Eenvoudig gestel is die sintaksis van die prosa niks meer nie as die ontleding van die struktuur van die sinne waaruit enige prosateks saamgestel is.
Dit op sigself is geen nuwe benadering nie: die linguistiese analise van die literêre teks gaan ver in die geskiedenis terug, en so ‘n analise staan onder verskeie terme bekend: retorika, stilistiek, tekslinguistiek, diskoersanalise, semiolinguistiek, e.s.m.
‘n Nuwe benadering van die sintaksis binne die raamwerk van die moderne algemene taalwetenskap bring egter die prosateks binne die teikengebied van die sintaktikus: ‘n klemverskuiwing binne die moderne taalwetenskap lei daartoe dat die hedendaagse sintaktikus die prosateks as linguistiese data beskou, wat daartoe lei dat die sintaksis van die prosa ook ‘n eie linguistiese doel het en nie bloot onderneem word om die literatuur ter wille te wees nie. Hiermee word daar dan nie bedoel dat die sintaktiese analise van die prosa vir die literatuur niks te sê het nie. Inteendeel: ‘n sintaktiese analise van die literêre teks op grond van die wetenskaplike linguistiese feite lewer ‘n wesenlike bydrae tot die uiteindelike literêre interpretasie van die teks. Kortom: die onnatuurlike grens wat soms tussen die taal- en letterkunde bestaan, word hiermee oorgesteek.
Die ontleding van die struktuur van die sin soos wat dit binne die prosateks voorkom, is nie nuut nie. Dit is reeds veel gedoen, maar in die verlede heel dikwels op ‘n meer intuïtiewe wyse. Die oorsake hiervoor moet ver terug gesoek word, maar een van die belangrikste redes vir die toedrag van sake lê miskien in die taalwetenskap van die afgelope vyftig jaar se konsentrasie op die welgevormde abstrakte sin van die ideale spreker as enigste databasis en dan, veral sedert die laat vyftigerjare, die sintaksis se beheptheid met die sintaktiese komponent as outonome komponent. Die outonomie van die sintaksis sluit die studie van die diskoerspragmatiese faktore uit, en so ‘n analise van die sinstruktuur ignoreer die kommunikatiewe funksie van die taal.
‘n Benadering tot die sintaksis waarin daar van die standpunt uitgegaan word dat sintaktiese struktuurfeite van sinne eenvoudig ‘n sintaktiese manifestasie van nie-sintaktiese faktore is, erken egter die funksie van die taal in die eerste plek as ‘n kommunikatiewe funksie. Die beskrywing van die sinstruktuur sal ook vereistes van die kommunikatiewe struktuur, soos temakeuse, topiek, voorveronderstelling, spreker-hoorder-konvensies, voor- en agtergrond, ens. in berekening bring.
‘n Kontekstuele sintaksis erken daarom taal-in-gebruik as deel van die linguistiese databasis en voer die analise van die sin verby die taalvermoë-analise en ook verby die Mote sinsinterne analise. Dit gaan teen hierdie agtergrond dan in die sintaktiese prosa-analise nie net om die interne bou-elemente en hulle onderlinge verhouding nie, maar juis ook om die analise van die sin na buitetoe: die verband tussen sinne onderling en die verband tussen die sin en die groter geheel.
By die sintaktiese analise van die prosa word daar uit die aard van die saak uitgegaan van die standpunt dat nie net die inhoud van die teks belangrik is nie, maar juis ook die vorm van die teks. Dit kom daarop neer dat die sintaktiese struktuur van die teks ‘n direkte invloed het op die aktiwiteit van lees, dit kan die leser in sy voortgang òf vertraag òf versnel, waardeur die leser se aandag afgetrek word van sekere gegewens of dan juis gevestig word op ander gegewens.
Die wyse van uitdrukking in die prosa kan daarom net so ‘n belangrike rol speel in sy aanspraak op die aandag van die leser, as die inhoud van die uitdrukking.
As een van die reaksies op die sg. transformasionele grammatika se analise van die sin se interne struktuur (die struktuur van die sin na binnetoe) en die analise van die onnatuurlike taalvermoë van die nie-bestaande “ideale” spreker, vind daar ‘n klemverskuiwing in die moderne linguistiese analise plaas. Daar word al meer gekonsentreer op die analise van taal-in-gebruik. Die analise van taal soos wat dit inderdaad gebruik word, het ook verder die implikasie dat nie net die struktuur van hoe taal gebruik word belangrik is nie; die “gespreksomgewing” word ook in berekening gebring. Onder gespreksomgewing word dan aspekte verstaan soos die houding van sowel spreker as hoorder, die nadruk, die boodskap, e.s.m. Kortom: funksionele sinsperspektiewe raak ook van linguistiese belang.
