PARODIE

As sg. “newelied” het die parodie (Gr.: parodia: para: langs; ode: ‘n lied; ‘n newelied) oorspronklik gedui op die lagwekkende nabootsing van ‘n bekende, ernstige gedig. Die uitstaande kenmerk van parodie is volgens Mikhail Bakhtin (in Petro, 1982:/ 12) die woord se dubbelgerigtheid — “it is directed both toward the object of speech, like an ordinary word, and toward another word, toward another person’s speech”.

Die parodie behoort tot die genus SATIRE, en as satiriese wapen het dit die dubbeltaak van bespotting en hervorming.

Ons onderskei teenswoordig tussen komiese parodie —wat grens aan die BURLESKE — en die sg. literêre of kritiese parodie, waarin ‘n spesifieke literêre teks of die werk van ‘n bepaalde kunstenaar/kunstenaars of ‘n literêre VORM, ‘n literêre konvensie, ‘n literêre TRADISIE op so ‘n oordrewe wyse nageboots word dat dit ‘n lagwekkende effek het. Die nabootsing kan wees van die presiese woorde of kenmerkende styl of geestesgesteldheid, of van die tema, of die struktuur, of die GENRE van die grondteks. Die komiese effek kan bereik word deur hoogdrawende, verhewe taal te gebruik vir onbenullige, alledaagse onderwerpe of deur enige vorm van behendige jukstaponering van ongerymdhede.

Die parodie — soos die karikatuur — is gebaseer op die tegnieke van verwringing en oordrywing, die bymekaarbring van ongelyksoortige dinge.

Die parodie as ‘n vorm van LITERêRE KRITIEK — gewoonlik ‘n subtiele en indringende evaluering van die teikenteks — bestaan daarin dat die opvallendste kenmerke, die wesenstrekke, van die teikenteks nageboots word op so ‘n wyse dat foute oordryf word, gekunsteldheid of uitspattige styl of ander gebreke onderstreep word, of dat elemente uit die teikenteks geheraktiveer/herskep word tot ‘n nuwe rol en status. Deur hierdie beklemtoning ontdek die leser iets lagwekkends of veragteliks of iets nuuts in die geparodieerde teks. Hierdie lagwekkende nabootsing kan veroorsaak dat die leser die oorspronklike teks ‘n bietjie minder bewonder as wat die geval was vóór hy die parodie gelees het, of dat hy ‘n nuwe (visie op sowel die nuwe teks as die oerteks verkry. ‘n Parodie wil dus nie net naboots om snaaks te wees nie maar kan juis ondersoekende en effektiewe kritiek lewer op ‘n teks of op ‘n digter/skrywer of op ‘n literêre genre/literêre tradisie, déúr ‘n digter/skrywer. Eksentrisiteit, sentimentaliteit, pendanterie, hoogdrawendheid, verwaandheid, verveligheid, uitgediende vorme, is maklike teikens vir die parodis. Daar word tereg na die parodiste verwys as “literary head-shrinkers”.

As literêre kunsvorm stel die parodie baie hoë eise aan die beoefenaar daarvan, omdat dit nie net ‘n parasitiese nie maar ook ‘n skeppende kuns is: die parodis moet ‘n afgeronde vakman wees wat in staat is om ‘n subtiele ewewig te bewaar tussen die sterk ooreenkoms met die oorspronklike TEKS (hy siteer uit en sinspeel deurgaans op sy model) en sy doelbewuste, slim verwringing van die wesenskenmerke van die grondteks. Daar bestaan ‘n ambivalente verhouding tussen die parodie en die teikenteks: die stof/tema en struktuur van die oorspronklike teks mag die objek van kritiek wees, maar dit vorm ‘n geïnternaliseerde en integrale deel van die parodieteks.

