Die terme signifiant en signifié is oorspronklik deur Ferdinand de Saussure gedefinieer en gebruik in sy Cours de linguistique générale (1915). Vir Saussure is die taal (langue) ‘n stelsel van taaltekens. Hy omskryf die aard van die taalteken noukeurig, want die taalteken is vir hom die basiese eenheid in die taalstelsel. ‘n Teken is nie ‘n ding of saak op sigself nie maar is ‘n kompleks, ‘n element met ‘n tweeledige aard deurdat dit die verband tussen twee terme aandui. Hierdie verband is abstrak (en sielkundig), want dit bestaan slegs in die brein van die mens (Saussure, 1966: 44).
Die taalteken verenig nie ‘n ding en ‘n naam nie, maar ‘n begrip en ‘n akoestiese beeld. Die akoestiese beeld dui op sowel dit wat gehoor word in die gesproke taal as dit wat ‘n mens hom voorstel hy sou hoor; wanneer hy taal lees of in taal sou dink (Saussure, 1966: 44; Saussure, 1960: 66). Die teken is vir Saussure ‘n psigiese entiteit wat twee aspekte vertoon, nl. ‘n abstrakte begrip, wat hy met die term signifié aandui, en ‘n akoestiese beeld, wat hy met die term signifiant aandui. ‘n Mens kan dus sê dat vir Saussure die teken ‘n totaliteit is wat ‘n verband tussen ‘n betekende (signifié) en ‘n betekenaar (signifiant) aandui.
Die taalteken vertoon twee basiese kenmerke wat ook die beginsels van die studie van taal as ‘n tekenstelsel vaslê:
1. Die verband tussen betekenaar en betekende is arbitrêr, d.w.s. die begrip en die akoestiese beeld het geen noodwendige natuurlike verband nie. ‘n Bepaalde betekende, bv. os, word in verskillende tale deur verskillende betekenaars voorgestel. Die verband tussen betekende en betekenaar is dus nie natuurlik gemotiveer nie, maar wel kultureel, omdat gebruikers van ‘n bepaalde taal ‘n bepaalde teken moet gebruik om die verband tussen ‘n bepaalde betekenaar en betekende aan te dui. In Afrikaans noem ‘n mens ‘n gekastreerde bees ‘n “os” en in Engels ‘n ox.
2. Die betekenaar (signifiani) is lineêr. As ‘n ouditiewe teken wat in tyd realiseer en gerealiseer word, is die betekenaar meetbaar in een dimensie en is dit dus lineêr. Soos wat elke betekenaar lineêr is, is ook elke taaluiting lineêr en dit bestaan uit opeenvolgende elemente.
Barthes (1967: 42 e.v.) verduidelik dat die betekende nie ‘n konkrete voorwerp of saak is nie maar “a mental representation of the thing”. Die betekende van die woord “os” is nie die dier os nie, maar die abstrakte beeld van hierdie dier in die menslike gees. Die betekenaar is ook net ‘n relation wat as “tussenganger” tussen die teken en die betekende staan en nooit los van die betekende gedefinieer kan word nie.
Die proses waardeur betekenaar (signifiant) en betekende (signifié) verbind word, noem Saussure signifikasie, en die resultaat van hierdie proses is die teken (Saussure, 1966: 114 e.v.). Die signifikasie impliseer hoegenaamd nie ‘n enkellynige of een-eenduidige semantiese verband tussen die signifiant en die signifié nie, omdat die semantiese waarde van die teken deur sy KONTEKS bepaal word. Verder kan die eenheid van die teken as ‘n tweeledige entiteit nooit verontagsaam of opgebreek word nie: “And indeed the signification (semiosis) does not unite unilateral entities, it does not conjoin two terms, for the very good reason that signifier and signified are both at once term and relation” (Barthes, 1967: 48).
