Die Semiotiek is die wetenskap van tekens, d.w.s. die wetenskap wat op ‘n sistematiese wyse ‘n studie maak van tekens, tekensisteme en betekenisprosesse. Die woord Semiotiek kom van die Grieks sèmeion (teken) en die Semiotiek word beoefen as ‘n oorkoepelende wetenskap waarvan die semiotiese literatuurstudie slegs ‘n onderdeel vorm.
In die Semiotiek staan die teken sentraal. Die Semiotiek sien ‘n teken as iets wat na iets anders verwys, wat in die plek van iets anders staan. Die teken het dus ‘n representatiewe karakter. Die Semiotiek bestudeer die teken, maar ook die sisteem waarin tekens funksioneer word ondersoek. Daar word ook ‘n studie gemaak van die reëls waarvolgens tekens betekenis aandui of waarvolgens tekens gekombineer word in ‘n sisteem en hierdie reëls word *kodes genoem.
Hoewel die Semiotiek soos dit nou beoefen word in die loop van die 20e eeu as ‘n selfstandige wetenskaplike dissipline ontwikkel het, vind ‘n mens ‘n semiotiese benadering of denkwyse in baie ou geskrifte. Omdat taal van vroeg in die geskiedenis af as ‘n stelsel van tekens beskou is, vind ‘n mens implisiete semiotiese denke in baie ou taalteorieë, soos wat blyk uit die spekulasies oor taal in die antieke Chinese, Indiese, Griekse en Romeinse kulture. Aan die Middeleeuse siening van die taal (in Wes-Europa) lê ook ‘n semiotiese denkwyse ten grondslag.
Die moderne Semiotiek kan gesien word as die kind van twee vaders, die Switserse linguis Ferdinand de Saussure (1857—1913) en die Amerikaanse filosoof Charles Sanders Peirce (1839—1914). Hulle het nie van mekaar geweet nie.
Peirce het die term Semiotiek as ‘n sinoniem vir logika gebruik. Volgens hom redeneer, dink en kommunikeer ‘n mens d.m.v. tekens en hy ontwerp ‘n algemene tekenleer wat ook (maar nie uitsluitend of selfs primêr nie) op taal van toepassing is.
Die teken staan in die plek van iets anders en Peirce noem die teken die representamen. Dit wat die teken representeer, d.w.s. dit wat deur die teken verteenwoordig word, noem Peirce die object, maar die terme designatum, denotatum of referent word ook gebruik. Die representamen verwys na die object op grond van iets wat Peirce die ground van die teken noem. Die teken word geïnterpreteer deurdat ‘n nuwe teken in die bewussyn van die interpreteerder ontstaan en hierdie teken (nie die persoon nie) is die interpretant. Vir Peirce staan die teken in ‘n drieledige verhouding tot sy ground (‘n taal, bv. Afrikaans, of ‘n ander kode), sy object (wat nie altyd ‘n voorwerp is nie) en sy interpretant (wat nie noodwendig saamval met die woordeboekbetekenis van ‘n woord indien die teken ‘n woord is nie).
Peirce werk baie graag met drieledige onderskeidings. Hy beskryf drie moontlike verhoudings tussen ‘n teken en sy object. Wanneer daar ‘n verhouding van gelykenis tussen teken en object bestaan, noem Peirce die teken ‘n IKOON, wanneer daar ‘n verhouding van aangrensendheid of aanwysing bestaan, noem hy die teken indeks (mv.: indisieë) en wanneer die verhouding tussen teken en object berus op sosiale afspraak of konvensie, noem hy die teken ‘n simbool. ‘n Aardrykskundige kaart is bv. ‘n ikoon, soos ook ‘n portret of foto. ‘n Padwyser is ‘n indeks, maar ook ‘n spoor en selfs ‘n aanwysende voornaamwoord kan as ‘n indeks beskou word. By ‘n indeks kan die verhouding kousaal van aard wees, maar dit is nie altyd die geval nie. Verkeerstekens is simbole omdat, op grond van afspraak, dieselfde betekenis telkens aan ‘n bepaalde teken geheg word. Woorde is ook simbole omdat daar ‘n onuitgesproke ooreenkoms in ‘n gemeenskap of tussen gebruikers van dieselfde taal bestaan om ‘n sekere woord te gebruik in die plek van ‘n bepaalde saak. Betekenisvolle gebare is ook simbole, soos ‘n kopknik wat “ja” beteken vir sekere gemeenskappe.
