MITE

Die mite is ‘n literêre vorm wat d.m.v. ‘n verhaal in eenvoudige taal gestalte gee aan ‘n standhoudende waarheid oor die wesensaard van die werklikheid en terselfdertyd gekenmerk word deur ‘n veelheid van moontlikhede.

Uiteenlopende omskrywings wat al van die mite gegee is, is te wyte aan uiteenlopende benaderings wat gevolg is by ondersoek na die aard daarvan, want die opvatting van die aard van die mite sal wissel na gelang die ondersoeker se benadering histories, filosofies-teologies, sosiologies, dieptesielkundig, esteties of meer oorkoepelend is.

Volgens die histories-romantiese benadering van Grimm & Grimm (1885) verwys mite oorkoepelend na ‘n groep tekste wat met mites verband hou en rondom mites gebou is, bv. SAGESFABELS en soortgelyke vertellings oor die algemeen. Die neiging is hier om mite gelyk te stel aan mitologie, ‘n versamelterm vir avontuurverhale waarin oorspronklik mitiese figure as handelende karakters optree.

Uit psigologies-filosofies-teologiese oogpunt benader Eisler (1929: 195) mite as ‘n fantasie-georiënteerde aspek van ‘n sekere, verbygegane (primitiewe) fase in die religieuse ontwikkeling van die mensdom. As gevolg van hierdie assosiasie met versinsel, mitologie, die mitologiese wêreldbeeld en die primitiewe oor die algemeen, kry mite ‘n ongunstige konnotasie in Christenkringe.

Die volgende sosiologies georiënteerde definisie van mite as gemeenskapsbesit deur Denis de Rougemont is, behalwe in een opsig, hoogs aanvaarbaar: “A myth is a story — a symbolical fable as simple as it is striking — which sums up an infinite number of more or less analogous situations” (1956: 18).

Dat hy nie “striking” in verband bring met standhoudendheid van die verhaalwaarheid nie, is reeds ‘n aanduiding dat hy die mite as in ‘n groot mate relatief, afhanklik van die aanvaarding deur die gemeenskap, sien. Daarom maak hy die volgende stellings: “a myth expresses the rules of conduct of a given social or religious group. It issues accordingly from whatever sacred principle has presided over the formation of this group” (1956: 18). En: “the most profound characteristic of a myth is the power which it wins over us, usually without our knowing” (1956: 19).

Net so gee die sosialistiese instelling van die volgende stelling van Eliseo Vivas aan die mite ‘n allure van relatiwiteit, wat inderdaad nie daarmee vereenselwig kan word nie: “Myth making is a permanent activity of all men; all men can do, is to abandon one myth for the sake of another” (Vivas, 1970: 89).

In ‘n nog groter mate is hierdie relativistiese mitebeskouing kenmerkend van die dieptesielkundige benadering, bv. van Etienne Leroux, gegrond op die beskouing van C.G. Jung, dat die mite vanuit die Kollektiewe Onbewuste gevorm word uit ‘n patroon van argetipes wat deur psigiese energie getransformeer word tot ‘n groep simbole in die Bewuste van ‘n gemeenskap (Leroux, 1980: 16—18). Wanneer die simbole van die mite nie meer uit die diepste lae van die Onbewuste kom nie, is dit ‘n “verstandelike konkoksie” en (teenstrydige begrip) “dooie mite” — dus afhanklik van die (kollektiewe) gemeenskapsnorm, volkome relatief. Esteties kan die benadering van Richard Chase genoem word, waar hy die mite in navolging van Otfried Müller omskryf as “a narrative which unites the real and the ideal” (ideële) (1960: 135) of as “mana grown picturesque”, waar “mana” verwys na “the Magical, the Uncanny, the Wonderful, the Mysterious, the Powerful, the Terrible, the Dangerous, the Extraordinary”. Hierby stel hy: “The world of myth is a dramatic world — the world of actions, of forces, of conflicting powers” (Chase, 1960: 137).

Teenoor hierdie benaderings staan André Jolles se geïntegreerde benadering van die mite as ‘n tekssoort wat oor verskillende werklikheidsbeskouings heen loop en wat gebaseer is op die konsep van die duursame waarheid wat op gedronge wyse, asof deur die oog van ‘n naald (Jolles, 1965: 115) deur die woord gestalte kry — ‘n benadering wat inderdaad vooruitwys na die DEKONSTRUKSIETEORIE. (Vgl. EINFACHE FORMEN.) Mite verwys dus na ‘n aantal tekste — geïsoleerd sowel as verhole — wat dieselfde tekskenmerke vertoon: elk ‘n mite na sy eie aard.

