Die Griekse woord mímesis beteken navolging, nabootsing, voorstelling, afbeelding. Vgl. mimos, wat nabootser of toneelspeler beteken. Die begrip is afgelei van die werkwoord miméomai, naboots. Die begrip is afgelei van die werkwoord miméomai, naboots. Die begrip kom in die ALGEMENE LITERATUURWETENSKAP en kunsfilosofie voor en bevat die veronderstelling dat ‘n kunswerk in staat is om die werklikheid na te boots. Die begrip word algemeen gebruik om die verhouding tussen die kunswerk en die werklikheid, en spesifiek die kunswerk as nabootsing van die werklikheid, te beskryf. Hierdie verhouding word ook deur begrippe soos REPRESENTASIE en REALISME aangedui.
Die begrip is in die Klassieke tyd in ‘n estetiese konteks deur Plato gebruik. In Boek X van die Politeia bespreek Plato die rol van die kuns in die Ideale Staat. Sy grootste beswaar teen die kuns en literatuur is gebaseer op die mimesisbeginsel. Op grond van sy Ideëleer redeneer Plato soos volg: die waarneembare “werklikheid”, wat bestaan uit voorwerpe, verskynsels en situasies, is inderdaad maar onvolmaakte afbeeldings van die volmaakte Idee agter die waarneembare werklikheid. Wanneer die kunstenaar die “werklikheid” naboots, is dit dus ‘n nabootsing van ‘n nabootsing, twee keer verwyderd van die volmaakte Idee en dus as sodanig nutteloos. Ter illustrasie van sy kunsopvatting gebruik Plato die voorbeeld van drie beddens: wanneer ‘n mens na ‘n skildery van ‘n bed kyk, is daar in werklikheid drie beddens en nie net een nie. Daar is nl. (1) die Idee “bed” (d.i. die wesenlike van die begrip “bed”); (2) die bed wat deur die skrynwerker gemaak is; en (3) die afbeelding van die bed in ‘n skildery. Die skilder is alleen maar ‘n nabootser van wat reeds nageboots is.
Dieselfde geld ook vir die digter wat as nabootser niks anders doen as om dit wat bestaan in die Ideëwêreld en die afbeelding daarvan in die waarneembare werklikheid na te boots nie.
Aristoteles se mimesisteorie vorm die kernargument van sy beroemde Poëtika en dus van ‘n lang ontwikkeling waarin Plato se Ideëleer ‘n sentrale rol vervul. Aristoteles fundeer sy mimesisteorie op meer realistiese grondslae en ag die kuns baie waardevoller as Plato. Aristoteles verskil van Plato se Ideëleer. Volgens Aristoteles bestaan ‘n voorwerp op sigself en het dit sowel materie as vorm. Die vorm bepaal die wesenlike van die voorwerp en is nie afhanklik van ‘n verskuilde Idee agter die volmaakte werklikheid nie. Artistieke nabootsing kan dus die wesenlike van die voorwerp wat nageboots word, weergee, sonder om afhanklik te wees van ‘n Idee agter die waarneembare voorwerp. Aristoteles neem die konkrete werklikheid as uitgangspunt vir die kuns: dit is die digter se taak om elemente uit die werklikheid te selekteer, vorm daaraan te gee en dit tot ‘n verstaanbare struktuur te verwerk wat die wesenlike van en die universele elemente rakende die geselekteerde voorwerp openbaar om sodoende by te dra tot die verstaan van die menslike bestaan. Alhoewel sowel Plato as Aristoteles van mening was dat die kuns op ‘n bepaalde manier nabootsing van die werklikheid is, gee Aristoteles ‘n fyner omskrywing van en nuwe rigting aan die mimesisbegrip: die kuns is nie net ‘n spieëlbeeld van die werklikheid nie, maar ‘n nuwe struktuur wat tot stand kom deur die interpreterende visie van die kunstenaar. Aristoteles se opvatting oor mimesis was dan ook vir ‘n baie lang tyd die belangrikste bydrae tot die beskouing van die verhouding tussen kuns en werklikheid.
