NASIONALE LITERATUUR

Die literatuurgeskiedenis gaan byna altyd uit van die veronderstelling dat die korpus literatuur wat in ‘n bepaalde taal en land geskryf is, ‘n organiese geheel vorm, waardeur dit onderskei is van die literatuur van ander tale en ander lande. Daar word uitgegaan van die standpunt dat daar iets is soos ‘n Afrikaanse, ‘n Engelse, ‘n Nederlandse, ‘n Duitse, ‘n Franse literatuur, iets soos ‘n nasionale literatuur.

‘n Nasionaal onderskeidende eienskap van ‘n literatuur sou in ‘n sekere mate die taal kon wees waarin die literatuur geskryf word. Wanneer daar gewys word op die verband tussen skrywer en volk, word gewoonlik geredeneer: die taal is die volk, die volk is die taal, en die literatuur is van die volk in wie se taal dit geskryf staan. (Die term volk kan in al hierdie gevalle met die term nasie vervang word.) Hierdie noodwendige verband tussen taal en literatuur is veral heg in die geval van REGIONALE LITERATUUR literatuur: Gezelle, Steuvels, Boerneef, Small. Tog is hulle die uitsonderings, nie die reël nie. Dikwels is hierdie soort argument meer sosiaal, polities of nasionalisties as literêr van aard. Nietemin sit ‘n mens in die moeilikheid met hierdie soort redenasie as jy kyk na Amerika, Australië, Nieu-Seeland, Kanada, Suid-Afrika en ander Afrikalande. In al hierdie lande word literatuur in Engels geskryf. Tog kan ons nie kortweg op grond van die taal sê dat dit alles Britse, Engelse literatuur is nie. In Kanada en verskeie Afrikastate word ook literatuur in Frans naas Engels geskryf. Moet ons dit alles tot die Franse of Engelse literatuur reken? In verskeie lande buite Spanje word in die Spaanse taal geskryf. Is dit alles Spaanse literatuur, afgesien van die geografiese situering en konteks? Is daar ‘n Switserse literatuur? In die Nederlande word dikwels ‘n onderskeid getref tussen die (Noord-)Nederlandse (Hollandse) en Vlaamse (Suid-Nederlandse) literature, al is alles in Nederlands geskryf. Die geografiese oorsprong, eerder as die taal, word gebruik om hierdie literature te omlyn as Australiese, Amerikaanse literatuur ens.

Literatuur kan dus in ‘n bepaalde taal geskryf wees maar tuis hoort in (juis nie “behoort tot” nie) verskillende lande en volke. Allerlei geografiese, historiese, maatskaplike en ander faktore laat hulle literêr naas die taal geld maar is self weer nie literatuuronderskeidend of -identifiserend nie. Daar is bv. Oos- en Wes-Duitsland — albei Duits, maar tot onlangs staatkundig en ideologies verskillend. Een taal kan dus waarskynlik meer as een literatuur skep, net soos een land of een skrywer ook tot verskillende literature kan bydra of miskien daartoe kan behoort. Uys Krige, wat in Afrikaans en Engels skryf — tot watter literatuur behoort hy? Die Afrikaanse, die Engelse, die Suid-Afrikaanse? In ons eie land is daar iemand soos Adam Small wat eintlik in drie tale skryf: Afrikaans, Kaaps (soos hy dit self noem) en Engels. Tot wie behoort hy as skrywer? Waarskynlik moet ons sê hy behoort tot drie literature. André P. Brink het party van sy romans in albei amptelike landstale gepubliseer, deurdat hy sy eie werk sélf vertaal het. Ons het in Brink se geval eerder met die skryf van een boek in twee tale as met VERTALING te doen. In vertaalde vorm word hy, ook F.A. Venter, Leroux en Dalene Matthee in talle tale gelees. Nou word die probleem nog erger: Tot watter literatuur behoort ‘n vertaalde werk, veral as ons vertaling as nuwe skepping verstaan? En dat vertaalde werke so gewild is in die taal waarin dit vertaal is, pleit nie vir ‘n nasionale literatuur veel nie.

