STRUKTURALISME

Die Strukturalisme is ‘n denkwyse wat die ontwikkeling van die geesteswetenskappe in die 20e eeu ten diepste beïnvloed het. Dit is nie ‘n skool of ‘n stroming wat tot ‘n sekere tyd, ‘n sekere vakgebied of tot ‘n bepaalde groep wetenskaplikes beperk is nie; dit is eerder ‘n algemene metode, ‘n manier van dink oor die mens en die wêreld soos dit in uiteenlopende dissiplines (o.m. die antropologie, die psigoanalise, die filosofie) neerslag gekry het. Die model vir die metode is die werk van die Switserse linguis Ferdinand de Saussure (1857—1913). Met sy beroemde werk Cours de linguistique générate (in 1915 postuum gepubliseer) lê Saussure nie slegs die basis van ‘n nuwe taalwetenskap nie maar ook van ‘n nuwe wetenskapsbeskouing.

Taal is vir Saussure ‘n tekensisteem waarin die dele onderling met mekaar en met die geheel saamhang. Dit is soos ‘n skaakspel (Saussure, 1966: 88—89). Om insig in die sisteem te kry, moet die ondersoeker op die wesentlike konsentreer en die toevallige tussen hakies plaas. Dit is bv. vir die wese van skaak as ‘n spel nie van belang watter materiaal gebruik is om die skaakstukke te maak of uit hoeveel skuiwe ‘n bepaalde spel bestaan nie. Wat wel die wese raak, is die aantal skaakstukke waarmee die spel gespeel word en die konvensies wat die beweging van die stukke beheers. ‘n Stuk ontleen sy waarde aan die posisie wat dit op ‘n bepaalde moment op die skaakbord inneem, m.a.w. waarde is iets relasioneels en dus relatiefs. Elke skuif verander die geheel van die sisteem, maar die reëls waarvolgens geskuif word, bly onveranderd. Ook die spelers en die omstandighede waaronder gespeel word, is veranderlik maar die sisteem nie. Net op een punt, sê Saussure, gaan die vergelyking nie op nie: skaakspelers intendeer ‘n skuif en manipuleer sodoende bewustelik die sisteem.

Hierteenoor is veranderinge in die taalsisteem spontaan en sonder ‘n bewuste bedoeling.

Uit hierdie voorbeeld blyk ‘n aantal fundamentele dichotomieë wat met Saussure se taalteorie geassosieer word sowel as met ‘n aantal grondbegrippe van die strukturalistiese metode. Die stel konvensies of reëls wat taalgebruik beheer, noem Saussure die langue (die taalsisteem) en die individuele uiting van ‘n taalgebruiker parole (spraak). Die posisie op ‘n gegewe moment vorm die sinchroniese samehang van die elemente in die sisteem; die opeenvolgende posisies vorm die “diachroniese samehang. Die eintlike objek van die taalwetenskap behoort volgens Saussure die langue te wees soos dit sinchronies bestaan. Dit is bv. vir die Afrikaanse konsonantsisteem van belang dat daar tussen die klank /s/ en die klank /t/ die opposisie frikatief-eksplosief bestaan. Hierdie opposisie is binne die sisteem distinktief en onveranderlik. Hoe dit gekom het dat die Nederlandse /z/ in Afrikaans /s/ geword het, is egter ‘n diachroniese aangeleentheid wat vir die Afrikaanse konsonantsisteem nie beduidend is nie. Hoe die /s/ werklik deur taalgebruikers uitgespreek word (dit kan bv. gelispel word), lê weer op die vlak van die parole, nie van die langue nie. Die relasie tussen langue en parole is reduktief: uit die vele moontlikhede waarop die /s/ en die /t/ werklik gefonetiseer kan word, het net een kenmerk distinktiewe waarde. Waarom juis hierdie kenmerk geselekteer is, is arbitrêr. Daar is m.a.w. geen natuurlike oorsaak waarom /+eksplosiwiteit/ ‘n sisteemkenmerk van Afrikaans en /+gelispelheid/ nie een is nie. Hierdie arbitrêrheid geld ook vir die verhouding tussen die SIGNIFIANT (die betekenaar) en die SIGNIFIÉ (die betekende), sowel as vir die verhouding tussen die teken en die referent (die werklikheidsding). Om bv. te beweer dat daar iets in die vorm van die woord “kat” is wat op die katagtigheid van die werklike dier dui (alle IKONIESE relasies dus), gaan teen die grein van die strukturalistiese argument in. Woordvorm en betekenis is nie natuur- nie, maar kultuurverskynsels.

