Die skets as subgenre van die literêre prosa ressorteer onder die KORTKUNS. Kortkuns is ‘n oorkoepelende term wat alle vorme van korter prosatekste insluit, maar dit het boonop die voordeel dat dit ook die tussenvorme benoem.
Die sestigerperiode hier te lande, wat vir so baie vernuwingsaspekte oor die hele terrein van die prosaliteratuur bekend is, word o.a. ook geken aan die oplewing van die kortkuns, waarby die skets ingesluit is.
In ‘n opstel van Ernst van Heerden oor “Die kortkuns van Hennie Aucamp” het hy die versamelnaam “kortkuns” vir die korter soort prosatekste gemunt. In die studie van Hennie Aucamp se oeuvre onderskei en beskryf Ernst van Heerden (1969: 74) die kortkuns soos volg: “Want dit is wat sy ‘prosas’ is – altyd kort, maar ook in die goeie sin kunstig, met ‘n vaardigheid van middele en subtiliteit van effekte wat ewe doeltreffend is in die jeugskets, die reisimpressie, die ‘klassieke’ kortverhaal of wat hy ook al as prosa bedryf.”
Die woord skets behoort eintlik tot die gebied van die beeldende kuns, en as noemer vir ‘n soort literêre prosa beteken dit “‘n ligte vlugtige toekenning”, want “die klem val in die skets op die mees tiperende eienskappe van die landskap of watter onderwerp die kunstenaar dan ook al wil voorstel – die mees tipiese dan, volgens sy interpretasie daarvan” (Grové & Botha, 1975: 110).
In die Dictionary of World Literature dui Shipley (1962: 373) verdere kenmerke van die skets aan as hy die prosasoort soos volg van die KORTVERHAAL onderskei: “A sketch lacks the depth of the short story; narrative may be subordinated, psychological atmosphere may be stressed.”
‘n Verdere tiperende omskrywing van die skets vind ‘n mens by Holman (1977: 500) in A Handbook to Literature: “A brief composition simply constructed and usually most unified in that it presents a single scene, single character and a single incident.”
Uit bg. aanhaling kan ‘n mens aflei dat die skets gewoonlik ‘n kort prosateks is, dit het nie die verwikkelde strukturele samestelling van ‘n kortverhaal nie; die opeenvolging van gebeure en omstandighede wat verander, kom selde voor; daar is nie veel sprake van karakterisering nie en die storie-elemente is by die subgenre in ‘n groot mate uitgeskakel.
Lategan (1956: 29) huldig i.v.m. die storie-element ‘n mening wat ook by sekere sketse aantoonbaar is – hy praat van die kortverhaal en skets soos volg: “Hierdie vorme het almal die epiese karakter gemeen, selfs die skets wat al uitbeeldend groei.” Die stelling word in “Tremrit” (Sol y sombra) van Uys Krige bewaarheid waar ‘n mens ‘n progressie in die uitbeelding van die reisindrukke vind, soos die trem van die Plaza Castelar tot die hawebuurt Grao beweeg het. Aan die slot van die reisskets kulmineer sy bewondering vir die Spaanse boerestand in die adel van “die vrou met die rooi kopdoek”, want “sy doem groot in sy gedagtes op, selfs groter as die wolke daar met hul belofte van reën” (Krige, 1955: 17). In “Tremrit” hanteer Krige die reisskets na sy ware aard, want sonder ‘n lang relaas benadruk hy die tiperende kenmerke van die Spaanse provinsielewe – die stad, landskap en mense, sodat die leser in die skets ‘n snit van die land se lewenswyse kry.