Baie ingewikkeld word die saak as ons na sekere hedendaagse swart skrywers in Suid-Afrika kyk wat in Engels skryf. Hierdie literatuur, wat selfs ‘n uitgesproke getuienis in talle gevalle vir swart nasionalisme is, word in Engels geskryf. As ons net na die medium kyk, moet ons sê dit is Engelse literatuur. Maar hierdie skrywers karakteriseer hulle self as Swart. Hulle noem hulle eie stemme black voices, black literature, onder die slagspreuk black is beautiful, in Engels, en óndanks Engels.

Maar die feit dat dit in Engels geskryf is, skep probleme. Dit lyk na ‘n dwaling om dit SWART LITERATUUR te noem. Dit is ook moeilik om Xhosa-, Zulu- of Sotho-eienskappe daarin te onderskei; dit is eerder Pan-Afrikaans. Wat het ‘n mens hier? ‘n Nasionale literatuur of selfs ‘n uitgesproke nasionalistiese literatuur wat dalk nasionale ontrou pleeg deurdat dit nie in die taal geskryf is van die mense vir wie dit opkom nie? As dit hier om nasionale literatuur gaan, dan het ons daarin ‘n eienaardige ontkenning van die gangbare oortuiging dat die nasionale (die volk) en die taal één is, want in hierdie geval druk die nasionale hom in ‘n ánder, vreemde taal uit; polities gepresiseer: die swart nasionalisme druk hom uit in die taal van die vroeëre kolonialiseerder, die vroeëre veroweraar. Of: die nasionalisme druk hom uit in wat hy sien as ‘n Esperanto, ‘n lingua franca (tegelyk ‘n imperialistiese taal), die taal wat nie sy eie is nie maar die wydste trefkrag het. Die nasionalisme is dan van so ‘n primêre belang, dat dit in die eie taal weinig nasionale waarde sien. Die taal is dus tog nie sommer kortweg die volk nie. Ons het hier ‘n nasionalisme uitgedruk in die taal van ‘n ander nasie. Die verhouding van die skrywer tot die volk is dáár — maar nie in die taal van die volk nie.

Ons kan dit nie betwis nie dat die skrywer en sy werk vanselfsprekend gevorm word deur die milieu of konteks (geografies, maatskaplik, godsdienstig, polities, ens.) waarbinne hy leef. Sekerlik word hy en sy werk dan ook gevorm deur allerlei nasionale faktore, deur sy land, deur sy mense wat die taal praat waarin hy skrywe. Die literêre TEKS ontstaan binne ‘n bepaalde verwysings- of tekensisteem en dra die kentekens daarvan, maar daardie tekensisteem strek wyer as die geografiese, linguistiese en etniese. Literêre KODES is hoogs belangrik vir die verstaan, beskrywing of interpretasie van literêre tekste, maar kodes is in vele gevalle internasionaal. Besondere skrywers het hulle besonderheid nie alleen aan hulle persoonlike talent te danke nie, maar ook aan die feit dat hulle deur ‘n bepaalde land en volk en taal in ‘n bepaalde histories-geografiese situasie gevorm is. Ideologiese, politieke, maatskaplike, ekonomiese en talle ander verskynsels en veranderings binne ‘n volk bepaal die groei en aard van die literatuur wat geskryf word in die taal van daardie volk. Tog is daar weer die ander kant van die saak. Literatuur, of eerder: literêre werke word nie nét gevorm deur nasionale faktore nie maar deur literêre werke sélf wat in ánder tale en lande geskryf is, en deur religieuse, politieke, sosiale faktore van ánder geografiese ruimtes én ánder volke. Bowendien: die skrywer is dikwels ‘n individualis en verset hom juis teen die nasionale. Die literatuur getuig in sy beste momente dikwels van hoogs uitsonderlike en eienaardige personale dinge in plaas van gekonformeerd nasionale dinge. Dit is daarom nie net dinge van die volk wat in die literatuur tot uitdrukking kom nie. As ons egter redeneer dat die individualis alleen binne ‘n gemeenskap individualis is en dat daar geen absolute individualisme is nie, moet ons dadelik bysê dat daardie vormende “gemeenskap” ‘n internasionale kan wees.

Nog meer: die literatuur is ‘n universele saak, sodat die skrywer, net soos enige ander gebruiker van die taal, enigiets in daardie taal kan uitdruk, enigiets behalwe die nasionalisme, enigiets wat nie met die nasionale iets uit te staan het nie. Kommunistiese verse is in Afrikaans net so moontlik as Celliers se Afrikaans-patriotiese verse.

