NARRATIEWE WEERGAWES/MODUSSE

Bonheim (1975) onderskei vier basiese modusse in ‘n VERTELLING, nl. (1) beskrywing; (2) verslag; (3) spraak; (4) kommentaar.

Ander indelings is ook moontlik; vgl. bv. Lubbock (1963); Nida (1981); Kinneavy (1971).

Die probleem van hierdie indeling, soos met die meeste veralgemenings, is dat daar geen onfeilbare indeling in kompartemente kan wees nie. Kommentaar word opgesluit in spraak, beskrywing in verslag, terwyl al vier in die spraak of vertelsel van die VERTELLER, wat die primêre spreker in die verhaal genoem kan word, ingebed is. Nogtans bied hierdie indeling die moontlikheid om ‘n groot verskeidenheid belangrike NARRATOLOGIESE begrippe te ondersoek: MIMESIS, DIëGESIS, PERSPEKTIEF, vertelafstand en VERTELTEMPO, om maar enkeles te noem.

Vervolgens word hierdie DISKOERSSTYLE oorsigtelik verduidelik terwyl die verskillende subverdelings van spraak nader toegelig word.

Beskrywing is gewoonlik die wyse waarop gelyktydigheid in ‘n verhaal weergegee word. Die verteltempo is daarom ook byna nul terwyl beskrywing uit die perspektief van die primêre spreker of ‘n sekondêre spreker weergegee kan word. Die vertelafstand wissel ook van groot (indien die primêre spreker aan die woord is) na klein (indien ‘n sekondêre spreker — personasie — aan die woord is).

Die voor-die-hand-liggendste vorm van beskrywing is natuurlik die weergawe van ruimtelike sake soos die beskrywing van landskappe, figure, ens.: “Dit is Saterdagmôre en Eloffstraat, met sy rye blink winkelvensters wat opglans in die son is een en al lewe: rye motors wat by robotte staan om dan vinnig vooruit te skiet, muilwaens wat moeilik by die hoeke van strate draai; geskreeu van koerantverkopers en die bonte wisseling in kleredrag van wandelaars langs die sypaaie.” (Die eerste sin in “Leuens”, CM. van den Heever.)

Sodra die saak wat beskryf word egter tydsdimensies of liewer gebeuredimensies kry, het ‘n mens met ‘n verslag te doen. Bonheim (1975: 330) stel dit so: “as soon as persons begin to move, description turns to report … especially if they move by their own volition …”

‘n Beskrywing soos hierbo word gewoonlik nominaal weergegee met behulp van (1) naamwoorde: “winkelvensters”, “son”, “motors”, “robotte”; (2) byvoeglike naamwoorde: “blink”, “bonte”; (3) naamwoorduitbreidings: “wat opglans in die son”; (4) infinitiefsinne: ‘ ‘om dan vinnig vooruit te skiet”; (5) nominaalkonstruksies: “wisseling”; “geskreeu” eerder as “skreeu”; (6) eksistiewe werkwoorde: “is”.

‘n Verslag word hierteenoor gewoonlik uitgedruk met behulp van nie-statiewe werkwoorde; vgl. byvoorbeeld die tweede en derde sin van “Leuens”: “Naomi gaan van winkelvenster na winkelvenster en beskou die pragtige rokke, die elegante modes. Dan kyk sy weer na haar eie rok, al effens afgeslyt van die dra …”

In hierdie sinne val die klem op “gaan” en “beskou”, hoewel daar ook beskrywing in hierdie sinne voorkom; vgl.: “elegante” en “afgeslyt”.

Kommentaar is baie moeiliker vasstelbaar; ‘n mens kan miskien sê dat daar by kommentaar veral bywoordelik te werk gegaan word. Sommige beskrywings waarin al die grammatikale merkers vir ‘n beskrywing opgeneem is, is egter so gerig dat dit in der waarheid kommentaar is. Ook verslag en spraak word dikwels aangewend as kommentaar. In die ouer literatuur was kommentaar makliker herkenbaar as vandag, aangesien die leser dikwels direk aangespreek is. Waardeoordele deur die verteller is ook dikwels gemaak; vgl. byvoorbeeld die volgende uit “Die praatduiwel” van Cachet: “Ons volk is musikaal. Dit sit in hulle bloed. Daar is te veel Franse en Duitse bloed in hulle, om nie van musiek te hou nie. Laat ons eers maar ons Afrikaanse liedere hê, met goeie musiek, en netnou sal onse mense sing soos nagtegale.

