Stilistiek is die benaming vir ‘n teksgerigte en teksbeheerde benadering van die literêre teks as ‘n taalgebruikseenheid wat sy eenheid in sy styl het.
Die Stilistiek op taalkundige grondslag het sy ontstaan veral aan drie prikkels te danke gehad.
Die eerste het gekom vanuit die Stilistiek as sodanig. Die Stilistiek as filologiese dissipline het ‘n lang ontwikkeling deurloop in sy poging om die wese van die literêre teks, by name sy styl, te bepaal en die juiste middele te ontdek om dit te belig. Vanaf die fase waarin die teks gehou is teenoor allerlei groothede buite hom, ten einde vas te stel hoe dit ‘n verwerkliking van daardie groothede is (o.a. die gees van die skrywer, die tyd van ontstaan, die geaardheid van die betrokke taal, e.d.), het die Stilistiek uiteindelik tot die insig gekom dat ‘n teks self styl het – teenoor tydstyl, persoonlikheidstyl, taalstyl, e.d., dus: teksstyl. Die voltooide teks is hiervolgens nie ‘n uiting van iets buite hom nie, maar ‘n verwesenliking van iets binne hom.
Die tweede prikkel het gekom van ‘n beweging op literêre terrein: die eis van “respect for the words on the page.” Hierdie beweging het sy vernaamste uiting gevind in die werk van die NEW CRITICS in die V.S.A. (J.C. Ransom, Cleanth Brooks, e.a.), maar veral in dié van die Slawiese formaliste en strukturaliste, wie se werk van vroeër in die eeu eers na die Tweede Wêreldoorlog in die Weste bekend geword het, veral deur Victor Erlich se boek Russian Formalism: History-doctrine (1955). (Vgl. RUSSIESE FORMALISME en STRUKTURALISME.)
Die derde prikkel was afkomstig van die taalkundige Strukturalisme, met Saussure as vader en Slawiste soos Roman Jakobson e.a. as die kragtigste uitbouers van die basiese opvatting van die Strukturalisme, nl. dat die taal ‘n sisteem van tekens is waarin elke teken ‘n unieke waarde het, ‘n waarde wat hy verkry vanuit sy verhouding met die ander lede wat die sisteem en sy verskillende subsisteme uitmaak – die siening dus van taal as ‘n fyn netwerk van waardeverhoudings.
Die grondlegger van die Stilistiek op taalkundige grondslag as besondere variant van die Stilistiek as sodanig was die taalkundige prof. W.G. Hellinga van die Amsterdamse Universiteit direk na die Tweede Wêreldoorlog. In sy lesings definieer hy die taak en terrein van die Stilistiek op taalkundige grondslag soos volg: “Stilistiek is het onderzoek naar wat taalvormen doen in een bepaalde situatie en in hun betrokken zijn op die situatie”. Met sy Amsterdamse Werkgroep het hy oor ‘n lang tyd die implikasies hiervan nader uitgewerk. Dit het veral geskied aan die hand van ‘n gedig: “Om mijn oud woonhuis” van J.H. Leopold.
Die eerste konkrete demonstrasie van die stilistiese ondersoekmetode het geskied via die Amsterdamse proefskrif van H. van der Merwe Scholtz, een van die Afrikaanse lede van die Werkgroep: Sistematiese verslag van ‘n stilistiese analise: Eugène Marais: Die towenares (1950). Enkele van die belangrikste grondslae van genoemde verdere stilistiese besinning is hierin uiteengesit. Hierdie grondslae is in die loop van die tyd uitgebrei en, wat sommiges betref, verfyn (o.a. in ‘n proses van polemiek en debat in Standpunte, 1955/1956). Hierdie toegenome besinning het sy neerslag gevind in Kreatiewe analise van taalgebruik: prinsipes van stilistiek op linguistiese grondslag (1955) deur Hellinga en Scholtz.
Met die program soos uiteengesit in Sistematiese verslag van ‘n stilistiese analise en verder uitgebou in Kreatiewe analise van taalgebruik as uitgangspunt, kan die leidende konsepte van die Stilistiek op linguistiese grondslag soos volg aangedui word.
1. Dit gaan in die Stilistiek om ‘n beskrywing van taal in taalgebruiksituasies.
Dit beteken dat die Stilistiek ‘n beskrywende dissipline is, nie (bv. wanneer literêre taalgebruiksituasies die voorwerp van ondersoek is) ‘n waarderende of waardebepalende dissipline nie. As die stilistikus beskryf het wat in ‘n taalgebruiksituasie op die wyse van die taal plaasvind, is sy taak afgehandel. Ander dissiplines, soos die literatuurkunde, meer in die besonder die kritiek, sou van sy beskrywing gebruik kon maak, en dit bv. in ‘n literêre (sê ‘n estetiese) konteks kon betrek, maar in die avontuur kan die stilistikus hulle nie volg nie.