‘n Skrywer word dus nie net deur nasionale faktore gevorm nie. Gedurende die groot nasionale krisis van die Tweede Vryheidsoorlog is die vier Afrikaanse pionierskrywers (Marais, Leipoldt, Totius, Celliers) as nasionale skrywers gevorm o.a. deur buitelandse, veral ook Engelse invloede, die taal van die politieke en staatkundige vyand van destyds.

‘n Literatuur kan nasionale trekke vertoon maar nogtans onder, buite-nasionale invloede ontstaan het: Celliers se “Die vlakte” wat sg. so tipies nasionaal is, so tipies Afrikaans of liewer Suid-Afrikaans, het onder invloed van Shelley se “The cloud” ontstaan. Mens kan albei kante toe met sulke gevalle redeneer. Gaan jy KOMPARATISTIES te werk, dan kan jy wys op die gemeenskaplike in hierdie tekste, t.s.v. nasionale en taalverskille, of jy kan daarop wys dat, t.s.v. die bo-nasionale invloede, “Die vlakte” genasionaliseer is. Die literatuurgeskiedskrywing kan nooit sonder die komparatisme en INVLOEDESTUDIE geskryf word nie, en hy kan nooit die “vaderlandse trekke” of sy nasionaal-organiese eenheid van ‘n literatuur alleen in die oog hou nie. Leipoldt word as ‘n tipiese Afrikaanse (selfs Suid-Afrikaanse) digter beskou, maar sy tipies Suid-Afrikaanse SLAMPAMPERLIEDJIES het gedeeltelik onder invloed van Grillparzer ontstaan.

Skrywers hoort dikwels tuis in die een of ander literatuurstroming of -isme, en sulke strominge of -ismes is dikwels internasionaal. Dit is van die vroegste tye af so. Die MIDDELEEUSE LITERATUUR is eerder algemeen Europees, al sou ‘n mens ook tipies Nederlandse, Engelse of Franse trekke in die literatuur van die tyd kan aanwys. Sekere Middeleeuse outeurs of werke behoort nie baie duidelik tot hierdie of daardie literatuur nie. In die Middeleeue het in die literatuur naas die nasionale ook ander faktore hulle laat geld, soos bv. die bo-nasionale Rooms-Katolieke godsdiens en die algemene Europese maatskaplike orde van die adel, geestelikheid en burgery. Selfs in die RENAISSANCE, wat gekenmerk word deur die opkoms van die nasionale state soos die Middeleeue nie geken het nie, bly die internasionale, gemeenskaplike Europese trekke van die literatuur nog aan die orde van die dag.

Na die Renaissance kom die 18e- en 19e-eeuse ROMANTIEK, wat eweneens ‘n wydvertakte internasionale stroming was, met in ‘n mate ‘n sekere vernasionalisering in die verskillende lande van die Romantiek. Die strominge wat aan die einde van die 19e, begin 20e eeu ontstaan het, is almal eerder Europees en internasionaal as nasionaal. Dit is nogal merkwaardig dat toe die sterkste Afrikaanse generasie aan die woord gekom het, nl. die Dertigers, hulle by monde van Van Wyk Louw daarna gestrewe het om in die groot internasionale literêre gemeenskap saam te praat, al het Van Wyk Louw aan die ander kant voortdurend vir die nasionale literatuur pleidooie gelewer. Vandag nog is baie van die literêre -ismes steeds internasionaal. In die huidige tyd in Suid-Afrika, veral sedert die Sestigers, is daar sterk gesindhede vir ‘n literêre internasionalisme of bo-nasionalisme, juis by die skrywers wat soms ernstig op inheemse toestande gerig is (Brink, Breytenbach). Die nasionalisme het na die Tweede Wêreldoorlog in baie lande ongewild geraak, ook by skrywers.

Ons vind in Suid-Afrika vandag ‘n literatuur wat inheemse trekke vertoon, maar òf onnasionaal in gesindheid òf internasionaal in sy idioom is.

Mens mag wel ook vra: tendeer die literatuur nie altyd maar na die bo-nasionale nie? Sogenaamd tipies Afrikaanse gedigte soos “Die vlakte” en “Winternag” tendeer na die universele, hoe tipies Suid-Afrikaans of Afrikaans hulle ook al vir sommige lesers mag wees.