Met hierdie en ander argumente maak Saussure die wetenskap los van die mens en van die konkrete omstandighede van tyd en plek. Hy maak met sy teorie dit moontlik om ‘n samehangende en patroonmatige oorsig te kry oor die bontheid van die werklikheid. Saussure plaas met sy taalteorie die wetenskap in die laboratorium. Hierin word hy nagevolg deur wetenskaplikes op ander wetenskapsterreine wat met eie beredeneringe en homoloë bevindinge gestalte gee aan ‘n strukturalistiese wêreldbeeld. “Structural man”, sê Broekman (1974: 3), leef “in a world, not of individualities, of historical processes, of more-or-less free decisions, of open horizons, but instead in a world of rules, a world seen as a score (Lévi-Strauss), or an array of symbols (Lacan)”.

Op literêre gebied het die Strukturalisme in die eerste plek meegebring dat die “vorm” probleme van die literêre werk (Saussure se signifiant) die aandag aan die “inhoud” van die werk (die signifié) feitlik verdring het. In ooreenstemming met strukturalistiese denkbeelde word die literatuur gesien as ‘n sisteem met sy eie konvensies wat los van die mens (die OUTEUR of die werklike LESER) en los van die omstandighede wat die produksie van die literatuur bepaal, bestudeerbaar is. Die OUTONOMISTIESE bewegings met hul aandrang op die selfgenoegsame teks en die interne samehange tussen die nuwe en die tradisionele binne ‘n literêre tradisie, is duidelik strukturalisties gekleur (vgl. RUSSIESE FORMALISME en NEW CRITICISM). Daar is natuurlik ook verskille met die model van Saussure. Waar Saussure menslike vernuf vir die doeleindes van ‘n beskrywing van die taalsisteem buite spel plaas (1966: 89), is die vernuf van die kunstenaar in die kreatiewe gebruik wat hy van VERVREEMDINGSTEGNIEKE maak vir strukturalistiese denkers soos die Russiese en Praagse formaliste juis van belang in die beskrywing van die literêre sisteem. ‘n Fundamentele herformulering van Saussure se linguistiese denkbeelde is te vinde in die informasieteorie van die moderne Russiese strukturalis Jurij Lotrnan. Volgens hom is die literatuur (soos die ballet, musiek en ander kunsvorme) ‘n sekondêre taalsisteem, d.w.s. ‘n sisteem wat taal soos Saussure dit analiseer en beskryf tot model het, maar boonop ‘n eie stel tekens en relasies gebruik wat die informasiedigtheid van die literêre teks verhoog. Een soort tekenrelasie wat vir Saussure nie bestaan nie maar vir die literatuur van grondliggende belang is, is die ikoniese relasie (Lotman, 1972: 312). Die woord “kat” kry in die literatuur (om by die voorbeeld hierbo aan te sluit) benewens sy gewone konseptuele betekenis ook soms ‘n sigbare en konkreet voorstelbare betekeniswaarde. In die uiterste geval kan dit wees dat ‘n gedig oor ‘n kat tipografies in die vorm van ‘n kat aangebied word. Die ikonisiteit van die literêre taalsisteem kan egter ook meer subtiel funksioneer. So kan die kort, skerp klankkwaliteit van die /t/ en /k/ in “kat” deur die poëtiese kategorie alliterasie sigbaar gemaak word en as teken begin funksioneer (sê maar in ‘n reël soos: “vir die klein, wit kat”). In die literêre sisteem is daar dus meer en ander tekensoorte as in die nie-literêre sisteem, maar vir die beskrywing daarvan en dus vir die onderwerp van ‘n literêre semantiek is Saussure se insig in die tweeledige aard van die taalteken steeds fundamenteel.

Saussure se opvatting oor die verhouding tussen langue en parole en sy siening van die PARADIGMATIESE EN SINTAGMATIESE ordeninge van die sisteem werk in die literatuurwetenskap weer deur in die onderwerp van genrekodes en STORIEGRAMMATIKAS. Soos die taal oor ‘n eie langue of taalsisteem beskik wat die individuele taaluiting of parole moontlik maak, so kan daar in sekondêre sin ook gepraat word van bv. die langue van die VOLKSVERHAAL. Kennis van hierdie genrekode maak die skryf van individuele volksverhale moontlik. Bekende voorbeelde van strukturele poëtikas is Vladimir Propp se Morphology of the Folktale en Greimas se Sémantique structurale. Propp reduseer die vertelde gebeure in honderd SPROKIES wat hy analiseer tot 31 funksies (verplasing, stryd, terugkeer, verering, ens.) en die KARAKTERS tot enkele strukturele tipes (die held, die skurk, die helper, die tussenganger, ens.), ‘n Individuele sprokie is vir hom slegs ‘n variant van die algemene model. Daar word m.a.w., volgens Propp, uit ‘n paradigma van moontlikhede sekere funksies en karakters gekies wat dan in ‘n betrokke sprokie sintagmaties gekombineer word. Greimas sluit met sy aktansiële model by Propp aan, maar verminder die funksieklasse tot enkele binêre opposisies (begunstiger vs. begunstigde, helper vs. teenstander, subjek vs. objek). Ook Bremond en Todorov bou in hulle poëtikas die strukturalistiese tradisie uit.