Taal word in hierdie lig dan by uitstek as middel van kommunikasie benader – as die middel van kommunikasie.
Taal-in-gebruik kom in meer as een vorm voor, bv. soos wat dit in die formele situasie gebruik word; soos wat dit onder die manne by ‘n drankie gebruik word; die vroue by ‘n vroueklub, die straathoeke, of soos wat taal as variëteit van die standaardtaal binne ‘n afgeslote geografiese gebied gebruik word. Hierdie verskillende vorme van die taal word binne die taalwetenskap as wisselende styl(vorme) gesien (vgl. Du Plessis, 1988). Een so ‘n stylvorm is natuurlik soos wat, sê Afrikaans, binne die prosa gebruik word. Hieruit kan daar verkeerdelik afgelei word dat prosa-Afrikaans ‘n homogene styl veronderstel. In ‘n betreklike kort bespreking soos hierdie kan die indruk geskep word dat die Afrikaans van die prosa ‘n eenvormige styl is; maar dit is eenvoudig ‘n indruk wat die gevolg is van die beknoptheid van ons bespreking.
So ‘n analise van ‘n bepaalde styl – of dan DISKOERS – word ‘n diskoersanalise genoem, en ‘n beginpunt van ‘n diskoersanalise kan dan net so goed die taal in sy reëlmatigste en konsekwentste vorm – dit is die geskrewe prosa van goeie skrywers wat iets redelik presies probeer kommunikeer – wees. Ons kan in hierdie verband praat van ‘n linguistiese teksanalise of die linguistiese analise van ‘n beplande diskoers in teenstelling met die linguistiese analise van bv. die onreëlmatige diskoers van die sosiaal-gemerkte straathoek-Afrikaans.
Dit is so dat die linguistiese analise van ‘n stuk geskrewe prosa onder verskeie terme bekend staan: stilistiek, tekslinguistiek, diskoersanalise, semiolinguistiek, e.s.m. Ons sal voortaan, ter wille van duidelikheid, bloot praat van ‘n kontekstuele analise.
‘n Kontekstuele analise impliseer o.m. die analise van die sin na buitetoe, dus nie net die interne struktuur van ‘n sin nie, maar die struktuur van sinne en woorde binne kontekstuele verband.
Die stilistiek, as verlengstuk van die retorika, veronderstel wel ‘n struktuuranalise, maar dan in hoë mate slegs intuïtiewe linguistiese analise. Die taalkundige analise van die prosa veronderstel egter inderdaad meer linguistiese inset as die blote intuïtiewe! Verder veronderstel dit dat die linguistiese struktuuranalise op die ou end wel deeglik iets vir die literêre insig te sê moet hê. Die kontekstuele grammatika bring die prosa binne die teikengebied van die linguistiek, maar dan is dit noodsaaklik dat die linguistiek en die literatuur by mekaar moet uitkom.
Diskoersanalise in terme van die taalkundige, Zellig Harris (1963), se opvatting is ‘n metode waarvolgens daar in enige geskakelde, verspreide lineêre materiaal waarin daar meer as een sin voorkom, gesoek word na een of ander globale struktuur wat die hele diskoers, of bepaalde dele daarvan, karakteriseer. Om die globale karakteristiek in die linguistiese struktuur te bepaal, impliseer meer as waaraan daar in ‘n beperkte bespreking aandag gegee kan word. Daar is bv. die interessante moontlikheid van Fowler (1977), nl. dat ‘n roman in sy geheel as ‘n “sin”, met onderwerp, hoofmoment en verskeie bepalings opgevat kan word.
Ons gee vervolgens aan twee aspekte aandag: linguistiese samehang en nadruk. Dit is dan belangrik dat die literêre betekenis van linguistiese samehang en nadruk hieruit duidelik word.
Onder linguistiese samehang kan verskillende dinge verstaan word. W.O. Hendricks (1973: 14) praat van “intersentence concord”. Die aanwending van ooreenstemmende sintaktiese en morfologiese konstruksies dien as bindingsmiddel. (Vgl. verder Wybenga, 1987.)