Noodwendig sal die literatuur van ‘n bepaalde geografiese streek en sosiale konteks literêre werke voortbring wat ‘n sekere homogeniteit vertoon in hulle objektewêreld, die tematiek, ens., maar dit is nie genoeg om die literêre werke wat in daardie streek (en in sy taal) ontstaan het as ‘n homogene eenheid te sien nie, en wanneer literatuur in ‘n multitalige geografiese streek soos Suid-Afrika ontstaan, word dit ‘n uiters moeilike saak vir die literatuurgeskiedskrywing om die homogeniteit, wat hy as vanselfsprekend aanneem, aanneemlik te maak. Die literatuurhistorikus kan dan vind dat daar ‘n homogeniteit tussen die literêre werke van verskillende tale in Suid-Afrika bestaan. (Vgl. SISTEEM (LITERÊRE).)

Die probleem van ‘n nasionale literatuur is nie net ‘n literatuur-historiese nie. Dit is ook ‘n lesersprobleem, selfs ‘n nasionale lesersprobleem, wat in Suid-Afrika al tot heftige polemieke gelei het, bv. oor Ampie van Van Bruggen en oor Die Pluimsaad waai ver van Van Wyk Louw. In sulke gevalle gaan dit vir die lesers egter in die eerste of selfs laaste plek om die nasionale. Die volk of nasie as leserspubliek eien hom graag die literatuur toe as nasionale besit en getuig van ‘n liefde daarvoor.

Daar is egter ‘n groot verskil tussen die liefde van ‘n volk of ‘n gemeenskap vir die literatuur as onderskraging van die nasionale gevoel en die liefde vir die literatuur as literatuur. In lg. geval kan iemand die literatuur van ‘n ander volk en ‘n ander taal liewer hê as sy eie — in Suid-Afrika is daar talle Afrikaanssprekendes wat veel meer liefde vir die Engelse as vir die Afrikaanse literatuur het. Liefde vir die volk en liefde vir die literatuur hoef nie noodwendig saam te val nie.

Die probleem begin dus al dadelik nie by die literatuur nie maar by die ander punt: die nasionale. Die problematiek van die verhouding literatuur en nasie word vererger deurdat die begrippe volk of nasie selfs minder duidelik omlyn, meer vloeibaar is as die begrip literatuur, en omdat ‘n volk of nasie nie net linguisties bepaald is nie, as ons dink aan lande soos Suid-Afrika, Kanada, Switserland, Suid-Amerika, Engeland (gesien saam met die ander Engelssprekende lande soos Amerika en Australië). Binne Engeland en Rusland is daar weer ‘n hele heterogeniteit van tale, en/of van volks- of nasionale groepe. Van Wyk Louw het met goeie reg in die so gewraakte eerste verse van Die pluimsaad waai ver gevra: Wat is ‘n volk?

As ons wil praat van die nasionale in die literatuur, moet ons verder daarmee rekening hou dat ‘n volk ‘n veranderlike gegewe is. Daarom dat Van Wyk Louw tereg daarop gewys het (o.a. in Berigte te velde) dat die nasionale gestalte in ‘n literatuur altyd aan die verander is: die vroeëre Oom Gert van Trekkerswee van Totius het verander tot die anasionale of anasionalistiese Jorik van Opperman in Joernaal van Jorik. Leipoldt se “Oom Gert vertel” is in Opperman se “Gebed om die gebeente” herskryf tot ‘n totaal nuwe siening van “ons nasie”. Die leserspubliek, die volk, is soms traag om sy veranderende of veranderde gedaante te herken in die literatuur. Of hy wil glad nie hê dat die nasionale gestalte in die literatuur hoegenaamd moet verander nie; hy wil ‘n sekere nasionale gestalte altyd in sy taal se literatuur sien terugkeer en bestendig raak. ‘n Volk kan ‘n nasionale. skrywer misken deurdat hy sy eie gestalte in sy “eie” literatuur op ‘n bepaalde tydstip en in ‘n bepaalde geval nie herken nie. Ons moet aanvaar dat die literêre denke die volk of nasie se denke ‘n ent vooruit kan wees en sy ontwikkeling raak kan voorspel, of die ontwikkeling selfs kan lei.