Alhoewel Aristoteles se werk tydens die MIDDELEEUE bekend was, is daar weinig aandag aan die Poëtika gegee. Daar is ook weinig oor die verhouding tussen literatuur en die werklikheid geteoretiseer. Die mens het ‘n sentrale rol in Plato en Aristoteles se teorie vervul. Die Middeleeuse mensbeskouing het die klem op die mens se verhouding tot die bonatuurlike, nl. God, hemel en hel laat val. Die didaktiese doelstelling van die literatuur was veel belangriker as die literatuur se estetiese kwaliteite of werklikheidsgetrouheid. Die alledaagse werklikheid was ‘n wesenlike element van die Middeleeuse literatuur en veral van die Christelike toneel. Hierin is Bybelse verhale in terme van die bekende, alledaagse werklikheid geïnterpreteer. Die *klug was ‘n kunsvorm wat in hierdie tyd baie gebruik is en het dit spesifiek ten doel gehad om die lewens van die alledaagse mens as verteenwoordiger van ‘n groep, beroep of sosiale stand na te boots. Die klem het egter op die didaktiese doel van die nabootsing geval. Die Middeleeuse samelewing het nie werklik bestaande maatskappystrukture krities beoordeel nie en het nog minder oor die weergawe daarvan in die literatuur gedebatteer.
Die RENAISSANCE het die fokus weer op die klassieke skrywers se werk laat val. Aristoteles se Poëtika is herontdek en sy mimesisteorie in die literatuur is selfs sterker beklemtoon as deur Aristoteles self. Terwyl die beginsel van nabootsing weer eens in die sentrum van die literêre debat gestaan het, is die teorie dat mimesis die moontlikhede of waarskynlikheid van die realiteit uitbeeld, deur baie kommentators aangegryp wat van Aristoteles se oorspronklike idees afgewyk het. Terselfdertyd is die begrip mimesis gekoppel aan die begrip imitatio. Hierdie koppeling van die twee begrippe tydens die Renaissance veroorsaak tot vandag toe verwarring. Mimesis het die “nabootsing van die natuur” beteken, terwyl imitatio die betekenis gehad het van “nabootsing van die werk van die klassieke skrywers”. Tydens die Renaissance word die beginsel van nabootsing van die natuur byna tot ‘n kultus verhef. Die strewe na ‘n natuurgetroue weergawe van die werklikheid word die ideaal van die kunsteorie. Die skone is egter benadruk, en die nabootsing was dus ‘n nabootsing van ‘n geïdealiseerde werklikheid. Daar is geglo dat die beste manier om die natuur na te boots in die nabootsing van die klassieke skrywer gelê het. Algaande het die werklikheid sinoniem geword met die begrip “ideale werklikheid”, wat op sy beurt weer ‘n hoogtepunt tydens die KLASSISISME bereik het.
Sir Philip Sydney se An Apology for Poetry (1595) kan beskou word as ‘n belangrike baken in die literatuurteorie van die Renaissance. Sydney beaam Aristoteles se mening dat die digter wel die natuur naboots en dat die digter nie gebonde is nie: hy kan die voorwerp, gebeure of verskynsels ook beter en mooier voorstel as wat dit in die waarneembare werklikheid bestaan. Sydney ondersteun ook Aristoteles se idee dat die universele waarhede wat in die werklikheid waarneembaar is die “boustene” vorm waarmee die digter moet werk. Hy onderskryf terselfdertyd ook die feit dat die beginsel van waarskynlikheid en noodsaaklikheid bepalend inwerk op die wyse waarop die “boustene” gerangskik moet word. Opsommenderwys kan daar van die mimesisteorie in die Renaissance die volgende gesê word: dit het nie ‘n letterlike kopiëring van die empiriese werklikheid behels nie, maar was eerder ‘n poging om die wesenlike van die natuurlike werklikheid waartoe die mens behoort, weer te gee.
Die teruggryp na die Klassieke wat met die Renaissance begin het, het ‘n hoogtepunt in die Klassisisme van die 17e en 18e eeu bereik. Die nabootsing van die literatuur staan steeds sentraal in die literatuur, maar dit is nou ‘n geïdealiseerde natuur wat nageboots word. Die literatuur boots geselekteerde voorwerpe, tendense en situasies uit die ongeselekteerde natuur na. Hierdie seleksie is nou verbonde aan die etiese voorskrifte van die tyd, en die geselekteerde elemente van die werklikheid word verhef tot ‘n hoër waarde as die ongeselekteerde werklikheid. Werklikheidsgetrouheid mag egter nie as eerste prioriteit gestel word nie, aangesien dit kon beteken dat die minder goeie elemente wat nageboots is, aanvaar i.p.v. verwerp word. Groot klem is ook gelê op die nakoming van aspekte soos waarskynlikheid, geloofwaardigheid, orde en reëlmaat. Die nabootsing was dus as ‘t ware ‘n “verbetering” van dit wat nageboots is en is algemeen beskryf deur die Franse uitdrukking la belle nature.