Dit is belangrik om te onthou dat hierdie soort onderskeiding nie absoluut is nie. Woorde kan as simbole beskou word, maar onomatopeïese woorde besit ook ikoniese eienskappe en deiktiese woorde soos “hier” en “daar” funksioneer ook as indisieë.
Peirce se onderskeiding tussen verskillende soorte tekens het neerslag gevind in die literatuurteorie. Die term ikonisiteit impliseer ‘n gelykenis tussen ‘n teken of ‘n TEKS en die objeK waarna verwys word. In tradisionele terminologie sou gesê kon word dat daar ‘n verhouding van gelykenis bestaan tussen VORM EN INHOUD van ‘n teks, deurdat die teks nie net verwys na iets anders nie maar ook self lyk soos dit waarna verwys word.
Die Semiotiek kan nooit los van die STRUKTURALISME gesien word nie. Hierdie verbintenis kan teruggevoer word na die invloed van Saussure wat as die vader van die strukturalistiese taalstudie die grondslag gelê het vir die ondersoek van taal as ‘n sisteem van tekens. Die strukturalistiese metodes van ondersoek is op ‘n groot verskeidenheid terreine toegepas. In sulke ondersoeke is die werkwyse van die linguistiek gebruik en daar is gepoog om die struktuur van talle verskynsels in verband te bring met die struktuur van taal.
Saussure noem sy strukturalistiese studie van taal as ‘n sisteem van tekens Semiologie. Volgens Van Zoest is daar geen verskil tussen die terme Semiotiek en Semiologie nie, behalwe dat navolgers van Saussure die term Semiologie verkies. Tans word die term Semiotiek algemeen gebruik (Van Zoest, 1978b: 102).
‘n Mens sou egter tog die onderskeid kon maak dat in die ontwikkeling van die Peirciaanse gedagtegang tekens in hulle verhouding tot ander meer of minder konkrete sake gesien word (tekens beskik dus oor representatiewe of referensiële vermoëns), terwyl die konsekwensie van Saussure se uiteensetting van die teken is dat taal ‘n totaal in sigself geslote sisteem is (soos Derrida dit dekonstruktief beredeneer en toepas).
Waar die term Strukturalisme basies verwys na ‘n bepaalde metode van ondersoek, dui die term Semiotiek eerder ‘n terrein van ondersoek aan. Die Strukturalisme ondersoek ook tekensisteme (bv. selfs gesins- en familieverhoudinge, wat nie op die oog af na ‘n sisteem van tekens lyk nie), en hoewel die terrein van die Semiotiek wyer is, gebruik die Semiotiek basies strukturalistiese metodes in sy ondersoeke.
Waar Peirce graag met drieledige onderskeidinge werk, gee Saussure weer voorkeur aan binêre onderskeidinge en binêre opposisies. Die onderskeiding tussen langue en parole, die beskrywing van die taalteken as ‘n teken wat twee aspekte vertoon, nl. ‘n signifiant en ‘n signifié, die beskrywing van PARADIGMATIESE EN SINTAGMATIESE verhoudinge tussen tekens en die teenoormekaarstelling van ‘n diachroniese en sinchroniese benadering (met die klem op die sinchroniese) word in die semiotiese benadering deurgaans teruggevind.