Wat die nasionale in die literatuur moeilik herkenbaar maak, is die feit dat ‘n skrywer nie uitgesproke nasionaal hoef te wees nie maar nog altyd deur ‘n nasie as nasionale skrywer toegeëien kan word. Elisabeth Eybers is, afgesien van ‘n minderheid gedigte soos “Tuiskoms in Junie”, waarin sy haar gehegtheid aan haar land prontuit bely, nie uitgesproke nasionaal in haar poësie nie; sy woon bowendien lankal nie meer in Suid-Afrika nie, en ten spyte daarvan dat sy in Afrikaans skryf, word sy vandag deur die Nederlanders as ‘n Nederlandse digteres beskou.

Die sg. nasionale van die literatuur lê bowendien nie alleen of in die eerste plek in nasionalistiese uitsprake, gedagtes of temas nie. ‘n Sogenaamde individualistiese of afsydige skrywer kan ‘n taal en literatuur moontlik beter dien as die patriotiese of sosiaal-polities eng betrokke skrywer. Hierdie laasgenoemdes speel meestal ‘n verbygaande rol en verveel gou — deels omdat die gestalte van die volk verander. Individualistiese digters soos die Nederlandse Gorter en Marsman is tog nie minderwaardig in vergelyking met die Nederlandse patriotiese digters van die 19e eeu wat uitgesproke nasionaal was nie. Inteendeel. En dit is merkwaardig dat hierdie twee individualiste nogal intens bewus was van hulle volk en hulle verhouding as skrywers tot hulle volk, met dat hulle tewens internasionale ideale ook in hulle vergestalt het (Gorter in sy sosialistiese en kommunistiese poësie en Marsman met sy bo-nasionale ideale in “Tempel en kruis”).

Moeilik herkenbaar is die nasionale ook in satiriese of kritiese literatuur. ‘n Skrywer kan teen sy volk ingaan en dié striem, in en uit liefde, in verbintenis met die volk, soos Vondel dit gedoen het, of soos Walters en Van Wyk Louw in Afrikaans. Openlik bely laasgenoemdes hulle liefde vir hulle mense, hulle taal en hulle land in hulle verse, maar hulle bestraf die dinge in hulle mense waarvan hulle nie hou nie. Wilma Stockenström, wat getuig van wat sy noem “my gebonde inmekaarheid met jou, land”, het skerp kritiese verse oor haar land en sy mense geskryf.

Olga Kirsch is ‘n ander soort geval in die Afrikaanse literatuur. Sy is ‘n Jodin wat tussen die rasegte plattelandse, kleindorpse Afrikaners in die Vrystaat grootgeword het maar later na Israel geëmigreer het. Sy het in Suid-Afrika in Afrikaans begin skryf, nie in Engels nie — dalk deur omstandighede, maar dit moet ook tog ‘n gehegtheid aan die taal gewees het wat haar in Afrikaans laat skryf het, want vandag nog, baie jare nadat sy na Israel geëmigreer het, bly sy in Afrikaans skryf. Sy kan tot die Afrikaanse literatuur gereken word. Maar in Olga Kirsch se verse is daar ook ‘n eksplisiete Joodsheid, en ook kritiek op Suid-Afrika in haar latere gedigte. Die Jood praat deur haar verse in Afrikaans, die Jood van die Ou Testament af tot vandag. Haar poësie is eerder van twee nasionaliteite, sy het eerder ‘n verband met twee volke. Identifikasie met ‘n bepaalde taal en met ‘n bepaalde volk val hier nie presies saam nie.

Dit is opvallend dat sowel die groot imperialistiese of totalitêre lande as die klein of relatief klein volke baie bewus is van die verhouding tussen die skrywer en die volk en van die sg. “vaderlandse trekke” van die literatuur, soos die Nederlander A. Donkersloot dit in die titel in een van sy boeke genoem het. Ons sien hierdie bewustheid van die klein volke bv. by die Nederlanders en die Vlaminge, Afrikaners en die Jode. Dit geld nie net die literatuur nie maar ook die ander kunste, soos die musiek. Dink aan die sg. nasionale eienskappe van die musiek van Smetana of Grieg. Maar dieselfde geld die groot volke: in die groot imperialistiese of totalitêre state is hierdie bewussyn van die verhouding skrywer/volk waarskynlik te verklaar uit die lande se strewe om alles te nasionaliseer, die kuns so goed as die sport of die industrie, en omdat hulle hul stempel oral op almal en alles wil afdwing. In elk geval is hulle bewus van die nasionale waarde van die literatuur. Die klein volke is om ander redes bewus van die nasionale waarde van die literatuur. Hulle het ‘n sterker behoefte as die grotes om hulle eie aard te bevestig, en hulle weet hulle kan dit veral doen deur die literatuur, wat nasionale toeëiening kan bly selfs al het ‘n volk sy staatkundige onafhanklikheid afgestaan.