Die herhaalde gebruik van “more” uit die volgende aanhaling uit J.C. Steyn se Op pad na die grens (1976) is ‘n voorbeeld van leksikale binding: “More na die grens, more bosse toe, more na daardie helse wêreld.” Die ooreenstemmende sintaktiese struktuur van die drie aangehaalde sinne dien egter ook as bindingsmiddel: deur in al drie sinne gebruik te maak van die struktuur tydbepaling-rigtingbepaling word ‘n linguistiese samehang bewerkstellig.
Die samehang tussen paragrawe in die prosa word in die meeste gevalle bewerkstellig deur die gebruik van veral sintaktiese middele. Daar is in enige taal bepaalde woorde of konstruksietipes wat die begin van paragrawe merk. In ‘n vertelling (roman) word daar in die begin van ‘n paragraaf ‘n “psigologiese ysbreker” benodig. Die verteller wil nie onmiddellik in die topiek inplons nie, en daarom word die woordvolgorde van die aanvangsin van die paragraaf só verander dat die eerste woord (of sinstuk) bv. in Afrikaans dikwels die bywoordelike bepalings is. ‘n Steekproef uit Brink se ‘n Droë wit seisoen en Steyn se Op pad na die grens toon dat daar in Brink se prosa in 46% gevalle paragrawe met ‘n bywoordelike bepaling begin word en by Steyn 42 %. Die funksie van hierdie soort sintaktiese voorplasing is juis linguistiese samehang. Samehang hoofsaaklik in die sin dat die begin van ‘n paragraaf linguisties terugverwys na die voorafgaande paragraaf. Vergelyk die volgende uit Poppie Nongena van Elsa Joubert (1978: 212): “Ek kan nie anders nie, dink Poppie. My dogters het nie ander plek om te gaan nie, hulle moet hier bly. Dan eers kan ek teruggaan. Toe skryf sy vir Mama ‘n brief…”
Longacre (1979: 118) onderskei tussen die begin (plasing van ‘n paragraaf) en die einde (terminus) daarvan: in die vertellingsdiskoers word die plasing dikwels gebruik om die tyd of plek van die nuwe paragraaf te stel, terwyl die terminus dikwels gebruik word om ‘n deelnemer van die verhoog af te haal of om ‘n tydsverloop aan te dui.
Samehang binne die prosateks word dikwels bereik deur die gebruik van voegwoorde as plasingselement; deur die gebruik van voegwoorde aan die begin van ‘n paragraaf word terugverwysing na ‘n voorafgaande paragraaf bewerkstellig. Een van die sterkste linguistiese bindingsmiddele in die prosa bly egter die anaforiek. “Onder anaforiese verbande/anaforiek word verstaan verbande soos dié tussen die gekursiveerde naamwoordstukke in die volgende sin: Koos se kop knik, so vaak is hy” (Ponelis, 1979: 565). By anaforiek word daar in die taalkunde gepraat van ‘n anaforiese ketting wat gestig word tussen ‘n antesedent en ‘n anafoor. In bs. sin is “Koos” antesedent en “hy” die anafoor. Hoewel die voornaamwoord (soos “hy”) nie die enigste anafoor in Afrikaans is nie (vgl. Ponelis, 1979: 565 e.v.), kan die voornaamwoordgebruik in die prosa gebruik word om te probeer verduidelik hoe samehang binne die prosa deur hierdie linguistiese middel verkry word.
Hoewel nie so dikwels as bepalings nie, word voornaamwoorde in baie gevalle gebruik as insetelement van ‘n nuwe paragraaf of hoofstuk, juis om d.m.v. terugverwysing linguistiese verband te behou.
Hierdie linguistiese samehang van die prosateks vorm integrerend deel van die literêre samehang van die diskoers. Voornaamwoordelike anafore word in die Afrikaanse prosa dikwels gebruik om binne die sin te skakel, tussen verskillende sinne, paragrawe en selfs tussen hoofstukke.
Een van die belangrikste sintaktiese middele in die hand van die prosaskrywer in ‘n taal soos Afrikaans bly volgorde. Ekwivalente sinsvolgorde is nie net bindingsmiddel nie (soos in die geval van die ekwivalente volgorde in die vroeëre voorbeeld uit die werk van Steyn): sintaktiese volgorde of die ophef van “gewone” volgorde is juis een van die belangrikste nadruksmiddele in Afrikaans.