Wat al hierdie werke gemeen het en wat hulle as strukturalisties tipeerbaar maak, is die uitgesproke opvatting dat daar ‘n eindige aantal DIEPTESTRUKTURE opspoorbaar is wat volgens bepaalde transformasiereëls die generering van ‘n oneindige aantal tekste moontlik maak. Die wetenskaplike se taak is nie die interpretasie en evaluasie van die teks nie, maar die beskrywing van die elemente, die relasies en die wetmatighede van die verskuilde sisteem. In sommige gevalle werk die ondersoeker nie eens met die literêre teks self nie, maar met ‘n opsomming daarvan. Hierdie minimalisering van die literêre werklikheid ten einde ‘n geslote sisteem van relasies te beskryf, is een van die vernaamste oorsake van die beweging weg van die Strukturalisme af.

Alhoewel die analise en beskrywing van die literêre sisteem die basis van die strukturalistiese metodologie uitmaak, het strukturaliste vroeg reeds besef dat teksinterne studies gepaard moet gaan met ‘n beskrywing van hoe die teks in ‘n sosiokulturele konteks funksioneer. Ook aan die diachroniese word feitlik van die begin af ‘n plek naas die sinchroniese gegee. “Pure synchrony”, sê Jakobson en Tynjanov reeds in 1928, “now appears illusory; every synchronic system contains its past and its future as an indivisable structural element of its own system” (Broekman, 1974: 50). Die veroordeling van die literêre Strukturalisme as ahistories en konteksblind gaan nie op nie. Wat wel waar is, is dat die beginsels wat vir die interne beskrywing van die literêre sisteem geld, deur die strukturaliste oorgedra word op sisteemeksterne gebiede. Óók die geskiedenis en die werklikheidskonteks waarin die literêre werk funksioneer, is sisteem. Nog ‘n verbreding van die klassieke Strukturalisme is in die werk van Mukařovský te vinde. Sy onderskeid tussen die literêre werk as ARTEFAK (d.i. die teks as materiële teken, as signifiant) vs. die literêre werk as estetiese objek (d.i. die gekonkretiseerde betekenis, as signifié) stel die leser weer binne die terrein van die literêre ondersoek aanwesig.

Presies waar die skeidslyn tussen die Strukturalisme en die POST-STRUKTURALISME lê, is nie maklik bepaalbaar nie. Uit bostaande blyk in elk geval dat die verskil nie soseer in die sg. outonomistiese benadering van die strukturaliste teenoor die kontekstualistiese benadering van die post-strukturaliste lê nie. Die verskil lê veel eerder in die eenheid van die literêre teks en die literêre sisteem wat die strukturaliste voorhou teenoor die veelheid wat die post-strukturaliste bespeur, tussen die begrensing van die literêre vakgebied wat eg. wil bewerkstellig en die ontgrensing wat lg. propageer. Vir die strukturalis is daar iets soos verskeidenheid binne die sisteem, maar die sisteem is begrens en eindig. Hy wil dit verantwoord. Vir die post-strukturalis genereer die sisteem oneindige moontlikhede. Dit wil hy ten minste verwoord. Dit is veral die kritiek van Jacques Derrida teen die denkbeelde van Saussure wat die einde van die klassieke Strukturalisme in ons tyd ‘n voldonge feit gemaak het (vgl. DEKONSTRUKSIE).

 

Bibliografie

Bakhtin, M.M. 1982. The Dialogic Imagination. Austin: University of Texas Press.

Barthes, R. 1974. S/Z. New York: Hill & Wang.

Barthes, R. 1977. Introduction to the structural analysis of narrative. In: Barthes, R. Image-music-text. London: Fontana.

Bremond, C. 1973. Logique du récit. Paris: Seuil.

