Die Russiese Formalisme is een van die heel belangrikste literatuurwetenskaplike skole in die 20e eeu. As beweging begin dit in 1915 met die stigting van die Moskouse Linguistekring en die Vereniging vir die Studie van Poëtiese Taal (Opojaz) in Petersburg ‘n jaar later. Die werk van die formaliste bereik in die twintigerjare ‘n hoogtepunt, maar in 1930 word die beweging amptelik in Rusland verbied.
Danksy o.m. die feit dat Roman Jakobson na Praag uitwyk, word die denkbeelde van die formaliste verder gevoer in die besprekings en publikasies van die Praagse Linguistekring, ‘n vereniging wat in 1926 in die lewe geroep is en waaraan benewens Mathesius en Jakobson ook mense soos Jan Mukařovský en René Wellek behoort het. Laasgenoemde vestig hom in Amerika waar hy in 1939 vir Austin Warren aan die Universiteit van Iowa ontmoet. Saam publiseer hulle in 1949 die invloedryke Theory of Literature, ‘n werk waarin daar verskillende verwysings na die vroeë insigte van die formaliste is. Die formaliste se denkbeelde het dus die dood van die Russiese Formalisme as beweging oorleef.
Tot die binnekring van die formaliste behoort Viktor Šklovskij, Roman Jakobson, Boris Eichenbaum, Viktor Žirmunskij, Jurij Tynjanov, Boris Tomaševskij en Viktor Vinogradov. Voorlopers van die beweging was o.m. Aleksandr Potebnja (1835—1891) en Aleksandr Veselovskij (1838—1906), terwyl M.M. Bakhtin (1895—1975) ‘n belangrike tydgenoot was maar nie aan die beweging behoort het nie.
Die heel eerste oorsig oor die werk van die formaliste, P.N. Medvedev se The Formal Method in Literary Scholarship (oorspronklik 1928; Engelse vertaling 1978), is waarskynlik grotendeels deur Bakhtin geskryf (vgl. Bakhtin, 1982: xxvi), wat hom die eerste historikus van die Russiese Formalisme maak. Dit is egter die monografie van Victor Erlich, Russian Formalism: History – Doctrine, wat sedert sy verskyning in 1955 die belangrikste bron van inligting oor die geskiedenis van die formaliste is. Die vertaling van oorspronklike formalistiese tekste (Todorov, 1965; Striedter, 1969) het ook bygedra om die werk van die formaliste bekend te stel aan literatuurwetenskaplikes buite die kring van die Slaviste. Onlangse bydraes is gelewer deur Thompson (1971) en Steiner (1984). Baie van die sieninge van die eerste groepie formaliste is later as eensydig en polemies verwerp (ook deur hulle self), maar ander denkbeelde word steeds ontwikkel: hul siening van die duur van die estetiese ervaring, en die semantisering van formele tekste, hul opvatting van die kuns as volledig konvensioneel, die dialektiek tussen patroonvorming en patroonverbreking wat hulle as een van die belangrikste informasieprosesse in die kuns geïdentifiseer het (vgl. Lotman, 1972: 114). Ook in die Sowjetunie self word die werk van die formaliste vandag steeds bestudeer, by name in die Moskou-Tartuskool.
Grondliggend aan die werk van die Russiese formaliste lê die strewe om nie langer die *”inhoud” van die literêre werk te bestudeer nie, maar die vormprobleme van die literêre SISTEEM. Die objek van die Literatuurwetenskap is volgens die formaliste nie die individuele werk in eie reg nie maar die literatuurheid, die literatuurwees (literaturnost) daarvan. “The subject of literary scholarship”, lui Jakobson se beroemde stelling (Erlich, 1955: 146), “is not literature in its totality, but literariness (‘literaturnost’), i.e. that which makes of a given work a work of literature”. Hierdie vormkenmerke kan nie maar intuïtief aangevoel en impressionisties beskryf word nie. Dit moet gespesifiseer word in ‘n wetenskap wat die tegnieke of prosesse (priëm) eie aan die literêre sisteem blootlê. So belangrik was hierdie drang van die verwetenskapliking van die literêre vakgebied dat hulle eerder “spesifiseerders” as “formaliste” genoem wou wees (Erlich, 1955: 145). Vir hulle impliseer wetenskaplikheid dat die literêre proses uit homself begryp moet word, dus op grond van immanente verskynsels soos PERSPEKTIEF, volgordening, RITME en RYM en nie op grond van die intensie van die outeur of IDEOLOGIEë nie. In die sin dat hulle die literêre sisteem los van die sisteemeksterne relasies wou ondersoek, vorm die formaliste deel van die OUTONOMIEBEWEGING wat die groei van die Literatuurwetenskap in die eerste vyftig jaar van ons eeu kenmerk.