In die Semiotiek staan die Praagse Skool in ‘n sentrale posisie. Nie alleen vorm die Tsjeggiese Strukturalisme die skakel tussen die RUSSIESE FORMALISME en Strukturalisme nie, maar dit is ook in die werk van hierdie literatuurwetenskaplikes dat die Strukturalisme en Semiotiek aaneenskakel. Mense soos Roman Jakobson, Jan Mukařovský en Felix Vodička het nie slegs die idees van die formaliste verder uitgewerk, verfyn, nader omskryf en verbeter op leemtes in dié teorieë nie, maar deurdat hulle op hoogs gesofistikeerde wyse literêre tekste beskryf en ontleed het as tekensisteme en die resultate van hierdie ondersoeke gesistematiseer en wetenskaplik verwoord het, het hulle die grondslag gelê vir die ontwikkeling van die Semiotiek.
In die Encyclopedic Dictionary of the Sciences of Language, noem Ducrot & Todorov nog drie ander “bronne” van die moderne Semiotiek:
Die werk van die Duitse filosoof E. Cassirer het ‘n invloed op die Semiotiek gehad. In sy monumentale filosofiese werk, Philosophic der symbolischen Formen, stel hy twee beginsels voorop: dat taal nie slegs benoem nie, maar aktief meewerk tot konseptualisering en artikulasie van die werklikheid en dat taal hierdie vermoë deel met ‘n verskeidenheid ander menslike sisteme soos MITES, religie, kuns, geskiedenis en wetenskap, wat almal nie slegs die werklikheid naboots nie maar daaraan gestalte gee.
Die logika het ook ‘n invloed op die Semiotiek, en hierdie invloed kan teruggevoer word na die werk van Frege, Russell en Carnap (afgesien daarvan dat Peirce ook die logika beoefen het). Carnap se konstruksie van ‘n ideale taal is in die dertigerjare van hierdie eeu gebruik deur die Amerikaanse filosoof en logikus, C.W. Morris, om ‘n reeks belangrike onderskeidinge te maak, soos dié tussen designation en denotatum en dié tussen die semantiese, sintaktiese en pragmatiese dimensies van ‘n teken. Sy werk sluit dan ook aan by dié van Peirce.
Die werk van die strukturalistiese linguiste en literatuurwetenskaplikes moet ook genoem word. E. Buyssens se Les langages et le discours (1943) sluit aan by Saussure en gaan uit van die aanname dat elke sisteem georganiseer word deur sy eie sintaksis. Hier kan ‘n mens ook die werk noem van Sapir, Troebetskoj, Hjelmslev, Jakobson en Benveniste, wat as strukturalistiese linguiste semiologies georiënteer is en die plek van taal as ‘n tekensisteem probeer bepaal. Ook die strukturalistiese geskrifte van die antropoloog C. Lévi-Strauss, R. Barthes en A.J. Greimas se studie van literêre taal beïnvloed die latere Semiotiek.
Die Peirciaanse Semiotiek, voortgesit deur C.W. Morris, word tans in ‘n hoogs gesofistikeerde vorm beoefen deur die Italiaanse akademikus en skrywer Umberto Eco. In A Theory of Semiotics (1976) gee Eco ‘n uiteensetting van ‘n algemene Semiotiek – aan die artistieke taalteks word slegs sowat 15 bladsye afgestaan. In The Role of the Reader (1979) ondersoek Eco spesifiek die semiotiese aard van literêre tekste en die signifikasie in sulke tekste. Die rol van die modelleser (vgl. LESERTIPES) wat as ‘n teoretiese entiteit en logiese kategorie ‘n projeksie van die teks is en van die begin af in die teks in gekodeer is, word ondersoek deur geselekteerde oop en geslote TEKSTE te ontleed. In Semiotics and the Philosophy of Language (1984) word die basiese konsepte van die Semiotiek aan die orde gestel en in historiese perspektief geplaas in hoofstukke oor die teken, die METAFOOR, die simbool, kodes en isotopieë. (Vgl. SEEM.)