Hoewel dit nie die geval met alle mites is nie, is die bekendste voorbeelde van mites dié wat betrekking het op die natuurverskynsels, met as eerste die Genesismite, wat die skynbare chaos van veelheid van hemelliggame en die aarde in een gedronge skeppingsverhaal saamvat, net soos Pindaros (520—446 v.C.) die vuurspuwende berg Etna in sy Epinikion verklaar as die honderdkoppige reuse-aartsvyand Tifoon, wat uit wraak vuur spuug. Die gebeure in die mite kan egter ook op iets anders as die natuur gerig wees, soos die Wilhelm Tell-mite, wat die eerste keer in die 16e eeu in ‘n Helevetiese kroniek van die geskiedskrywer Ägidius Tschudi as deel van die Tell-sage opgeteken en in 1804 deur die Duitse dramaturg Friedrich Schiller gedramatiseer is. Die uitvoer van die onmoontlike eis van die tiran in die appelskietepisode spel die weg van vryheid van die onderdrukte en dood van die onderdrukker deur dieselfde pyl uit. Die historiese optrede van die Franse Jeanne d’Arc (1429) word direk by oorvertelling deur die volk variant van die mite van die verlosservrou, hoewel dit eers in 1802 deur Friedrich Schiller en in 1924 deur George Bernard Shaw gedramatiseer word.

As Denis de Rougemont (1956) en eksponente van die dieptesielkunde, soos C.G. Jung en A. Kerenyi (vgl. Leroux 1980), maar iets van die waarheid in hulle mite-opvattings verwerk het, sal ‘n mens met stelligheid kan beweer dat elke volk sy eie mites ontwikkel. As Afrikanermite staan die Bloedrivier-gebeure en die Gelofte van 16 Desember 1838, wat vergestalt is as klimaks van die Venter-roman Gelofteland (1969), voorop. Daarin lê historiese gebeure en mite ewe na aan mekaar as in die Jeanne d’Arc-verhaal. ‘n Onderdrukker kan op die beste wyse oorwin en sy slagoffers bevry word, as daar uit hulle geledere iemand uitnemend en toegewyd genoeg te voorskyn tree om die tiran aan te durf en op eie terrein te oortref. Dit is die mite wat Dalene Matthee, ná navorsing oor die geskiedenis van die Knysna-bos, in Kringe in ‘n bos verwerk het en wat ‘n aspek van die wordingsgeskiedenis van die Afrikaner kernagtig verwoord.

In die vorming en uiteindelike realisering van ‘n mite speel die indringende vraag oor die werklikheid, die noodwendige antwoord en geloof — sy dit dan ook wondergeloof of werkgeloof — ‘n besondere rol. Waar die kreatiewe mens hom met ‘n vraag (uit die Germaanse wortel frĕh = “begeer”, “na-/deurvors”; vgl. Jolles, 1965: 97) op die problematiese werklikheid rig, openbaar die werklikheid sy ware aard aan die dieper skouende enkeling. As hierdie waarnemer dan sy vertolkende antwoord in verhaalvorm gee, het dit die karakter van waar-sê. Jolles bring hierdie openbaring-en-verwoording-van-die-ware i.v.m. die skepping in die volgende stelling: In die mite ontstaan die objek (die saak) uit vraag en antwoord (1965: 101). Daarom omskryf hy die mite as daardie onbepaalde kennis wat alleen dan voorkom, as deur vraag en antwoord ‘n objek sigself skep en sigself deur die woord, deur ‘n waarsegging bekend maak en bewaar (1965: 104) (redaksionele vertalings).

Rondom die verskynsel van die berg Etna word twee vrae gestel, wat by Pindaros twee mites tot gevolg het. Op die vraag “Wat is berge?” kom die antwoord: “Pilare van die hemel”, en op die vraag “Waarom kom daar vuur uit hierdie berg?” word geantwoord: “Onder hom lê die honderdkoppige reus, die aartsvyand gebonde” (vgl. Jolles, 1965: 105). In Genesis word die vraag oor die herverskynende hemelliggame beantwoord met ‘n aanduiding van die identiteit van elke herverskynende liggaam en hulle samehang: “God het die twee ligte gemaak, die grootste om bedags te heers en die kleiner lig om snags te heers, en ook die sterre” (Gen. 1:16).