Dit is vir die stilistikus om ‘t ewe of die taalgebruiksituasie wat hy ondersoek, ‘n gedig, ‘n winkelpraatjie, ‘n koerantberig of ‘n grap is. Hy ondersoek wat daar op die wyse van die taal in elkeen gebeur. As daar iets besonders in die taalgebruiksituasie aan die hand is, sal die ondersoek dit uitwys. Stilistiese ondersoek kan dus niks aan- of afdoen aan ‘n taalgebruiksituasie en dus ook nie aan ‘n literêre taalgebruiksituasie nie.
Die feit dat dinge soos RITME en RYM deur Hellinga en Scholtz gereken is as faktore wat nie ‘n rol speel in die wyse waarop ‘n taalgebruiksituasie hom “op die wyse van die taal” voltrek nie, en dat dit vir hulle nie betekenis-implikatief is nie omdat hulle slegs tot die vorm van die woord behoort, het ernstige vrae laat ontstaan. Daar is daarop gewys (veral in die Standpunte-debat) dat dit ‘n miskenning is van iets primêrs wat in die literatuur, meer in die besonder in die poësie, gebeur, t.w. dat alle nie-betekenismomente van die taal betekenis-implikatief gemaak kan word (o.a. deur metrum en rym).
Die verhouding tussen die “feitsake” en die “vormsake” van ‘n gedig (‘n onderskeiding van Hellinga en Scholtz) is dinamies; tussen hulle heers daar nie ‘n verhouding van “een plus een” nie.
Die onderskeiding tussen taalvormkonstituerende en versvormkonstituerende momente (eweneens ‘n onderskeiding van Hellinga en Scholtz) in die geval van die poëtiese taalgebruiksituasie, en die “hakeer” of wegsny van sommige van laasgenoemdes (soos ritme en rym) omdat hulle nie sou behoort tot die stel faktore wat “op die wyse van die taal” werksaam is nie, het dit duidelik gemaak dat Hellinga en Scholtz se Stilistiek nie die hele literêre taalgebruiksituasie vir sy rekening kan neem nie. Die feit dat hierdie twee stelle situasiebouers mekaar in intieme en onmiddellike wisselwerking oor en weer beïnvloed en dus nie oor twee dissiplinêre velde verdeel kan word nie, het ‘n terminologiese heroriëntering noodsaaklik gemaak: die voorbehou van die term Stilistiek vir die ondersoek van literatuur, en die skep van die term Taalgebruikskunde vir alle ander nie-literêre taalgebruiksgevalle. Die byvoeging van die kwalifikasie “op taalkundige grondslag” by Stilistiek (d.w.s. vir die literatuurkundige dissipline) wil alleen maar erkenning gee aan die feit dat hierdie vorm van Stilistiek, konsekwenter as enige ander Stilistiek voor of na hom, volledige erns maak met die feit dat die literêre kunswerk ‘n taalkunswerk is.
2. Dat die sender en die ontvanger nie tot die ondersoekdoelwitte van die Stilistiek behoort nie, volg uit die voorgaande soos ‘n konsekwensie. Wat van die sender ter sake is, sal in die geseinde taal aanwesig wees, en aan wie se “adres” dit gerig is, eweneens.
Vir so ver as wat hierdie “negering” van sender en ontvanger ook vir literatuur-ondersoek moes geld, het dit teenstand van ‘n breë publiek uitgelok. Gaandeweg het dit egter wyer aanvaarding gevind, veral in die proses van kritiese debatvoering. Dit geld ook die aanvanklik onbehaaglike gevoel dat die Stilistiek die literêre avontuur baie verskraal, deur bv. net op die gewisselde taal te konsentreer.
Dusdanige literatuurstudie is formalisties genoem. Met die kritiek is daar blyke gegee van onbegrip van hoe wyd en omvattend die taal in sy werking is. In die taal het ons die neerslag van ‘n groot deel van ons menslike ervaring. Die taal as gebruiksinstrument is in staat om “‘n wêreld” op te roep. Om die werking van ‘n woord in ‘n gebruiksituasie ten volle te peil, moet die stilistikus eenvoudig die feit verreken dat so ‘n woord vanuit ‘n bepaalde gemeenskap, konvensie en tyd voortkom en daarin opereer. Dit geld almal faktore wat in die betrokke woord, as ‘n sisteemmoment van taal en kultuur, deurgeëggo is. Daarom sê Scholtz en Hellinga dat interpretasie van ‘n stuk taalgebruik altyd moet geskied met inagneming daarvan dat “alle feitsake wat in taalgebruik gegee word, (gekonfronteer moet word) met die in ervaring gekende werklikheid van ‘n bepaalde kultuur in ‘n bepaalde fase van sy bestaan” (1955: 29) en dat “kultuurmorfologiese rekonstruksie” dus nodig is wanneer ‘n mens bv. met ‘n stuk taalgebruik uit die verlede te doen het.
