Die prosodie (Gr.: prosodia: ‘n lied gesing met instrumentale begeleiding) kan breedweg gesien word as die studie van die struktuur van die VERS. Die prosodie gaan in wese om die bestudering van die vloei van klanke in ‘n bepaalde verloop van tyd. Dit word ook versleer of versifikasie genoem. Die prosodie betrek aspekte soos die RITME, RYM (dit sluit alliterasie en assonansie in), METRUM (‘n groot deel van die prosodie wentel hierom), aksent, STROFEVORM, versmaat, sesuur (ruspouse in die vers), diareses (dit kom voor wanneer die einde van die versmaat en die einde van ‘n woord saamval), toonhoogte, pousering, tempo, melodie, die faktore wat die verseenheid bepaal, tonaliteit (klankkwaliteit), ens.
By die antieke Griekse grammatici het die term prosodie verwys na die hoogtoon, dieptoon en skuurtoon (hoog- en dieptoon) van sillabes. Dié onderskeiding is gemaak op grond van die musikale aksent van die woord. Die prosodie het ook in verband gestaan met aspirasie, die aard en duur van klanke asook die verhouding tussen sillabes in die samevoeging daarvan tot woorde en die verhouding tussen woorde in die samevoeging tot sinne.
In die KLASSIEKE LITERATUUR het die prosodie i.v.m. die bestudering van aksent (Lat.: accentus, adcantus; Gr.: prosodia), fonetiese aspekte, metrum en ritme gestaan. Daar was ‘n verdeling in die geledere van die bestudeerders van die prosodie tussen die rhythmikoi en die metrikoi. Die rhythmikoi, veral die filosoof Aristoxenus, het die musikaliteit van die ritme bestudeer, terwyl die metrikoi (bv. Sint Augustinus: De musica) die metrum in die grammatika of in die literatuur bestudeer het. Die klassieke retorikus Cicero het in sy Orator die bestudering van die prosaritme by die prosodie ingesluit. In die Middeleeue is die studie van die prosaritme voortgesit. Die studie van die prosodie was in die Middeleeue gebaseer op die retoriek en nie so veel op die grammatika as sodanig nie. Dit het die basis gevorm van die moderne prosodie.
Die prosodiestruktuur van een taal kan nie sonder meer op ‘n ander taal of op die literatuur van ‘n ander taal oorgedra word nie. Vergelyk Preminger (1979: 670) in die Princeton Encyclopedia of Poetry and Poetics: “for languages differ in their selection and emphasis among universally available phonetic elements and modes of combining them”. So speel toonhoogte, klem, duur, ens. nie ‘n ewe belangrike rol in verskillende tale nie. In bv.
Sjinees speel die toonhoogte ‘n baie belangrike rol, omdat dit ‘n semantiese waarde het, terwyl die betekenis van ‘n woord in Afrikaans nie van die toonhoogte daarvan afhang nie. Dit was die geval in klassieke Grieks. In Latyn is die lengte van die sillabes van deurslaggewende belang by die metrum, terwyl aksent in Afrikaans belangrik is by die vestiging van ‘n metriese patroon. Gedurende die vroeë Middeleeue was klemtoon en rym weer belangrik in die Latynse poësie, hoewel gedigte sonder ‘n vaste rympatroon ook voorgekom het.
‘n Onderskeid kan getref word tussen linguistiese prosodie en literêre prosodie. In die linguistiese prosodie gaan dit om ‘n studie van die prosodiese elemente van die taal in die algemeen, d.w.s. die wyse waarop die fonetiese elemente in die spraak funksioneer. Dit het betrekking op sake soos intensiteit, duur, toonhoogte, klankoorgange en paradigmatiese en sintagmatiese ooreenkomste en verskille.
Die literêre prosodie is die studie van die prosodiese elemente in ‘n literêre werk. Linguistiese en literêre prosodie is beskrywend van aard. Die prosodie van enige literêre werk kan bestudeer word, maar die term word meestal in verband met die poësie gebruik. Goeie digters het elkeen ‘n karakteristieke prosodie; Shapiro & Beum (1965: 2) verwys hierna as ‘n “language within a language”. In die goeie gedig (of literêre werk in die algemeen) dien die prosodiese struktuur as ondersteuning vir die semantiese aspekte — die gedig is wat dit sê dit is. So sal ‘n mens bv. in ‘n gedig wat op semantiese vlak ‘n speelse inslag het, ‘n vinnig bewegende ritme hê om die speelsheid van die betekenis te eggo: “Die osse stap aan deur die stowwe/ -Nie die osse van Jan F. Celliers./ Maar rooi Afrikaners en Mowwe/ Van die voorste voortrekker, Naudé” (“Lotos-land” deur A.G. Visser). Omgekeerd: ‘n mens het ‘n vinnig bewegende ritme a.g.v. die speelsheid op semantiese vlak. Dié speelsheid word ook deur die rym weerspieël. (Vgl. IKOON EN IKONISITEIT.)
Ritme en betekenis kan ook van mekaar verskil om dan ‘n ironiese, satiriese, humoristiese effek, ens., te verkry.
Verder kan die prosodie teoreties of histories van aard wees.
In die teoretiese prosodie (achronies of panchronies) gaan dit om die bepaling van die algemene struktuur van die prosodiese elemente. Die historiese prosodie (sinchronies of diachronies) is die teorie en die geskiedenis van die prosodie. Dit kan vergelykenderwys (komparatisties) geskied of op beperkte wyse, d.w.s. beperk tot die nasionale of tot ‘n bepaalde linguistiese eenheid.
Die evaluerende prosodiekritiek sentreer om die evaluering van die linguistiese korrektheid van ‘n uiting. Dit kan vanuit ‘n grammatiese, retoriese of estetiese standpunt geskied.
Die voorskriftelike prosodie stel praktiese reëls daar vir die ritmiese komposisie en interpretasie van die linguistiese eenheid. Dié reëls staan altyd i.v.m. die heersende beskrywende prosodie en die prosodiekritiek.
(Vgl. METRUM, en vir nuwer tendense GENERATIEWE METRUM.)
Bibliografie
Braak, I. 1964/1980. Poetik in Stichworten. Kiel: Hirt.
Crystal, D. & Quirk, R. 1964. Systems of Prosodie and Paralinguistic Features in English. The Hague: Mouton.
Fraser, G.S. 1970. Metre, Rhyme and Free Verse. London: Methuen. (The Critical Idiom.)
Palmer, F.R. (ed.). 1970. Prosodie Analysis. London: Oxford University Press.
Shapiro, K. & Beum, R. 1965. A Prosody Handbook. New York: Harper & Row.
Waugh, L.R. & Van Schooneveld, C.H. (eds). 1980. The Melody of Language. Baltimore: University Park Press.
Anna-Marie Bisschoff