MELODRAMA

Die woord melodrama is ʼn kombinasie van die woord melos (lied, musiek) met die woord DRAMA. Die term het in die 18e eeu veral twee betekenisse gehad. Aan die een kant is dit gebruik vir ʼn dramatiese opvoering waarin musiek sonder woorde gedien het om emosies weer te gee, soos in Rousseau se Pygmalion, en aan die ander kant vir tonele waarin woorde met musiekbegeleiding uitgespreek is, soos in Beethoven se Fidelio. Later is dit egter gebruik vir ʼn spesiale soort populêre drama wat in die 19e eeu ontwikkel het. Die Franse dramaturg Pixérécourt word algemeen as die eerste skrywer van hierdie soort melodrama beskou. Sy drama Coelina is in 1800 in Parys opgevoer en het daarna in ʼn Engelse verwerking, A Tale of Mystery, ook in Londen groot sukses behaal. Die melodrama wat hom veral op die groot massas gerig het, was deur die hele 19e eeu baie gewild in Engeland; talle dramaturge het met verwerkings van ROMANS of oorspronklike stukke daaraan meegedoen, maar die meeste van hulle is vandag vergete. Onder hulle was Boucicault, een van die produktiefste dramaturge wat in sowel Engeland as Amerika sukses behaal het. Aanvanklik is musiek gereeld gebruik om die stemming te versterk en die spanning te verhoog; dit is oorspronklik bygevoeg om die monopolie van Covent Garden en Drury Lane te ontduik, die enigste teaters in Londen wat toegelaat is om gewone dramas op te voer. Later het die musikale element op die agtergrond geraak en selfs heeltemal verdwyn.

In hierdie tipe drama is die KARAKTERS stereotiep en hulle toon weinig kompleksiteit; ʼn foutlose held en heldin kom meestal teen ʼn gewetenlose skurk te staan. Die PLOT het baie uiterlike handeling, met ʼn groot aantal sensasionele insidente wat losweg aan mekaar gevoeg is. Daarin word gewoonlik getoon hoe die skurk die held op elke moontlike manier probeer vernietig; ná talle opwindende ontkomings triomfeer hulle eindelik oor hom. In hier­die soort intrige geskied daar poëtiese geregtigheid deurdat deug beloon en ondeug gestraf word; die morele les word ook duidelik onderstreep. Daar is egter ook ʼn ander tipe intrige waarin die held of heldin ná ʼn heldhaftige stryd en baie ontberings uiteindelik ondergaan – “the melodrama of defeat”, soos J.L. Smith (1973) dit noem; hier is dit veral die patetiese aspek wat beklemtoon word. Die melodrama maak ruim gebruik van skouspelagtige toneeleffekte; so bv. word brandende geboue en sinkende skepe getoon en vorm indrukwekkende natuurtonele die agtergrond van die handeling. Daarteenoor vind ons egter ook die huislike melodrama wat in ʼn meer realistiese omgewing afspeel. Veral kenmerkend van hierdie tipe drama is die strewe om soveel moontlik op die gevoelens van die toeskouer te speel, om hom van vrees te laat sidder of tot trane te beweeg.

Die term melodrama is eintlik van toepassing op bg. soort dra­ma wat in die 19e eeu gefloreer het. Dit word egter ook deur kritici gebruik om dramas uit ander periodes wat soortgelyke eienskappe het, te beskryf. So het H.D.F. Kitto sommige dramas van Euripides as melodramas bestempel; verskeie Elizabethaanse dra­mas, bv. The Duchess of Malfi, dramas uit die 17e eeu en ook werke van moderne dramaturge soos O’Neill, Miller en Tennes­see Williams is al dikwels melodramas genoem. Hierdie kritici het die term gewoonlik in ʼn neerhalende sin gebruik om dramas aan te dui wat volgens hul oordeel nie werklik die peil van die TRAGEDIE bereik het nie. In die jongste verlede het kritici soos E. Bentley, R.B. Heilman en J.L. Rosenberg egter die positiewe eienskappe van die melodrama beklemtoon. Bentley (1965: 216) wys daarop dat oordrywing en die Idem op die patetiese tot die basiese elemente van die drama behoort, en by beweer: “Melodra­ma is drama in its elemental form; it is the quintessence of drama.” Heilman noem alle stukke melodramas waarin die hoofkarakters nie in hulself verdeel is nie, maar met onverdeelde gevoelens as “whole characters” staan teenoor die magte van buite wat hulle vervolg of met rampe oorweldig. Dit gaan ʼn bietjie ver, want hiervolgens word baie dramas wat tot dusver as tragedies beskou is, nou melodramas genoem. Nietemin vestig hierdie beskouing die aandag daarop dat, al is dit miskien in ʼn ruwe vorm, ʼn melodrama tog die essensiële elemente van drama bevat. (Vgl. ook TELEVISIEDRAMA.)

Oor die melodrama bied J.L. Smith die beste inleiding. Sien verder die betrokke hoofstuk in Bentley (1965) en die artikel van Rosenberg (1965). Heilman (1968) gee ʼn ietwat afwykende omskrywing van melodrama, terwyl Kitto (1950) melodrama by Euripides vind.

 

Bibliografie

Bentley, E.C. 1965. The Life of the Drama. London: Methuen.

Heilman, R.B. 1968. Tragedy and Melodrama. Seattle: Univer­sity of Washington Press.

Kitto, H.D.F. 1950. Greek Tragedy. London: Methuen.

Rosenberg, J.L. 1965. Melodrama. In: Corrigan, R.W. (ed.). Tragedy: Vision and Form. San Francisco: Chandler.

Smith, J.L. 1973. Melodrama. London: Methuen.

Thorbur, D. 1976. Television melodrama. In: Adler, R. & Cater, D. (eds). Television as a Cultural Force. New York & London: Praeger.

 
P.J. Conradie