In die intense oomblikke van volkwees of volksgevoel kom die bewuste verhouding van skrywer/volk gewoonlik na vore. Wat die Afrikaner betref, was een van die sekerste tekens van sy nasionale ontwaking die ontstaan van die Genootskap van Regte Afrikaners en die latere taalbewegings en die literatuur wat daaruit voortgekom het. Hier het literatuur en volk, skrywers en volk werklik hand aan hand geloop. Maar in geen literatuur is dit deurentyd die geval nie; nog minder is alle skrywers by so ‘n nasionale verbondenheid betrokke.

‘n Volk skep ‘n onmisbare en natuurlike kweekplaas vir die literatuur. ‘n Mens kan jou nouliks ‘n literatuur sonder ‘n volk voorstel. Veral literatuur wat in die taal van ‘n klein nasionale gemeenskap geskryf is, is van daardie gemeenskap as leserspubliek afhanklik. Maar daar is ‘n verskil tussen die nasionale waarde van literatuur en die nasionale aard van literatuur. Eersgenoemde is maklik herkenbaar, lg. nié, en raak tewens nie die meeste werke wat in ‘n bepaalde literatuur geskryf is nie. En daar is eweneens ‘n groot verskil tussen die waarde wat ‘n volk as lesersgemeenskap vir ‘n skrywer of skrywers het en die nasionale aard van ‘n skrywer se werk.

Vir baie skrywers is die taal waarin hulle skryf nie maar ‘n toevalligheid nie. Lees bv. Lina Spies se gedig “Versoendag”. Uys Krige, wat in albei amptelike landstale van Suid-Afrika geskryf het, het nêrens die liefdevolle dinge in Engels gesê wat hy in “Tram-ode” van Afrikaans sê nie. Daarteenoor staan egter die digter Breyten Breytenbach wat van die taal waarin hy sy gedigte skrywe allerlei minder vleiende dinge reeds gesê het.

‘n Skrywer wat sy taal liefhet soos in die gevalle van Spies of Krige, hoef nie noodwendig die volk so lief te hê dat hy of sy, hipoteties gesproke, die woord “taal” in hierdie verse net so kan vervang deur “volk” nie. ‘n Skrywer sou kon sê: ek het my taal lief maar net party van die mense wat hom praat. Of: ek het nie my volk lief soos hy in my eie tyd daar uitsien nie, òf soos hy in die literatuur van sy verlede òf sy hede lyk nie. Of: my volk se verlede staan my nie aan nie — soos die Hitler-Duitsers sekere Duitse skrywers van indertyd of van later nie aangestaan het nie of nog steeds nie aanstaan nie. Of ‘n skrywer kan van sekere verskynsels in die volk van sy eie tyd nie hou nie. Dink t.o.v. bogenoemde aan verskeie hedendaagse Afrikaanse skrywers, bv. Karel Schoeman. ‘n Skrywer sou omgekeerd van ‘n ánder taal as sy eie kon sê: ek hou nie van hierdie of daardie ánder volk nie, maar ek het sy taal en sy literatuur lief.

‘n Skrywer kan in sy moedertaal skrywe maar hom selfs heeltemal van sy volk losmaak. Hy kan in ballingskap gaan, ‘n ander land of nasionaliteit aanneem. Die literatuur het verskeie sulke gevalle opgelewer, soos Thomas Mann, T.S. Eliot, W.H. Auden, Ezra Found. Ons eie literatuur het sy voorbeelde. Sekere Afrikaanse skrywers het reeds die begrip of idee “volk” verwerp as ‘n mite, of onder die begrip “volk” mense inbegryp wie se taal nié Afrikaans is nie.

Verskeie hedendaagse Afrikaanse skrywers het al te kenne gegee dat hulle dalk daartoe kan oorgaan om in Engels te skryf, en party het al (al is dit net gedeeltelik) daartoe oorgegaan. Tussen Engelse, Afrikaanse, swart en bruin skrywers is daar vandag ‘n groeiende toenadering in Suid-Afrika. Hulle sien die literatuur as bo-nasionale bindende element.