Hierdie gebruik kom natuurlik nog sporadies voor, maar vandag word dit as onnodige inmenging van die verteller afgemaak, en daarom word kommentaar gewoonlik in ‘n spraak — of selfs ‘n verslagbaadjie geklee.

Vervolgens word in ietwat meer detail gekyk na die wyse waarop spraak en dan veral die spraak van die sekondêre sprekers (persone) in ‘n vertelling weergegee word.

Soos reeds gesê, is die hele TEKS in ‘n vertelling die weergawe van ‘n verteller. Hy bly steeds die primêre spreker wat die woord tydelik kan oorgee aan ‘n sekondêre spreker. Ook hierdie tydelike oorgee staan onder sy beheer, aangesien hy kan besluit hoeveel en op watter manier so ‘n persoon mag praat. Hy kan bv. besluit om bloot die persoon se woorde, gedagtes of gevoelens te rapporteer eerder as om die woord volledig aan die sekondêre persoon oor te gee. Hy kan dus by monde van Genette (1980: 189) deur ‘n persoon/KARAKTER FOKALISEER en ‘n mimetiese weergawe gee (wat in die VSA showing genoem word) of hy kan diëgeties rapporteer (telling in die VSA).

Oor hierdie kwessie word daar in die Westerse literatuur eindeloos gespekuleer. Die spekulasie hieroor is dikwels van ‘n kwasietaalkundige aard (vgl. Bronzwaer, 1970). ‘n Verdere probleem van hierdie spekulasies is dat byna al die skrywers hieroor uitgaan van Europese tale met ‘n verwikkelde tempus- en aspekstelsel wat hulle inspan om ‘n onderskeid tussen die verteller en die sekondêre sprekers in die verhaal te probeer tref. Skrywers wat in Afrikaans oor hierdie onderwerp geskryf het, het hulle al te dikwels deur hulle Europese kollegas laat verlei deur bevindings van lg. sonder meer op Afrikaans toe te pas. Die gangbare opvatting oor die weergawe van spraak van sekondêre persone word egter sonder meer weergegee. Hierdie weergawe word van die mees mimetiese tot die mees diëgetiese weergegee.

Eienskappe van die direkte rede (direct speech/style/discourse, style direct): (a) vertelafstand: nul; (b) persoondeiksis: ek/jy; (c) plekdeiksis: hier; (d) tyddeiksis: nou/vandag/gister/môre; (e) werkwoordvorme: presens/perfektum (behalwe as die sekondêre spreker ook “vertel”); (f) woordvoerder: sekondêre spreker; (g) stylkwessies: emotiewe woordgebruik en die dialek van die sekondêre spreker; (h) skryfkonvensies: aanhalingstekens, gedagtestrepe, ens.; (i) spraakaanduidingskonvensies: werkwoorde van segging of ‘n sintuiglike werkwoord; (j) voorbeeld: “Ja, dit is vir my maklik om te praat. Waarom het jy met my getrou? Gaan maar na jou vriendinne toe. Julle is almal ‘n klomp ‘snobs’.” (“Leuens”, CM. van den Heever.)

Eienskappe van die vrye indirekte rede (free indirect speech/ style/discourse, erlebte Rede, style indirect libre, represented speech): (a) vertelafstand: naby; (b) persoonsdeiksis: derde persoon, behalwe in homodiëgetiese vertellings (vgl. DIëGESIS), dan ek en derde persoon; (c) plekdeiksis: hier; (d) tyddeiksis: toe/nou/vandag/gister/môre (vgl. Kate Hamburger (1952) se beroemde voorbeeld “Morgen war Weinachten”); (e) werkwoordvorme: preteritum en plusquamperfektum; (f) woordvoerder: sekondêre spreker deur die primêre spreker; (g) stylkwessies: styl van die sekondêre spreker gedeeltelik aangepas by die van die primêre spreker; (h) skryfkonvensies: soms ‘n dubbelpunt voor die uiting; soos “dink”, “sê”, “voel”, “kyk” of ‘n ander sintuiglike of seggingswerkwoord as inleiding of afsluiting; (i) voorbeeld: “As haar gees tog gou wil afstomp dat sy kan gewoond word aan hierdie omgewing … Sy’s ‘n snob! Dis al woord wat haar man die laaste tyd vir haar het. Die Here weet sy is nie hoogmoedig of aanstellerig nie” In hierdie voorbeeld uit “Leuens” vind ons ‘n teenstrydigheid tussen die teorie en die toepassing daarvan op Afrikaans. In ‘n taal wat oor ‘n preteritum beskik, sal hier waarskynlik van die preteritumvorm gebruik gemaak word en nie die ongemerkte patroon soos in Afrikaans nie. Tog vind ‘n mens in Afrikaans soms die gebruik van ‘n preteritum veral waar daar nog resvorme van hierdie patroon bestaan; vgl. die volgende gedeelte uit “Lettie” van Gustav Preller: “Let wou net blitsvinnig antwoord toe haar die moeder byval, siek in die sykamer; en die onverskillige boosheid maak dadelik plaas vir vrees. Hy had die mag om die huis op hul koppe af te brand hy sou dit miskien doen: dieselfde was al so baie maal gedaan! Nee sy sou liewer probeer om hom aan die gang te hou.”

