ROMANSE

Die term romanse (romanice: volkstaal) is aanvanklik gebruik vir ‘n verhalende gedig in die volkstaal. Die romanse was oorspronklik bedoel om gesing te word. Dit is ‘n veelduidige term waarvan die gebruik nie altyd duidelik omlyn is nie. Indien enige langer romantiese verhaal waarin die liefde en avontuur ‘n groot rol speel as ‘n romanse beskou word, omvat dit die hele hoofse EPIEK (d.w.s. die epiek waarin die hoflewe van die 12e eeu op geïdealiseerde wyse uitgebeeld word) tot en met die RENAISSANCE.

Dan sluit dit die SAGES van koning Arthur in, en ook die graal LEGENDES, die LIEFDESALLEGORIE (bv. die Roman de la rose) en die Karolingiese verhaalsiklusse soos die Chanson de Roland. Die benaming romanse word ook gebruik t.o.v. Griekse erotiese verhale uit die Hellenistiese tyd, bv. Longus se Daphnes en Chloë, Heliodoros se Theagenes en Chariclea en Chariton se Chaereas en Callirrhoë.

Normaalweg verstaan ‘n mens onder romanse egter die *Middeleeuse verhalende gedig “waarin een flukse plaats is toebedeeld aan het gevoel, (gewoonlijk) met een happy ending en minder zwaar-op-de-hand dan de ballade”, aldus Buddingh’ (1978: 162) in Lexicon der poëzie. Die romanse is in versvorm geskryf en was nie-histories van aard. Dit het soms ‘n didaktiese inslag gehad. Later is romanses ook in prosavorm geskryf.

Die gebeure in die romanse is “usually concerned with characters (and thus with events) who live in a courtly world somewhat remote from everyday”, sê Cuddon (1979: 578) in A Dictionary of Literary Terms. Hiermee vloei die elemente van die fantasie, onwaarskynlikheid, naïwiteit, liefde en avontuur ineen.

Die romanse kan in drie kategorieë verdeel word, nl. die Britse romanse, wat die Arthurromanses insluit, die Romeinse romanse, wat die verhale van Alexander, die Trojaanse oorlog en Thebe insluit, en die Franse romanse, wat meestal oor Karel die Grote en sy ridders handel.

Die Middeleeuse metriese romanse toon ‘n ooreenkoms met die CHANSON de geste (‘n Middeleeuse epiese gedig wat vertel van die dade van historiese of legendariese figure) en die EPOS. Chrétien de Troyes is een van die bekendste Middeleeuse romanseskrywers, bv. Eric, Cligès, Chevalier à charrette, Lancelot, Yvain en Perceval. Duitse Middeleeuse romanses is bv. Hartmann von Aue se Iwein (1203), Gottfried von Strassburg se Tristan und Isolde (1210) en Wolfram von Eschenbach se Parzival (1210). Twee baie bekende Engelse romanses uit die 14e eeu is Lay of Havelok the Dane en Sir Gawein and the green knight.

Die romanse het ook gedurende die Renaissance voorgekom, bv. Spenser se Faerie Queene. Sidney se Arcadia (1590) is ‘n romanse in prosavorm.

Gedurende die ROMANTIEK kom daar ‘n hernude belangstelling in die verlede, VOLKSVERHALE en SPROKIES, sodat die romanse na Wes-Europa versprei het. Dit was veral gewild in die Duitse literatuur, bv. by Herder, Bretano (Romanzen ‘vom Rosenkranz) (1804—1812), Tieck en Uhland. Ander romanseskrywers is bv. Byron, Tennyson, Victor Hugo, Feith (Colma, 1782), Bellamy, Bilderdijk (Elius; Urzijn en Valentijn), Staring (Ada en Rijnoud) en Beets.

In die Spaanse literatuur verwys die romanse na ‘n liries-epiese GENRE van die 14e en 15e eeu van half-legendariese en half-historiese volkse oorsprong. Liefde, wraak en stryd speel ‘n groot rol hierin. Die Spaanse romanse het bestaan uit sestien- of agtlettergrepige verse wat assoneer. ‘n Sesuur het dit in twee agtlettergrepige of vierlettergrepige helftes verdeel. Romanseskrywers is o.a. Góngora, Lope de Vega en Quevedo. Romancero general is voorbeeld van ‘n Spaanse romanse.

(Vgl. ROMAN en RIDDERROMAN.)

Raadpleeg ook:

Gibbs, A.M. 1988. J.M. Synge’s forms of romance. Modern Drama, 31(4).

Mandel, J. 1988. The grotesque rose: Medieval romance and The great gatsby. Modern Fiction Studies, 34(4).

Reiss, E. 1985. Romance. In: Heffernan, T.J. (ed.). The Popular Literature of Medieval England. Knoxville: University of Tennessee Press.

 
Anna-Marie Bisschoff