Die volgorde van sinstukke en sinne binne die prosateks kan natuurlik eenvoudig gebruik word om die opeenvolging van handelinge/gebeure in die tyd aan te gee: “‘Dag, Fransina,’ sê hy. Hy smyt sy hoed op ‘n stoel en gaan langs die tafel sit. ‘n Paar oomblikke bekyk sy hom aandagtig” (Van Melle, 1977: 7). Die volgorde van die gebeure word in hierdie aanhaling bloot chronologies weergegee: 1) Hy groet. 2) Hy smyt sy hoed neer. 3) Hy gaan sit. 4) Sy bekyk hom. Die neutrale sinsvolgorde in Afrikaanse hoofsinne is SVO (S: onderwerp (subjek), V: werkwoord (verbum) en O: objektief):
Die man slaap vroeg
S V O
en in die bysin: SOV:
dat die man vroeg slaap
S O V
Neutrale sintaktiese en morfologiese gegewens het in die taalaanbod ‘n betreklik lae kommunikatiewe funksie. Dit is so dat die kommunikatiewe gewig van ‘n element in die taalaanbod direk verband hou met keuse: keuse impliseer betekenis, sê Lyons (1971: 413). Die neutrale, “gewone”, SVO-hoofsinsvolgorde gee aan die elemente in so ‘n sin weinig meer as neutrale kommunikatiewe gewig. Sodra hierdie volgorde opgehef word, word ‘n nuwe kommunikatiewe verwagting by die leser geskep. Vergelyk die verskil tussen die volgende “neutrale” sin en die “afwykende” sin daarna: a) “Geleidelik word Alice rustiger.” b) “Alice word geleidelik rustiger.” In die funksionele grammatika van die Praagse skool word daar gepraat van die graad van kommunikatiewe dinamiek. Die graad van kommunikatiewe dinamiek van die elemente in die neutrale sin is veel laer as dié van elemente in ‘n sin waarvan die woordorde van die neutrale afwyk. Daar kan op meer as een manier van die neutrale sinsvolgorde afgewyk word (vgl. Ponelis, 1979: 495 e.v.). Vergelyk gerus hierdie plasingverskynsels in ‘n stuk swak prosa met die in bv. ‘n goeie roman van Brink of Etienne Leroux.
Plasing is een van die belangrikste nadruksmiddele in Afrikaans. Hierdeur word elemente na ‘n fokusposisie verskuif of juis daaruit verskuif, en deur die sintaktiese analise van die sinsvolgorde kan die roman vir die leser/kritikus oopgemaak word.
Hiermee kan ‘n mens dan sê dat daar slegs enkele beginriglyne aangetoon is vir die linguistiese analise van die prosa. Dit lyk egter of die belangrike insig van die kontekstuele grammatika inderdaad iets te sê het vir die letterkundige wat ‘n prosateks wil ontleed; nie net ter wille van ‘n sintaktiese struktuuranalise nie, maar dat die oopmaak van sintaktiese en morfologiese struktuurfeite die letterkundige van hulp is by die literêre beoordeling van die prosa.
(Vgl. DISKOERS en SINTAKSIS (VAN DIE POëSIE).)
Bibliografie
Brink, A.P. 1979. ‘n Droë wit seisoen. Johannesburg: Taurus.
Chapman, R. 1973. Linguistics and Literature. London: Arnold.
Du Plessis, H. 1988. Variasietaalkunde. Pretoria: Serva.
Fowler, R. 1977. Linguistics and the Novel. London: Methuen.
Givón, R. (ed.). 1979. Syntax and Semantics. Vol. 12. New York: Academic Press.
Gray, B. 1977. The Grammatical Foundations of Rhetoric. The Hague: Mouton.
Harris, Z. 1963. Discourse Analysis Reprints. The Hague: Mouton.
Hendricks, W.O. 1973. Essays on Semiolinguistics and Verbal Art. The Hague: Mouton.
Joubert, E. 1978. Die swerfjare van Poppie Nongena. Kaapstad: Tafelberg.
Longacre, R.E. 1979. The paragraph as a grammatical unit. In: Givón, R. (ed.). Syntax and Semantics. Vol. 12. New York: Academic Press.
Lyons, J. 1971. Introduction to Theoretical Linguistics. Cambridge: Cambridge University Press.
Ponelis, F.A. 1979. Afrikaanse sintaksis. Pretoria: Van Schaik. Steyn, J.C. 1976. Op pad na die grens. Kaapstad: Tafelberg. Van Melle, J. 1936/1977. Bart Nel. Pretoria: Van Schaik. Wybenga, D.M. 1987. Diskoersanalise en stilistiek. Pretoria: Serva.
Hans du Plessis