In hierdie mites is implisiete OUTEUR en skepper (laat Skepper hier buite rekening) gelyk aan mekaar, omdat kreatiewe optrede hier alleen lê in die verwoording van die ontdekte samehang van die werklikheid. Hierdie mites kan getipeer word as kosmogonies en het trouens ook teogoniese verbande (kyk Wundt, 1929: 523). Uit die oogpunt van hulle temas beskou, sluit hierdie soort mites skeppings- en apokalipsmites in. Daarteenoor staan die mites wat bloot sekulêre antwoorde op sosiale of voortbestaanvrae gee. Op die vraag oor bevryding van ‘n getiranniseerde of bedreigde volk/gemeenskap gee die Tell-, Jeanne d’Arc-, Kringe in ‘n bos- en Gelofte-mite verskillende geldige antwoorde, lg. met teogoniese verband. Die moed van Tell, die roepingsbewustheid van Jeanne d’Arc, die moed van Saul Barnard (“om die bloubok se kop oop te kloof; Matthee, 1984: 305) en die geloof van Andries Pretorius en Sarel Cilliers is die kreatiewe krag by die ontstaan van die mites en dra daartoe by om ook hierdie soort mite bo die geskiedenis te verhef tot ‘n tydlose wêreld van vrae, vrese, verlange, drome en konflikte. Uit hoofde van hierdie tydlose waarheidskwaliteit roep die mite ‘n ooreenstemmende reaksie by die sensitiewe ontvanger daarvan op en werk die mite universeel. Dit geld ook die historiese gebeure in die geskiedenis van Jeanne d’Arc en van die Gelofte, wat deur die gehalte daarvan uit die historiese konteks tot tydloosheid verhef word; of anders gestel: in hulle tydloosheid volg die gebeure van hierdie twee mites dieselfde patroon as ander mites van die verlosservrou en die gelofte respektiewelik, soos die verlosservrou Athena in die vyfde gesang van die Ilias, Ushas in die Indiese Rigveda en Phya, die dogter van Pisistratos en Megakles in Herodotos (I.60) en die gelofte van Gideon in Rigters 6. Net so het Gessler se onmenslike eis aan Tell ‘n parallel in die van Saxo Grammaticus aan die (latere) Deense koning Harald Bloutand (950-986) (vgl. Jolles, 1965: 119). Sulke mites kan variante van mekaar genoem word, soos die Debora-geskiedenis van Rigters 4:9 ‘n oervariant is van die verlosservroumite.

Dit is nie te sê dat die gebeure onmiddellik in ‘n mite tot uitdrukking kom soos die historiese Gelofte-gebeure nie; dit kan ook in retrospeksie (her)verwoord word, soos die Jeanne d’Arc- en Tell-gebeure en die verhaal van die oorwinnende houtkapperseun in Kringe in ‘n bos, wat lank na die (gedeeltelik) ooreenstemmende historiese gebeure teksgestalte kry. Uiteraard is die miteskepper, die kreatiewe uitvoerder van die miteskeppende daad en die outeur in hierdie gevalle nie dieselfde nie.

Soos in Kringe in ‘n bos kan ‘n mite gebruik of uitgebou word in ‘n breër verhaal wat daarmee saamhang. So laat Pindaros ook die Hieron-verhaal by die Etna-mite aansluit en word die mite deel van ‘n breër verhaalskat of mitologie (vgl. Jolles, 1965: 107).

Nie net uit die mite nie maar ook daar langsaan ontwikkel verhale wat uitgaan van die kennis daarvan as VERWAGTINGSHORISON. Baie VOLKSVERHALE is inderdaad kamma-mites, wat op dieselfde wyse as mites ontstaan maar wat op blote en bewuste verdigsel i.p.v. op die waarheid gegrond is. Hierdie sg. analogon of betrokke mitevorm sluit bekende volksverhale in wat kamma-antwoorde wil gee op vrae soos “Waarom het die boontjie ‘n swart naat?” en “Waar kom kameelperd aan sy lang nek?”