Sekere skrywers wat in meer as een taal kan skryf, kies ‘n bepaalde taal as skryftaal; van ons vroegste skrywers val onder hierdie groep (Marais, Leipoldt). Onder ons latere skrywers is daar mense soos Brink, Krige en Small wat ook so ‘n keuse kon uitoefen en uitgeoefen het.

Sekere skrywers kies nié die moedertaal nie. Die Hobsons is ‘n bekende geval in die Afrikaanse literatuur. Hulle het van hulle eerste taal, Engels, as skryftaal afskeid geneem, miskien omdat die aard van hulle werk Afrikaans vereis het. Maar Herman Charles Bosman het die omgekeerde gedoen — ‘n skynbaar tipiese Afrikanergees word in Engels beskryf, of vertolk. Die “gees” van Bosman se werk is Afrikaans, selfs Boers — dit lyk asof dit natuurliker sou gewees het as hy in Afrikaans geskryf het. Tog het hy in Engels geskryf. Sý werk wys duidelik dat sekere nasionale eienskappe nie noodwendig in die taal van daardie nasionaliteit vorm hoef aan te neem nie. Ons het dieselfde gesien hierbo in die geval van die swart skrywers in Suid-Afrika wat in Engels skrywe.

Van Wyk Louw het van sy vroegste opstelle af tot in sy laastes ononderbroke gewys op die intieme verband tussen die skrywer en volk. Hierdie twee is vir hom “onherroeplik verbind”, sê hy nog in Random eie werk en dit blyk ook uit sy gedigte en dramas wat van begin tot einde hierdie oortuiging uitdra. Hy het ook daarop gewys dat nie net die volk bestaan gee aan die skrywer en sy werk nie, maar omgekeerd dat dit ook die literatuur is “wat die bestaan van ons volk as aparte taalgroep moet regverdig” (“Die idee van groot kuns”, Lojale verset). In Berigte te velde het Van Wyk Louw (in “ʼn Gesprek waarin niks beslis word nie”) hierdie wederkerige verhouding verduidelik as ‘n “organiese” verwantskap tussen skrywer en volk. Van al ons skrywers het Van Wyk Louw hom in sy beskoulike opstelle en in sy gedigte en dramas die grondigste besin op die verhouding skrywer en volk, en ‘n mens sou hom met goeie reg die Afrikaner se grootste nasionale skrywer kon noem. En tog — miskien het Van Wyk Louw dit meer as ideaal verkondig as wat hy algemeen geldende feite gestel het. Van al die bewus-nasionale Afrikaanse skrywers is hy die grofste misken deur sy eie mense. Ten slotte, wat Van Wyk Louw betref: hy leen hom daartoe om voorgehou te word as groot nasionale skrywer maar ook as skrywer wat in nasionale verset was, selfs as ‘n skrywer wat in ‘n bo-nasionale idioom praat.

Leipoldt is ook ‘n moeilike geval. Hy, wat ewe goed tuis was in Afrikaans, Engels, Duits en Nederlands, het deur ‘n radikale besluit daartoe oorgegaan om in Afrikaans te skryf, in ‘n tyd toe Afrikaans ‘n veragte taaltjie was wat moes veg om ‘n bestaansreg, met so goed as nog geen literatuur nie. En dan gaan skryf Leipoldt sg. vaderlandse verse waarin die Afrikaner se nasionale stryd van vroeër een van sy skoonste uitdrukkings gevind het. Leipoldt se poësie is egter die poësie van “drie wêrelddele”. In sy buite-literêre lewe het hy aangesluit by die Engelssprekendes van Suid-Afrika en hy het nie sterk nasionale sentimente gehad nie. Inteendeel, daar is iets sterk kosmopolitaans in sy gedigte en in sy verlange na ‘n “nuwe vaderland”. Ook hy word tereg soos Van Wyk Louw deur sommiges voorgehou as die skrywer in nasionale verset.

Dan is daar nog E.N. Marais. Hy was anti-Kruger maar met groot nasionale ideale. Hy kan dien as voorbeeld van die skrywer wat gerebelleer het teen die bewind van sy volk. Marais kon ewe goed in Engels geskryf het en het ook in Engels begin skryf, maar soos Leipoldt het hy bewustelik en met ‘n radikale besluit daartoe oorgegaan om in Afrikaans te skryf. Tog ook hier weer: wat lyk na die tipies nasionale (bv. “Winternag”) gaan bo die nasionale uit.