3. Die Stilistiek is ‘n enkelwerksmetode. Elke teks spreek hiervolgens vir homself; dit kan nie in die lig van ‘n ander gelees word nie. Vergelyking gee volgens die Stilistiek onbevredigende beskrywing af.
Ook die beginsel het aanvanklik op onbegrip gestuit. Dit het gelyk asof literatuurstudie voortaan tot hermeties van mekaar afgeslote studies gedoem sou wees, dat veralgemening en sintese voortaan heeltemal uitgesluit sou wees. Ook dié vrees het in die loop van die tyd ongegrond geblyk. Elke kunswerk beskik nl. oor styl. Die styl kom in ‘n belangrike mate voort uit ‘n wyse-van-ervaar, ‘n wyse-van-staan-teenoor-die-werklikheid; en: wyse-van-ervaar is nie ‘n eendagsvlieg nie. Hoewel elke kunswerk in laaste instansie ‘n onherhaalbare individu is, kan die ervaring wat opgedoen is aan die hand van die styl van een teks, toegange verleen tot ander tekste wat in dieselfde stylkring lê. In seldsame gevalle kan daar langs die weg van die enkelteksondersoek (of ‘n aantal enkelteksondersoeke) toegang verkry word tot die hele oeuvre van ‘n skrywer. In laaste instansie sal die teks in sy individualiteit egter weer betrek moet word, sal die algemene ervaring m.b.t. hom verbesonder moet word. Volgens die Stilistiek verteenwoordig die enkelwerk die hegste integrasie van skeppingskragte wat in die literatuur moontlik is. Die enkelwerk is hiervolgens nooit ‘n “brokstuk van ‘n grotere geheel” nie.
4. Die ondersoeksmetode van die Stilistiek is dié van “kreatiewe antisipasie” van die geheelgeaardheid van ‘n taalgebruiksituasie, gevolg deur die “analitiese artikulasie” van onderdele in die geheel.
Dit hou verband met die feit dat taalgebruik in die grond dinamies verloop: as ‘n woord ‘n sin open, stel dit ‘n sinsgeheel met ‘n in laaste instansie bepaalde sinskema in die vooruitsig. In die sinsbegin is die sinseinde dus aanwesig; woorde en sinsgeheel is in ‘n voortgaande dialektiese wisselspel betrokke. Die sinsbou verloop in ‘n proses van vooruitprojektering en terugordening: die oproep van bepaalde verbindingsmoontlikhede na vore, die uitkansellering van sommige van die opgeroepte moontlikhede na agter. Die antisipasie van die geheel wat op die manier moontlik word, stel die interpreteerder in staat om op elke punt in die proses ‘n onderdeel op ‘n juiste wyse te orienteer. Die teoretiese verantwoording hiervoor is verskaf deur die taalkundige A. Reichling in sy boek Het woord.
In die loop van die tyd het dit egter geblyk dat hierdie dialektiese toedrag op die gebied van die sin nie gebruik kan word as metafoor vir álle taalgebruiksituasies nie. “Kreatiewe antisipasie” en “analitiese artikulasie” oor ‘n breë front is alleen moontlik wanneer ‘n mens dit met ‘n taalgebruiksituasie te doen het waarin styl heers (“das, worin ein volkommenes Kunstwerk in alien Aspekten übereinstimmt” (Staiger, 1951: 6)).
5. In teenstelling met vroeëre soorte stilistiek met hul sporadiese taalbemoeienisse, is die doel van die Stilistiek op taalkundige grondslag om ‘n ondersoekte taalgebruiksituasie volledig te analiseer.
Die stilistikus, sê Scholtz, moet “alle vormstrukturende momente agterhaal en dan ten slotte bepaal of, en indien wel, op welke wyse hierdie momente in die situasie funksioneer” (1950: 14).
Na gelang dit in die loop van die tyd geblyk het dat volledigheid, selfs in die geval van die kortste gedig, ‘n utopiese ideaal is, het die Stilistiek daarvan afgesien, en verklaar Scholtz en Hellinga later in Kreatiewe analise van taalgebruik: “Ons beweer dus nou: die stilistikus,stel vas – en dit geskied uiteraard in gedurige struktuuroorleg met sy objek – wat vir hom ‘n probleem gaan wees; en hy gaan noodsaaklikerwyse siteer en gaan dan nie meer ná wat die sitaat in ‘n volledig-gekende taalgebruikseenheid doen nie; hy gaan eenvoudig ná wat ‘n sitaat doen in ‘n taalgebruikseenheid” (1955: 47). Dit het die Stilistiek ontslaan van een van sy grootste laste so ver dit die breë lesende publiek betref: “om oor elke werk ‘n boek te skryf”.