Saussure se benadering is veral in die Franse taalgebied toegepas en die vroeë werk van Roland Barthes en Julia Kristeva is semiologies van aard. Die werk van die Tsjeggiese strukturalis, Mukařovský, word voortgesit en uitgebou deur mense soos Lubomír Doležel en Jurij Lotman. Die Sowjet-Semiotiek, waarvan Lotman die belangrikste eksponent is, word veral beoefen deur die sg. Tartu-skool. Die Institute of Slavonic Studies and Balkanistics van die Akademie vir Wetenskap van die Universiteit van Tartu koördineer die strukturalisties-semiotiese navorsing in die linguistiek, Literatuurwetenskap en algemene kultuurstudies, en van die resultate word bekend gestel in ‘n publikasiereeks Works on Sign Systems. Die Sowjet-Semiotiek gebruik strukturalistiese, semiotiese, RESEPSIEGERIGTE teorie saam met begrippe uit die KUBERNETIKA EN INFORMASIETEORIE om ‘n omvattende literêre teorie op te stel. Hierdie teorie word ook toegepas op andersoortige tekste soos films en kulturele sisteme.
Die Semiotiek word tans aktief beoefen deur ‘n groot aantal literatuurwetenskaplikes, en die tydskrif Semiotics, die amptelike blad van die International Association of Semiotics, verskyn reeds sedert 1969. Die semiotiese benadering is veelsydig en inkorporeer ‘n groot verskeidenheid metodes en terreine van ondersoek. Die terrein van ondersoek is baie wyd, nl. alle tekensisteme wat in menslike en nie-menslike gemeenskappe funksioneer. Dit beteken dat die Semiotiek uiteenlopende tekensisteme bestudeer. Eco (1976: 9) noem op: “… zoosemiotics, olfactory signs, tactile communication, codes of taste, paralinguistics, medical semiotics, kinesics and proxemics, musical codes, formalized languages, written languages, unknown alphabets, secret codes, natural languages, visual communication, systems of objects, plot structure, text theory, cultural codes, aesthetic texts, mass communication.” Die onderwerp van die Semiotiek word egter nog verder uitgebrei as die kommunikatiewe aspek van tekens in die fokus geplaas word: “The subject matter of semiotics – ultimately a mode of extending our perception of the world – is the exchange of any messages whatever and of the systems of signs which underlie them; hence … semiotics is most commonly regarded as a branch of the communication disciplines. Some investigators prefer to emphasize the study of the systematic – rather than the transactional – aspects of the repertory of signs.
Whichever approach one may favor, however, the key concept of semiotics remains always the ‘sign'” (Sebeok, 1976: 1).
Dit gaan dus in die Semiotiek om die ondersoek van tekens, maar ook om die ondersoek van stelsels van tekens. ‘n Sisteem van tekens kan geïnterpreteer word op grond van ‘n bepaalde reël of stel reëls wat ‘n kode vorm. Tekens bewerkstellig kommunikasie wanneer die kode aan sowel die sender as die ontvanger van die teken bekend is. Daarom word die Semiotiek ook beskryf as die sistematiese studie van kommunikatiewe gedrag.
Die Semiotiek wil nie net die tekens en tekenstelsels en kodes ondersoek nie, maar wil die resultaat van die ondersoeke in wetenskaplike beskrywings weergee, sodat die gegewens uiteindelik gesistematiseer kan word. Die Semiotiek gaan uit van die aanname dat alle sosiale en kulturele voorwerpe en handelinge nie as blote materiële voorwerpe of handelinge gesien moet word nie, maar as voorwerpe en handelinge met konvensionele betekenis, dus as tekens. Die tekens het betekenis op grond van konvensies, maar ook op grond van die posisie wat elke teken in die sisteem inneem en die posisie waarin dit geplaas word (in ‘n teks) om te kommunikeer. Daarom word die verhoudinge tussen tekens onderling en ook die verhoudinge tussen tekens en die sisteem ondersoek. Verder wil die Semiotiek die stel konvensies waarvolgens ‘n sisteem funksioneer ontdek en beskryf om so die kenmerkende wyse waarop die sisteem werk te kan bepaal.
