OUTOBIOGRAFIE

‘n Outobiografie (Gr.: autos: self, bios: lewe, graphein: skryf) is die lewensbeskrywing van ‘n mens deur homself. Die term is waarskynlik vir die eerste keer in 1809 deur Southey gebruik. Volgens dr. Johnson (in A Dictionary of Literary Terms van Cuddon (1984)) is niemand as die persoon self beter daartoe in staat om sy lewensverhaal te skryf nie. Teen hierdie siening kan besware ingebring word. ‘n Mens se geheue is nl. nie altyd betroubaar nie; hy moet dus op ander mense se herinnerings en indrukke staatmaak — ook weer ‘n onbetroubare bron. “Moreover, everyone tends to remember what he wants to remember. Disagreeable facts are sometimes glossed over or repressed, truth may be distorted for the sake of convenience or harmony and the occlusions of time may obscure as many as they reveal” (Cuddon, 1984: 63).

Die outobiografie is dus nie altyd ‘n betroubare dokument nie, soos in die geval van Rousseau se Confessions (1781 en 1788). Cuddon (1984: 63) noem hierdie soort outobiografie FIKSIONEEL want dit is “unreliable as literal truth; they have a different literary value”. Soms bevat ‘n outobiografie nie net feitlike gegewens nie maar ook fiksionele elemente. Dan word dit ‘n geromanseerde outobiografie of ‘n outobiografiese *roman genoem, bv. Hella S. Haasse se Persoonsbewijs (1967).

Die outobiografie behoort tot die bekentenis- of belydenisliteratuur. Dit is literatuur “waarin een schrijver voor een publiek van lezers openlijk getuigenis aflegt van zichzelf’, aldus Van Gorp in Lexicon van literaire termen. Ander BIOGRAFIESE vorme wat tot die sub-GENRE van die belydenisliteratuur hoort is die dagboek, MEMOIRESBRIEF en joernaal.

Die terme outobiografie en memoires word dikwels ten onregte as wisselterme gebruik. In die memoires val die klem op die betrokke persoon se kontak met ander beïnvloedende mense en uiterlike handeling. In die dagboek val die klem op die persoonlike indruk terwyl dit in die outobiografie eerder gaan om die uitbeelding van die skrywer se innerlike. Wanneer die klem egter te veel op die innerlike val, word die outobiografie “bewust of onbewust, minder waarheidsgetrouw”, sê Janssens (1963: 228) in Moderne encyclopedie der wereldliteratuur. Dit is die geval met Abélard se Historia calamitatum mearum (1113—1136), Dante se Vita nuova (1292) en Goethe se Dichtung und Wahrheit (1811-1814).

‘n Outobiografie kan verder so geskryf word dat ‘n mens die sosiokulturele omstandighede van die tyd daaruit kan aflees.

Die eerste noemenswaardige outobiografie is St. Augustinus se Confessions van die 4e eeu. Dié werk word getipeer deur Cuddon (1984: 64) as “an intensely personal account of spiritual experience and an extraordinary instance of deep psychological self-analysis of a kind that has become commonplace only in modern times”.

Dit was eers teen die 16e eeu dat die outobiografie algemeen begin voorkom het. Voorbeelde van outobiografieë uit hierdie tydperk is dié van Cellini, Cardan se De vita propria liber en Montaigne se Essais, deur Cuddon (1984: 64) genoem “thoughtful and analytical excursions into his own self.

Sedert die RENAISSANCE en die BAROK het die outobiografie al hoe meer voorgekom. Dit het trouens mode geword om ‘n dagboek of joernaal te hou. Voorbeelde van die outobiografie uit hierdie tydperk is Goldoni se Mémoires (1787), Alfieri se Vita (1803), De Quincey se Confessions of an English Opium-eater (1821) en George Sand se Histoire de ma vie (1855).

Belangrike outobiografieë wat in die 18e eeu verskyn het, is o.a. David Hume se My own Life (1777), Boswell se Journals en die beroemde Autobiography (1766) van Benjamin Franklin.

Gedurende die 18e eeu toon die outobiografie ‘n ooreenkoms met die roman; lg. was toe nog ‘n redelike nuwe literêre vorm. Defoe se Robinson Crusoe (1719) en Sterne se Sentimental journey (1768) is romans, maar toon sterk outobiografiese trekke. Cuddon (1984: 65) noem dit “autobiographical fiction” of “fictionalized autobiography”. In Nederlands val Simon Vestdijk se Anton Wachterreeks in hierdie kategorie. Sedertdien het heelwat outobiografieë verskyn wat voorgee om romans te wees. Dikwels maak hierdie outobiografiese romans gebruik van die BEWUSSYNSTROOMTEGNIEK. Wordsworth se The Prelude (voltooi 1805, gepubliseer 1850) is ‘n lang outobiografiese gedig.