Mite, wat gekenmerk word deur universaliteit, staan lynreg teenoor plekgebonde tekste soos orakel en LEGENDE. Die woord “orakel” as antoniem van mite verwys na waarspraak of noodlotspreuk wat deur ‘n wyse persoon op ‘n bepaalde plek en i.v.m. ‘n bepaalde situasie uitgespreek word. Toegepas op die geskiedenis van Debora uit die Efraimsberge, kan orakel verwys na die profesie van Debora aan Barak (Rigters 4:9): “die Here sal vir Sisera aan ‘n vrou uitlewer”, terwyl die optrede van Jael (Rigters 4:21), waar-voor sy later besing word (Rigters 5:24), as ‘n variant van die verlosservroumite gelees kan word. In Kringe in ‘n bos eksploiteer Dalene Matthee legende en mite as sy die legende van die plekgebonde uitsonderlike olifantfiguur, Oupoot, en die mite van bevryding van die ekonomies onderdrukte en sosiaal vernederde arbeider vervleg en uitbou tot een romangeheel.

Soos by die sage en legende die eenvoudige vorm krag op ‘n voorwerp kan oordra, kan dit gebeur dat ‘n mite ‘n voorwerp met ‘n sekere krag laai, sodat dit as simbool van die mite figureer. So is die klip waarop Jakob by Bet-el geslaap het en wat hy daar opgerig het (Gen. 28:12), simbool waarin die krag van die mite van sy gesig van God saamgepers is. Net so is die Geloftekerk in Pietermaritzburg simbool van die Geloftemite.

Mites staan in noue verband met LEWENSBESKOUING en verwagtingshorison, sover ‘n bepaalde lewensbeskouing of bepaalde verwagtingshorison van ‘n teks of ‘n leser deur bepaalde mites getipeer kan word. Terwyl ‘n bepaalde mite egter uit ‘n bepaalde lewensbeskouing as prakties religieuse belewenisraamwerk voortkom, kan uiteenlopende mites die verwagtingshorison van ‘n skrywer, ‘n teks of ‘n leser vorm, soos die Heraklesmite en Genesismite deel vorm van die verwagtingshorison van elke leser wat die Bybel ken en die tweede trilogie van Etienne Leroux met insig gelees het.

(Vgl. EINFACHE FORMEN en MITE IN DIE MODERNE ROMAN.)

 

Bibliografie

Aerts, J. 1967. Streuvels tussen historisiteit en mythe. Gent: Koninklijke Vlaamse Academie.

Boas, G. 1961. The Limits of Reason. London: Routledge & Kegan Paul.

Chase, R. 1960. Myth as literature. In: Miller, J.E. (ed.). Myth and Method. Nebraska: University of Nebraska Press.

De Rougemont, D. 1956. Passion and Society. London: Faber.

Eisler, R. 1929. Handworterbuch der Philosophie. Berlin: Mittler.

Fromm, E. 1972. Dromen, sprookjes, mythen: inleiding tot het verstaan van een vergeten taal. Utrecht: Byleveld.

Hathorn, R.Y. 1966. Tragedy, Myth and Mystery. Bloomington: Indiana University Press.

Highet, G. 1949. The Classical Tradition. New York: Oxford University Press.

Jolles, A. 1930/1965. Einfache Formen. Tubingen: Niemeyer.

Kroese, W.H. 1951. De mythe van A. Roland Hoist. Amsterdam: De Bezige Bij.

Leroux, E. 1980. Die mens, en veral die skrywer, op soek na die lewende mite. In: Leroux, E. Tussengebied. Johannesburg: Perskor.

Matthee, D. 1984. Kringe in ‘n bos. Kaapstad: Tafelberg.

Slochower, J. 1952. The use of myth in Kafka and Mann. In: Hopper, S.R. Spiritual Problems in Contemporary Literature. London: Harper.

Sykes, E. 1953. Everyman’s Dictionary of Non-classical Mythology. London: Dent.

Venter, F.A. 1969. Gelofteland. Kaapstad: Tafelberg.

Vivas, E. 1970. Myth: some philosophical problems. Southern Review, VI.

White, J.J. 1971. Mythology in the Modern Novel. Princeton, N.J.: Princeton University Press.

Wundt, W.M. 1929. Völkerpsychology. Band 10. Stuttgart: Kröner.

 

D.H. Steenberg