Die beste parodieë is gewoonlik die werk van begaafde digters/skrywers/dramaturge, bv. A.G. Visser: “Lotosland”; N.P. van Wyk Louw: “Mooi prosa”; D.J. Opperman: “Met apologie”; Peter Blum: “Oor monnemente gepraat”; M.M. Walters: “‘n Iedere nasie het syn taal” (vgl. ook die hele bundel Saturae); T.T. Cloete: “Impasse”; Etienne Leroux se romans; Bartho Smit: Die Keiser (‘n parodie op die klassiek geworde Andersen-sprokie oor “Die koning se klere”. M.M. Walters se gedig, “‘n Nuwe sprokie op ‘n ou deuntjie”, parodieer dieselfde SPROKIEGEGEWE). Die individualistiese gees van die nuwe tyd bring mee dat daar geen “heilige huisjes” meer bestaan nie (Claes, 1988: 158). Breytenbach se parodie op die Onse Vader (Lotus, 1970: 125) lui só:

Onse milder God van alles wat soet en mooi is,

Laat U naam altyd in ons geberg bly en daarom heilig,

Laat die republiek tog nou reeds kom,

Laat ander hul wil verskiet —

Gee skiet! Gee skiet!

Sodat ons ook ‘n sê mag hê,

‘n Sê soos ‘n see

Wat om die kuste van ons hemelse Stilberge lê

Gee dat ons vandag ons daaglikse brood mag verdien

En die botter, die konfyt, die wyn, die stilte,

Die stilte van wyn,

En lei ons in versoeking van velerlei aard

Sodat die liefde van lyf na lyf kan spring

Soos die vlammetjies van is — is van berg na berg

Braambosse van vuur tot aan die witste maan bring

Maar laat ons ons verlos van die bose

Dat ons af kan reken met die skuld van eeue

Se opgebergde uitbuiting, se geroof, se verneuke,

En die laaste rykman vrek, aan sy geld vergif

Want aan ons behoort die menseryk, die krag

en die heerlikheid,

Van nou af tot in alle ewigheid net so ewig

Soos die skadu’s en grensposte van die mens

As hy goddelik die aarde uit die hemel skeur

Aa mens! Aa mens! Aa mens!

Ter afwysing van die tradisie en die bespotlik maak van vaste waardes, word die parodie ‘n sentrale procédé in die moderne literatuur.

Die parodie vra vir ‘n gemeenskaplike kultuurbesit by parodis en leser; omdaf die parodiërende aspek deur die leser gerealiseer word, vereis dit ‘n bepaalde soort leser: ‘n kundige, intelligente en literêr-geskoolde leser. As vorm van literêre kritiek steun dit vir sy effek in ‘n hoë mate op die leser se kennis van die teikentekste en sy vermoë om die oorspronklike teks/outeur(s)/literêre stroming/genre te herken. En tog: die beste parodieë kan, afgesien daarvan dat hulle slim en lagwekkende nabootsings is, op eie bene staan omdat hulle in eie reg snaaks is. James Joyce se Ulysses (1922) sou as parodie gelees kon word sonder ‘n grondige kennis van Homeros. Enkele parodieë het selfs die oorspronklike ernstige werk waardeur hulle geïnspireer is, oorleef, soos in die geval van The Rehearsal (1671), Buckingham se parodie op Dryden se The Conquest of Granada.

Die parodie is so oud soos die poësie self. Aristoteles het in sy Poëtika (4e eeu v.C.) die vinding van die parodie as kuns toegedig aan Hegemon van Thasos (komiese digter van die 5e eeu v.C.) omdat hy die EPIESE styl gebruik het om mense minderwaardiger voor te stel as wat hulle in die werklike lewe is. Daar is beweer dat Hegemon ook die parodie in die teaterkuns bekend gestel het. Die digter Hipponax van Efese het egter nog vroeër, in die 6e eeu v.C., reeds parodieë geskryf. Die belangrikste parodis uit die Klassieke tyd is Aristophanes (450—385 v.C). In sy drama Die paddas het hy die style van Aischulos en Euripides geparodieer. Plato (429—347 v.C.) het in sy Symposium die styl van verskeie skrywers op komiese wyse nageboots en Lucianus (120 n.C.) het ook in sy satiriese Dialogues van die parodie gebruik gemaak. (Vgl. KLASSIEKE LITERATUURSTUDIE: GRIEKS-ROMEINSE LITERATUUR.)

