Reisverhale is so oud soos die mens self. Verhale oor reise was onder die eerste stories wat deur die primitiewe mens oorvertel is, en weens die mondelinge oordrag daarvan het die oudste vorm van reisindrukke in die vergetelheid geraak.
Om na ‘n onbekende land te reis, om die aard van die landskap, die mense en hulle maniere daar te leer ken, bly steeds ‘n opwindende ervaring. Die revolusie wat die moderne tegniek t.o.v. lugvervoer teweeggebring het, het die wêreld benouend klein gemaak. Om dié rede is die opbloei van reisprosa in die naoorlogse en eietydse wêreldliteratuur verstaanbaar.
Primêr behoort die reisprosa tot die beskrywingskuns. Dit is eie aan die aard van die subgenre van die kunsprosa dat die landstreke waardeur gereis word of waarop die aandag gerig is, die uitgangspunt van die beskrywing sal wees. Die gerigtheid van die reisiger-waarnemer op ‘n empiriese ruimte en meer bepaald op ‘n onmiddellike fisiese ruimte bring mee dat dikwels meer klem op die spesifieke konstituerende elemente gelê word, ‘n Kenmerk van die strukturele organisasie van die reisprosa is dat die persoonlikheid van die waarnemer-verteller ten nouste met dié ruimtebeskrywing geïntegreer is. Reisbeskrywings kan varieer van ‘n subjektiewe verslag (bv. Ernst van Heerden se Etikette op my koffer) tot ‘n objektiewe beskrywing met noukeurige gegewens oor geografiese en historiese besonderhede, bv. C.L. Leipoldt se Uit my Oosterse dagboek.
Alle reisverhale het die volgende kenmerke gemeen: ‘n ruimte (plek, streek, land) wat deur ‘n reisiger tydens ‘n bepaalde reis besoek word; dan sy reisherinneringe in ‘n vorm wat vir die reisprosa doelmatig is om te verwoord. Die konstituerende elemente in die reisverhaal, nl. waarnemer-reisiger (vertellende reisiger), TYD, RUIMTE en PLOT is aan die volgende aanbiedingswyse onderhewig: in die reisverhaal word alle reisindrukke vertel en beskryf vanuit die gesigshoek van die reisiger-waarnemer — die skrywer is dus die spreker en in alle opsigte vervul hy/sy die funksie van die eerstepersoonverteller. Die teoretiese dualiteit, soos ‘n mens dit in die romankuns tussen skrywer en fiktiewe VERTELLER vind, bestaan in die algemeen nie in die reisprosa nie. Die feit dat die reisverhaal altyd vanuit die PERSPEKTIEF van die eerste persoon aangebied word, gee aan dié subgenre ‘n subjektiewe, persoonlike en intieme karakter. Terselfdertyd is dié bepaalde element, nl. die eerstepersoonvertelling, juis dit waaraan die reisprosa in alle gevalle van ander subgenres van die EPIEK onderskei kan word. Die reisverhaal is geen filmiese weergawe van reisindrukke nie, nog minder is dit ‘n statistiese opgawe van bv. bevolkingsyfers, landbouproduksie, ens. Reisverhale wat enigsins iets van ‘n tydloosheid besit, is die subjektief geselekteerde “herskepping” van die waarnemings van die reisiger van die bereisde land. Die reisverhaalskrywer moet sy belewenisse van die vreemde so in taal manifesteer en die gebeure so orden dat hy die belangstellende leser ‘n reisgenoot kan maak.
Om ‘n terminologie vir die reisprosa op te stel wat elke tipe eksplisiet kan benoem, is nie so ‘n maklike taak nie. Dié subgenre van die epiek word deur vier oorkoepelende terme, nl. “reisprosa”, reisverhaal, “reisliteratuur” en “reisboek” aangedui. Daar is in die literatuur oor hierdie saak geen vaste en deurlopende gebruik vir een van die bg. terme nie. “Reisprosa” het as term die mees oorkoepelende benoemingswaarde, want die tipes wat as woordkuns (bv. die reisskryfkuns van Elsa Joubert) en dié wat as nie-reiswoordkuns (reisjoernale van die 17e eeu) van die subgenre beskou word, het almal ‘n gerieflike tuiste binne die betekenisomvang van die woord. Die volgende skema van die reisprosa, wat terselfdertyd ook ‘n bruikbare terminologie poneer, lyk na ‘n wetenskaplik aanvaarbare kategorisering vir die subgenre:
Kategorieë en terminologie van die reisprosa
Reisprosa
Reisverhaal
Reisliteratuur
Reisboek
Nie-reis- Langer vorme van die Kort-reis-
Woordkuns reiswoordkuns woordkuns
Reis- Reis- Reiskort-
skets essay verhaal
Reisgids Reisverslag
Reisjoernaal Reisbeskrywing Reisroman
Reisdagdoek
Reisbrief
Hierbenewens moet daarop gewys word dat die reisverhaal soms in die versvorm aangebied word, al kom dit minder dikwels voor. In ‘n sekere opsig kan mens D.J. Opperman se versepos Joernaal van Jorik as ‘n reisverhaal beskou.
