Die Post-strukturalisme volg nié chronologies in die tyd op die STRUKTURALISME nie, aangesien daar reeds “post-strukturalistiese” uitsprake gemaak is tydens die hoogbloei van die Strukturalisme.
Tog sou ‘n mens die studente-opstande van 1968 in Frankryk as ‘n finale keerpunt kan sien: dit was gewoon onmoontlik om ná die ingrypende gebeurtenis langer in binêre opposisies (man/vrou; goed/sleg) te dink. Ook moet beklemtoon word dat ‘n mens nie die Post-strukturulisme as ‘n homogene skool of groep kan benader of beskryf nie. In die wydste sin van die woord kan dit hoogstens gesien word as die werk van uiteenlopende teoretici soos Roland Barthes, Pierre Macherey, Jacques Lacan, Jacques Derrida, Michel Foucault e.a. Benewens hierdie Franse denkers sou ‘n mens ook kan verwys na die teorieë van die Duitse filosowe, soos Jürgen Habermas, Herbert Marcuse e.a.
Genoemde Franse teoretici bevraagteken die aannames van die moderne LITERATUURWETENSKAP (en daarmee samehangend: die moderne filosofie) wat glo aan objektiwiteit en veral aan die gebruik van die linguistiek as ‘n sodanige beskrywingsmeganisme.
Verder staan die post-strukturaliste skepties teenoor die wyse waarop ‘n TEKS benader word: die LESER “ontdek” die “korrekte” “betekenis”, omdat hy sekere “strukture” in die teks trek. Só ‘n standpunt en benadering is vir die post-strukturaliste onhoudbaar, omdat dit impliseer dat daar sprake is van ‘n metafisiese eenheid of heelheid.
In wese is die post-strukturaliste téén die logosentriese tradisie — veral omdat dit té veel (vanselfsprekende) aannames maak oor die wêreld en die leesproses. Geoffrey Hartman, die bekende Amerikaanse dekonstruksiekritikus (vgl. DEKONSTRUKSIE), sien dit soos volg: “Deconstruction … refuses to identify the force of literature with any concept of embodied meaning and shows how deeply such logocentric or incarnationist perspectives have influenced the way we think about art. We assume that, by the miracle of art, ‘the presence of the word’ is equivalent to the presence of the meaning… ” (in Bloom et al., 1979: vii, viii).
Begrippe soos “teken” (“The sign is that ill-named thing”, skryf Derrida in Of Grammatology), “struktuur”, “interafhanklikheid”, “essensies”, “betekenis”, is volgens dié teoretici mites, omdat die leser dit op die teks poneer. En sou die teks ‘n stuktuur hê, beweer Macherey, dan moes dit bestaan het voordat die teks geskryf is (in Young, 1981: 4, 5).
‘n Metode moet telkens bevraagteken, vernuwe én verwerp word — dikwels verwerp die post-strukturaliste in onderhoude hul standpunte van vroeër, en verder word kritiek verwelkom en by die nuwe teorie geïnkorporeer. Juis hierom word daar na ‘n faset van die post-strukturalistiese denke as dekonstruksiekritiek of dekonstruktivisme verwys: destruksie en rekonstruksie word onmiddellik hierdeur opgeroep. Vanselfsprekend staan die dekonstruksiekritici in veral die VSA (Harold Bloom, Paul de Man, J. Hillis Miller en Geoffrey Hartman) as ‘n HERMENEUTIESE mafia bekend. Binne die Angel-Saksiese tradisie is literatore nié bereid om al die vraagtekens en veranderinge te aanvaar nie, terwyl die kontinentale situasie daar anders uitsien. Derrida het navolgers soos Sarah Kofman, Lacoue-Labarthe e.a.
Die dekonstruktiviste sien die “free play of language” as ‘n belangrike teenvoeter vir die “prisonhouse of language” waarbinne die moderne leser hom bevind. Die teken — aldus Saussure — word arbitrêr verbind met die ding. Reeds hiermee — of veral hiermee — het Derrida (1976: 76) probleme: reeds die ding is vir hom ‘n teken.
Vir die dekonstruksiekritici bestaan die teks nie as ‘n objektiewe gegewe nie. Reeds wanneer die leser begin dekonstrueer, “breek” hy die bestaan van die objektiewe teks — daarom is dit meer gepas om te praat van tekstualiteit, d.w.s. die leesproses.
Dit lê voor die hand dat indien die leser sy metode sou bevraagteken, ‘n finale, afgehandelde analise van die teks nié moontlik is nie. Ook verdwyn die afstand tussen teks en leser: hulle word as ‘t ware één in ‘n “against method”-benadering.