In die STRUKTURALISTIESE en SEMIOTIESE literatuurwetenskap speel die onderskeiding tussen signifiant en signifié ‘n belangrike rol. Die gebruiksmoontlikhede van die terme word uitgebrei deurdat die begrippe ook op die literêre werk as artistieke teks van toepassing gemaak word.
Mukařovský, wat as die vader van die semiotiese literatuurstudie in Oos-Europa beskou word, beskou die literêre werk “not only as made-up of signs, but also as a sign in itself” (Veltruský, 1980: 125).
‘n Teken word omskryf as “een zintuiglijk waarneembare realiteit, die betrekking heeft op een andere realiteit en deze moet oproepen” (Mukařovský, 1977: 91).
Die literêre werk word omskryf as ‘n teken en ‘n stelsel van tekens. Mukařovský (1977: 89) verduidelik dat die geesteswetenskappe “met materiaal werken dat sowel tot de zintuiglijk waarneembare wereld als tot het collectieve bewustzijn behoort en daardoor min of meer duidelijk het karakter van tekens vertoont”. Die kunswerk het die funksie om as bemiddelaar tussen die “maker” (konkrete OUTEUR) en die kollektiewe bewussyn op te tree. Die materiële konkrete kunswerk is ‘n uiterlike sigbare simbool of teken (‘n signifiant in Saussure se terminologie) waarmee ‘n bepaalde betekenis in die kollektiewe bewussyn ooreenstem (die signifié), en in die toepassing op die literêre kunswerk word hierdie betekenis die estetiese objek genoem (Mukařovský, 1977: 90).
Die Semiotiek werk met die begrippe artefak, die kunswerk as teken en as materiële gegewe, en die betekenis daarvan vir die leser, die estetiese objek. Die artefak word deur die ontvanger (leser of hoorder) ervaar en sodoende gekonkretiseer tot ‘n estetiese objek. In hierdie proses speel verskillende assosiatiewe faktore ‘n rol. Assosiatiewe faktore verskil van persoon tot persoon en n.a.v. die aard van die artistieke voorwerp wat beskou word (“ondergaan” word), maar die spektrum van betekenisverandering of betekenisvariasie van ‘n teken word bepaal en beperk in kwaliteit en kwantiteit “door de centrale kern die zich in het collectieve bewustzijn bevindt” en deur die materiële gegewe van die artefak self (Mukařovský, 1977: 90). (Vgl. KONKRETISERING.)
Die literêre werk is gelyktydig teken, struktuur en waarde. As teken vertoon die werk twee aspekte, wat ooreenstem met die twee aspekte van die taalteken soos deur Bühler en Saussure uiteengesit: die artefak self (die konkrete materiële artistieke voorwerp of signifiant) en die estetiese objek (die betekenis van die artefak vir die leser, d.w.s. die signifié). Die struktuur van die estetiese objek word gesien as die dinamiese netwerk van veelvuldige relasies tussen die komponente van die artefak (Fokkema & Kunne-Ibsch, 1978: 31; Veltruský, 1980: 125). Die literêre werk as teken hou verband met die totale konteks van sosiale verskynsels en kollektiewe bewussynsinhoude en is dus nie bloot materiële artefak soos die *Russiese Formaliste beweer het nie – dit verkry waarde en betekenis as estetiese objek (Veltruský, 1980: 138).
Lotman stel die semantiese aspek van die tekens waaruit die literatuur bestaan voorop. “Die probleem van betekenis is een van die sentrale probleme vir alle vertakkinge van die Semiotiek. Uiteindelik is die doel van die studie van enige tekensisteem immers die bepaling van sy inhoud” (redaksionele vertaling) (Lotman, 1972: 59). Elke signifiant het ‘n bepaalde betekenis, maar die struktuur of artistieke vorm het ook betekenis, omdat dit sinvol geïnterpreteer kan word in ‘n bepaalde stelsel (artistieke stelsel) van tekens. Vir Lotman is die betekenis van ‘n teken die verskeidenheid van konnotasies en assosiatiewe betekenisse verbonde aan ‘n bepaalde signifiant; die betekenis is dus “the invariant in reversible operations of translation” (Fokkema & Kunne-Ibsch, 1978: 40).
