RONDEEL

Die rondeel is ‘n term wat ons gebruik vir ‘n digvorm wat gedurende die Middeleeue in Frankryk verskillende name gedra het (rondel, rondelet, rondin, ens.) en later daar algemeen as rondeau bekend gestaan het. Dis ‘n tipiese Franse vorm wat in die 13e eeu ontstaan het en wat, nes bv. die Franse BALLADE deur drie uiterlike trekke gekenmerk word: ‘n vaste bou, ‘n vaste rympatroon en ‘n terugkerende element (refrein).

Die rondeel (wat die woord “rond” in hom dra) het ontwikkel uit die reilied gesing by die rondedans, en die herkoms het steeds voelbaar gebly in die opset, dit het trouens die opset bepaal.

Die rondeel het op verskillende tye en by verskillende digters nie altyd presies dieselfde patroon aangeneem nie, en daar is teoretici wat die verskille tot in die name wil deurvoer en bv. ‘n verskil wil maak tussen die ronde(e)l en die rondeau as sou dit twee totaal verskillende vorme wees. Ander beskou dit weer as kunsmatige onderskeidings wat baie later eers, in die 19e eeu, ingevoer is. Vir hulle is die verskillende verskyningsvorme maar variante van die rondeel solank die genoemde basiese eienskappe behoue bly, tesame met ‘n besliste geslotenheid en sekere musikale karakter.

Gesaghebbende Franse bronne volstaan dan ook met een term: rondeau, wat ons met rondeel weergee. Om die variasies, of dan sommige van hulle, te dek, word dan gepraat van die “eenvoudige” rondeel, die “dubbel” rondeel, die “volmaakte” rondeel en die “nuwe” rondeel. Die rondeel wat die meeste voorkom en wat ons dus as die normale kan beskou (soms genoem die “dubbel” rondeel) is gebou op twee ryme en bestaan uit dertien of veertien agt- of tien-sillabiese reëls wat oor drie strofes versprei is, waarvan die eerste twee vier reëls elk beslaan, die laaste een vyf of ses, afhangende van die aantal refreinreëls wat aan die einde terugkeer. Beroemde beoefenaars van die vorm was Charles d’Orléans (1391—1465) en Francois Villon (1431—1463), en ‘n goeie voorbeeld is eg. se “Le temps a laissé son manteau”, of dan die volgende rondeel wat hier in die uitstekende Leopold-vertaling aangehaal word en wat die somber sy van D’Orléans vertoon:
Verlaat mij en gaat heen, gaat heen,
zorg, druk en droefenis van zinnen;
of dacht gij altijd bij mij binnen
uw wil te hebben als voorheen?

O, maar ik zeg u aan van neen;
verstand zal u wel overwinnen,
verlaat mij dan, gaat heen, gaat heen,
zorg, druk en droefenis van zinnen.

En zoo weer ooit voor mij verscheen
uw aankomst en van uw vriendinnen,
zoo moge God dit nieuw beginnen
verdoemen en den dag meteen;
verlaat mij dan, gaat heen, gaat heen,
zorg, druk en droefenis van zinnen!

Die rymskema is dus soos volg: ABba/abAB/abbaAB, waar die hoofletters die refreinreëls aandui. Opvallend ook hoe die musikaliteit ondersteun word deur die alternering van manlike en vroulike RYME, hoewel D’Orléans van die eerste digters was wat musiekbegeleiding by sy gedigte nie nodig geag het nie. Ongelyke versreëls is in die rondeel gedoog, maar voorkeur is gegee aan reëls van sewe, agt of tien sillabes.

Hierdie vorm, die D’Orléans-model soos dit ook genoem word, sou meermale in die Franse literatuur sy verskyning maak, ook in ander tale, bv. in Engeland van die 19e eeu: bv. W.E. Henley, Austin Dobson en R.L. Stevenson. Ook in Nederland, dikwels by H.W.J. Keuls, ‘n enkele keer by J.C. Bloem (“De korte liefde en ‘t lange lijden”) en by Anthonie Donker (“Het lieflijkste is niet weer te geven”).