Die Latynse outeurs het op so ‘n groot skaal die kuns van die parodie bedryf dat Cicero (106 v.C—43 v.C.) ‘n lys opgestel het van die veelvormigheid van die kunsvorm. Gedurende die laat MIDDELEEUE was parodieë op die liturgie, op bekende lofgesange en selfs op die Bybel gewild. RENAISSANCEKUNSTENAARS soos Cervantes (vgl. Don Quijote) het die tradisie van die Middeleeuse RIDDERROMAN geparodieer.

Van die bekende parodiste is groot woordkunstenaars soos Chaucer, Pope, Shakespeare, Sheridan, James en Horace Smith, Keats, Byron, Shelly, Swinburne, C.S. Calverley, J.C. Squire, Lewis Carroll, Max Beerbohm, James Joyce, C. Day Lewis, Etienne Leroux.

Met ‘n geskiedenis van ses en twintig eeue agter die rug is die parodie, met metafiksie en KOMEDIE as essensiële kenmerke, vandag ‘n ingeburgerde literêre vorm. In haar studie van die parodie, I Parody/Meta-fiction (1979), wys Margaret Rose daarop dat vier — vooraanstaande literêrteoretici, Shklovsky, Bakhtin, Iser en Foucault, juis parodieë as sleuteltekste gebruik in besprekings van hulle teksteorieë. (Vgl. METAROMAN.)

Een van die jongste ontwikkelinge in die parodie is die herskryf van gedigte soos ander dit sou gedoen het.In sy bekende “Met apologie” parodieer Opperman die werk van agt Afrikaanse digters. Na aanleiding van die teks: “Op ‘n Sondagmiddag loop die weduwee Viljee/ in swart geklee/ met twee kolliehonde langs die see”, word N.P. van Wyk Louw se Tristia-skryfwyse só geparodieer: “Op ‘n Sabbatmiddag/ (die dag is goed)/ lê la veuve de Villiers/ die heilige snol/ bo die boulevard/ (a)aars-e-lende om te kies/ effens be-swaard/ tussen twee kol-lies(te).” Etienne Leroux se parodiërende omgaan met genres is volgens Du Plooy (1989: 100) een van die sterkste vernuwende eienskappe van sy werk. In die anti-roman van die 20e eeu word die konvensionele kenmerke van die gewone ROMAN geparodieer.

Parodie en IRONIE vertoon ‘n boeiende ooreenkoms: albei stylfigure bied meer as een KODE aan wat deur die leser gedekodeer moet word. Anne Jefferson (1982: 231) stel dit so: “Where parody juxtaposes two codes in one utterance, (irony) contains two messages in one code”.

(Vgl. ook BURLESKEPASKWIL en TRAVESTIE.)

 

Bibliografie

Claes, P. 1988. Echo’s echo’s. Die kunst van de allusie. Amsterdam: De Bezige Bij.

Du Plooy, H. 1989. Genre, parodie en vernuwing in die werk van Etienne Leroux. Acta Academica, 21(1).

Eco, U. 1979. The Role of the Reader. Bloomington: Indiana University Press.

Feinberg, L. 1967. Introduction to Satire. Iowa: Iowa State University Press.

Highet, G. 1962. The Anatomy of Satire. London: London University Press.

Jefferson, A. 1982. Margaret A. Rose, Parody/Meta-fiction. In: Poetics Today, 3(3).

Johl, J. 1988. Ironie. Pretoria: HAUM-Literêr.

Lowrey, B. 1960. Parody. New York: Harcourt Brace.

Macdonald, D. 1960. Parodies. New York: Random House.

Paulson, R. (ed.). 1971. Satire: Modern Essays in Criticism. New Jersey: Prentice Hall.

Petro, P. 1982. Modern Satire: Four Studies. New York: Mouton Publishers.

Pollard, A. 1970. Satire. London: Methuen.

Rose, M.A. 1979. Parody/Meta-fiction: An Analysis as a Critical Mirror to the Writing and Reception of Fiction. London: Croom Helm.

Sutherland, W.O.S. 1965. The art of the Satirist. Austin: University of Texas Press.

Worcester, D. 1960. The Art of Satire. New York: Russell and Russell.

Raadpleeg ook:

Bennet, D. 1985. Parody, postmodernism, and the politics of reading. Critical Quarterly, 27(4).

Hutcheon, L. 1985. A Theory of Parody. New York: Methuen.

 
Réna Pretorius