3) Eienskappe van die indirekte rede (indirect speech/style/discourse): (a) vertelafstand: groot; (b) persoonsdeiksis: derde persoon, behalwe in homodiëgetiese vertellings, dan ek en derdepersoon; (c) plekdeiksis: daar; (d) tyddeiksis: toe/daardie dag/die vorige dag/die volgende dag; (e) werkwoordvorme: preteritum en plusquamperfektum; (f) woordvoerder: die primêre spreker; (g) stylkwessies: normaalweg ‘n volledige aanpassing van die sekondêre spreker se dialek aan die van die primêre spreker met verwydering van emotiewe woordgebruik en uitroepe met behulp van stylaanduidings soos: “verbaas “, “met woede “, “bekommerd”, “met afsku”, ens.; (h) skryfkonvensies: geen; (i) spraakaanduidingskonvensies: voegwoorde soos dat en of kom byna altyd voor; (j) spraakaanduidingskonvensies: die sekondêre spreker word genoem met ‘n werkwoord van segging, bv.: Jan/hy sê …; (k) voorbeelde: “En hy het voortgeyl teen die onverstaanbare robot oor hoe mens regtig net vir ‘n menslike wese bevrees kan wees en hoe dit is dat hy nie vir hom, Andries, bevrees is nie” (“Ek het jou gemaak” deur Jan Rabie). “Somtyds wens hy dat hulle maar algar dood moet wees sodat daar ‘n end aan kan kom” (“Die tuiskoms”, Van Melle). “Of daar mansmense tuis was, vra hy Let” (“Lettie”).

Ook in hierdie voorbeelde vind ons dat daar in die Afrikaanse indirekte rede soms van die ongemerkte werkwoordpatroon gebruik gemaak word en soms soos in “Lettie” van die preteritumresvorme.

McHale (1978) gee ‘n oorsig oor verskillende beskouings van die vrye indirekte rede en kom tot die slotsom dat die bestaande grammaties georiënteerde opvattings wat hierdie vorm òf van die direkte òf van die indirekte rede wil aflei nie aanvaarbaar is nie, omdat daar in FIKSIE geen oorspronklike uiting is waaruit die vrye indirekte rede afgelei kan word nie. Hy beskou hierdie vorm daarom as ‘n vorm eie aan literêre taalgebruik selfs al sou dit in “gewone” taalgebruik voorkom. Hy stel ook ‘n verdere verdeling van spraakweergawes voor. Hierdie verdeling berus op die tradisionele driedeling wat hierbo gemaak is, maar beskou dit slegs as die kardinale punte in ‘n kontinuum van mimeties tot diëgeties met moontlike tussenkategorieë wat na behoefte uitgebrei kan word: (1) Diëgetiese opsomming (submerged speech): dit is ‘n blote opsomming van wat gesê is, sonder aanduiding van wat of die wyse waarop dit gesê is: “Langsaam begin hy vra en vertel” (“Die tuiskoms”). (2) Minder suiwer diëgetiese opsomming: dit is ‘n vollediger opsomming van wat gesê is. Die onderwerp waaroor gepraat word, word bv. genoem: “Hy was die enigste een wat heftig teen die oorlog beswaar gemaak het …” (“Die joiner” deur J. van Melle). (3) Indirekte inhoudsparafrase: dit stem in ‘n mate ooreen met wat onder indirekte rede verstaan word maar dit is minder volledig, aangesien die wyse waarop iets gesê is, nie weergegee word nie hoewel die inhoud opsommenderwys weergegee word: “(Die ou man het) openlik gepraat van g’n respekte en nie eers wag dat ‘n behoorlike tyd verby is en dat dit tog haar eie ma is …” (“Douw en Fransiena”, Henriette Grové). (4) Indirekte rede: hierdie vorm is in geringe mate mimeties, aangesien daar ‘n illusie geskep word dat die oorspronklike teks behou en weergegee word. (Vgl. die voorbeelde by indirekte rede hierbo.) (5) Vrye indirekte rede: hierdie vorm is grammaties, stilisties en mimeties ‘n tussenvorm tussen indirekte rede en direkte rede. (Vgl. voorbeelde by vrye indirekte rede hierbo.) (6) Direkte rede: hierdie vorm is die naaste aan suiwer mimesis waartoe die skrywer van ‘n verhaal kan kom. (Vgl. die voorbeelde by direkte rede hierbo.) (7) ‘n Vorm wat selfs nog meer mimeties kan voorkom, kan die weergawe van ‘n interne monoloog van ‘n homodiëgetiese *ouktoriële spreker wees. Hierdie vorm is wat Afrikaans betref dieselfde as *bewussynstroom of stream-of-consciousness. In tale waar ‘n preteritum bestaan, kan daar wel tussen bewussynstroom en hierdie vorm onderskei word, hoewel daar in Joyce se Ulysses geen onderskeid is nie. “So het dit aangehou tot die dag ná my agtiende verjaardag. Toe het ek geweet die vloek is gebreek …” (Die ambassadeur, Andre P. Brink).

