Saga (ON: iets wat gesê is, verhaal) en SAGE is twee terme wat dikwels met mekaar verwar word. ‘n Saga is ‘n Middeleeuse Oud-Noorse prosaverhaal wat handel oor die Yslandse en ander Skandinawiese helde.
Sagas is aanvanklik mondeling oorgelewer. Saam met die Christendom het die skrif Ysland bereik en van die einde van die 12e eeu tot in die 14e eeu is die sagas op perkament geskryf. Die skeppers daarvan is meestal onbekend.
Die beroemdste sagas is familiesagas wat handel oor die lewe van Yslandse families en ander Yslanders in die jare 930 tot 1030 toe die kolonisasie uit Noorweë aan die gang was.
Die outeurs van die koningsagas was gewoonlik Yslanders wat ‘n tyd aan die Noorse koninklike hof deurgebring het. Veral bekend is Snorri Sturluson se Heimskringla (die Olaf-sagas). Dit het vir Longfellow as inspirasie gedien vir sy Saga of King Olaf.
Die fornaldarsagas handel oor mitiese en legendariese helde. Die bekendste hiervan is die Völsunga saga wat op die Edda gebaseer is. Hierdie sagas bevat ‘n klomp verskillende *motiewe, sommige daarvan baie oud.
Tiperend van die saga is die goeie karakterbeelding (sien: KARAKTER/KARAKTERISERING) en die sober styl: “… it tends towards complete impersonality; which, with a conscious understatement, and a presentation of psychological states only by external gesture, creates the peculiar reticence of saga style, making the more terrible the impact of the implicit violence and passion”, aldus Shipley (1964: 358) in die Dictionary of World Literature.
Teen die middel van die 13e eeu het Ysland onafhanklik geword. Die sagas is juis gebore uit die Yslanders se afhanklikheid: met die verkryging van onafhanklikheid het die skeppende impuls tot ‘n einde gekom. Buitelandse invloede, bv. uit Frankryk, het die Yslandse literatuur ook nou binnegekom.
In Afrikaans bestaan Gerrit Dekker se vertaling van Die saga van Grettir die Sterke; dit is uit die Oud-Noors vertaal.
Met verloop van tyd is die veld van toepassing van die term saga uitgebrei. Vergelyk Holman (1981: 396) in A Handbook to Literature: “… and the commonest meaning now for saga is a narrative having the characteristics of the Icelandic sagas; hence any traditional tale of heroic achievement or extraordinary or marvellous adventure”.
‘n Saga is ook ‘n lang familieroman wat oor ‘n paar generasies sterk, bv. John Galsworthy se The Forsyte Saga en Roger Martin du Gard se Les Thibauds.
(Vgl. EINFACHE FORMEN.)
Bibliografie
Anon. 1982. Die saga van Hrafukel. Standpunte, 35(5).
Harris, J. 1986. Saga as historical novel. In: Lindow, J., Lonnroth, L. & Weber, A.W. (eds). Structure and
Meaning in Old Norse Literature: New Approaches to Textual Analysis and Literary Criticism. Odense: Odense University Press.
Anna-Marie Bisschoff