Een van die prosesse wat poëtiese taal van gewone taal onderskei, vind die formaliste in die tegniek van VREEMDMAKING (priëm ostranenija). Ostranenija lê nie op die vlak van die nuutheid of die oorspronklikheid van die tema of die beeld nie maar op die vlak van die literêre DISKOERS. As die digter sê:
Dit is die winterwind wat waai
al wenend deur die lange nag
dan beeld hy iets uit wat ons van kindsbeen af ken. Deur van die dinge wóórde te maak, táál te maak (o.m. deur die allitererende w, die opbou van die vers oor die kort, geslote klankgrepe van “dit”, “winterwind” en “wat” na die lang, oop klankgrepe van “waai” en “wenend”), maak die digter die werklikheid nuut, opnuut sprekend. “The material of poetry”, sê Žirmunskij (Erlich, 1955: 148), “is neither images nor emotions, but words … Poetry is verbal art.” Poësie is woordkuns, sou Paul van Ostaijen sê, of Nijhoff (soos Mallarmé): “Een gedicht bestaat uit woorden, niet uit gedachten”.
Benewens taal as groot vervreemder van die werklikheid is daar ook ander literêre prosesse wat die werklikheid vervorm. Een daarvan is die wysiging van die normale perspektief: ‘n gebeurtenis gesien deur die oog van ‘n kind is iets heeltemal anders as dieselfde gebeurtenis gesien vanuit ‘n volwasse FOKALISASIEPUNT. ‘n Ander vervreemdingsproses is die wysiging van die normale en logiese gebeurevolgorde (‘n mens word eers gebore en dan is hy groot) na ‘n vreemde en onlogiese vertelchronologie (Tristram Shandy is eers groot en dan word hy gebore). Hierdie insig van die formaliste van die verskil tussen die FABULA (die logies-kousale storiesamehang) en die SJUŽET (die artistieke ordening van die gebeure in die teks self) bly steeds ‘n grondbegrip om literêre prosesse soos seleksie, ordening, duur en kombinasie te beskryf.
Nuutheid en vreemdmaking is volgens die formaliste ook die dinamo van ‘n literatuur se ontwikkeling.
Daar is, sê hulle, twee kragte in ‘n literatuur werksaam: ‘n patroonbouende en ‘n patroonverbrekende. Wat in die een fase van ‘n literatuur se geskiedenis nuut is, word deur herhaalde gebruik die bekende, die normale. Hiervan wyk tekste in ‘n volgende beduidende literatuurhistoriese fase af. Dié afwyking word weer norm, gevolg deur weer ‘n afwyking, ens. Hierdie voorstelling van die gang van die literatuurgeskiedenis as ‘n voortdurende proses van innovasie of deoutomatisering is waarskynlik te eenvoudig. As norm hanteer, lei dit buitendien tot ‘n oorwaardering van die nuwe en ‘n onderwaardering van die tradisionele. Daar kan ook binne ‘n tradisie groot werke geskryf word (dink aan die tragedies van Vondel). Die waarde van die Russiese formaliste se literatuurhistoriese opvatting lê egter nie in die geldigheid van die spesifieke proses wat hulle identifiseer nie, maar in die gedagte dat daar immanente kragte in die literatuur self is wat die geskiedenis daarvan beïnvloed.
Die opvatting van kuns as tegniek, die vooropstelling van nuutheid, die siening van die literatuurgeskiedenis as ‘n reeks afwykings van ‘n norm, is denkbeelde wat die formaliste se vroeëre werk kenmerk. In hierdie eerste fase is hulle sterk beïnvloed deur hul kennis van en waardering vir die nuwe en afwykende poësie van die Russiese FUTURISTIESE digters (Erlich, 1955: 157). Alhoewel hulle nooit werklik aan hierdie eerste denkbeelde ontrou sou raak nie, temper en verander die formaliste later hul eie opvattings. Aspekte van die literêre proses wat vroeër verwaarloos is, word ook algaande na vore gebring. So word die siening van die totale andersheid van poëtiese taal gewysig tot die opvatting dat die poëtiese funksie van taal in ‘n literêre werk domineer (Erlich, 1955: 171) maar nie die ander funksie uitsluit nie. Poëtiese taal wil m.a.w. ook betekenis kommunikeer, dit is nie bloot ‘n spel met formuleringe of die foniese kwaliteite van woorde nie (Erlich, 1955: 157). Wat die literatuurgeskiedenis betref, gee die formaliste later toe dat die ontwikkeling van ‘n literatuur nie afdoende uit die literatuur self beskryfbaar is nie. Sosio-politiese en ideologiese motiverings moet ook in ag geneem word. Die literatuur is ‘n outonome sisteem, maar dit staan nie apart van die lewe nie (Erlich, 1955: 170).