Met enkele aanpassings kan hierdie indeling van McHale ook vir Afrikaans geldig gemaak word.

Oor narratiewe weergawes bied Bonheim (1975), Chatman (1975), Hernandi (1971) en Stanzel (1956) ‘n goeie oorsig. Oor die weergawe van spraak bied McHale (1978) ‘n volledige oorsig. Tydsuitdrukking in spraakweergawe kan in Bronzwaer (1970), Stempel (1978) en in Afrikaans in Wybenga (1983) nageslaan word.

 

Bibliografie

Bally, C. 1930. Antiphrase et style indirect libre. In: BФgholm, N. et al. A Grammatical Miscellany: Offered to Otto Jespersen on his Seventieth Birthday. Copenhagen: Munksgaard.

Banfield, A. 1973. Narrative style and the grammar of direct and indirect speech. Foundations of Language, 10.

Baxtin, M. 1968. L’enonce dans le roman. Langages, 12.

Bonheim, H. 1975. Theory of narrative modes. Semiotica, 14.

Bronzwaer, W.J.M. 1970. Tense in the Novel. Groningen: Wolters-Noordhof.

Chatman, S. 1975. The structure of narrative transmission. In: Fowler, R. (ed.). Style and Structure in Literature. Oxford: Blackwell.

Genette, G. 1980. Narrative Discourse. Oxford: Blackwell.

Hamburger, K. 1952. Die Logik der Dichtung. Stuttgart: Klett.

Hernandi, P. 1971. Verbal worlds between action and vision: a theory of the modes of poetic discourse. College English, 33(1).

Kinneavy, J.L. 1971. A Theory of Discourse. Englewood Cliffs, N.J.: Prentice Hall.

Lubbock, P. 1963. The Craft of Fiction. London: Cape.

McHale, B. 1978. Free indirect discourse: a survey of recent accounts. PTL, 3.

Nida, E.A. 1981. Signs, Sense, Translation. Pretoria: UP.

Schmid, W. 1973. Der Textaufbau in den Erzählungen Dostoevskijs. München: Fink.

Spitzer, L. 1928. Zur Entstehung der sogenannten “erlebten Rede”. Germanisch-romanische Monatschrift, 16.

Stanzel, F.K. 1956. Die typischen Erzählsituationen im Roman. Wiener Beiträge zur Englischen Philologie, 63.

Todorov, T. 1971. La poëtique de la prose. Paris: Seuil.

Ullmann, S. 1957. Reported speech and internal monologue in Flaubert. In: Ullmann, S. Style in the French Novel. Cambridge: Cambridge University Press.

Voloshinov, V.N. 1973. Marxism and the Philosophy of Language. New York: Seminar Press.

Wybenga, D.M. 1983. Grammatiese tydsvergestalting in Afrikaans — ‘n linguistiese ondersoek aan die hand van enkele Afrikaanse kortverhale. D.Litt.-proefskrif, PU vir CHO, Potchef-stroom.

 
D.M. Wybenga