Die dekonstruksiekritiek is egter net ‘n faset van post-strukturalistiese denke wat veral aan die Universiteit van Yale (New Haven, Connecticut) en die Johns Hopkins-Universiteit (Baltimore, Maryland) in die VSA en in Parys bedryf word.
Reeds in 1965 het Pierre Macherey ‘n oortuigende artikel, “Literary analysis: the tomb of structures” (in Young, 1981: 4—6) geskryf, waarin die meeste strukturalistiese konsepte skerp gekritiseer word. Macherey maak beswaar teen die metafisiese vóórveronderstellinge waarop die Strukturalisme gebaseer is. Vir die strukturaliste is ‘n “ontologiese eenheid” steeds aanvaarbaar — daarom ontdek die leser uiteindelik die finale, korrekte interpretasie van die teks.
Ook verwerp Macherey die gebruik van linguistiese modelle in ‘n literêre ondersoek. Prinsipes word só lukraak van een studieveld na ‘n ander oorgedra sonder genoegsame omskrywing en kwalifisering. Die meeste strukturaliste wend die linguistiek aan ten einde ‘n waas van objektiwiteit aan hul analises te verleen.
Macherey bevraagteken die konsep struktuur. “… the entirely unscientific hypothesis that the work has an intrinsic meaning (though this doesn’t imply that the meaning is explicit); paradoxically this enables it to be read before it has been written. To extricate a structure is to decipher an enigma, to dig up buried meaning (kurs. v. my) … Criticism merely produces a pre-established truth; but that might be called an innovation, because ideally it precedes the work” (in Young, 1981: 4).
‘n Belangrike punt om wel in gedagte te hou, is dat geen post-strukturalistiese opmerkings gemaak kan word sonder die bestaan van die Strukturalisme nie! Die Post-strukturalisme is dus eerder ‘n autocritique van die Strukturalisme wat die té vanselfsprekende aannames van lg. bevraagteken én nuanseer. (Derrida dekonstrueer De Saussure en Lévi-Strauss in Of Grammatology!)
‘n Duidelike bewys van dié samehang kan gevind word in die teoretiese oeuvre van Roland Barthes, die Paryse intellektueel. Barthes se tragiese dood in 1980 het ‘n einde gemaak aan die denke van die opwindendste Franse denker ná Jean-Paul Sartre.
Tot in 1963 het Barthes gewerk binne die aanvaarbare strukturalistiese tradisies: teks teenoor kritiek, leser teenoor teks. Soos ‘n konvensionele (strukturalistiese) kritikus “glo” Barthes dat die teks as ‘n DISKOERS behandel kan word — en dat die kritikus ‘n METATAAL gebruik om die eerste teks mee te analiseer en te beskryf. In sy meesterlike The Pleasure of the Text (1975; oorspronklik La plaisir du texte, 1973) verwerp hy dié “maklike” onderskeid.
Barthes is erg sibarities ingestel in dié teks: die teks moet erotiese plesier (jouissance) verskaf. So word die subjektiewe ervaring van die teks verkies bó ‘n pseudo-wetenskaplike analise. Tekstase (teks plus ekstase) is hier Barthes se uitgangspunt: “Is not the most erotic portion where the garment gapes’! In perversion (which is the realm of textual pleasure) there are no ‘erogenous zones’ (a foolish expression, besides); it is intermittence, as psychoanalysis has so rightly stated, which is erotic: the intermittence of skin flashing between two articles of clothing (trousers and sweater) between two edges (the open-necked shirt, the glove and the sleeve); it is the flash itself which seduces or rather: the staging of an appearance-as-disappearance” (Barthes, 1975: 9, 10).
Die leesproses word in seksuele metafore beskryf. Dit is onmoontlik om al die vlakke in hierdie teks te ondejskei — ‘n poging daartoe sou ook die Barthesiaanse intensie ondermyn — maar primêr sien Barthes ‘n verskil tussen die text of pleasure en die teks wat jouissance (bliss) verskaf. Pleasure kan as ‘n aktiewe proses verwoord word, terwyl bliss, ‘n passiewe toestand, nié verwoord kan word nie: “Here moreover, drawn from psychoanalysis, is an indirect way of establishing the opposition between the text of pleasure and the text of bliss: pleasure can be expressed in words, bliss cannot” (Barthes, 1975: 21).
Reeds in 1970 verskyn Barthes se S/Z, sy SEMIOLOGIESE ekskursie van Balzac se Sarrasine (1830). Geen skrywer wat oor die post-strukturalistiese beweging skryf, laat ooit na om na dié teks te verwys nie. In S/Z kan die meeste beginsels van die Post-strukturalisme aangetoon word. (Die onervare leser sal méér baat by S/Z vind indien hy The Pleasure of the Text eers bestudeer het.)
