Semantisering van leksikale items in literêre TEKSTE is vergelykbaar met die SEMIOTISERING van objekte in die teater: “… The stage radically transforms all objects and bodies defined within it, bestowing upon them an overriding signifying power they lack – or which at least is less evident – in their normal social function” (Elam, 1980: 7). Soos die teater objekte op die verhoog omskep in tekens, so dwing literêre tekste – en by name poëtiese tekste – ekstra betekenisse af op leksikale items. Dit is ‘n betekenisgewende funksie en ‘n betekenisvolheid wat die woorde slegs binne spesifieke (poëtiese) tekste verkry. Dit is m.a.w. ‘n groter betekenisdraende funksie as wat die woorde normaalweg in standaardtaalgebruik sou hê.
In so ‘n proses van semantisering word nie net alle latente woordeboekbetekenisse van ‘n woord uitgebuit nie, maar die tekstuele omgewing waarbinne dit voorkom – poëties, narratief of dramaties – kan die woord laai met ekstra konnotasies wat dit normaalweg nie sou hê nie. Cloete (1982: 20—21) wys in hierdie verband op die rykdom van assosiasies wat die woord “belladonnakelk” aan die begin van Opperman se versdrama Voëlvry by die leser oproep. Alle moontlike woordeboekbetekenisse en bekende gebruike van die woord word geaktiveer: “Bella” as bekende vrouenaam; “belle/bella” as die Frans en Italiaans vir mooi; “donna” as die Italiaans vir vrou; “belladonna” as die Italiaans vir mooi vrou; “kelk” as die vrugdraende deel van die plant; “belladonnakelk” as die naam vir ‘n mooi blom.
Afgesien van al hierdie latente betekenisse wat binne die VERSDRAMA relevant word as die Trekker Louis aan sy siek vrou sê: 1) “Kyk hoe mooi is daardie belladonnakelk” word nog ‘n verdere spesifisering daarvan gegee as die siek vrou Martha in die volgende reël antwoord: 2) “Belladonna dra in hom die dood se geur”. Hierdie mooi blom dra swart giftige bessies en word volgens die WAT ook “doodkruid” genoem. Cloete (1982: 21) konkludeer: “Op hierdie manier het hierdie een woord deel aan die gees en strekking van die hele drama; lewe en dood, geboorte en sterfte gaan saam; daar is vroulikheid en mooiheid te midde van die ruheid van die trekervaring; daar is genesende krag te midde van siekte en lyding; daar is gif in die mooiheid.”
Dit is duidelik dat in ‘n saamgestelde betekenisdraende hoofkategoriewoord soos “bella+donna+kelk” alle woorddele bydra tot die aktivering van betekenisassosiasies. In standaardtaalgebruik word normaalweg onderskei tussen woorde wat betekenis dra en woorde wat slegs sintaktiese “vullers” is en wat dus normaalweg nie ervaar word as betekenisvol nie. Hoofkategoriewoorde soos nomina, selfstandige verba, adjektiewe en sommige adverbia (soos dié wat afgelei is van adjektiewe) is die betekenisdraende woorde in ‘n taal; subkategoriewoorde soos pronomina, preposisies, konjunksies, determinante, ens. runksioneer nie in die eerste plek as betekenisdraers nie, maar dui die verhouding aan tussen hoofkategoriewoorde binne sintaktiese eenhede. In die poësie word hoofkategoriewoorde se betekeniskapasiteit in die eerste plek verhoog deurdat latente betekenisassosiasies geaktiveer word soos in die saamgestelde “belladonnakelk” in (1) en (2) hierbo. In die tweede plek word ook “nie-betekenisdraende” of subkategoriewoorde egter dikwels gepromoveer tot betekenisvolheid binne ‘n spesifieke (poëtiese) teks. Semantisering behels dus enersyds die aktivering van ekstra betekenisse by hoofkategoriewoorde en andersyds die promovering van subkategoriewoorde tot betekenisdraende leksikale items.