Dat reis en die verslaggewing daarvan, sedert die oertyd tot vandag, ‘n aktiwiteit van die mens was, blyk uit die enkele verwysings na die geskiedenis van die reisverhaalkuns. Ongeveer 850 v.C. vind ‘n mens Homeros se Odusseia. Dié EPOS is in digvorm geskryf en handel oor Odusseus se terugtog ná die Trojaanse oorlog. Die Moderne encyclopedie der wereldliteratuur (Bachrach & Tigges, 1972: 222) beskou die epos as “het oudste voorbeeld van reisliteratuur”, en by dié siening kom daar nog ‘n plusfaktor, nl. dat dit “de literatuur (is) waarbij de reis word gezien als een symbool, byvoorbeeld van het menselijk leven of een fase daarvan”. Hierdie opmerking is bv. uitstekend van toepassing op Joernaal van Jorik.
Gedurende die Klassieke Oudheid, omtrent die 5e eeu v.C., vind ‘n mens Herodotos se magistrale Historiae, waarin beskrywinge van sy reise na Griekeland, Asië, Egipte en Italië opgeneem is. Van ‘n heel ander aard in dié tyd was Xenophon se Anabasis, wat nie net “handelsmissies en veldtochten” (Bachrach & Tigges, 1972: 219) beskryf het nie maar ook ‘n sterk filosofiese inslag gehad het.
Die laat Middeleeuse teks van Dante, nl. die Divina commedia, waar Vergilius letterlik en figuurlik die skrywer as gids na die hemel via die hel en vagevuur dien, is ‘n mooi voorbeeld van die simboliek wat in die menslike pelgrimstog ingeweef is. Die verhaal, wat in versvorm geskryf is, is ‘n verbeeldingsreis deur “the world of souls” (Hammerton, 1942: 970), waar onderskeideIik twee gidse met die volgende simboliese heenwysings optree: die wysheid word deur Vergilius en die heerlikheid van God deur Beatrys gesimboliseer.
Gedurende die Middeleeue vind ‘n mens ook naas die reisverhaal “wat allegorie geword het” (Joubert, 1972a: 2) die suiwer reisbeskrywing met ‘n oorwegend feitlike inhoud, bv. die verslag van Marco Polo se reis (1271-1295) na Kublai Khan in Tartarye. In Voiage of Sir John Maundeville (1355), waar daar op die grens van feite-inhoud en fantasie gehuiwer word, word die reise van ‘n Engelse edelman na die Heilige Land, Turkye, Persië, Egipte en Indië weergegee.
Cervantes se beskrywing van Don Quijote se togte onder die titel Don Quijote de la Mancha (1605) het nie net ‘n sterk verband met die reisverhaal nie, maar dit lê ook die grondslag van die moderne ROMAN.
Hierdie beskrywing van Don Quijote se togte toon dat die enkeling belangriker as sy gemeenskap is en “dat die droom meer sin het as die besondere stel omstandighede wat ons ‘die werklikheid’ noem” (Brink, 1967: 17). The Pilgrim’s Progress (1678) van John Bunyan is ‘n religieus-filosofies gerigte beskrywing van ‘n pelgrimstog wat as produk van die 17e eeu nog altyd en orals geldig is.