Hierdie groter balans kenmerk ook hul latere opvattings oor die verband tussen die outeur en sy werk en oor die waarde van ekstrinsieke metodes soos die BIOGRAFIESE en sosiologiese benaderings.
Hulle sou altyd volhou dat die literêre werk nie regstreeks tot die lewenservarings of gevoelens van die outeur terug te voer is nie, selfs nie in die geval van liriese poësie nie. “The poetic I,” sê Mukařovský, “is not identical with any empirical personality, not even with that of the author. It is the pivotal point in the composition of the poem” (in Erlich, 1955: 175). Lewe en literatuur is egter nie hierom resloos van mekaar te skei nie. Dit kan bv. gebeur dat die literêre beeld van die outeur ‘n mite word wat in die werklike lewe deur homself of deur ander uitgeleef word (die Byronisme is ‘n voorbeeld hiervan; vgl. Erlich, 1955: 174). Op hierdie manier dring die literatuur weer die lewe binne waaruit dit ontstaan het. Dit is egter nie ‘n eenvoudige proses nie. *Folkloristiese vertellings weerspieël eweneens nie die werklike sedes en gebruike van ‘n gemeenskap nie. Wat vertel word, kan bv. die herinnering wees aan waardes wat uit die gemeenskap verdwyn het. Of dit kan die romantiese voorspelling wees van ‘n toekomstige toedrag van sake. Daar is ‘n verband tussen die literêre teks, die outeur en die tyd waarin dit ontstaan het, maar die literatuur is onbetroubare getuienis van hoe mens en wêreld is of was. “In other words,” som Erlich (1955: 177) die formaliste se posisie op, “it is harzardous to draw sociological or psychological conclusions from the work of literature before examining closely its structural properties: what may seem on the surface to be manifestation of reality may at closer range turn out to be an esthetic formula, superimposed on this reality”.
Uit bostaande blyk dat die werk van die formaliste nie tot eenvoudige formules of ‘n sprekende leksikon (vreemdmaking, deoutomatisering, fabula, sjužet, e.d.m.) reduseerbaar is nie. As hulle aanvanklik eensydig en reaksionêr in hulle opvattinge was, het hulle ook die integriteit van wetenskaplikes gehad om hulle te laat lei deur die kompleksiteit van die fenomeen wat die objek van hulle ondersoek uitmaak. Hul grootste bydrae lê waarskynlik in die prestasie om van die literatuurstudie ‘n wetenskap te maak. Deur hul bemoeienis het die benadering van die literatuur, “once a sphere of unbridled impressionism”, ontwikkel tot “an object of scientific analysis, a concrete problem of literary scholarship” (Efimov in Erlich, 1955: 252).
Bibliografie
Bakhtin, M.M. 1982. The Dialogic Imagination. Austin: University of Texas Press.
Erlich, V. 1955. Russian Formalism: History-doctrine. ‘s-Gravenhage: Mouton.
Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. 1978. Theories of Literature in the Twentieth Century. London: Hurst.
Jameson, F. 1972. The Prison-house of Language: A Critical Account of Structuralism and Russian Formalism. New Jersey: Princeton.
Lemon, L.T. & Reis, M.J. (eds). 1965. Russian Formalist Criticism. Lincoln: University of Nebraska Press.
Lotman, J.M. 1972. Die Struktur literarischer Texte. München: Fink.
Steiner, P. 1984. Russian Formalism; A Metapoetics. Ithaca/London: Cornell University Press.
Striedter, J. (Hrsg.). 1969. Russischer Farmaligmus. Stuttgart: Fink.
Thompson, E.M. 1971. Russian Formalism and Anglo-American New Criticism. The Hague: Mouton.
Todorov, T. (red.). 1965. Théorie de la littérature: textes des formalistes russes. Paris: Seuil.
L.S. Venter