In menslike gemeenskappe funksioneer baie verskillende tekensisteme. Taal is volgens die Semiotiek een van die (selfs dié) hoogs ontwikkelde tekensisteme waaroor mense beskik. Daar word in die Semiotiek onderskei tussen verskillende soorte tekensisteme. Verskillende tale, soos bv. Afrikaans, Engels, Nederlands of Russies, word beskou as natuurlike tekensisteme, maar daar is ook kunsmatige “tale” wat as tekensisteme beskou word, bv. die navigasiekode, die METATAAL van wetenskaplike beskrywings of konvensionele verkeerstekens. Daar word verder sekondêre tale wat as sekondêre tekensisteme funksioneer, onderskei. Hierdie sekondêre “tale” is kommunikasiestrukture wat as superstrukture op ander primêre tekensisteme gebou is (Lotman, 1977: 9). Literatuur word gesien as ‘n sekondêre tekensisteem wat op die natuurlike taal as primêre tekensisteem gebou is. ‘n Versameling woorde gerangskik in reëls en strofes en met bepaalde semantiese waardes kan as ‘n gedig gelees word op grond van die taalkode en op grond van ander poëtiese kodes (bv. ‘n metriese kode, ‘n genrekode, ‘n periodekode, ens.). Slegs deur kennis van die kodes kan die versameling tekens in die gedig as ‘n gedig herken en verstaan of geïnterpreteer word.
Waar die Semiotiek aanvanklik veral die sintaktiese verhoudinge tussen tekens en die semantiese verhoudinge tussen tekens en dit waarvoor die tekens staan (SIGNIFIANT: SIGNIFIÉ) ondersoek het, het die klem al meer verskuif na ‘n ondersoek van die kodes. Mukařovský het beklemtoon dat die literêre werk nie slegs opgebou is uit tekens nie, maar dat die teks ‘n teken op sigself word (Veltruský, 1980: 125). Hy beskryf die literêre werk as ‘n versameling tekens wat deur veelvuldige verhoudinge tussen die tekens onderling en tussen die tekens en die geheel ‘n saambindende en hegte netwerk van verhoudinge vertoon. Deur die artistieke manipulasie van hierdie verhoudinge word ‘n kerngedagte of sentrale bindende beginsel (die dominant) beklemtoon.
Lotman (1977: 23 e.v.) beskryf die artistieke teks as ‘n teks wat herhaaldelik gekodeer is. Hierdie meervoudige kodering bewerkstellig ‘n hoë betekenisdigtheid, sodat hy konkludeer: “Schönheit ist Information.” Eco (1984: 164—185) beskryf kodes as die reëls waarvolgens tekens in ‘n gemeenskap gegenereer word sodat die kodes in der waarheid die ganse kulturele wêreld tot stand bring. Daar word toenemend semiotiese studies onderneem wat op die tekengebruiker gerig is. Hierdie PRAGMATIESE benadering is die resultaat van die besef dat dit uiters insiggewend en ook baie nuttig is om ‘n studie te maak van die uitwerking van tekens in konkrete kommunikasiesituasies waaraan bepaalde soorte tekengebruikers (lesers of andersins) deelneem (Eco, 1984:68—80, 112—114).
Die Semiotiek word veral op twee maniere in die literatuurstudie toegepas. In die eerste plek word die literêre teks ondersoek met die oog op die beskrywing en ontleding van die signifikasie en kommunikasie in die semiotiese proses, d.w.s. die manier waarop die tekens in ‘n teks en die teks as teken funksioneer. Daar word dus ondersoek ingestel na die aard en die moontlikhede van die teken se betekenende vermoëns in ‘n bepaalde teks. Eco se opstelle in The Role of the Reader en A.J.A. van Zoest se Semiotiek: over tekens, hoe ze werken en wat we ermee doen is voorbeelde van hierdie benadering.
In die tweede plek kan die semiotiese ondersoek fokus op die kodes. Omdat ‘n verskeidenheid kodes gelyktydig meewerk om die teks tot stand te bring, kan binnetekstuele kodes en buitetekstuele kodes ondersoek word. Lotman volg hierdie benadering. Daar word gekyk na die unieke artistieke kode van ‘n bepaalde artistieke teks wat ‘n ondersoek van alle relevante binnetekstuele verhoudinge impliseer.