Die 17e-eeuse reisbeskrywings het ook die weg vir die avontuurroman van die 18e eeu gebaan. Die Nederlandse reisigerjoernaalskrywers soos Van Linschoten, Bontekoe van Hoorn en Hendrik Hamal het in 17e-eeuse Hollands as “vaarders na die onbekende” (Van Heerden, 1968: 1) hulle avonture verhaal. “De picareske roman met de reis van heer-met-(schelm)-knecht” (Bachrach & Tigges, 1972: 224) (vgl. PIKARESKE ROMAN) as grondpatroon, se belangrikste eksponente in die 18e eeu was Defoe, Smollet en Fielding, en in die 19e eeu die jeugwerk van Dickens, o.a. The Pickwick Papers (1837).
Die Industriële Revolusie het ‘n sterk verstedelikingsproses teweeggebring, wat aanleiding tot ‘n nuwe soort reis gegee het. Tydens die periode van die ROMANTIEK word die landelike die toevlugsoord waar die mens van die “milieubedervende stadsatmosfeer” (Bachrach & Tigges, 1972: 218) kon ontsnap. Gevolglik vind ‘n mens in die reisverhaal ‘n groter subjektiewe element — die waarneming is hoofsaaklik op die pittoreske, die idilliese in die natuurlandskap gefokus. Die toenemende, subjektiewe aard in die reisgeskrifte word deur Van Heerden so gemotiveer: “… of die reisiger minder of meer ‘uiterlike’ feite meedeel, basies gee hy feite oor homself. In dié opsig is reisliteratuur byna so ‘persoonlik’ soos die poësie self!” (Van Heerden, 1968:1). Bekende skrywers en hulle werke kan in die verband genoem word: Wordsworth se Descriptive Sketches (1793), Goethe met sy Italienische Reise (1816), Reisebilder (1826—1831) van Heine en Byron se Childe Harold’s pilgrimage (1812—1818).
Aan die einde van die vorige eeu is dit skrywers soos Couperus, Kipling, Conrad en André Malraux wat bydraes tot die Westerse reisprosa gemaak het. Die eksponente van die reisliteratuur van die 20e eeu was onder andere twee Engelse skrywers: E.M. Forster met sy A Passage to India (1924) en A Room with a View (1908); dan Under the Volcano (1947) van Malcolm Lowry, en Amerikaanse skrywers soos Nabokov (Lolita, 1955) en Kerouac (On the Road, 1955).
In die Afrikaanse literatuur, net soos in ander literature, het die mees vooraanstaande skrywers ook reisprosa geskryf. Die reisprosa het in Afrikaans, wat styl en eksperiment betref, min of meer dieselfde ontwikkelingsgang as die verhalende prosa gevolg. Vanaf die Daghregister van Jan van Riebeeck, wat as ‘n reisdagboek getipeer kan word en in die tipiese 17e-eeuse Hollandse styl geskryf is, het die reisprosa tot die reisroman Isis Isis Isis (1969) van Etienne Leroux ontwikkel.
Die belangrikste eksponent van die reisboek in die laat 19e eeu hier te lande was ds. S.J. du Toit. Hy publiseer agtereenvolgens die volgende reisbeskrywings, nl. Op reis (1881), Bybellande doorreisd (1883), Alweer op reis (1886) en Sambesia (1894). Di koninginfan Skeba (1898) is ‘n historiese roman wat as RAAMVERTELLING aangebied word waarin die verteller op die een tydruimtelike vlak die avontuurlike gebeure van die geselskap tydens hulle reis beskryf.
Die feit dat reisboeke uit die ouer Afrikaanse literatuur, o.a. Totius se Bybellande deurreis, Op Safari van Sangiro, Sol y sombra van Uys Krige en Ernst van Heerden se Etikette op my koffer, die tyd weerstaan het en nog genotvolle leesstof is, maak die reisprosa deel van die verhaalskat hier te lande.
Bekende skrywers het gedurende die sestigerjare ‘n belangrike bydrae tot die reisprosa gemaak. André P. Brink is een van die produktiefste Afrikaanse reisprosaskrywers, en agtereenvolgens skryf hy die volgende reisboeke: Sempre diritto (1963), Olé (1965), Midi (1969), Parys-Parys: retoer (1969), Fado (1970) en Pot-pourri (1982).
Verder is van hom in Kompas twee reissketse opgeneem, “Son en sneeu” en “Gister en vandag”, en “Min vir ‘n sikspens” uit Pot-pourri en “Manana” uit Olé vind ‘n mens in die versamelbundel Trekvoëls met A.P. Grové as redakteur.