Met Lotman (1977) kan gesê word dat betekenis in die poësie relasioneel is en dat ekwivalensie op verskillende vlakke (semanties, sintakties, fonologies) woorde op mekaar betrek, sodat addisionele patroonvorming lei tot betekenisgewing: “Meaning arises from the equalizing of diverse elements, the establishment of equivalence among several very dissimilar primary semantic systems” (Lotman, 1977: 38). Semantisering sou dus veral intratekstueel benader moes word ten einde na te gaan watter effekte die interaksie tussen woorde binne spesifieke tekste het. Vir poëtiese taalgebruik kan dan gelet word op aspekte soos METAFORISERING, SINTAKTIESE en KLANKMATIGE ordering en METRIESE–RITMIESE aksentuering. ‘n Analise van die lokale en globale interaksieprosesse in poëtiese tekste lei gewoonlik tot die ontdekking van ‘n rykdom betekenisse en betekenisassosiasies in poëtiese tekste. Metaforiese betekenis word egter medebepaal en gerig deur álle relevante struktuuraspekte van ‘n poëtiese teks, sodat dit noodsaaklik is om ook die interaksie tussen struktuurelemente in ‘n gedig te ondersoek.
Die hoë graad van tekstuele invulling of inhoudspesifikasie van metaforiese gekwalifiseerde woorde en konstruksies is ‘n gevolg van enersyds die sintagmatiese interaksie tussen ‘n argument en sy kwalifiserende fokusekspressie(s) en andersyds die PARADIGMATIESE wisselwerking tussen lokaal gespesifiseerde argumente in tenor-vehicle-konstruksies. In die eerste reëls uit Strydom se “Droogte” word die nomen “wolke” op ‘n heel besonderse manier metafories gespesifiseer deur die fokusekspressies “melkwit” en “gaan wandel”. 3) “in die geruis van die aandwind/ het die wolke melkwit gaan wandel”.
A FE FE
Wanneer die samestelling “melk+wit” bekyk word, lyk dit asof ten minste die semantiese kenmerke (besondere wit kleur en reinheid) op “wolke” oorgedra kan word. In die fokusekspressie (FE) “melkwit” funksioneer “melk” egter nie slegs soos ‘n kwalifikasie vir die kleur “wit” binne die samestelling nie, maar in die onderliggende tenor-vehicle-verbinding word die nominale funksie van “melk” ook geaktiveer:
(3)(i) “Die wolke is so wit soos melk”.
A(T) A(V)
(A(T) = argument met die metaforiese status van ‘n tenor; A(V) = argument met die metaforiese status van ‘n vehicle.) In sy hoedanigheid as vehicle voeg “melk” dan die eienskappe “vloeistof” en “voedsaam” aan “wolke” toe. Die fokusekspressie “gaan wandel” moet saam met sy kwalifiserende preposisionele frase “in die geruis van die aandwind” gelees word, wat Bybelse konnotasies oproep van ‘n Goddelike wandeling in die tuin van Eden in die aand. Dit lyk asof die sintagmatiese interaksie tussen “wolke” en die kwalifiserende fokusekspressies “melkwit” en “gaan wandel” uitloop op die volgende semantiese inhoud vir “wolke”: dit is besonder wit, rein, vloeibaar of vloeistofhoudend, geassosieer met ‘n Goddelike teenwoordigheid in ‘n gepersonifieerde beweging en voedsaam. Dit is duidelik dat die metaforiese spesifisering van “wolke” illustreer hoe semantisering bewerkstellig word deur die aktivering van ongewone betekenisassosiasies wat nie deel vorm van die woordeboekbetekenisse van “wolke” nie en wat saam met gevestigde assosiasies soos “wit” sorg vir ‘n spesifieke (intra)tekstuele invulling van “wolke.” (Vgl. METAFOOR.)
Ten spyte van die gedetailleerde metaforiese invulling kan die metaforiese inligting in (3) egter nie begryp word sonder inagneming van die verskuiwing van “melkwit” in die tweede vers van die gedig nie:
(3)(ii) “het die melkwit wolke gaan wandel” (normale rekonstruksie.
Adj
“het die wolke melkwit gaan wandel” (gegewe woordorde in die gedig)
Adv.