Die Stilistiek as “beweging” het ‘n opvallende kort bloei gehad – ‘n periode van omtrent vyftien jaar. Die rede daarvoor is dat sy revolusionêre verskyning getemper is deur die feit dat verskillende terug-na-die-teks-bewegings hulle teen die tyd van sy verskyning reeds taamlik sterk op literatuurkundige terrein gevestig het. Dit het na ‘n bekende vernuwing gelyk. Die gevolg was dat sommige van sy belangrikste uitgangspunte nie in hul volle implikasies gestel en uitgetoets is nie, ook nie op die breër terrein van die prosa en die drama nie. Dit het egter ongemerk deel geword van die standaardtoerusting van verskillende latere rigtings, veral dié met literêre analise as doelwit, veral in die vorm van ‘n bestendige bewustheid van die taalgeaardheid van die literêre werk.
Goeie oorsigte oor die doelstellings en problematiek van die Stilistiek op taalkundige grondslag is te vinde by Scholtz (1950), Hellinga en Scholtz (1955), Cloete et al. (1957), Wiehahn (1965), die inleidingshoofstukke van die stilistiese analises van Nienaber (1956), Lulofs (s.j.), Geggus (1961) en Van Rensburg (1964), en indirek in die proefskrifte van Cloete (1953) en Lindes (1955). Antonissen (1979) gee ‘n kritiese oorsig oor ‘n deel van die Standpunte-debat tussen Scholtz en Van Rensburg oor die grondslae van die Stilistiek (Standpunte 9(5) – 10(6)). Staiger (1951) se analise van ‘n gedig van Mörike het tot ‘n lewendige debat tussen hom, Heidegger en Spitzer in die tydskrif Trivium (9(1 & 2)) gelei. Vir die linguistiese dampkring van die Stilistiek vgl. Hellinga (1946), Spitzer (1948), Kayser (1948) en Wellek & Warren (1949).
Bibliografie
Antonissen, R. 1979. Verkenning en kritiek. Pretoria: HAUM. Cloete, T.T. 1953. Trekkerswee en Joernaal van Jorik. Amsterdam: Swets & Zeitlinger.
Cloete, T.T. et al. 1957. Beskouings oor die poësie: bundel opgedra aan prof. G. Dekker op sy sestigste verjaardag, 11 November 1957. Pretoria: Van Schaik.
Geggus, R. 1961. Die wit in die poësie: ‘n ondersoek na die fimksionaliteit van die wit in die visuele aanbod van hedendaagse poësie. Amsterdam: Heijnis.
Hellinga, W.G. & Scholtz, H. van der Merwe. 1955. Kreatiewe analise van taalgebruik: prinsipes van Stilistiek op linguistiese grondslag. Amsterdam: Noord-Hollandsche Uitgevers Maatschappij.
Lindes, E. 1955. Veelheid en binding: ‘n bydrae tot die ondersoek van die eenheidsprobleem in die literatuurwetenskap. Amsterdam: Noord-Hollandsche Uitgevers Maatschappij.
Lulofs, F. s.a. Verkenning door varianten: de redacties van Het uur u van M. Nijhoff stilistisch onderzocht. ‘s-Gravenhage: Bakker.
Nienaber, C.J.M. 1956. Die taal as tolk: ‘n stilistiese analise van Elisabeth Eybers se “Maria”. Pietermaritzburg: Natalse Universiteitspers.
Scholtz, H. van der Merwe. 1950. Sistematiese verslag van ‘n stilistiese analise: Eugène Marais: Die towenares. Pretoria: HAUM.
Spitzer, L. 1948. Linguistics and Literary History. Princeton: Princeton University Press.
Staiger, E. 1951. Die Kunst der Interpretation. Groningen: Wolters.
Van Rensburg, F.I.J. 1964. Skering en inslag: ‘n stilistiese analise van Ballade van die bose van N.P. van Wyk Louw. Kaapstad: Tafelberg.
Van Rensburg, F.I.J, et al. (reds.). 1985 – . Spits. Kritiese meningblad onder redaksie van die departement Afrikaans-Nederlands, RAU. Johannesburg: RAU.
Wiehahn, R. 1965. Die Afrikaanse poësiekritiek: ‘n histories-teoretiese beskouing. Kaapstad: Academica.
Wellek, R. & Warren, A. 1949. Theory of Literature. New York: Harcourt & Brace.
F.I.J. van Rensburg