Barthes het hierdie studie gepubliseer ná ‘n twee jaar lange seminaar (1968—1969) aan die École pratique des Hautes Études in Parys. Barthes erken dat sowel vriende as studente deelgeneem het aan die projek — uiteindelik het Barthes natuurlik die gegewens geselekteer en geïnterpreteer.
Wat/wie is S/Z? Wat behels dit presies? Die S teenoor die Z suggereer die opposisie tussen die name van die twee hoofkarakters, nl. Sarrasine en La Zambinella.
Ook verwys dit na die s in Barthes se van en die z in Balzac s’n: BartheS/BalZac. Want Roland Barthes is natuurlik besig om Balzac se verhaal “oor te skryf”. Hy verdeel nl. die teks in 561 lexias (segmente) en interpreteer elke segment aan die hand van ‘n KODE.
Barthes onderskei vyf kodes waarvolgens dié teks gelees kan word: “the Voice of Empirics (the proairetisms), the Voice of the Person (the semes), the Voice of Science (the cultural code), the Voice of Truth (the hermeneutisms), the Voice of Symbol” (Barthes, 1974: 21).
Barthes bestudeer dus die teks vanuit dié raamwerk, hoewel ‘n mens vanselfsprekend ‘n ander een sou kon opstel. Ook skryf Barthes: “This ‘I’ which approaches the text is already itself a plurality of other texts, of codes which are infinite or, more precisely, lost (whose origin is lost)” (1974: 10). ‘n Ander ek sou met ‘n veelheid van ander kodes die teks benader en noodwendig ander kodes belangriker, of as minder belangrik, ag.
Deurdat die teks geknip of gesny word, laat Barthes nou skielik die klem op ongeïntendeerde aspekte in die teks val: sinne word bv. in die middel afgesny ten einde die versmelting van kodes op te hef (soos ‘n hand gedissekteer word: die bloedvate word afgesny, die weefsel geskei).
Die gevolg: kodes word uitgelig en skielik lees die leser weer ‘n minder belangrike aspek van die vertelling — want uiteindelik gaan dit vir Roland Barthes om die vertelling en nié die verhaal nie.
Van eenduidige, unilaterale interpretasies is nie meer sprake nie. Dit vertel dus nié die verhaal van Sarrasine, ‘n man, se liefde vir ‘n castrato La Zambinella nie. Nog minder is dit ‘n RAAMVERTELLING: nie ‘n storie-oor-‘n-storie wat ‘n jongman vir sy vriendin vertel óór die noodlottige liefdesverhaal ten einde haar liefde te wen nie. Die kodes — ná die disseksie — skuif weer ineen. Die leser is soos iemand wat in ‘n kamer vol spieëls bewus word van sy verskillende refleksies omdat die tekens in hierdie teks meerduidig is. Veral is dit meervlakkig omdat dit gedekonstrueer word deur ‘n uiters begaafde leser wat die Sarrasine/La Zambinella-gegewe meesterlik betrek by die man/vrou-situasie: sodoende “gebruik” Barthes ‘n sentrale strukturalistiese konsep (binêre opposisie), maar nie só rigied soos die strukturaliste nie — uiteindelik kan die teks hiervan “losgedink” word.
In sy outobiografiese biografie (hy skryf oor homself in die derde persoon) Roland Barthes (1977: 71), skryf hy dat die doxa (cliché, leë stelling of publieke mening) telkens vernuut moet word in die paradoxa, wat uiteindelik weer ‘n doxa word. Geen finale antwoord bestaan nie, en geen metode kan as die absolute “antwoord” gesien word nie.
Jacques Derrida se Of Grammatology sluit by veral twee aspekte van Barthes se oeuvre aan. Enersyds is daar ook sprake van ‘n sisteem wat telkens verander en selfs opgehef word, en andersyds is Derrida ook ingestel op ‘n skryfaksie. Barthes her-skryf Balzac se Sarrasine, terwyl Derrida téén die hele Westerse tradisie van dink protesteer: hy stel skryf (“writing”) bo praat (“speaking”). ‘n Mens kan dus hier verwys na grafematiek.
In Of Grammatology beweer Derrida (o.m.) dat die gesproke woord bó die skryfproses verkies word deur denkers soos Ferdinand de Saussure en al sy navolgers in die linguistiek. Daarom probeer hy om deur die grammatologie of die wetenskap van skryf tot ‘n nuwe benadering te kom.