Abraham de Vries, wat aan die lesers bekend is as skrywer van kortverhale, het die reisboeke Die rustelose Sjalom (1965), Afspraak met eergister (1966) en Joernaal uit ‘n gragtehuis (1968) geskryf. Die sprankelende bundel reisessays, Die verlange loop ver (1969), is ‘n besinning oor verskeie waarnemings en gebeure tydens ‘n reis in elf lande.
Agter my ‘n albatros (1959) is Anna M. Louw se eerste reisboek, waarin sy haar herinneringe aan die Wes-Europese lande beskryf. Daarna volg Dié wat met die fluite loop (1967) en Die derde tempel (1978). Elsa Joubert het ‘n indrukwekkende bydrae as reisboekskrywer gelewer. Die reisboeke wat agtereenvolgens van haar verskyn het, is die volgende: Water en woestyn (1956), Suid van die wind (1962), Die staf van Monomotapa (1964), Swerwer in die herfsland (1968) en Die nuwe Afrikaan (1974). Daar is ook verdere bydraes van haar tot die versamelbundel Kompas (red. J.P. Smuts) (1965) en Dames sewentien (samest. C.J.M. Nienaber); “Die woud wat sterwe” is in Trekvoëls opgeneem, terwyl ‘n mens “Kairo”, ‘n herinnering aan haar Egiptiese reis in die vorm van ‘n reisskets, in Stad en stedelig (oorspronklik deur die SAUK uitgesaai as radiopraatjies) vind.
Karel Schoeman het twee Ierse dagboeke geskryf, wat eerder verblyfjoernale is, omdat die reis hier min ter sprake kom, nl. Berig uit die vreemde (1966) en Van ‘n verre eiland (1968). Verder vind ‘n mens by Schoeman Koninkryk in die noorde (1977), wat ‘n tipiese reisbeskrywing is, en Op ‘n eiland, wat ‘n reisroman is. Onderweg (1978) is ‘n potpourri van herinneringe aan reise na stede en lande in Europa en die Engelse Eilande, wat hy in die jare van sy verblyf in Amsterdam onderneem het.
In 1988 verskyn M.C. Botha se Zambezi wat die outeur in die voorwoord ‘n “reisjoernaal” noem. Die agterbladteks dui die boek aan as “die eerste reisbeskrywing in Afrikaans in jare”. Die boek handel oor ‘n reis in ‘n minibus van Kaapstad, deur Zimbabwe en Botswana en weer terug na Kaapstad. Tussen hierdie reisboek van M.C. Botha en dié van S.J. du Toit se Sabesia (1894) waar hy sy reis deur Matabeleland en Masjonaland beskryf, is daar ‘n merkwaardige ooreenkoms.
Bibliografie
Aucamp, H. 1978. Die reisboek op skool. In: Aucamp, H. Kort voor lank. Kaapstad: Tafelberg.
Brink, A.P. 1967. Aspekte van die nuwe prosa. Kaapstad: Academica.
Dekker, L. 1977. Reisiger, oog en bril: die kortkuns van Hennie Aucamp. In: Steenberg, D.H. (samest.). Random Sestig. Kaapstad: HAUM.
D’Oyley, E. (ed.). 1932. Great Travel Stories of all Nations. Sydney: Harrap.
Godée Molsbergen, E.C. 1976. Reizen in Zuid-Afrika in de Hollandse tijd. ‘s-Gravenhage: Nijhoff.
Grové, A.P. (samest.). 1969. Trekvoëls. Johannesburg: Voortrekkerpers.
Hammerton, J. (ed.). 1942. The New Book of Knowledge. London: Waverley.
Joubert, E. 1972a. Jan Rabie in gesprek met Elsa Joubert. In: Gesprekke met skrywers. Dl. 2. Kaapstad: Tafelberg.
Joubert, E. 1972b. Die reisverhaal. Tydskrifvir letterkunde, 10.
Louw, A.M. 1972. Anna M. Louw in gesprek met T.T. Cloete. In: Gesprekke met skrywers. Dl. 2. Kaapstad: Tafelberg.
Van der Walt, P.D. 1977. Isis Isis Isis as reisroman. In: Steenberg, D.H. (samest.). Rondom Sestig. Kaapstad: HAUM.
Van Heerden, E. 1968. Die reisverhaal — teorie en praktyk. Kriterium, 1.
M.C.A. Seyffert