulering van die oogmerke en praktyk van die kritiek. ‘n Ander belangrike kritiese skool is die Amerikaanse NEW CRITICISM, wat ‘n belangrike stoot gekry het van John Crowe Ransom se The New Criticism (1941).

Baie vroeë pioniers in die formulering van kritiese beginsels was Dryden met sy Essay on Dramatic Poesie (1668),

Pope met sy Essay on Criticism (1711) en Coleridge met sy Biographia literaria (1817).

Kritiek is nie tot resensies beperk nie maar kan ook in die vorm van artikels of essays voorkom, alhoewel die dagbladresensie teen die tweede helfte van die 20e eeu baie algemeen geword het.

Behalwe in die gedaante van die bekende resensies of kritiese artikels of studies, kom die kritiek ook in ander vorme voor, in SATIRES, PARODIEë, PERSIFLAGES, HEKELING. Voorbeelde daarvan vind mens in N.P. van Wyk Louw se “Mooi prosa” en “Kritiese skole” in Lojale verset, of in D.J. Opperman se “Met apologie”-reeks in Kuns-mis.

Bekende voorbeelde in Nederlands is die Tagtiger Frederik van Eeden se Grassprietjes van Cornells Paradijs (1885), waarin hy die Nederlandse poësie van voor Tagtig in hekelverse nadoen, of Piet Paaltjes se Snikken en grimlachjes (1867), waarin hy die poësie van die ROMANTIEK lig spottend nadoen.

Die term critique (i.p.v. criticism) word in Engels gebruik vir article of review of essay, waarin ‘n literêre werk of werke krities bespreek word.

Die vroegste deeglike besinning in die 20e eeu oor die kritiek vind ons by Richards (1924/1950 en 1965). Eliot (1958,1964, 1965a en b) het as skrywer hom uitvoerig besig gehou met die kritiek. Belangrik is die werk van Wellek (1955 en 1963), ook saam met Warren (1949) en Brooks (1959). Lees ook Abrams (1958), veral Frye (1957 en 1963) en Vodička (1964). In Afrikaans het Van Wyk Louw (1986) hom in talle geskrifte besin oor die kritiek. Goeie oorsigte van die ontwikkelingsgang van die literêre kritiek vind mens in Merker en Stammler (1958), Wellek (1955), Wimsatt en Brooks (1959) en Hall (1963).

(Vgl. ook EVALUERING (LITERêRE) en LITERATUUR.)

 

Bibliografie

Abrams, M.H. 1958. The Mirror and the Lamp: Romantic Theory and the Critical Tradition. New York: Oxford University Press.

Eliot, T.S. 1958. The function of criticism. In: Eliot, T.S. Selected Essays: Studies in the Relation of Criticism to Poetry in England. London: Faber & Faber.

Eliot, T.S. 1964. The Use of Poetry and the Use of Criticism. London: Faber & Faber.

Eliot, T.S. 1965a. The frontiers of criticism. In: Eliot, T.S. On Poetry and Poets. London: Faber & Faber.

Eliot, T.S. 1965b. To Criticize the Critic and Other Writings. Lon­don: Faber & Faber.

Frye, N. 1957. Anatomy of Criticism: Four Essays. Princeton: Princeton University Press.

Frye, N. 1963. The Well-tempered Critic. Bloomington: Indiana University Press.

Hall, V. 1963. A Short History of Literary Criticism. New York: New York University Press.

Kohlschmidt, W. & Mohr, W. 1958. Literarische Kritik. In: Mer­ker, P. & Stammler, W. (Hrsg.). Reallexikon der deutschen Literaturgeschichte. Berlin: De Gruyter.

Louw, N.P. van Wyk. 1939. Lojale verset. Kaapstad: Nasionale Pers.

Louw, N.P. van Wyk. 1986. Versamelde werke, prosa 1 &2. Kaap­stad: Tafelberg en Human & Rousseau.

Maatje, EC. 1970/1974. Literatuurwetenschap. Utrecht: Oosthoek.

Merker, P. & Stammler, W. (Hrsg.). 1958. Reallexikon derdeut­schen Literaturgeschichte. Berlin: De Gruyter.

Richards, I.A. 1924/1950. Principles of Literary Criticism. Lon­don: Routledge & Kegan Paul.

Richards, I. A. 1964. Practical Criticism: A Study of Literary Judgement. London: Routledge & Kegan Paul.

Van Luxemburg, J., Bal, M. & Weststeijn, W.J. 1982. Inleiding in de literatuurwetenschap. Muiderberg: Coutinho.

Vodička, F. 1964. The history of the echo of literary works. In: Garvin, P.L. (ed.). A Prague School Reader on Esthetics, Liter­ary Structure and Style. Washington: Georgetown University Press.

Wellek, R. 1955. A History of Modem Criticism, 1750–1950. Lon­don: Cape.

Wellek, R. 1942/1963. Concepts of Criticism. New Haven: Yale University Press.

Wellek, R. & Warren, A. 1949/1963. Theory of Literature. New York: Harcourt, Brace & World.

Wimsatt, W.K. & Brooks, C. 1959. Literary Criticism: A Short History. London: Routledge & Kegan Paul.

 
T.T. Cloete