Die mees gesaghebbende werk oor die literatuurteorie was Boileau se Art poétique (1674). Boileau se teorie was kortliks die volgende: literêre kuns is ‘n nabootsing van die menslike natuur. Die ideaal waarna gestreef moes word, was die ewige waarheid. Die ewige waarheid kon slegs weergegee word deur ‘n nabootsing van die klassieke skrywers en deur die rede te volg. Oorspronklikheid is grootliks beperk, aangesien die rede/gesonde verstand slegs dit aanvaar wat waarskynlik is: niks uitsonderliks mag in die literatuur weergegee word nie, al het dit in die werklikheid bestaan. Tydens die Klassisisme versmelt die mimesisbegrip soos dit deur Aristoteles gebruik is en die imitatio-begrip van die Renaissance saam tot een geheel. Namate die romankuns begin ontwikkel het, het die Klassisisme se invloed begin afneem. Die klem het na die opkoms van die *roman vanaf die universele en grootse na die individuele en alledaagse verskuif. Die nabootsing van die lewens van alledaagse mense het ten koste van die bevordering van die skoonheidsideaal begin ontwikkel. Dit is ook in hierdie tyd dat die teorieë agter die begrip nabootsing begin verwater het en dat die begrip representasie as sinoniem vir mimesis, nabootsing of imitatio gebruik is. Alhoewel daar groot ontwikkeling gekom het in die literêre style na die Renaissance, was daar ‘n gaping tussen teorie en praktyk tydens die Klassisisme, aangesien die literêre teorie basies nog met dieselfde mimesisbegrippe van Aristoteles en Plato, wat tydens die Renaissance herontdek is, gemoeid was.
Die ROMANTIEK was o.m. die uitvloeisel van ‘n reaksie teen die strenge nakoming van die klassisistiese idees en die onderdrukking van die skrywer/digter se individuele en kreatiewe denke. Die Romantiek was ‘n strewe tot bevryding van die kuns van die beperkinge van die Klassisisme, ‘n bevryding van die strenge voorskrifte, die nabootsing van die Klassieke en die onderwerping van die kuns aan die ratio, die rede. Die Romantiek verwerp die mimesisbeginsel wat die voorafgaande teorie oorheers het. Begrippe soos skepping, inspirasie, oorspronklikheid en verbeeldingskrag vervul ‘n sentrale rol in die Romantiek. Die romantici sien die literatuur as ‘n eie wêreld waarin die werklikheid deur die byna goddelike kreatiwiteit van die digter geskep word. Die aardse werklikheid is van minder belang — die Romantici sien die werklikheid as die nuwe en meer verhewe werklikheid wat die digter met sy unieke geestelike en kognitiewe vermoëns skep. Die literêre kunswerk is ‘n nuwe wêreld wat ontstaan in die interne verbeeldingswêreld van die digter en uiteindelik omvou word deur sy unieke kreatiwiteit. Die primêre bron van die kunswerk is nie meer die natuur nie, maar die emosie, gewaarwordinge en idees van die digter se eie geesteswêreld. Die kunswerk is nie meer ‘n nabootsing van die natuur nie; dit is ook nie meer ‘n weergawe van die “verbeterde” werklikheid soos deur die Klassisisme voorgestaan nie maar ‘n nuutskepping waarin die emosionele belewing van die digter gerespekteer word. Die kernvraag is nie meer of die kunswerk werklikheidsgetrou is nie, maar eerder of dit eg en opreg is, of dit ‘n korrekte weergawe van die skrywer se emosionele toestand is tydens die proses van skepping.
Een van die bekendste teoretiese werke oor die Romantiek is Wordsworth se Preface van sy Lyrical Ballads (1800), waarin hy sy teorie uiteengesit het en waarvan die uitspraak “Poetry is the spontaneous overflow of powerful feelings” die slagspreuk geword het.