Saussure se beginsel van die teken as ‘n arbitrêre keuse word deur Derrida gedekonstrueer: die teken kan nooit werklik vir (‘n) (die) betekenis staan nie, want die ding is alreeds ‘n teken. Ook impliseer die teken die afwesigheid van die ding. Die teken veronderstel ook, al is dit net vir ‘n oomblik, net dit en niks anders nie, maar terselfdertyd mag en kan die betekenis nié letterlik opgeneem word nie. Die verskil tussen teken en die betekende noem Derrida “différance”. Dit kan die beste verduidelik word aan die hand van die Engelse begrippe “differ” en “defer”.
“Differ” beteken om te verskil, anders te wees. Tot hier dink Derrida dus in konvensionele Saussureaanse kodes: die teken beteken, of verwys na ‘n voorwerp vanweë sy verskil met ander tekens. Maar Derrida gaan verder: “defer”, om uit te stel. Die teken stel ook sy betekenis uit…
Binne hierdie konteks moet Derrida se nou reeds beroemde opmerking gelees word: “The sign is that ill-named thing” (Derrida, 1976: 19). Hiermee erken hy sy ooreenkomste én verskille met Saussure: hy dink in terme van die Semiologie, maar verskil ook daarvan. (Derrida plaas “sign” en “thing” sous rature (Eng.: under erasure) — daarmee behou hy die tekens en word dit terselfdertyd gerelativeer.)
In Of Grammatology word Saussure, Lévi-Strauss en Rousseau gedekonstrueer ten einde die onderbeklemtoning van die skryfproses bloot te stel. In La dissémination (1972) behandel Derrida dieselfde problematiek in die werk van Plato, Mallarmé en Philippe Sollers.
In Glas (1974) word die “supplement of copula” op ‘n verbluffende manier gedemonstreer: Derrida plaas Hegel en Genet se tekste teenoor mekaar … dié van ‘n Duitse filosoof en dié van ‘n Franse homoseksuele skrywer wat vanweë diefstal in die tronk beland het. Hiermee illustreer Derrida hoe tekste in jukstaposisie mekaar se ruimte kan inneem, óórneem en “betekenis”, “interpretasie” kan verdraai of verwring. Ook is daar ‘n derde skrywer aanwesig, nl. Derrida self: hy plaas segmente en woordspelings by die twee tekste. Die uiteinde (vir die oomblik) is ‘n teks wat homself parodieer én ophef.
Om na nog ‘n enkele fundamentele Derrida-werk te verwys: La carte postale de Socrate à Freud et au-del à (1980). Derrida skryf oor Freud en sy interpreteerder Lacan. In die teks word etlike poskaarte gestuur aan niemand én aan almal, en die voorveronderstelling van waarheid, betekenis en finaliteit word bevraagteken. Die poskaarte het geen oorsprong of bestemming nie — net soos ons waarheidsopvattings geen oorsprong of bestemming het nie.
Ook bevraagteken Derrida Lacan se interpretasies van Freud. Derrida is dit eens dat ‘n mens Freud net kan verstaan deur ‘n tekensisteem. Dog verwerp hy Lacan se aanname dat taal ‘n absolute is wat op waarheid aanspraak kan maak.
Ter afsluiting ‘n bekende Derrida-opmerking: “II n’y a pas de hors-texte” (“Daar is niks buite die teks nie”) — ook nie waarheid nie, en veral nie finaliteit nie.
(Vgl. NOUVELLE CRITIQUE, DEKONSTRUKSIE en INTERTEKSTUALITEIT.)
Bibliografie
Althusser, L., Rancière, J. & Macherey, P. 1967. Lire le capital I. Paris: Maspero.
Barthes, R. 1974. SIX. New York: Hill & Wang.
Barthes, R. 1975. The Pleasure of the Text. New York: Hill & Wang.
Barthes, R. 1977. Roland Barthes. New York: Macmillan.
Bloom, H., De Man, P., Derrida, J., Hartman, G. en Hillis
Miller, J. 1979. Deconstruction & Criticism. London: Routledge & Kegan Paul.
Derrida, J. 1972. La dissémination. Paris: Seuil.
Derrida, J. 1974. Glas. Paris: Galilee.
Derrida, J. 1976. Of Grammatology. Baltimore: Johns Hopkins University Press.
Derrida, J. 1980. La carte postale de Socrate à Freud et audeá. Paris: Aubier Flammarion.
Saussure, F. de. 1966. Kursus in algemene taalkunde (vert. A. Lee). Pretoria: Van Schaik.
Young, R. 1981. Untying the Text: A Post-Structuralist Reader. London: Routledge & Kegal Paul.
Joan Hambidge