Sedert die 19e eeu kom die outobiografie in talle vorme voor, bv. die objektiewe vertelling, die feitlike outobiografie en die outobiografie wat die siel van die self in diepte uitbeeld. Voorbeelde: Goethe se Die Wahlverwandschaften (1809), Leigh Hunt se Autobiography (1886), Darwin se Life and Letters of Charles Darwin (1887) en Oscar Wilde se De profundis (1905).

Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het ‘n aantal belangrike outobiografieë verskyn, bv. Robert Graves se Goodbye To All That (1927) en Edmund Blunden se Undertones of War (1928). Na die oorlog verskyn o.a. Winston Churchill se My Early Life (1930), H.G. Wells se Experiment in Autobiography (1934), Bernard Shaw se Sixteen Self-sketches (1948), André Gide se Journals en Henriëtte Roland Hoist-Van der Schalk se Outobiografie.

Resenter outobiografieë is bv. Leonard Wolf se The Journey not the Arrival Matters (1969).

 

Bibliografie

Bates, E.S. 1936. Inside Out: An Introduction to Autobiography. Oxford: Blackwell.

Britt, A. 1936. The Great Biographers. New York: Whittlesey House.

Dresden, S. 1956. De structuur van de biografie. Den Haag: Daamen.

Edel, L. 1957. Literary Biography. London: Hart-Davis. (Alexander lectures, 1955-1956.)

Ferrucci, F. 1980. The Poetics of Disguise: The Autobiography of the Work in Homer, Dante and Shakespeare (transl. Ann Dunnigan). Ithaca, N.Y.: Cornell University Press.

Goris, J.A. 1972. Zelfportret, gevleid, natuurlijk. 2e verm. uitg. Brugge: Orion.

Johnston, J.C. 1976. Biography: The Literature of Personality. New York: Century.

Kendall, P.M. 1965. The Art of Biography. New York: Norton.

Lee, S. 1971. Principles of Biography. Folcroft: Folcroft Library Editions. (The Leslie Stephen Lecture delivered in the Senate House, Cambridge on 13 May 1911.)

Lejeune, P. 1975. Le pacte autobiographique. Paris: Seuil.

Medvedev, R. A. 1977. Problems in the Literary Biography of Mikhail Sholokhov (transl. A.D.P. Briggs). Cambridge: Cambridge University Press.

Mehlman, J. 1974. A Structural Study of Autobiography. Ithaca: Cornell University Press.

Olney, J. 1973. Metaphors of Self. The Meaning of Autobiography. Princeton, N.J.: Princeton University Press.

Otten, J.F. 1932. De moderne biografie. Maastricht: Stols.

Pascal, R. 1960. Design and Truth in Autobiography. Cambridge, Mass.: Harvard University Press.

Shelston, A. 1977. Biography. London: Methuen. (The Critical Idiom.)

Raadpleeg ook:

Abbott, H.P. 1988. Autobiography, autography, fiction: Groundwork for a taxonomy of textual categories. New Literary History, 19(3).

Benstock, S. 1988. The Private Self: Theory and Practice of Women’s Autobiographical Writings. Chapel Hill: University of North Carolina Press.

Bunkers, S.L. 1988. Self-reflexivity in women’s outobiography: A selected bibliography. A/B: Auto/Biography Studies, 4(1).

Gordon, D.J. 1988. Character and self in autobiography. Journal of Narrative Technique, 18(2).

Jay, P. 1987. What’s the use? Critical theory and the study of autobiography. Biography, 10(1).

Joostens, F. 1987. Ijlen na de val: Eenheid en versplintering van het outobiografische subject. Restant, 15(4).

Lavery, D. 1987. Autobiography and film: Introduction. Post Script, 6(2).

Olney, J. 1988. Studies in Autobiography. Oxford: Oxford University Press.

Paulsen, W. 1988. Das Ich im Spiegel der Sprache: Autobiographie als Genre der literarischen Moderne und Postmoderne. Amsterdamer Beitrdge zur Neueren Germanistik, 27.

Tsiga, I. A. 1988. To tell freedom: A study of black South African autobiography. Dissertation Abstracts International, 49(4).

Wade, M. 1988. Ties that bind: Dependency and rebellion in some South African autobiographies. Research in African Literatures, 19(4).

 
Anna-Marie Bisschoff