Greimas (1971) baseer sy uiteensetting van die elementêre struktuur van betekenis ook op die onderskeiding signifiant – signifié.
Die signifiant is ‘n element of teken of groep elemente wat as betekenaar die verskynsel van betekenis moontlik maak. Die signifié is die betekende, dit waarna die betekenaar verwys (Greimas, 1971: 1–2).
Die signifiant en die signifié bepaal mekaar, en die wedersydse betrokkenheid van teken en betekende noem Greimas (1971: 6) die ensemble signifiant. Ihwe (Greimas, 1971: 6) vertaal hierdie begrip met Bedeutungsganzes, om die “totaliteit” van betekenis wat daarin opgesluit lê, weer te gee. Die betekenaar + betekende is dus ‘n betekeniskompleks. (Vgl. SEEM.)
‘n Teken (signifiant) kan geklassifiseer word as bv. visueel of ouditief, maar so ‘n klassifikasie kan nie op die signifié van toepassing gemaak word nie, omdat tekens van dieselfde soort verskillende soorte betekendes kan aandui, en ook omdat een teken na meer as een betekende kan verwys.
Greimas (1971: 7) gee te kenne dat hy onderskei tussen natuurlike en artistieke betekeniskomplekse, sover as wat so ‘n onderskeid waarneembaar gemaak word.
Die onderskeiding tussen die verskillende vlakke van ‘n verhalende teks berus in der waarheid ook op die beskouing dat ‘n teken twee aspekte vertoon. Todorov se histoire is die signifié en die discours die signifiant, en Genette se histoire die signifié en die récit die signifiant in ‘n strukturalistiese verhaalanalise (Todorov, 1977: 219 e.v.; Genette, 1980: 28, 34). Ook by semiotici soos Doležel en Eco vind ‘n mens die begrippe teken, signifiant, signifié en signifikasie voortdurend terug (Doležel, 1972 en 1976; Eco, 1976 en 1979).
(Vgl. GESKIEDENIS/STORIE/VERHAAL EN TEKS.)
Bibliografie
Barthes, R. 1967. Elements of Semiology (transl. Annette Lavers & Colin Smith). London: Cape.
Culler, J. 1975. Structuralist Poetics. London: Routledge & Kegan Paul.
Doležel, L. 1972. From motifemes to motifs. Poetics, 4.
Doležel, L. 1976. Narrative semantics. PTL, 1.
Eco, U. 1976. A Theory of Semiotics. Bloomington: Indiana University Press.
Eco, U. 1979. The Role of the Reader. Bloomington: Indiana University Press.
Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. 1978. Theories of Literature in the Twentieth Century. London: Hurst.
Genette, G. 1980. Narrative Discourse. Oxford: Blackwell.
Greimas, A.J. 1971. Strukturale Semantik. Braunschweig: Vieweg.
Lotman, J. 1972. Die Struktur literarischer Text. München: Fink.
Lotman, J. 1977. The Structure of the Artistic Text. Michigan: University of Michigan Press.
Mukařovský, J. 1977. De kunst als semiotisch feit. In: Bronzwaer, W.J.M., Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. (reds.). Tekstboek Algemene Literatuurwetenschap. Baarn: Amboboeken.
Saussure, F. de. 1960. Course in General Linguistics. London: Owen.
Saussure, F. de. 1966. Kursus in algemene taalkunde (vert. A. Lee). Pretoria: Van Schaik.
Scholes, R. 1974. Structuralism in Literature. New Haven: Yale University Press.
Todorov, T. 1977. The Poetics of Prose. Oxford: Blackwell.
Veltruský, J. 1980. Jan Mukařovský’s structural poetics and esthetics. Poetics Today, 2(16).
Heilna du Plooy