Broekman, J.M. 1974. Structuralism: Moscow-Prague-Paris. Dordrecht: Reidel.

Clarke, S. 1981. The Foundations of Structuralism: A Critique of Lévi-Strauss and the Structuralist Movement. New Jersey: Barnes & Noble.

Culler, J. 1975. Structuralist Poetics. London: Routledge & Kegan Paul.

Eagleton, T. 1983. Literary Theory. Oxford: Blackwell.

Fokkema, D.W. & Kunne-Ibsch, E. 1977. Theories of Literature in the Twentieth Century. London: Hurst.

Greimas, A.J. 1971. Strukturale Semantik. Braunschweig: Vieweg.

Hawkes, T. 1977. Structuralism and Semiotics. London: Methuen.

Lotman, J. 1972. Die Struktur literarischer Texte. München: Fink.

Mukařovský, J. 1970. Aesthetic Function, Norm and Value as Social Facts. London: Arbor.

Propp, V. 1971. Morphology of the Folktale. Austin: University of Texas Press.

Saussure, F. de. 1966. Course in General Linguistics. New York: McGraw-Hill.

Todorov, T. 1977. The Poetics of Prose. Oxford: Blackwell.

Raadpleeg ook:

Bojtar, E. 1985. Slavic Structuralism (transl. Helen Thomas). Amsterdam/Philadelphia: John Benjamins.

Galan, F.W. 1979. Literary system and systematic change: The Prague School theory of literary history, 1928―1948. PMLA, 94.

Garvin, P.L. (ed.). 1964. A Prague School Reader on Aesthetics, Literary Structure and Style. Washington, D.C.: Georgetown University Press.

Vodička, F. 1976. Die Struktur der literarischen Entwicklung. München: Fink.

 
L.S. Venter

 

Strukturalisme

Naas hierdie bydrae oor STRUKTURALISME, raadpleeg ook die volgende bydraes waarin ander fasette van die (Franse) Strukturalisme uitvoeriger behandel word:

NARRATOLOGIE behandel die belangrike bydrae van die Stukturalisme tot die verhaalteorie oorsigtelik. Die volgende bydraes gaan uitvoeriger in op fasette van die Narratologie:

AKTANT EN AKTANSÏELE MODEL
ANACHRONIE (temporele verhoudings in tekste)
DIëGESIS (‘n baie belangrike bydrae)
FABULA EN SJUŽET
FOKALISASIE
GESKIEDENIS/STORIE/VERHAAL EN TEKS
NARRATIEWE WEERGAWES/MODUSSE
PLOT
PERSPEKTIEF IN DIE PROSAKUNS
RUIMTE (EPIEK)

RUIMTE IN DIE DRAMATEKS EN IN DIE OPVOERING
VERTELLER (EPIEK)

Ander Strukturalistiese bydraes is DISKOERSKODE en SEEM (wat A.J. Greimas se werk behandel) en SIGNIFIANT EN SIGNIFIÉ (wat nader ingaan op hierdie onderskeid van Saussure). NOUVELLE CRITIQUEbehandel die Franse Strukturalisme, maar beklemtoon Roland Barthes se werk. OOP EN GESLOTE TEKSTE behandel hierdie onderskeid van Eco. Raadpleeg daarnaas ook SEMIOTIEK en SEMANALISE (wat handel oor Julia Kristeva se verdere ontwikkeling van hierdie teorieë). Die bydrae OUTEUR (EPIEK) behandel o.a. Barthes se opvattings oor die dood van die outeur (naas Post-strukturalistiese opvattings oor die outeur). POST-FREUDIAANSE PSIGOANALISE EN LITERATUUR behandel die werk van J. Lacan redelik uitvoerig.

 

Praagse Strukturalisme

Hoewel hierdie publikasie nie ‘n formele bydrae oor die werk en die teorieë van die sg. Praagse Skool, Praagse Strukturalisme of Tsjeggiese Strukturalisme bevat nie, word hulle belangrike bydrae in ‘n hele paar afdelings bespreek. KONKRETISERING is een daarvan. Die opvatting van Jan Mukařovský kom ter sprake in die bydraes ARTEFAK EN ESTETIESE OBJEK, EVALUERING (LITERÊRE), SISTEEM (LITERÊRE). Sy idees oor vooropstelling word in VERVREEMDING vergelyk met die Russiese Formalists se opvattings oor vervreemding. F. Vodička se bydrae tot die teorie van die literatuurgeskiedskrywing word bespreek in LITERATUURGESKIEDSKRYWING en in SISTEEM (LITERÊRE).