PASTICHE

In sy oorspronklike Latynse vorm pasta (Fr.: pastete, van It.: pasticcio: “pastei”, “mengelmoes”; pastiche vir nabootsing of parodie), beteken die woord: ‘n kledingstuk van lapwerk. As literêre begrip dui pastiche op literêre nabootsing of namaakkuns: dit is ‘n teks wat gemaak word deur die aanmekaar “lym” van ‘n mengelmoes woorde, sinne, frases, MOTIEWE, beelde, episodes ens., wat onveranderd oorgeneem is uit verskeie oorspronklike tekste van een of meer kunstenaars.

Dit is ‘n gespesialiseerde tegniek wat op een van twee maniere gebruik kan word.

Die pastiche kan eerstens in alle erns beoefen word wanneer die stylkenmerke van ‘n belangrike en groot skrywer doelbewus en getrou nageboots word. Geliefkoosde stilistiese maniërismes word herhaal en tot ‘n nuwe geordende geheel herskep. Anders as in die geval van PLAGIAAT is hierdie soort pastiche nie bedoel om te bedreig nie: “… it is literature frankly inspired by literature”, aldus Fowler (1973: 139) in A Dictionary of Modern Critical Terms. (Pastiche val saam met plagiaat wanneer die outeur ‘n styl bewustelik naboots en tog sy afhanklikheid probeer verberg.)

‘n Voorbeeld van ernstige pastiche vind ‘n mens in D.J. Opperman se huldevers, die KWATRYN “In Memoriam” (Blom en baaierd), met sy kopiëring en fyn integrasie van KLANK, woord, beeld, motief, styl, elegiese toonaard en innig-vrome Calvinistiese strekking soos dit voorkom in Totius se kunswerke. Die pastiche word hier waarderend en verwysend gebruik: “Telkens as hierdie volk van God afdwaal/ sal hy in Afrika se klip en kaal/ herinner word hoe groot Hy is/ deur die tinktinkietaal van Totius”. Die volkome ernstige pastiche kom nie dikwels voor nie.

Tweedens kan die pastiche ook ‘n KOMIESE– of SATIRIESE oogmerk hê, en dan kan die pastiche nie behoorlik onderskei word van die PARODIE nie; trouens, dit word as een van die soorte van parodie beskou. Waar die parodis slegs periodiek verwys na die oorspronklike model, boots die skrywer van die pastiche die oorspronklike kunswerk vlytig na en herskep dit as ‘t ware.

As voorbeeld van die komiese pastiche sou kon dien D.J. Opperman se lagwekkende reeks gediggies getitel “Met apologie” (Kunsmis) waarin die verskillende style van agt van ons voorste digters met parodiese effek karikaturaal oordryf word.

Wat meer dikwels voorkom, is onbewuste pastiche, ‘n Digter/skrywer begin soms te skryf as epigoon van ‘n ander outeur wat hy bewonder. Bekend in ons literatuur is bv. die Opperman-, Breytenbach- en Cloete-epigone.

Pastiche is byna sinoniem met die obsolete term “cento”.

 

Bibliografie

Braak, I. 1964/1980. Poetik in Stichworten. Kiel: Hirt.

Claes, P. 1988. Echo’s echo’s. De kunst van de allusie. Amsterdam: De Bezige Bij.

 
Réna Pretorius