Tydens die 19e eeu, en veral tussen 1830 en 1880, staan die verhouding tussen literatuur en werklikheid weer sentraal in die literêre debat en word daar wegbeweeg van die romantiese teorieë. Sowel die literatuur as werklikheidsopvatting van hierdie periode verskil van dié in voorafgaande tydperke. Die begrip *Realisme staan in die brandpunt van die literêre debat en is onlosmaaklik verbonde aan die belangrike plek wat die romankuns in die literatuur in hierdie tyd inneem. Die term verwys na ‘n konkrete weergawe of representasie van die alledaagse werklikheid, hetsy positief of negatief in teenstelling met idealisering of FANTASIE. Dit ontwikkel uit die toenemende belangstelling in die sosiaal-maatskaplike probleme van die 19e eeu. Die klem val nou op die burgerstand van die geïndustrialiseerde samelewing in Europa. Daar word geredeneer dat die eietydse werklikheid, insluitende die “minder verhewe” temas van ellende, armoede, drankmisbruik en swak lewensomstandighede so getrou moontlik weergegee moet word. “Verbeelding” word ‘n onaanvaarbare term terwyl “waarskuwing” hoë aansien geniet. Hoe getrouer die literatuur die waarheid — die praktiese, alledaagse lewe — weergee, hoe nuttiger is dit vir die lesers. Die literatuur word ook nie meer in ‘n verhewe taal geskryf nie, maar in eenvoudige spreektaal om deur soveel mense moontlik verstaan te word (vgl. NATURALISME).
Die eerste paar dekades van die 20e eeu is deur die MODERNISME oorheers. Hierdie stroming het alle vorige tradisies, verwysingsraamwerke en metodes verwerp en op die eksperimentele aspek van literêre style en vorme gekonsentreer. Die literatuur was nie gemoeid met ‘n realistiese representasie van die werklikheid nie, maar het veel eerder gekonsentreer op die weergawe van die karakters se emosionele belewenisse d.m.v. simbole en tekens. Die sg. BEWUSSYNSTROOMTEGNIEK was ‘n baie gewilde metode om die karakters se ideëwêreld weer te gee.
Tans staan die hele mimesisteorie na ongeveer 100 jaar weer in die brandpunt van die Westerse literêre debat. Dit is veral in die laaste dekade op die voorpunt geplaas deur die werk van sekere Franse denkers en teoretici, waaronder Jacques Derrida. Die Derridiaanse bevraagtekening van taal en spesifiek die logika agter die taal, die moontlikheid van taal om die werklikheid te kan representeer en die implikasies wat dit vir die betekenis kan inhou, is tans onder die loep. Dit het uiteraard ernstige implikasies vir die konsepte van mimesis en representasie.
Oor mimesis bied Abrams (1953), Auerbach (1971) en Schipper (1979), van die bekendste inleidings. Hospers (1984) plaas die konsep binne die breë raamwerk van kunsfilosofie. Vir ‘n klassieke siening, sien Dorsch (1975), Russel (1981), asook Lyons (1982). Die herevaluering van die begrip en die implikasies daarvan word bespreek in Boyd (1980), Bullock (1979), Derrida (1982) en Nuttal (1983). Tallis (1988a en 1988b) en Spariosu (1984) plaas die kontemporêre debat binne filosofiese en letterkundige parameters.
(Vgl. POST-STRUKTURALISME en REPRESENTASIE.)
Bibliografie
Abrams, M.H. 1953. The Mirror and the Lamp: Romantic Theory and the Critical Tradition. New York: Oxford University Press.
Auerbach, E. 1971. Mimesis: The Representation of Reality in Western Literature (transl. W. Trask). Princeton: Princeton University Press.
Boyd, J.D. 1980. The Function of Mimesis and its Decline. New York: Fordham.
Bullock, M. 1979. The enclosure of consciousness: theory of representation in literature. Modern Language Notes, 94.
De Kock, E.L. & Cilliers, L. 1991. Aristoteles Poëtika. Vertaling en uitleg van betekenis. Johannesburg, Kaapstad: Perskor.
Derrida, J. 1982. Sending: on representation. Social Research, 49.
Dorsch, T.T. (ed.). 1975. Classical Literary Criticism. Aristotle: On the Art of Poetry. Horace: On the Art of Poetry. Longinus: On the Sublime. Harmondsworth: Penguin.
Lyons, J.D. (ed.). 1982. Mimesis. From Mirror to Method, Augustine to Descartes. Hanover: University Press of New England.
Nuttal, A.D. 1983. A New Mimesis: Shakespeare and the Representation of Reality. London: Methuen.
Russel, D.A. 1981. Criticism in Antiquity. Berkeley: University of California Press.
Schipper, M. 1979. Realisme: de illusie van werklijkheid in literatuur. Assen: Van Gorcum.
Spariosu, M. 1984. Mimesis in Contemporary Theory: An Interdisciplinary Approach. Vol 1. The Literary and Philosophical Debate. Philadelphia: Benjaminus.
Tallis, R. 1988a. In Defence of Realism. London: Edward Arnold.
Tallis, R. 1988b. Not Saussure: A Critique of Post-Saussurean Literary Theory. London: Macmillan.
A.M. de Lange