Deur die verskuiwing van “melkwit” in (3)(ii) hierbo blyk dat dit in die gegewe woordorde van die gedig ‘n ongewone grammatikale funksie verkry: i.p.v. die adjektiwiese funksie van die rekonstruksie (waarop die metaforiese interpretasie hierbo berus), het dit ‘n adverbiale funksie wat die fokusekspressie “gaan wandel” kwalifiseer. Dit beteken in die eerste plek dat die gunstige metaforiese inligting van “melkwit”, nl. dat dit as ‘n suiwer en voedsame vloeistof gesien kan word, ook van toepassing gemaak word op een van die kwalifiserende fokusekspressies vir die argument “wolke”.
Dit beteken in die tweede plek dat daar interaksie is tussen die fokusekspressies in (3) hierbo en dat die assosiasie van ‘n hemelse teenwoordigheid dus oorgedra word op “melkwit”, sodat die besondere metaforiese spesifisering van hierdie woord nog verder uitgebrei word. Uiteindelik kom die leser tot die besef dat die sintagmatiese relasies in die reëls uit die Strydomgedig, of die lokale interaksie binne ‘n metaforiese konstruksie, die aandag vestig op die vermoë tot verligting van die droogte (“melkwit wolke”) asook op die daad wat daardie verligting kan laat realiseer (“melkwit gaan wandel”). Dit is duidelik dat die sintaktiese verskuiwing lei tot produktiewe meerduidigheid wat die metaforiese inligting tegelyk uitbrei en nader spesifiseer. Semantisering van die leksikale items “wolke”, “melkwit”, en “gaan wandel” is relasioneel en word gedetermineer deur die sintagmatiese interaksie tussen die woorde.
Samewerking tussen of wedersydse beïnvloeding van die intratekstuele relasies van metaforiese konstruksies en sintaktiese vooropstelling lei dus tot meerduidigheid. Afgesien van ‘n polivalente spesifisering van hoofkategoriewoorde, kan samewerking tussen metaforisering en sintaktiese ordening ook uitloop op ‘n semantisering van subkategoriewoorde. Wanneer ‘n versteekte seleksionele afwyking voorkom binne ‘n verskuiwing, vind daar (gewoonlik ‘n verandering in die grammatikale status van die woord plaas soos blyk uit die volgende reëls uit ‘n cummingsgedig:
4)(i) “what above did was / always fall”;
(ii) “what above did was always fall”
+Nomen FE
Argument
Aangesien “above” in (4)(i) voorkom in ‘n sintaktiese posisie wat normaalweg deur ‘n nomen gevul word, ondergaan die preposisie “above” ‘n funksie- en betekenisverandering soos blyk uit die rekonstruksie in (4)(ii) hierbo. Die nominalisering van “above” impliseer dat dit sou kon verwys na iets soos ‘n hemelliggaam of ‘n verteenwoordiger van ‘n hemelruim wat aan gedurige val onderhewig is.
Dit is duidelik dat semantisering van ‘n preposisie teweeggebring word deurdat dit soos ‘n nomen funksioneer binne die verskuiwing in die gedig; die stap na metaforisering is logies as die oorskryding van seleksiekenmerke in die botsende kenmerke van “above” (abstrak) en “fall” (vereis ‘n nomen met die kenmerk +konkreet) in ag geneem word.
Semantisering van ‘n subkategoriewoord hoef egter nie altyd te lei na metaforisering nie, alhoewel dit meestal die geval sal wees, soos ook blyk uit die semantisering van die hulpwerkwoord “let” onder druk van die interne koppeling en die enjambement in die volgende reëls uit Dylan Thomas se “This bread I break”:
5)(i) 11 This flesh you break, this blood you let
12 Make desolation in the vein
(ii) This flesh you break
This blood you let
Die moontlikheid om “let” te lees as ‘n selfstandige werkwoord word veral bewerkstellig deur die spel tussen die tipografiese eenheid van vers elf, waardeur “let” geskei word van sy voltooiende verbale gedeelte “… make desolation …” in vers twaalf. Die gelykstelling van die verbale fokus “break” met “let” in die horisontale koppeling binne vers elf in die rekonstruksie in (5)(ii) hierbo, dra op “let” dieselfde metaforiese destruktiewe vermoëns oor wat reeds tekstueel bekend veronderstel word vir “break”.