Die “eenvoudige” rondeel (rondeau simple) was ‘n kort gedig van sewe of agt reëls gebou op die patroon ABaAabAB, d.w.s. reël een(A) keer terug as reëls vier en sewe, terwyl reël twee(B) weer as reël agt opduik. Hierdie vorm, wat later, in die 16e eeu, ook as triolet bekend sou staan, is vroeg al gepopulariseer en beoefen deur Guillaume de Machaut (1300―1377) en Jean Froissart (± 1337—1404).

Die sg. “volmaakte” rondeel (rondeau redouble) het uit ses 4-reëlige strofes met twee ryme bestaan. Die inrigting is verder sodanig dat elke reël van die eerste strofe in volgorde terugkeer as die laaste reël van die volgende vier strofes, terwyl die laaste strofe deur ‘n gedeeltelike repetisie van die eerste reël gevolg word. Die skema lyk dus soos volg: ABAB/babA/abaB/babA/abaB/ babaX, waar X ‘n gedeelte van die heel eerste reël verteenwoordig — ‘n heel ingewikkelde rondeelvorm dus wat o.a. deur Clément Marot in die 16e, en Th. de Banville in die 19e eeu beoefen is.

Die sg. “nuwe” rondeel wat in die 16e eeu na vore gekom en heelwat beoefenaars gevind het (Marot, Vincent Voiture, 1597—1648, en Alfred de Amusset in die 19e eeu) het normaalweg 13 reëls bevat, verdeel in twee strofes van vyf reëls elk, geskei deur ‘n strofe van drie reëls. Die refreinelement word ook hier behou deurdat die eerste woord of woorde van die gedig buite die rymskema om net na die tweede en derde strofe terugkeer. Die skema is dus: aabba/aabX/aabbaX, waar X ‘n woord of twee uit die eerste vers verteenwoordig.

Die rondeel met sy variante is in die 14e en 15e eeu druk beoefen, ook in Nederland deur bv. Matthys de Casteleyn (1485—1550). Tydens die Renaissance tree die vorm op die agtergrond net om, soos ons gesien het, weer in die 18e en 19e eeu terug te keer. Met die tyd het daar ook allerhande wysiginge en mutasies ingetree. So het Keuls bv. ‘n voorliefde getoon vir ‘n twee-strofige rondeel soos die volgende:

Het klein heelal van het gedicht:
De aanvang is een zacht ontroeren,
Een ruimte, die zich in wil snoeren,
Beklemming reikend naar het licht.
Dan toonen woorden hun gezicht
En stamelende stemmen voeren
In’t klein heelal van het gedicht.

O hart, vind hier uw evenwicht!
Als duisternissen op u loeren.
Laat van Gods goedheid u beroeren,
Die sluit voor u den afgrond dicht
Om’t klein heelal van het gedicht.

In Afrikaans het die rondeel nie eintlik wortel geskiet nie. In Leipoldt se Versamelde gedigte is daar wel twee gedigte wat die titel “Rondel” dra, nl. “Die liewe lange dag” en “Vandag se wêreld lyk so naar”.

Albei is gebou op twee ryme, albei bevat drie strofes in die verhouding van vier/drie/vier, maar in albei het die refreinelement verlore gegaan. Ook T.T. Cloete het ‘n gedig geskryf met die titel “Rondeel”, bestaande uit drie ses-reëlige strofes, elk met die rymskema abcdef. Die refreinelement ontbreek ook hier, maar inhoudelik word die rondgang van die rondeel tog tot op sekere hoogte bewaar deurdat die “magtige blomstede” wat in strofe een “bedaar”, met die nag van strofe twee oorgaan tot die intieme liefde van man en vrou, wat in strofe drie met die ontkieming van die saad en die aanstaande geboorte weer die magtige stede voed.

 

Bibliografie

Luitingh, M. 1954. Vorm en inhoud. Johannesburg: Afrikaanse Pers-boekhandel.

 
A.P. Grové