Die poésie pure is poësie wat die musikale en die magiese karakter van die poësie beklemtoon. Dit gaan in die poésie pure in die eerste plek om die KLANK en RITME; die taal is dus van primêre belang, maar die woordbetekenis neem ‘n sekondêre plek in, soos geïllustreer deur die volgende verse uit Paul van Ostaijen se “Nachtelijke optocht”: “Lichtende lampen/laaiende lampen/licht van laaiende lampen/dans van laaiende lampen/kadans van lichtende lampen/kadans van laaiende lampen/dans van de lucht in de waaiende lampen/waaiende dans van de lucht in laaiende lampen/laaiende kadans in de waaiende lampedans/kadans van lampedans/licht van lampen” (kurs. van Van Ostaijen). Soms is die betekenis heeltemal onbelangrik in die poésie pure, soos blyk uit die volgende verse uit Breytenbach se gedig “Die tweegeveg”: “Kleng jaa tjeng tjang tjeng kleng/Ai joei tsji bik sjoeing tjôrrr/Fuut tjeng warn kieng op sssip/Hû klang klang tjing sssip/Hû merde tjong fuut kleng jaa”.
Die term poésie pure is vir die eerste keer in 1883 gebruik deur Baudelaire in sy aantekeninge by sy vertalingbundel, Nouvelles histoires extroordinaires par Edgar Poe, toe hy verwys het na Poe se The Poetic Principle (1880). Paul Valéry onderstreep in 1920 in die voorwoord van sy boek La connaissance de la déesse (Die kennis van die godin) “de voorspellingen en aanbevelingen van Poe en de eerste experimenten van Baudelaire …”, aldus Rutten (1970: 565) in Moderne encyclopedic der wereldliteratuur. Hy beklemtoon die konkreetheid in die poësie eerder as die musikaliteit. Die poésie pure het veral onder die aandag van digters begin kom met Bremond se studie, genaamd Poésie pure, avec un debat sur la poésie par Robert da Souza. Vir Bremond is die betekenis nie belangrik nie; dit gaan slegs om die invloed wat die gedig op die leser of hoorder uitoefen: “… het hangt gewoon af van een versregel, waaraan geen woord, geen klankvolume te veranderen is, en die, zonder nochtans wezenlijk muziek te zijn, de muziek benadert, in wezen en vorm” (Rutten, 1970: 565).
Van Frankryk af het die gebruik van die term versprei na Engeland. George Moore het dit in 1920 gebruik in die titel van sy bundel Pure Poetry; hierna het die term poésie pure algemene inslag gevind.
Die poésie pure strook met die opvatting van die 19e-eeuse SIMBOLISTE dat die poësie iets musikaals is en dat dit ‘n magiese kwaliteit het.
Deur die jare het digters elkeen ‘n eie siening omtrent die poésie pure gehuldig sodat dit geleidelik ‘n ontwikkeling ondergaan het. Die slotsom waartoe die digters soos Baudelaire, Mallarmé, Valéry, Poe, Gezelle en Van Ostaijen gekom het, is dat die poésie pure se suiwer karakter slegs werklik tot uiting kan kom in afsonderlike verse en in ‘n kort gedig. Vir digters soos Slauerhoff en Lucebert het vaste rympatrone en punktuasie iets oorbodigs geword.
Die poésie pure was veral na die Eerste Wêreldoorlog gewild onder digters toe kunstenaars besondere aandag geskenk het aan die taal en sy funksie in die gedig.
Beoefenaars van die poésie pure is o.a. Goiter (bv. “Gij zijt een stille witte”), Engelman, Engelburg, Lucebert (bv. “Hu we wie” en “Uiterst klein rond deel”), Van Ostaijen (bv. “Vers 4″, “Asta Nielsen” en “Berceuse presque nègre”), Apollinaire, Baudelaire, Mallarmé, Poe, en in Afrikaans Breyten Breytenbach (bv. “Woordkasteel” en “My broed van gaas tot geur”).
Bibliografie
Verster, J.R. & Malan, C.W. 1975. Lucebert en die eksperimentele poësie. Bloemfontein: De Villiers.
Raadpleeg ook:
D’Evelyn, T.M. 1982. The discipline of poetry: Yvor Winters and La poésie pure, 1920—1930. Dissertation Abstracts International, 42(12).
Anna-Marie Bisschoff