Hy ondersoek verder die kode van die OUTEUR, die periodekode (daardie kodes wat historiese strominge kenmerk en wat óf vanuit die hoek van die outeur óf vanuit die hoek van die leser bestudeer kan word), en die genrekode of die sg. literêre kode. Die literêre kode impliseer dat daar ‘n literêre TRADISIE bestaan wat aan die literêre taal sekere betekenismoontlikhede toevoeg omdat geslag op geslag kunstenaars die literêre taal as ‘n sekondêre sisteem op die gewone taalsisteem bou. Later vorm die sekondêre sisteem (literêre taal) weer ‘n primêre sisteem waarop ander nuwe tekensisteme gebou word.
Net soos Eco, beskou Lotman (1977: 285 e.v.) die buitetekstuele verhoudinge van literêre tekste en die kodes van buitetekstuele sisteme as uiters belangrik in die interpretasie en kommunikasie van ‘n teks. Hy beskryf die artistieke teks wat losgemaak word van ‘n kulturele konteks en ‘n stel kulturele kodes as ‘n grafskrif in ‘n onbekende taal.
Die Semiotiek is tans ‘n wetenskaplike dissipline wat aktief beoefen word deur ‘n groot verskeidenheid akademici in ‘n verskeidenheid vakgebiede. Die Semiotiek wil na die wêreld/werklikheid kyk soos wat dit ervaar, waargeneem, verstaan en geïnterpreteer word, ook wanneer daar, soos telkens gebeur, “nuwe wêrelde” ontstaan. Omdat die Semiotiek homself as ‘n ontwikkelende en aanpasbare benadering beskou, maak semiotici daarop aanspraak dat die Semiotiek, soos enige logiese wetenskaplike dissipline, steeds ‘n betekenisvolle bydrae tot die akademiese en kulturele ontwikkeling kan maak.
Bibliografie
Borbé, T. (ed.). 1983. Semiotics Unfolding. New York: Mouton.
Cloete, T.T., Botha, E. & Malan, C. (reds.). 1985. Gids by the literatuurstudie. Pretoria: HAUM-Literêr.
Eagleton, T. 1983. Literary Theory. Oxford: Blackwell.
Eco, U. 1976. A Theory of Semiotics. Bloomington: Indiana University Press.
Eco, U. 1979. The Role of the Reader. Bloomington: Indiana University Press.
Eco, U. 1984. Semiotics and the Philosophy of Language.
Bloomington: Indiana University Press.
Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. 1978. Theories of Literature in the Twentieth Century. London: Hurst.
Lotman, J. 1977. The Structure of the Artistic Text. Michigan: University of Michigan Press.
Ryan, R. & Van Zyl, S. (eds). 1982. An Introduction to Contemporary Literary Theory. Johannesburg: Ad. Donker.
Sebeok, T.A. 1976. Contributions to the Doctrine of Signs. Bloomington: Indiana University Press.
Van Luxemburg, J., Bal, M. & Weststeijn, W. 1982. Inleiding in de Literatuurwetenschap. Muiderberg: Coutinho.
Van Zoest, A.J.A. 1978a. Semiotiek: over tekens, hoe ze werken en wat we ermee doen. Baarn: Ambo Basisboeken.
Van Zoest, A.J.A. 1978b. Methoden in Peirciaanse Semiotiek. In: Grivel, C. (red.). Methoden in de Literatuurwetenschap. Muiderberg: Coutinho.
Veltruský, J. 1980. Jan Mukařovský’s structural poetics and esthetics. Poetics Today, 2(lb).
Viljoen, H. 1986. “Die klou dui al die dier aan”: oor Semiotiek en literatuur. In: Senekal, J. (red.). Teks-leser-konteks. Johannesburg: Perskor.
Heilna du Plooy