Ons moeilikste geval is S.J. du Toit, die stamvader van die Afrikaanse literatuur. Ons kan met hom, soos met Leipoldt, Marais of Van Wyk Louw twee kante toe redeneer. As hy nie die Genootskap van Regte Afrikaners gestig het nie, het die Afrikaanse literatuur en volk vandag nie gelyk soos dit lyk nie. As sy latere Rhodes-ideale egter verwesentlik is, sou die Afrikaanse literatuur en volk nie gelyk het soos dit vandag daar uitsien nie.

Daar is so iets as nasionale trekke in ‘n literatuur, maar literatuur hoef nie nasionaal te wees nie. Van ons beste skrywers tot op hede was, dalk deur omstandighede, baie helder bewus van die volk, van wat in die volkslewe en die volksgemoed aangaan en van die volk se taal: Marais, Leipoldt, Totius, Van Wyk Louw, Opperman, M.E.R., Boerneef, Anna M. Louw en baie ander. Maar dit is veral party van hierdie skrywers wat ook nasionaal-problematies is, en die bestes onder hulle styg in hulle beste werk bo die nasionale uit.

Vanweë die taalmedium soek ons ‘n intiemer verband tussen die volk of nasie en die literatuur as tussen die volk of nasie en die ander kunste. Die pottebakker staan losser van die volk as die skrywer in die oë van die publiek. Dit geld ook die komponis, die skilder of beeldhouer. Die volk vra veel eerder nasionale literatuur as wat hy ander nasionale kunste vra. Dit word van die literatuur meer as van die ander kunste verwag dat dit nasionaal moet wees, en die literatuurgeskiedenis gaan met ‘n probleemlose ingesteldheid daarvan uit dat die literatuur wat in ‘n bepaalde taal geskryf is, ‘n organiese eenheid vorm. Mens kan weliswaar praat van ‘n Chinese vaaskuns of tekenkuns, of van ‘n inheemse Afrikaanse pottebakkerskuns of van ‘n inheemse Afrikaanse musiek, maar dit is meer die uitsondering as die reël.

Die uitgangspunt van die literatuurgeskiedskrywing dat die taal deurslaggewend is, geld nie altyd en nie oral nie, soos ons gesien het; dit geld alleen gedeeltelik, en die probleme daaromheen word ongelukkig meestal vermy. Dieselfde geld verder die geografiese begrensinge van ‘n literatuur, en elke poging om literature van mekaar te onderskei. As ons dus praat van die Afrikaanse, Engelse, Duitse literatuur, ens. moet dit altyd met ‘n bewussyn van die relatiewe waarde van sulke onderskeidinge wees.

Meer spesifiek oor die nasionale in die literatuur skryf Donker (1947) en oor die teorie daarvan skryf Vipper in ‘n artikel (1985). Belangrik is ook Wellek en Warren (1949/1963), Bauer (1939), Knuvelder (1963). Lees ook Weiman (1972).

(Vgl. REGIONALE LITERATUUR.)

 

Bibliografie

Bauer, F. 1939. Inleiding. De literatuur, haar historiographie en methodes. In: Bauer, F. Geschiedenis van de letterkunde der Nederlanden I. ‘s-Hertogenbosch: Teulings. (Ook herdruk in Kultureel Jaarboek Oostvlaanderen 1960 en as aparte boek: De literatuur, haar historiographie en metodes, s.a., s.l., s.n.)

Donker, A. 1947. Karaktertrekken der vaderlandsche letterkunde. Arnhem: Van Loghum & Slaterus.

Knuvelder, G.M. 1963. Problemen der literatuurgeschiedschrijving. ‘s-Hertogenbosch: Malmberg.

Vipper, Y.B. 1985. National history in History of World Literature: theoretical principles of treatment. New Literary History, 16(3).

Weiman, R. (Hrsg.). 1972. Tradition in der Literaturgeschichte. Berlin: Akademie.

Wellek, R. & Warren, A. 1949/1963. General, comparative, and national literature. In: Wellek, R. & Warren, A. Theory of Literature. London: Cox & Wyman.

 
T.T. Cloete