TITEL IN DIE GEDIG

Enige gegewe in ‘n tipografiese opskrifposisie by ‘n poësieteks kan as gedigtitel of deel daarvan beskou word. ‘n Gedig kan natuurlik ‘n titellose bestaan voer en volgens o.a. Kayser (1954: 192) is gedigtitels eers sedert die Humanisme gebruiklik en het die tradisie daaromtrent sedertdien ook heelwat gewissel. Enige titelgegewe vorm egter ‘n integrerende deel van die teks. Die titel en die res van die gedig staan dus in noue verhouding tot mekaar. In hierdie verband onderskei Bekker (1970: 23) tussen gedigtitel en “gedigliggaam”.

By gedigte en veral gedigtegroepe sonder titels staan die bundelafdelings- of groepstitels dikwels in ‘n direkter verhouding tot die individuele teks. Ook andersins bestaan daar trouens ‘n parallel tussen hierdie soorte titels se verhoudings tot die tekste wat só oorspan word, en die verhouding van titel tot enkeldig. Die graad van verwikkeldheid in die verhouding tussen titel en gedigliggaam wissel baie. Volgens Bekker (1970: 8) het elke titel ten minste ‘n identifiserende funksie t.o.v. die gedig en is alle titels daarby ook in die een of ander opsig informatief oor die teks. Hierby sluit Riffaterre (1978: 100) se bevinding aan dat ‘n titel se natuurlike (SEMIOTIESE teken-)funksie is om toegang tot die teks te verleen deur die onderwerp, GENRE of KODE aan te dui. Vir Strydom (1976: 46) is die aanvanklike interpretasie van die titel dan ook die leser se “werkhipotese” waarmee die verdere leesproses benader word.

‘n Mens kan die verhouding tussen titel en gedigliggaam dikwels ook ‘n interaksie noem. Die titel kan enersyds rigtinggewend wees vir die leser, maar andersyds kan die res van die teks op allerlei wyses inwerk op die betekenisonderskeidinge van die titel en dit selfs ‘n nuwe lading gee.

Die funksie van die titel as informasieverskaffer kan in so ‘n mate dwingend raak dat Bekker (1970: 23) verwys na gevalle waar dit “leemtevullend” optree t.o.v. die gedigliggaam. Hy meen egter “die goeie titel is nie bloot leemtevullend nie” maar moet ook aktief bydra tot die struktuureenheid van die geheel. Hierdie strukturerende funksie kan verskeie vorme aanneem wat o.a. wissel van gevalle waar titels ‘n motoriese moment t.o.v. die gedig bevat (vgl. Totius se “Die smettelose hande…”), gevalle waar dit die een pool in die *metafoor uitmaak (o.m. Opperman se “Digter”) en gevalle waar dit selfs die “grondplan” vir die gedigliggaam neerlê (o.m. Wallace Stevens se “Thirteen ways of looking at a blackbird”, Ernst van Heerden se “Die sewe vrese”, ens.).

Terwyl sommige titels as ‘t ware vanselfsprekend en spanningloos inpas by die gedigliggaam, wek enige mate van distansiëring tussen titel en gedigliggaam ‘n spanning op. Dieselfde geld in ‘n groot mate t.o.v. gedigte wat onder ‘n gemeenskaplike titel saamgetrek is; vgl. onder meer Mosheuvel (1980: 259) se bevinding oor A. Roland Hoist se bundeltitel Een winter aan zee. Hierdie spanning kan groot uitdagings bied aan die leser, maar dit kan soms ook op ‘n inkongruensie in die teks dui. Friedrich (1974: 124) besluit inderdaad omtrent die “moderne” Europese poësie dat die tradisionele verhouding tussen titel en gedigliggaam dikwels juis ontwrig word. Algemeen in die moderne intellektuele poësie is ook abstrakte titels, soos Elisabeth Eybers se “Sisteem”, ens.

Sommige gedigte verdra volgens Bekker (1970: 62) niks tussen die pertinente titel en die gedigliggaam nie, bv. in gevalle waar die titel sintakties deel uitmaak van lg., terwyl die “titelwit” juis in ander gevalle weer deur verdere taalgegewens verbreek word. Dit kan geskied deur die aanwesigheid van ‘n subtitel, verklarende aantekeninge of ‘n MOTTO. Dit hou die gevaar in van ‘n breuk tussen titel en gedigliggaam, maar hierdie soort toevoegings hoef nie noodwendig negatief te werk nie. Die vraag na die noodsaak en funksie van sodanige gegewens bly egter aktueel.

Veral by langer epiese gedigte kan “tussentitels” optree. Dit kan o.m. afbakenend fungeer, maar andersins ‘n funksionele spanning tussen titel en gedigliggaam bewerkstellig.

Die gedigtitel kan dus in ‘n verskeidenheid van taalverbintenisse staan t.o.v. die gedigliggaam of selfs naasliggende gegewens en is ‘n teksgedeelte wat beswaarlik by ‘n deeglike lesing buite rekening gelaat kan word.

 

Bibliografie

Bekker, P. 1970. Die titel in die poësie. Kaapstad: Tafelberg.

Friedrich, H. 1974. The Structure of Modern Poetry, from the Mid-nineteenth to the Mid-twentieth Century (transl. J. Neugraschel). Evanston: North-western University Press.

Kayser, W. 1948/1954. Das sprachliche Kunstwerk: eine Einführung in die Literaturwissenschaft. Bern: Francke.

Mosheuvel, L.H. 1980. Een roosventer: aantekeningen bij ‘Een winter aan zee’ van A. Roland Hoist. Groningen: Wolters-Noordhoff.

Riffeterre, M. 1978. Semiotics of Poetry. Bloomington: Indiana University Press.

Strydom, L. 1976. Oor die eenheid van die digbundel. Kaapstad: Academica.

 
W. van Zyl