Die volgende ooreenkomste in die eiesoortige strukturele eienskappe van die skets maak ‘n tipering van die subgenre moontlik: die skets kan as beskrywingskuns beskou word; daarom word die visuele indrukke van die objektiewe werklikheid sterker beklemtoon. Van Rensburg (1963: 29) beklemtoon ‘n verdere kenmerk: “Ook stel die skets nie swaar kompositoriese eise nie … eenheid van impressie (is) ‘n vereiste.” Die skets hoef nie net oppervlaktebeskrywing te wees nie. Soms is dit ‘n vlugtige indruk wat iets van die innerlike van die biografiese outeur openbaar. Die slot van Jan Rabie se “Proefkonyn op Mont Blanc” is ‘n voorbeeld hiervan – na ‘n mislukte eksperiment en die indruk wat die koerantberig op hom gemaak het, voel hy en sy toggenote soos valse helde: “proefkonyne sonder wetenskap” (Rabie, 1965: 738), want hulle het geleer dat die mens nie los van die werklikheid kan leef nie. Hoewel ‘n mens ‘n skerp visuele element in die skets vind, is daar ook ander beeldingsmoontlikhede: ‘n gemoedstemming wat ‘n sterk bespieëlende karakter kan hê, bv. waar P.J. Haasbroek in “Madrid” (Stad en stedelig) die stad personifiseer, het ‘n mens iets hiervan. Die skets werk ook met die konseptuele vorme van die epiese prosa, nl. KARAKTERISERING, TYD, RUIMTE en PLOT, maar dit is nie verweef in ‘n streng verwikkelingsplan soos in die kortverhaal nie. Gewoonlik bevat die skets een of twee van die komponente, so bv. “kan die skets ‘n stuk agtergrond, ‘n persoon of selfs ‘n handelingsmoment of stuk gebeure op sigself uitbeeld, maar die ‘beeld’ bly dan ‘n statiese lewensprent of -skets” (Lategan, 1956: 30). Dié kenmerk van die skets onderskei hierdie prosasoort van die kortverhaal, want “iewers in die kortverhaal is daar ‘n keerpunt” (Aucamp, 1970: 38). In die reisskets word die “mens agter die boek” herken, want die konteks van sy ervaringswerklikheid word ‘n bindende faktor. Om dié rede vind ‘n mens in die reisskets ‘n subjektiewe vertelhouding, en die bekendstelling van die vreemde geskied deur medium van ‘n warme, intieme en persoonlike stem. Die taalhantering in die skets moet, weens die gekonsentreerdheid daarvan, keurig en ekspressief wees.
In die Afrikaanse prosaliteratuur vind ‘n mens talle voorbeelde van die skets, soos die subgenre in die voorafgaande bespreking getipeer is, bv.: M.E.R. se versameling Uit en tuis (1946), Die dammetjie (1960) en by Boerneef in Sketsboek (1948).
Dit is opvallend dat die skets telkens voorkom in die reisprosa. In 1965 verskyn Kompas, ‘n versamelbundel reissketse, waarin werke van die vernaamste reisboekskrywers saamgestel is. Daarna volg Hennie Aucamp se Karnaatjie (1972) waarin sy beste reissketse opgeneem is, en in 1977 verskyn die SAUK se mooi reeks, Stad en stedelig, wat sketse en vertellings oor belangrike wêreldstede van 25 belangrike skrywers bevat. Dit moet ook vermeld word dat gedurende die vyftigerjare Uys Krige heelwat van sy reisindrukke as oorlogskorrespondent in die bundels Sol y sombra en Ver in die wêreld in sketsvorm verwoord het. (Vgl. REISVERHAAL.)
Dit wat die skets in die hiërargie van die literatuur wil wees, nl. ‘n kort prosateks wat ‘n “statiese” lewensprent wil beeld, word duidelik weerspieel in die genoemde bundels.
Bibliografie
Aucamp, H. 1970. Die kortverhaal: ‘n benaderingswyse geïllustreer aan “Kom herwaarts getroues” van Henriette Grové. Klasgids, 5(4).
Grové, A.P. & Botha, E. 1975. Handleiding by die studie van letterkunde. Kaapstad: Nasou.
Krige, U. 1955. Sol y sombra. Pretoria: Van Schaik.
Lategan, F.V. 1956. Die kortverhaal en sy ontwikkeling in Afrikaans. Johannesburg: Nasionale Boekhandel.
Rabie, J.S. 1965. Proefkonyn op Mont Blanc. In: Smuts, J.P. (samest.). Kompas. Kaapstad: HAUM.
Van Heerden, E. 1969. Die ander werklikheid. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
Van Rensburg, F.I.J. 1963. Monografieë uit die Afrikaanse letterkunde nommer 4, Uys Krige. Kaapstad: Van Schaik.
M.C.A. Seyffert