Behalwe deur seleksionele afwyking, enjambement en sintaktiese ekwivalensie kan die semantisering van subkategoriewoorde ook nog bewerkstellig word wanneer die laaste item in ‘n reeks weggelaat word voor vorme van die infinitiewe “om te wees” of “om te hê”. Wanneer “is” of “has/have” bv. as die laaste item in ‘n reeks verskyn, sal die hulp- of koppelwerkwoorde gepromoveer word tot die funksie van selfstandige werkwoorde met die veranderde betekenis van “bestaan” en “besit” onderskeidelik. Die laaste reëls in ‘n cummingsgedig eindig byvoorbeeld soos volg: 6) “… who alive/ is asking What// have I done that You wouldn’t have.” Afgesien van die meerduidigheid wat bewerkstellig word deur die moontlike voltooiings van die laaste versreël as “You wouldn’t have me done” of “You wouldn’t have done”, word die “have” beklemtoon om as selfstandige werkwoord die ongelykheid in die besit(tings) van die “ek” en die vergiftigde muis in die bg. aanhaling te konkretiseer.
Dit is duidelik dat semantisering metafories en sintakties in ‘n gedig bewerkstellig kan word. ‘n Prominente klankpatroon soos die (eind)rym kan presies dieselfde funksie verrig, deurdat die leser gedwing word om die vertikaal rymende woorde met mekaar te vergelyk. Interaksie tussen rymende woorde kan verder op presies dieselfde beginsel berus as die interaksie tussen ‘n tenor en ‘n vehicle in ‘n metaforiese konstruksie. Trouens, uitbreiding van die grammatikale toepassingsbereik van woorde in die rym lei vanself tot semantisering (en dikwels terselfdertyd ook metaforisering). Thomas se “This bread I break” eindig met ‘n rymende koeplet in ‘n andersins rymlose gedig: 7) “Born of the sensual root and sap;// My wine you drink, my bread you snap.” Die verbale vorm “snap” vervang opeens in die laaste woord van die gedig die verbale fokus “break” wat deurgaans as fokusekspressie die funksie het om destruktiwiteit en gewelddadige vernietiging van die vroeëre vitaliteit en vreugde in die simbole van die Nagmaal te beklemtoon. Die leser moet noodwendig die semanties ekwivalente “break” en “snap” met mekaar vergelyk, met die gevolg dat albei ekstra betekenisassosiasies verkry: enersyds word “snap” geassosieer met gewelddadige vernietiging; andersyds verkry “break” die verrassende konnotasie van “eet”. Sintakties is “snap” verbind aan die nomen “bread”, maar in die rym word dit ook betrek op “sap”. Dit beteken dat die sintaktiese en klankmatige verbande van die gemetaforiseerde “snap” albei die sentrale vehicles in die Thomasgedig assosieer met ‘n byna kannibalistiese vernietiging van die Liggaam van Christus as die brood simbolies geëet en die wyn (“sap”) simbolies gedrink word tydens die Nagmaal.
Dit is duidelik dat leksikale items op allerlei maniere in poëtiese taalgebruik semantisering ondergaan. ‘n Analise van die intratekstuele relasies in ‘n gedig is in hierdie opsig essensieel, ook al sou die spore van *intertekstualiteit ook in ‘n *dekonstruktiewe lesing van poëtiese tekste “nagespoor” word.
(Vgl. ook KLANK, METAFOOR en SINTAKSIS (VAN DIE POëSIE).)
Bibliografie
Cloete, T.T. 1982. Hoe om ‘n gedig te ontleed. Pretoria: Academica.
Elam, K. 1980. Semiotics of Theatre and Drama. London: Methuen.
Lotman, J. 1977. The Structure of the Artistic Text. Michigan: Ann Arbor.
Ina Gräbe